BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 04 Mei 2016

HI, DIS HEMELVAART!

- “En ek was nog nooit regtig opgewonde daaroor nie”



Miskien sou dit jou eerlike opinie kon wees, maar ek vertrou dat dit nou vir altyd gaan verander…

HEMELVAART - ‘N GESKIEDENIS WAT ONS DIREK RAAK

Elke mens op aarde het ‘n persoonlike geskiedenis. ‘n Lewensloop met sekere hoofmomente, sleutelgebeure soos geboorte, huwelik, dood. Jesus is God wat mens geword het en as mens het Hy ook ‘n lewensgeskiedenis van wat hier op aarde met Hom gebeur het. Sy geskiedenis is baie menslik en doodgewoon, maar ook baie uniek en besonders. Baie belangrik, want sy geskiedenis, sy lewensloop raak ons direk. Trouens, Jesus se hele aardse bestaan en handel en wandel was ter wille van ons, tot ons (sy verlostes) se voordeel, nou en ewig!

Kom ons kyk so vinnig na sy geskiedenis, maar veral ook na die hemelvaart en hoe dit ons baie persoonlik raak:

Geboorte. Jesus het ‘n gewone geboorte gehad... maar tog ook uniek. Ons bely dat Hy uit ‘n maagd gebore is en deur die Heilige Gees verwek is. Hieruit volg logies : Jesus is waarlik God, maar ook waarlik mens. Hy beklee dus ‘n unieke posisie. Hy kan identifiseer met ons as mense, ons gevoelens, ons pyne tot selfs met die dood. Maar tog is Hy almagtig God, die Een wat ons waarlik kan red en ‘n Middelaar is tussen God en mens.

Wonderwerke en magtige dade. Die lys is te veel om te noem. Dit was nie skynwonders soos wat ons by vandag se kwaksalwers sien nie...blindes het gesien, lammes het geloop, dooies het weer lewend geword! Water het in wyn verander, op water het Hy geloop... Sy wonderwerke het gewys Hy het mag oor die natuur, mag oor siekte, mag oor demone en mag oor die dood! Hy is waarlik God!

Sterwe. Dis veral Jesus se sterwe wat baie uniek en kosbaar is. Hy sterwe aan ‘n houtkruis tydens Paasfees, as ons Paaslam wat die oordeel afweer!. Sy martelaarsdood is nie net nog ‘n tragedie nie (inderdaad het aie mense al aan kruise gesterf), maar ‘n doelbewuste selfoffering ter wille van ons sonde. Hy dra die vloek oor ons sonde en sterf dus as vervloekte aan ‘n hout, sodat ons die seën kan kry.

Begrafnis. Hy gaan deur hierdie vernedering, wat bewys Hy was werklik dood, dus het Hy werklik die volle straf gedra van ons sonde. Sy dood was nie maar net ‘n skyndood, simboliek, drama of opvoering nie.

Opstanding. Jesus staan na drie dae liggaamlik op en eet brood en vis voor die oë van sy dissipels. Hulle sien Hom, vat aan Hom, praat met Hom. Die opstanding het bewys dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy was. As daar nie ‘n opstanding was nie, was Jesus maar net nog een van die baie godsdienstige swendelaars. Maar Hy het opgestaan, dit wys dat God sy offer aanvaar het, dat ons sondeskuld inderdaad betaal is en dat ons ook eendag sal opstaan met verheerlikte liggame.

Hemelvaart. Ook hier het ons met ‘n werklike stuk geskiedenis te maak. Lees dit gerus in HANDELINGE 1:9-11. Let op - “terwyl hulle dit sien” - daar was dus ooggetuies! Jesus het liggaamlik opgevaar na die hemel ten aanskoue van ‘n klomp mense.

Hoe raak dit ons? Kan ons ook daaroor opgewonde raak soos oor sy geboorte, sterwe en opstanding? Watter praktiese nut en voordele hou dit vir ons in? Die Heidelbergse Kategismus Vraag 49 spel baie duidelik 3 redes uit:

1.Jesus doen vir ons voorspraak. Hy is ons persoonlike advokaat. Hy pleit vir ons. Luister na 1 Joh 2:1 – “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” en Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Glo jy dat Jesus vir jou pleit? Wat ‘n heerlike troos! Ons vra dikwels vir mense om vir ons voorbidding te doen en dit beteken vir ons baie. Maar nou hoor ons Jesus self doen vir ons voorbidding. Kan daar iets meer vertroostend wees? Wanneer jy platgeslaan is, moedeloos is, nie eers krag het om te bid nie, wanneer geen mens daar is om jou te ondersteun of moed in te praat nie, weet daar is Iemand wat vir jou pleit by die almagtige God! (en terloops, dis nie Maria of een of ander heilige nie, dis God se eie Seun) Sal God nie na sy Geliefde Seun luister nie? Verseker sal Hy... Onthou Jesus bid vir jou, as jy magteloos siek lê, as jy in ‘n donker krisis is en nie weet wat om te bid nie, wanneer jy deur versoeking geteister word en juis ook as jy in sonde geval het... Hou vas aan hierdie feit en skep weer moed!

HEMELVAART VERSEKER ONS VAN ‘N PLEITENDE JESUS! KIND VAN GOD, HY PLEIT VIR JOU! GAAN JY DALK NOU OPGEWONDE RAAK?

2.Die feit dat Jesus as mens met sy menslike liggaam en natuur opgeneem is in die hemel is ‘n waarborg, dat Hy ons ook as mense met nuwe liggame na Hom sal neem. “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie." (Joh 14:2) Ons gaan nie swewende spoke wees nie. Ons gaan na ‘n plek wat Jesus vir ons berei het. Ons gaan nuwe liggame kry, soortgelyk aan sy verheerlikte liggaam. Liggame sonder gebreke, sonder smet of sonde! “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21)

3.Na die hemelvaart het Hy Sy Gees gestuur om by ons te woon en dis ‘n groot voordeel. Jesus verseker sy dissipels : “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." (Joh 16:7) Dis die belofte wat op Pinksterdag letterlik waar geword het. Maar dis ‘n waarheid met blywende effek – die Heilige Gees is by elke kind van God en troos ons, leer ons, lei ons, bekragtig ons! Jesus het sy belofte gehou en daarom maak die Heilige Gees ‘n werklike verskil in elke kind van God se lewe.

JESUS IS NOU BY ONS DEUR DIE GEES!

Jesus se hemelvaart is dus net soos sy geboorte, sy wonders, sy kruisdood, sy opstanding goeie nuus vir ons. Goeie nuus om waarlik oor opgewonde te raak en dankbaar voor te wees! Hierdeur waarborg Hy ons redding deur sy voortdurend voorspraak. Hy waarborg ons liggaamlike voortbestaan en ewige heerlikheid by Hom. Hy waarborg dat Hy nou deur die Heilige Gees by ons is, want die Heilige Gees word genoem die Gees van Christus en die Gees van Jesus! Hemelvaart beteken eintlik ons brood is aan beide kante gebotter – Jesus is by die troon van die Vader waar Hy vir ons pleit, maar Jesus is ook deur die Heilige Gees nou by ons!

1 opmerking:

  1. Baie dankie, ek het vanjaar weer opnuut onder die besef gekom van hoe kosbaar en vol betekenis elkeen van Jesus se handelinge hier op aarde was. Lukas vertel dat Hy Sy deurboorde hande opgehef en hulle geseën het en "al seënende" (Luk 24 v 51) in die hemel opgevaar het. Nog 'n troos van die hemelvaart, is dat daartydens vir ons 'n belofte gegee is: JESUS KOM WEER!

    Hand 1:10-11 "En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, SAL net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het."

    Intussen tree Hy voor God in vir ons: Heb 4:14 "Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou."

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.