BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 19 Januarie 2018

KYK, WAT HET HY GEDOEN!

BEVRY VAN VREES, KAN EK NOU WEER ‘N NUWE  LIED SING!



Is jou Christenskap besig om jou moeg te maak? Voel dit vir jou dis iets wat jy nie regkry nie? Is jou Christenskap besig om jou bang te maak? Jy voel altyd vol vrees en onsekerheid of jy goed genoeg is? Jy wonder : “Is my bekering eg genoeg, is my berou diep genoeg, is my geloof opreg genoeg?” Maak jou Christenskap jou dalk negatief? Dis vir jou ‘n bitterlik sware plig om kerk toe te kom of te bid, en as jy kans kry om dit nie te hoef doen nie, is jy maar net te bly!


Daar kan baie redes wees vir hierdie toestand, maar een van die grootste redes is dat jy die evangelie nog nooit verstaan of aanvaar het nie. Jy dink verkeerdelik dat die evangelie ‘n swaar plig is, dat Christenskap ‘n buitengewone harde lewenstaak is of dat daar ‘n groot prestasie van jou verwag word om kind van God te word of te bly. Jy het al soveel keer probeer om ‘n goeie mens te wees, maar telkens misluk… Eintlik, het jy miskien al moed opgegee...

Die heerlike stuk heilsgeskiedenis van die Israeliete se deurtog deur die Rooi See is ‘n besondere duidelike illustrasie van hoe God werk en wat ons reaksie daarop moet wees. (Lees gerus eers Eksodus 14:15-31; 15:1-3) Dis niks anders as die evangelie reeds in die Ou Testament nie! (Terloops, dit illustreer sommer ook vir ons die belangrikheid van die Ou Testament om die werk van Jesus dieper te verstaan.) 

Dit gaan oor Gód se reddingswerk en mense se vreugdevolle en dankbare reaksie daarop. 

GROOT MOEILIKHEID!

God het die volk Israel onder leiding van Moses uit die slawebestaan in Egipte bevry. Ons ken die dramatiese gebeure wat reeds plaasgevind het… Die hardkoppigheid van die farao, die wondertekens en plae... Die feit dat Israel tot hier gekom het, was geensins weens hulle eie prestasies nie… Inteendeel… Maar nou bevind hulle hulself weer in baie groot moeilikheid. Voor hulle is die Rooi See, ‘n verdinkingsdood wat wag! Agter hulle is ‘n oprukkende en wraaksugtige Farao en sy Egiptiese krygsmanne, ‘n dood deur swaard en spies! Groot benoudheid, ‘n benarde situasie, geen uitkomkans! Letterlik tussen die duiwel en die diepblou see!

Elke mens is geestelik ook in hierdie haglike situasie. Die wet is duidelik: “die siel wat sondig moet sterwe!” En dis duidelik dat almal van ons leuenaars, diewe en lasteraars... is, want ons het elke gebod wat daar is reeds in daad of gedagte oortree. Party probeer hierdie feite ignoreer, party maak planne… “Ek hoop maar ek doen meer goeie dinge as slegte dinge, dat my goeie dade die slegtes sal uitkanselleer...” (Dis natuurlike naïewe dwaasheid; probeer bietjie so ‘n tipe argument in ‘n hof…"Ja, edelagbare ek is inderdaad skuldig aan moord en verkragting, maar asseblief onthou net ek skenk gereeld geld vir die kankervereniging en die DBV!") God se geregtigheid soos uitgedruk in sy wet keer ons vas van voor en agter. Daar is geen uitkomkans nie, ons is skuldig, die oordeel hang soos ‘n swaard oor ons… WAT NOU?

Eers, terug by die verskrikte en beangste Israeliete. Moses praat hulle moed in. “Maar Moses het die volk geantwoord: "Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg." (13,14) 

GOD DOEN IETS!

En wat gebeur toe? God bewerk ‘n kragtige verlossing deur middel van sy kneg Moses! Dis Hy wat die verlossing bewerk! Net Hy alleen! Wat sou ongewapende mans, vroue en kinders buitendien teen die magtige Egiptiese leër kon uitrig? Wat sou hulle kon doen om sonder skepe oor die Rooi See te vaar? Niks! Totaal magteloos! Net God kon ‘n reddingswonder doen, net God kon ‘n ramp afweer en uitkoms gee. En Hy het! “Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê.” (30)

ONS REAGEER GELOWIG DANKBAAR

En waar kom die Israeliete nou in die prentjie? Wat was hulle reaksie? “Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.” (31) Hulle besef die ontsagwekkende grootheid van God en hulle glo! Bekering en geloof! God het ingegryp en hulle redding bewerk, daarom glo hulle, vertrou hulle. 

Dis nie ons geloof opsigself wat redding bewerk nie, dis nie die kwaliteit van ons geloof wat die verlossing verseker nie. Nee, ons geloof neem net vertrouend en dankbaar kennis van die redding wat GOD bewerk het!

En wat bly oor? Waartoe lei hierdie heerlike verlossing wat God bewerk het? Net meer DANKBAARHEID en BLYDSKAP! Hulle sing nou dankbaar ‘n verlossingslied. 

“Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: "Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.
Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.
Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’! ...(15:1-3ev)

Die evangelie gaan oor God wat deur sy eie Seun, Jesus Christus ‘n magtige verlossingswerk aan die kruis gedoen het. Die duiwel is verslaan. Die vyand is vernietig! By die kruis is ons redding bewerk. Dit gaan nie oor wat ons doen nie, dit gaan oor wat HY gedoen HET! Ja, ons reageer gelowige en dankbaar. Ons buig in nederige dankbaarheid voor die ontsagwekkende almag en heerlikheid van God. Ons word geïnspireer tot lofprysing. Lofprysing met ons mond, hart en lewe!

Die lied wat die bevrydes hier gesing het vind weerklank tot in die laaste boek van die Bybel. In Openbaring 15:3 lees ons hiervan. “Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: "Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies.” Alle gereddes, alle verlostes gaan eendag die lied van Moses sing. Dis die evangeliese lied wat erkenning gee aan die Lam wat ons deur sy bloed vrygekoop het, die lied wat alle eer aan God gee!

Ware Christenskap is nie om een of ander harde werk te doen om God te beïndruk of jouself te red nie. Dit gaan in die eerste plek om vertroue op God, spesifiek geloof in Jesus oor dit wat HY gedoen en afgehandel het aan die kruis. Anders gestel. Die evangelie is nie doen, doen, doen, nie! Die evangelie is, dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen!  Ja, klaar gedoen aan die kruis! Wie dit glo en raaksien kan nie anders nie as om ‘n lewe van lof en dank te lei nie. Ja ‘n lewe van lof en dank vereis al ons oorgawe en toewyding, maar dit gaan nie oor prestasie nie, maar oor dankbaarheid! 

CHRISTENWEES IS NIE 'N DIY JOB NIE!

CHRISTENSKAP GAAN DAAROOR DAT ONS DANKBAAR FOKUS OP DIE VERLOSSING WAT GOD SELF REEDS DEUR JESUS BEWERK HET!


Het jy al gelowig die groot verlossing wat God deur Jesus op Golgota bewerk het aanskou? Besef jy dat Hy vir elke sonde, ja, elkeen die volle straf gedra het? Besef jy dat Hy jou bevry het van sonde, satan, dood en hel? Raak dit jou, reageer jy? Gaan jy saam met die groot koor verlostes tot in ewigheid ‘n dankbare verlossingslied sing? God se kinders sing dit nou reeds en gaan nooit ophou nie! 

Sing jy al?

2 opmerkings:

  1. Amen Johannes, Ah! watter groot verlossing Here Jesus, my skuld aan U toegereken U geregtigheid en heilige lewenswandel aan my toegereken - nou kan ek in blydskap net almeer word wat ek reeds in Christus is (Efes 4:23,24)

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Wonderlik, ja! Ook baie lekker om van jou te hoor. Vertrou dit gaan goed.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.