BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 05 April 2018

HIPEROORWINNAARS!

- Die praktiese effek van Paasfees vir elkeen wat aan Jesus behoort. 


Ons het weer die afgelope tyd gekyk na die feite van Paasfees! Die vaste en sekere feite van Jesus se genoegsame kruisdood as volkome offer vir ons sondeskuld. Die heerlike feit van die liggaamlike historiese opstanding wat ‘n bewys is van sy oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel. God het Jesus se offer aanvaar en daarom kan die duiwel ons nie meer beskuldig of afpers weens ons sonde nie. 

Een van die heerlikste dele in die ganse Heilige Skrif wat hierdie waarheid onomstootlik duidelik stel is ROMEINE 8:31-39. 

Die kruis en opstanding van Jesus maak ons superoorwinnaars, eintlik letterlik “hiperoorwinnaars” soos Paulus dit in vers 37 stel. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” * Maak nie saak in watter omstandighede ons onsself bevind nie, die kind van God is triomfantlik, die kind van God kan nooit ‘n verloorder wees nie. Ja, ons word nie gevrywaar van slegte dinge, vervolging en swaarkry nie, maar al hierdie dinge kan ons nie onderkry nie en ons van ons hemelse kroon beroof nie! Ons styg uit bo alles omdat ons gedra word deur God se liefde! 

VIER VRAE

Paulus verduidelik vir ons die kind van God se onaantasbare oorwinnaarstatus deur vier retoriese vrae te vra. Dis retoriese vrae waarvan die veronderstelde antwoord, elke keer is : “Nee, niks, niemand nie…” en dan gee Paulus die rede vir die antwoord. Die rede sal jy sien kom in feite neer op die Paasgebeure – die kruis en opstanding van Jesus. Kom ons kyk kortliks na die vier vrae: 

EERSTENS (31) “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Die antwoord : Niemand nie! Wat is die rede vir hierdie vertroue? “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (32) Wel, as God so ver gegaan het om selfs sy eie Seun nie te spaar nie, maar ter wille van ons te offer, is dit net logies dat Hy vir ons als sal gee wat ons ook al mag nodig kan hê. (Hierdie woorde in die Grieks eggo die aangrypende gebeurtenis in Genesis 22:16, waar Abram nie sy seun wou spaar nie, maar bereid was om hom te offer) Paulus voer ‘n logiese argument, van die grote na die kleine. As Iemand bereid was om sy heel kosbaarste vir jou te gee, gaan hy tog nie ‘n probleem hê om iets minder belangriks vir jou te gee nie… 

TWEEDENS (33) “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.” Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Let op, die benaming vir God se kinders – ons word uitverkorenes genoem, juis om te beklemtoon dat die feit dat ons aan God behoort, nie ‘n prestasie van onsself af is nie. God het ons gekies sonder dat ons dit verdien! Ons is begunstigdes van God, uit genade! As God dan self ons vrygespreek het, wie durf ons nog aankla? Ons staan sonder skuld voor God! God self het ons dan reeds kwytgeskeld en vrygespreek van alle skuld en blaam! 

DERDENS (34) “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Wie kan God se kinders veroordeel? Dis asof Paulus hier ‘n openlike uitdaging rig tot almal wat ons wil beskuldig en veroordeel… ander mense, alle aardse regters en kritici, ons eie gewete en ja die groot beskuldiger en aanklaer, Satan self! “Toe, toe, laat ons hoor, wat het julle te sê…” En weereens is die veronderstelde antwoord : Niemand nie, niemand kan God se kinders veroordeel nie! Hoekom nie? Ja, dis ‘n goeie vraag...Hoekom is Paulus so vol uitdagende sekerheid? Hy gee die redes. En let nou baie mooi op, dis baie belangrik – hierdie redes het niks met my eie goedheid of prestasies te doen nie! Kyk die argumente van Paulus : Christus het gesterf. Hoekom is dit so belangrik? Sy sterwe het my sondeskuld uitgewis en daarom kan niks en niemand my veroordeel nie! Maar dis nog nie al nie. Christus is uit die dood opgewek. Hoekom is dit so wonderlik? Dis die bewys dat God Jesus se offer as genoegsaam aanvaar het. Maar dis nog nie alles nie. Jesus is op hierdie oomblik besig om te pleit en in te tree vir God se kinders. Hy is ons lewende advokaat en Hy stel ons saak, op grond van sy versoeningswerk aan die kruis! Kan daar iets meer gerusstellend wees? 

Hier is die vaste fondasie van ‘n Christen se vertroue en sekerheid. Dis nie binne myself te vind nie, maar in Christus en sy werk! As ‘n skip in stormwater beland, help dit nie hy gooi ‘n anker uit in sy eie ruim nie, nee, die anker word na buite gegooi na die vaste seebodem... Ons gooi ons ankers uit op die vaste rotsbodem van Jesus se volmaakte offer!

Die kind van God kry sekerheid en vastigheid nie deur na binne te kyk, na jouself nie (is my geloof sterk genoeg, is my bekering eg genoeg…?), maar na die genoegsame en volmaakte werk van Jesus aan die kruis! 



VIERDENS (35) “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” Hier kom Paulus se redevoering en logika tot ‘n verbysterend heerlike klimaks! Is daar enigiets of iemand wat ons van hierdie liefde van Christus kan skei, kan beroof? NEE! NIKS! NIEMAND! Dan noem Paulus ‘n hele klomp slegte goed wat met God se kinders kan gebeur, en dit is erge dinge… Maar, ja al gebeur hierdie dinge met ons, verander dit niks van God se liefde nie. Hierdie dinge kan ons nie permanente skade berokken nie. Te midde van hierdie dinge bly ons triomfantlike oorwinnaars! “Hiperoorwinnars” soos ons reeds gesien het! En dan voer Paulus se heilige logika hom tot een van die mees verhewe en heerlike uitsprake in die ganse Heilige Skrif. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (38,39) Paulus sê met passievolle oortuiging : “Ek is absoluut seker dat niks, hoegenaamd niks ‘n verskil kan maak aan die spesiale liefde van God, soos dit deur Jesus aan die kruis vir ons bewys is nie! Kom wat wil, ek weet God het my lief, die Paasgebeure het dit bewys. Kom wat wil, God se liefde in Jesus sal my nooit as te nimmer in die steek laat nie en Hy sal my daarom veilig by my ewige bestemming uitbring!” 

VREUGDE! VREUGDE! VREUGDE!

Hier is oorvloedige rede vir vreugde, Paasfeesvreugde! Nou reeds! Deur die geloof beleef ons reeds nou te midde van allerlei druk hierdie blydskap. 

En weet verseker, weldra sal ons geloof oorgaan in aanskoue, wanneer die opgestane Jesus ons gaan kom haal om vir ewig by Hom te wees! 

*”meer as oorwinnaars” is die vertaling van die Griekse werkwoord υπερνικωμεν (upernikomen). νικωμεν sou beteken “ons oorwin”, maar nou staan daar υπερνικωμεν “ons hiperoorwin.”



Niks, maar niks kan ons skei van God se liefde nie....

4 opmerkings:

  1. "wanneer die opgestane Jesus ons gaan kom haal om vir ewig by Hom te wees!" Fisies?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie vir die vraag. Ja, "fisies", die Woord leer duidelik dat ons sal opstaan met verheerlikte liggame. (Filippense 3:20,21) Daarom bely ons saam met die kerk van alle eeue dat ons glo in die opstanding van die vlees. (Twaalf Artikels)

      Vee uit
  2. Soos in Mattheus 27: 52, of soos reïnkernasie?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Kry die antwoord hier : https://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/2013/04/die-bespotte-koning.html

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.