BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 24 November 2012

GROOT GENADE

- het groot gevolge. 

Alles, alles net genade! Ons kan alleenlik deur God se genade die verlossing ontvang.  Ons ken  mos Efesiërs 2:8  wat leer: “Uit genade is julle gered...” Anders gesê : Daar is net een rede waarom sondaar mense gered word en vir ewig die hemelse heerlikheid kan deel en dis op grond van God se ryk genade. 

HEMELSE NAVORSING

Kom vat ‘n mikrofoon en gaan doen bietjie navorsing in die hemel...  Jy sal so ‘n kort mannetjie daar kry met die naam van Saggeus... Praat met hom. Jy sal hoor : “Ek was die grootste skelm en skurk. Ek het net vir geld geleef. Ek was ‘n afperser en bedrieëer. Maar toe roep Jesus my... dit was net genade, want ek was die slegste ou op die dorp. Toe kom Hy na my huis en ek ontvang genade en word ‘n nuwe mens.”  Miskien sal jy ook ‘n vrou daar raakloop, die Samaritaanse vrou vir wie Jesus die Lewende water by die put van Sigar gegee het. “Ja, ek was in ‘n ellendige toestand van sonde. Ek was al vyf keer getroud en op daardie stadium het ek sommer maar net saam met ‘n man gebly. Maar toe konfronteer Jesus my en ek ontvang genade, volkome vergifnis...” Jy moet beslis  met Petrus ‘n onderhoud voer : “Ek was die leier dissipel. Arrogant, vol van myself. Maar jy weet mos wat het gebeur, ek, juis ek van alle mense het drie keer in die openbaar Jesus verloën. Ek het die grootste van alle sondes gedoen. Maar weet jy wat, ek het weer genade ontvang, soveel so dat ek die opdrag gekry het om die Here se skape op te pas! Wondergenade!” Praat met  Paulus, die besetene van Gadara, Maria Magdalena, die tronkbewaarder van Filippi...  Ja, jy kan onderhoude voer met nog duisende en duisende ander... die basiese antwoord sal wees : “Ons is hier alleenlik weens God se onbeskryflike groot genade!”

RADIKALE GENADE

Hierdie genade van God is die kern van sy verbondsbeloftes wat eerste uitreik na die mens : “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet vir my ‘n kind wees.”  Dis die basis van God se verhouding met die mens, soos Hy dit alreeds aan Abraham uitgespel en beloof het.  Maar genade het nog 'n groter verrassing vir ons...

Kom kyk bietjie saam met my na die inhoud, maar veral die gevolge van genade soos dit vir ons verduidelik word in Titus 2:11-15. (Lees dit gerus saam met my in jou Bybel)  Die openbaring van God se genade bereik ‘n hoogtepunt van duidelikheid en heerlikheid as Jesus kom en aan die kruis sterf. “Hy het homself vir ons as offer gegee...” (Vers 14) Volgens die verbondseise moes ons gehoorsame kinders vir God gewees het, maar ons kon dit nie regkry nie. Ons sonde het ons laat wegdwaal van God en het God se straf oor ons gebring. Maar toe kom Jesus en vat die straf op Hom. Hy offer Homself vir ons. Dis uiterste genade! Iemand anders vat my verdiende straf in my plek! Romeine 3:23,24 stel die vryspraak uit genade op grond van Jesus se verlossingswerk so treffend! (lees) 

GENADE LEER ONS OM ANDERS TE WEES

Genade gaan oor vergifnis, regverdiging (justification), maar dit eindig nie daar  nie. Genade gaan verder. Genade voed ons op! (Vers 12) Genade  leer ons ‘n totaal nuwe lewensstyl en siening. Groot genade het ingrypend  groot gevolge in die lewens van die ontvangers daarvan! Dit word pragtig uitgespel deur Paulus in hierdie gedeelte. Kom ons kyk bietjie na die onmiskenbare gevolge van genade:

Genade leer ons om sekere dinge te los en agter te laat. Ons sê totsiens vir ‘n goddelose leefwyse, waar ek gemaak het soos ek wil. Ek onderwerp my aan God. Ek neem sy opdragte ernstig op! Ek neem ook my beloftes teenoor Hom ernstig op. My doopbelofte.  My lidmaatsbelofte. My huweliksbelofte. Genade maak dat God ‘n werklikheid in my lewe word. Ek het respek vir Hom, ek eer Hom! Genade maak dat ek my rug keer op my ou lewe wat ingerig was volgens wêreldse begeerlikhede. (1 Joh 2:15-17) My lewe draai nie meer net om die dinge wat ek kan sien nie. My lewe word nie meer beheer deur besittings, mag en plesier nie!

Genade leer ons ook positief ‘n nuwe leefstyl. Hierdie nuwe lewe is ‘n lewe van selfbeheersing. Ek doen nie meer dit wat by my opkom, dit wat my ou sondige natuur vir my voorskryf nie, dit wat ek voel ek wil doen nie... my lewe word nou beheer deur die Heilige Gees in ooreenstemming met God se Woord! Genade bring egtheid en opregtheid in my lewe. Ek is nie volmaak nie, maar ek het egte berou oor sonde, egte liefde vir die Here. Ek leef eerlik voor God en mense. Genade aktiveer ‘n mens se gewete, dit maak mens sensitief vir sonde, vir die stem van die Heilige Gees. Genade bewerk  positiewe vrugte van ‘n nuwe lewe. Dit laat ons dinge doen waarvan God hou. Nou reeds in hierdie stukkende teenswoordige wêreld. Ja, ek en jy wat genade ontvang het kan nou  lewe op ‘n manier wat eer aan God bring. Onthou Jesus het gekom sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om goeie werke te doen! (Vers 14)

Genade skep by ons ‘n toekomsverwagting. Genade gee vir ons ‘n visie wat die wêreld nie het nie. Die wêreld kyk net vas in die hier en nou. Die plesier wat ek nou kan kry, die geld wat ek nou gaan maak..., of aan die ander kant na al die ellendes, opstande, stakings, onrus...van nou!  Genade tel ons oë op om verby die sigbare te kyk.  Genade laat ons verder sien. Ons sien uit na die gelukkige dag wanneer Jesus in heerlikheid sal kom. Wanneer ons ons Verlosser sal sien en wanneer ons verlossing volkome afgehandel sal word. Hierdie toekomsvisie is juis ook weer ‘n sterk motivering om nou reeds heilig te leef. (1 Johannes 3:2,3)

Het God se genade al hierdie verskil in jou lewe gemaak? 

Is jy anders as voorheen?  Is jy besig om die ou dinge agter te laat? Is jy daagliks besig om ‘n nuwe leefstyl volgens God se Woord aan te leer? Het jy ‘n verwagting oor die toekoms saam met Jesus?

Miskien kom jy agter dat God se genade nog net ‘n mooi teorie vir jou is. God het sy genade aan jou beloof, maar jy het dit nog nooit doelbewus in Jesus aanvaar nie. Jy loop as’t ware  met ‘n getekende tjek in jou sak, maar jy het dit nog nooit getrek nie. Aanvaar die ryk oorvloedige genade van God vandag, sommer  nou en jy sal sien hoe dit jou tot ‘n nuwe lewe lei!


Genade is soos reën in die Kalahari. Dit maak 'n groot (groen) verskil. Op die foto is die klein kerkie op Wilzdale, naby die grenspos Mokopong ongeveer 90 km vanaf Bray.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.