BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 13 April 2018

OORWINNING

oor sonde begin by ‘n besef van wie ek as kind van God regtig is! 


Hoe oorwin ek sonde? Dis seker een van die kernvrae van elke ware kind van God. Dis een van die grootste kwessies waarmee die volgeling van Jesus worstel. Daagliks. (Ander mense gee nie regtig om nie, want God se wet en wil is nie vir hulle regtig belangrik nie.) 


Oorwinning begin as ek besef wie ek as kind van God regtig is. Anders gestel, as ek die volle waarheid van Paasfees ernstig opneem. En hoe ekself daarby inpas. Dis die resep van die Nuwe Testament. Nou wie is ek as kind van God? 



Ons vind hierdie lering onder andere* duidelik in Kolossense 3:1-5. Paulus herinner die kinders van God eeers aan hulle status (Aangesien) en van daaruit kom die opdragte tot drastiese en praktiese heiligmaking. (Daarom)

1.Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

2.Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,

3.want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

4.Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.


5.Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.


SAAM GESTERF EN OPGESTAAN 

Wat is nou die status van God se kind? Die kind van God is iemand wat in God se oë klaar gesterf het, die doodstraf reeds ondergaan het, maar ook tot 'n nuwe lewe opgewek is. Saam met Christus. 

Wanneer het dit gebeur? Dit het aan die kruis gebeur, toe Jesus gesterf het. Verlede tyd! (3) Vgl. Romeine 6:6-8! “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 
Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.” 

Kyk mooi wat hier staan : “Het gesterwe!” (nie – “moet sterwe “- nie) Ons is nou dood vir die sonde. Ons kan nie meer gestraf word vir ons sonde nie. Want ‘n dooie mens kan nie meer skuldig wees aan sonde nie! (Die regstelsel vervolg nie ‘n lyk nie! Lyke word nie hof toe gesleep en tronk toe gestuur nie!) Dit beteken ons is ook vry van die oorheersende mag van die sonde. 

Saam gesterf ook saam opgewek met Christus! 

Vir wie geld hierdie stelling? Dit word van alle Christene gesê. Hoe is dit moontlik? Christene is mense wat “in” Christus is. Wat dus met Jesus gebeur het, het met jou gebeur! Laat ons dit prakties probeer verstaan... Dink aan ‘n foto of boekmerk wat jy in ‘n boek plaas. Alles wat met die boek gebeur, gebeur outomaties ook met die foto of boekmerk. As jy die boek in die see gooi is die inhoud ook in die see. As jy die boek na ‘n ander kamer toe vat, dan gaan die inhoud, die foto of boekmerk ook saam met jou na die ander kamer... 

ADAM OF JESUS 

Daar is net twee moontlike posisies vir enige mens. (Dis die duidelike lering van Romeine hoofstuk 5) In Adam, of in Jesus. 

Is jy nog in Adam (dis die posisie waarin ons almal gebore word) dan is jy nog verlore en onder God se oordeel, maak nie saak hoe ordentlik, aangenaam, vroom of godsdienstig nie! 

Is jy in Jesus Christus, deur die geloof aan Hom verbind, dan is jy ‘n regverdige in God se oë, want die sondige “jy” het saam met Jesus gesterwe en ‘n nuwe “jy” het saam met Hom opgestaan. 

Wat is die implikasie van "in Christus" wees, om saam met Hom te gesterwe en saam opgestaan het? 

Die kind van God het ‘n totaal nuwe status, ‘n genadestatus. 

Ek leef nou onder die heerskappy van genade. “Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.” (Rom 6:14) Ons is totaal dood vir die heerskappy van sonde en die duiwel. (Vgl. Kol 1:13) “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” Die sonde en Satan het geen mag meer oor ons nie! Ons is uit die gebied van die sonde en dus nie meer onder God se oordeel nie. 

WAT DAN NOU VAN DIE SONDE WAT EK STEEDS DOEN?

Nou sal iemand sê, “Wag, wag nou ‘n bietjie, dis teoreties baie mooi, maar ons sondig dan nog almal... hoor ek reg? Hoe moet ons dit verstaan?” Ek sukkel dan juis so baie met sonde... Ja, gister nog, netnou 'n rukie gelede nog...

Luister mooi. Paulus sê nêrens dat Christene sondeloos is nie, ook nêrens dat Christene nooit meer kan sondig nie. (Dit sou al die waarskuwings en raad van die Nuwe Testament oorbodig en sinloos maak) Hy sê wel dat ons uit die realm, die sfeer, die gebied, die ryk, die mag, die jurisdiksie van die sonde is en onder die genade is. Ons het hemelse status en tog het ons nog ‘n stryd met sonde. Hoe moet ons dit verstaan? 

Daar is ‘n groot verskil tussen om in ‘n posisie of status te wees en te besef dat jy in daardie posisie of status is. Daar is dikwels ‘n verskil tussen status en praktyk. Kom ons verduidelik dit met ‘n voorbeeld. Na die Amerikaanse burgeroorlog is alle slawe vrygestel.** Alle slawe het onmiddellik kragtens wetgewing hulle vryheid gekry. Dit het onmiddelik van krag geword. In die oë van die wet was daar nie meer iets soos ‘n slaaf nie. Maar nou kan mens jou indink, hoe sekere slawe dalk in afgeleë gebiede nie bewus was van die nuwe bevrydende wetgewing nie. Hulle was onkundig rondom hulle nuwe status as vry mense met die gevolg as hulle die baas se stem gehoor het, het hulle nog steeds gevrees en gebewe. Hulle het nog die lewe van 'n slaaf geleef met al die ellende en verknegting daaraan verbonde. Hulle wetlike en ware status was die van vry mense, maar dit sou vir baie nog dalk lank neem om dit te besef. Prakties gesproke het baie nog soos slawe gewerk en gely. Jy kan dus ervaringsgewys nog soos ‘n slaaf leef, terwyl jy wetlik wat status betref nie meer ‘n slaaf is nie. Die oplossing vir die voormalige slaaf is om te besef dat hy nie meer onder die ou wette van slawerny leef nie, dat hy nou vry is om ‘n nuwe leefstyl sonder vrees en verknegting te leef. Hy moet begin leef volgens sy nuwe status. 

Wanneer jy ‘n Christen word is jy iemand wat dood is vir die sonde, want wat die geestelike realm betref, die status in God se oë het jy saam met Christus gesterf. Met jou sondeskuld is daar vir eens en altyd aan die kruis afgereken. Jy is ook saam met Hom opgewek en het die status van ‘n regverdige. Die sondige Johannes, Koos, Anna... het vir eens en altyd gesterf, 'n nuwe mens het opgestaan. Maar ons besef dit nie altyd nie... 

GLO!

Ons uitdaging is nou om God se woord te glo, maak nie saak wat ons gevoelens en ervarings is nie! Soos Abram wat God se beloftes geglo het ten spyte van die sigbare feite. Ons moet dit besef! Romeine 6:11 "Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus./ (OAV)So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:11) 

HEERLIKE GEVOLGE 

Hoe raak die waarheid van saam gesterwe en saam opgewek prakties ons daaglikse stryd van heiligmaking? 

· Bevry van vrees (oor ons toekoms of posisie) kan ons nou met oorgawe volgens ons nuwe status leef. Juis omdat ons weet dat ons verlossing vas en seker is. (Dink aan akrobate in die sirkus wat hulle toertjies voluit en sonder vrees kan doen, juis omdat hulle weet daar is ‘n veiligheidsnet...) 

· Heiligmaking is nie iets wat passief ontvang word nie, maar wat voortdurend aktief nagejaag moet word! Ons het nou 'n verantwoordelikheid. Lees mooi wat Paulus sê :“Maak dood...”en dan noem hy ‘n lys dinge...(5) Ja, daar kan krisis momente, spesiale ondervindings, oomblikke van dieper oorgawe in ons lewens wees wat ons groot spronge vorentoe in heiligheid laat maak (soos byvoorbeeld die bevryding van ‘n slegte gewoonte) maar heiligmaking is ‘n voortdurende opdrag. (“Maak dood, lê af”) Raak ontslae van als wat nie by jou status pas nie, jy het dit nie nodig nie! Hierdie sondige leefstyl pas nie meer by jou nie. En voeg by (beklee jou met) dit wat by jou nuwe opstandingstatus, jou hemelse status pas. Dink weer aan die slaaf – hy is wetlik vry, maar hy moet nou stappe in werking stel om sy vryheid uit te leef! Dis sy verantwoordelikheid om sy vryheid te benut en anders as vootrheen te dink en te doen!

· Dit raak ook ons motivering om heilig te lewe – dis nie uit vrees, dis nie om iets te kry nie, dis nie om God se liefde te probeer wen nie, dis uit blye dankbaarheid vir die groot vaste en onveranderlike verlossing! Dink bietjie eerlik oor jou huidige situasie en leefstyl... Jou keuses op hierdie stadium van jou lewe, jou stokperdjies, jou manier van tyd bestee, jou geselskap, selfs jou eetgewoontes en kleredrag... pas dit by jou status as vrygespreekte kind van God? Weerspieël dit dankbaarheid vir sy onberekenbare genade? 

Jy wat nou aan Jesus behoort, jy het reeds saam met Christus gesterf en jy het reeds saam met Hom opgestaan. Die kind van God moet hierdie waarheid glo en besef! Dis die begin van ‘n oorwinningspad. Besef net eers mooi wie jy is volgens God se Woord! Besef wat het regtig by die kruis gebeur... Besef die heerlikheid van jou nuwe status! Besef water groot genade geskenk jy ontvang het en raak dankbaar, dankbaar met integriteit en oorgawe! Word al hoe meer wat jy reeds in Jesus is! Leef volgens jou status! 

*Lees ook Romeine hoofstuk 6 en Efesiers 2:4-6 

**Hierdie voorbeeld is wat Dr. Martyn Lloyd-Jones in sy bespreking van Romeine 6 gebruik.




Op Tsumeb was dit die afgelope tyd lekker nat. Ons geniet dit!
(foto - Jonette de Koning)



2 opmerkings:

  1. Johannes. Baie dankie vir 'n goeie boodskap wat eintlik baie skaars en min gehoor word. Dit is werklik bevrydend en verblydend!
    Groete. Coen

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.