BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 17 April 2016

ULTIMATUM AAN DIE ALGEMENE SINODE

- behoort te wees : Herstruktureer of ons tree uit! Die NG Kerk kan nie meer op hierdie manier funksioneer nie.

Dit was van die sterk gedagtes wat uitgespreek is deur Prof. Johan Janse van Renburg tydens ‘n gereformeerde saamtrek op Otjiwarongo tydens die naweek van 15-17 April 2016. Hierdie geslaagde byeenkoms is bygewoon deur belangstellendes van so ver as Aranos in die suide, Omaruru in die weste en Grootfontein in die noord ooste. ‘n Kenner op die gebied van homoseksualiteit, Dr. Peet Botha het ook ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Prof. Janse van Rensburg (skrywer van die boekie, “In Gesprek met die Kerk”) het reguit en duidelik gepraat oor sake wat ons na aan die hart lê soos Skrifgesag, Post Modernisme, leierskap, die gevare van die Ontluikende Kerk (Emerging Church), die kommerwekkende stand van teologiese opleiding, kerkvergaderings, Belhar, die AS besluit oor selfdegeslagverhoudings en vele ander verwante sake.

Ekself was net die Saterdag teenwoordig en onderstreep net ‘n paar wyshede van Prof. Janse van Rensburg by wyse van kort aanhalings. Wees gewaarsku, dis nie vir mense met swak siele nie...

SKRIFGESAG EN HERMENEUTIEK

“Ons is klowe uit mekaar wat betref Skrifgebruik.” Ons is ook weer daaraan herinner hoe die relativisme van die postmodernisme so 'n sterk invloed op ons kerk uitoefen dat 'n Algemene Sinode al besluit het dat elkeen maar self moet besluit of daar 'n duiwel is of nie.

“‘n Professor in Ou Testament sê : ‘Ek aanvaar nie Handelinge 8 se uitleg van Jesaja 53 nie.”

“Dis tyd om hermeneutiese keuses te maak en daarby te bly. ‘n Akkommoderende houding kan nie anders as om op relativisme uit te loop nie.”

“Ek was verstom toe ‘n dosent van ‘n fakulteit verklaar dat die Bybel vir ons geen etiese voorskrifte gee nie.”

HOMOSEKSUALITEIT

Oor die hantering van homoseksuele – “Ek sal jou met liefde behandel, maar moet net nie vra ek moet die Bybel verander sodat jy beter kan voel nie.”

ONTLUIKENDE KERK (EMERGING CHURCH)

Prof Janse van Rensburg het gewys op die idees van leiers in hierdie beweging soos Rob Bell, Allen Jones. Sommiges het sterk afwykende beskouings oor sake soos sonde en die kruisdood van Jesus. Met verskeie voorbeelde het Prof. Janse van Rensburg ons attent gemaak op die skrikwekkende invloed van die Ontluikende Kerk binne ons kerk.

“Waar kom die obsessie vandaan om inklusief te wees? Dit kom van die New Age af. Die emerging church is die vertoonvenster van die New Age.”

“Die vorige moderator (AS) is ‘n vurige ondersteuner van die Ontluikende kerk.”

LEIERS EN TEOLOGIESE OPLEIDING

Oor die bedenklike toestand in ons kerk - “Die AS en die leierskap en die teologiese opleiding het ons gebring waar ons nou is.”

“Die invloed van leiers op strategiese beplanning het handuit geruk. Die leiers het teologiese idees wat hulle wil deurvoer in die kerk.”

“Daar is nie ‘n fakulteit van die NG Kerk wat gereformeerde teologie doseer nie.”

GEREFORMEERDE KERKREG

“Ons het die beginsels van die gereformeerde kerkreg opsygesit. Een daarvan is dat die plaaslike kerk volledig kerk is.”

ALGEMENE SINODE

“Dit is absoluut ondenkbaar dat die AS 2015 besluit het dat die Wes Kaap kan besluit om Belhar as belydenisskrif te aanvaar. Dis onwettig. Die AS het dus sy verantwoordelikheid gedelegeer na die Wes Kaap.”

“Die moderator is voorsitter van die sinode in sitting. Na die sinode kan die moderator nie namens die sinode praat nie.”

“Die Algemene Sinode is ver verwyderd van die kerkverband. Die besluite van die Algemene Sinode word al hoe minder deur die publiek in die kerk aanvaar.”

MY GEWAARWORDINGE

Die dinge wat deur Prof. Janse van Rensburg aangeroer is, het mens weer opnuut warm onder die kraag gemaak en mens se ergste vermoedens bevestig. (‘n Mens weet nou ook hoekom word hy nie genooi na een ons predikantekonferensies hier in Namibië nie, of is ek nou verkeerd?) Hy praat van dinge waarvan ons intens bewus is. Soos die gewoonte om die dagwydings te gebruik om ‘n sinode (spesifiek verlede jaar se Algemene Sinode) te probeer manipuleer, die cliché van “Ons moet mekaar vashou” terwyl ons Skrifbeskouing myle van mekaar verwyderd is en nog vele ander.

Wat nou, moet ons moedeloos raak? Nee, selfondersoek, reformasie en herlewing begin by elkeen van ons. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid en dan ook op ‘n besondere manier elke ouderling van ‘n plaaslike gemeente s’n. Mense val vir die leuens van die emerging church omdat hulle na ‘n ervaring soek aangesien die suiwer en bevrydende Woordverkondiging al skaarser word. As die Heilige Gees in ons werk en ons oortuig van ons sondelas, as die evangelie boodskap dan aan ons bevryding van hierdie las bring, sal daar waarlik blydskap en vreugde wees in Jesus Christus, en sal ons nie die kunsmatige en okkulte ervarings van die New Age ten prooi val nie.

My sterk gevoel is, die gewone lidmaat, ouderling en predikant, die kind van God wat nog glo in God se Woord, moet die kerk terugeis en terugvat van vreemde beheer en invloed wat ingesypel het deur ons leiers en teologiese fakulteite! Ons moet weer buig voor die koningskap van Jesus, die Here van die Kerk, wat sy kerk deur die Woord en Gees regeer.

Lewer gerus kommentaar en gee jou mening!

12 opmerkings:

  1. Dank die Here vir Bybelgetroue leiers soos prof Johan, wat vasstaan in die waarhede van die Skrif, en nie bang is om hulle teen die besluite van die AS uit te spreek nie. Dit is inderdaad tyd vir 'n ultimatum!

    AntwoordVee uit
  2. Ek en my vrou het enkele maande gelede omrede die toenemende dwalings in die NG Kerk uit dié kerkverband bedank en is nou lidmate van 'n onafhanklike klein gemeente in Bellville in die Kaap. Ons was vir jare deel van 'n groot groep mense wat die NG Kerk van binne af probeer terugstuur het na God en Sy Woord. Hul besluit oor homoseksualiteit wat blatant die teenoorgestelde is van wat die Bybel daaroor verklaar, het ons die finale besluit laat neem. Ons oorwegende gevoel na ons bedanking was 'n vredevolle gevoel van verligting, en al sou die NG Kerk op wonderbaarlike wyse nou hul laaste fatale besluite omkeer, is die boodskappe en gemeentelike eenheid in Christus in ons nuwe gemeente soveel dieper en kragtiger as ooit tevore, dat ons waarskynlik nooit sal oorweeg om terug te gaan nie. Die skrikwekkende toekomstige probleme van die NG Kerk is dat hul teologiese opleiding van hul toekomstige predikante sodanig is dat daar menslik gesproke net vooruitsigte is van verdere verval. In ons geval was daar genadiglik 'n wonderlike alternatiewe kerk beskikbaar, wat waarskynlik nie vir almal so sal wees nie. Maar God sal Sy ware Kerk in stand hou, al is dit deur huiskerke. Hennie Mouton

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Broer ek resprekteer jou reg om so te kies soos julle gekies het. Wat my betref kan ek net sê dat dit vir my 'n wonderlike vruegde en voorrreg is om die Woord in die NG Kerk Tsumeb hier te bedien. Net vanoggend het ek die wonderlike geleentheid gehad om aan 'n vol kerk die Woord te bring, vanaand het ons weereens 'n kerkraadsvergadering met 'n wonderlike gesindheid beleef - waar ek juis ook baie reguit gepraat het oor die woelinge en bedreiginge in ons kerkverband. Ek sien die plaaslike kerk as volledig kerk en solank ek die ondersteuning van hierdie kerkraad geniet hoop ek dat die Here my die krag sal gee om die evangelie te bring. Beslis kan ek nie hierdie kosbare kudde vir die wolwe gooi nie.
      Teologiese opleiding, soos Prof Janse van Rensburg inderdaad uitgewys het is 'n probleem, maar daar is ander moontlikhede wat ons ondersoek...
      Mag die Here ons genadig wees!

      Vee uit
    2. Ds De Koning as jy nog die Woord in jou gemeente verkondig is hulle 'n BAIE gelukkige gemeente en dit is waarskynlik hoekom jou kerk vol is. Maar in die breëre NGK is predikante soos u 'n bedreigde spesie. Ek het in 1990 op univesiteit klaar gemaak, toe al, het van my vriende wat teologie studeer het, gesê hulle twyfel of hulle professors selfs christene is. Daardie professors het van daardie tyd 25jaar se twyfel en vals leer in hulle studente se harte gesaai. Ongelukkig is baie van die wat, nog tipe van, op die regte pad is met baie van daardie hoër kritiese konsepte gekontamineer. Ds, jy tree af of kry 'n beroep en die kans dat daar 'n wolf in skaapsklere na jou gemeente kom is seker 90%. Dit is nie net 'n probleem in die NGK nie, dit is 'n wêreld wye probleem vir christene om 'n kerk te vind waar die woord nog verkondig word. Ek het familie in SA in die Hervormde kerk (selfde vlak van dwaling as NGK), Gereformeerde kerk (Op die glybaan) en die APK (Krake begin wys). Lg drie kerke het nie so 'n prominente openbare profiel soos die NGK nie. Ons bid elke dag vir die manne (wêreld wyd) wat nog die woord suiwer en reg verkondig dat hulle sal krag ontvang om te volhard tot die einde toe tsv die stryd van alle kante af.

      Vee uit
    3. Baie dankie vir die voorbidding!

      Vee uit
  3. Ons beleef klaar die verligting van uit die NG Kerk te bedank het, en nou deel te wees van 'n nuwe gemeente met Christus-gesentreerde prediking uit die Woord, en wonderlik meelewende gemeentelede.

    AntwoordVee uit
  4. Dit is goed dat die waarheid nou sterk na vore kom in kringe in die NGK, want daar is vele mense in die NGK wat nog aan die fundamentele waarhede vd Skrif vashou, soos o.a Prof Johan Van Rensburg, wie m.i. 'n werklike visonere man vir ons dag is.
    Soos egter in die geval met dr Hennie Mouton hierbo & derduisende ander, is dit nou te laat (ekself is ook uit die NGK, my oudste dogter & haar man ook - weliswaar is nie een van my 5 kinders enigsins by die NGK betrokke nie, & ek kan nie se ek is jammer daaroor nie, inteendeel. My buurman het ook 5 kinders. Hy is 'n NGK teoloog. Al 5 sy kinders is ook uit die NGK.
    Al jare lank het mense binne die NG-kerk (Hennie Mouton was een van hulle) gewaarsku hierteen maar weining of niks het gebeur nie.
    Dis laat in die dag & baie skade is reeds aangerig omdat die mense in die kerk wat kon iets doen, & moes iets doen, te laks was.
    Die kweekskole draai nou net liberale studente uit, almal 'gedoop' in die Nuwe Dwaal-Teologie van Nelis Niemandt, Ben du Toit, et al.
    Dit is eintlik skrikwekkend.
    So die toekoms lyk nie goed wanneer die huidige generasie behoudende predikante uittree nie.
    Is daar enigsins kans dat die Algemene Sinode van Oktober 2015 sy besluit oor homoseks oor twee jaar sal omdraai?
    Help my om nie pessimisties te wees nie.
    Wie ookal tans in die NG-kerk sit & die Here dien:
    Julle was slapgatte toe die stryd begin het & oor die afgelope jare gevoer is.
    Vorige besluite vd Alg Sinode het reeds gedui daarop dat die NGK 'n vals kerk word.
    Waar was julle?
    Te besig?
    Te versigtig?
    Dit is nou te laat, dink ek.
    Om te se dis nooit te laat nie, is dalk waar, maar ook nie heeltemaal nie - vir baie mense is dit te laat.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek stem saam die situasie is uiters beroerd en kritiek. Ek weet nie wat die pad vorente is op die langtermyn nie, ek weet net ek is tans tussen kosbare skape van die Here en dis my verantwoordelikheid om vir hulle kos te gee...
      Ek weet ook dat as ek Openbaring lees dit baie duidelik is dat dekadente kerke opgeroep moet word tot bekering...

      Vee uit
  5. Maar ja, dit is nooit te laat om vir die waarheid op te kom nie, al is verwyte nie nou 'n goeie ding nie, behalwe om te herinner aan julle louheid toe dit getel het & mense wat opgestaan het teen die dwaling, of geignoreer of mee die spot gedryf is, soos die outeurs van "Die Trojaanse Perd in die NG-Kerk":
    Hulle is uitgekryt vir 'fundamentaliste', 'moeilikheidmakers', 'verdelers', 'skeurders' & 'verkramptes'.
    Die destydse nuusredakteur vd Kerkbode, Jean Oosthuizen, is toegelaat om letterlik godslasterlik te wees selfs op Facebook (waar sy werklik-vulgere & heidense uitsprake in die openbaar gemaak is & hy openlik die spot gedryf het met mense wat dieselfde standpunte gehandhaaf het as wat julle nou op staan).
    Nou skielik kom mens agter dat julle ook so 'fundamentalisties' soos die 'profete' vd tyd was toe die NGK besluite oor die duiwel, saamwoon voor die huwelik, Belhar ens geneem is & dit oor jare (dekades) reeds bekend geword het dat die kweekskole dwaling leer, want julle standpunte m.b.t. die waarheid vd Woord & die kerk & die Belydenisskrifte is dit wat hulle verkondig het.
    Bely asb julle sonde hierin, want dit sal gepas wees, maar ek is nie die Heilige Gees nie, so die werk daarvoor is nie in my nie.
    Mag ek as ex-NGK-lidmaat daarop wys dat kompromie nie moontlik is nie.
    Moenie eens probeer nie, want julle sal met mense probeer onderhandel in wie God nie woon nie.
    Wat hulle betref, het iemand iewers gese: "Jesus has left the building".
    Trek die lyne & bly asb daarby.
    Die kerk is nie 'n diplomatieke of politieke ruimte nie.
    Wanneer dit oorlog is, gaan die diplomate huis toe.
    Dis nou oorlog, & wie dit nie besef nie, is nie geskik vir die stryd wat voorle nie.
    Jesus het hulle "addergeslag" genoem.
    Doen julle dit ook.
    Diegene wie die Here waarlik dien, is ons broers & susters & ons weet ons moet by julle staan & vir julle bid, want binne die kerk is ons nie meer nie - o.a. omdat ons nie meer ons bydrae vir 'n Sinagoge van Satan wou gee nie & nie deur ons lidmaatskap legitimiteit wou verleen aan 'n al-meer-vals-wordende kerk nie.
    Julle sal baie wysheid nodig he, maar kompromie is nie in wysheid gelee nie.
    As dit nodig is, skeur...
    Moet tog nie die argument gebruik dat mens nie die kerk moet skeur nie.
    Die Here roep sy kinders uit wanneer die kerk vals word & die struktuur is nie die kerk nie, die kerk is die liggaam van Christus.
    So: Moenie dat dit weer gebeur nie, want julle het julle roeping versaak & daarmee mense in die steek gelaat in die tyd toe dit werklik nodig was.
    Doen nou wat julle hand vind om te doen.
    Mag die Here in Sy genade julle sterk maak in hierdie stryd.

    AntwoordVee uit
  6. Ek is daarop gewys dat bg stuk 'n beeld skep dat ek veralgemeen. Ek wil verskoning vra daarvoor. Dit is in my gebrek dat ek dit so aangebied het. Dit is geensins my bedoeling dat alle mense in die NGK 'slaprug' is nie - n beter term as die een wat ek geruik het. My gebede is met julle in die stryd wat julle voer vir die waarheid. Mag die Here gee dat julle waarlik lig & sout sal wees, dapper sal wees & getrou sal wees vir Sy Waarheid teen die leuen wat reeds so ver & so sterk in die NGK ingedring het dat dit 'n interne gevegsfront vir die Koninkryk van Jesus geword het.

    AntwoordVee uit
  7. As lig nie meer lig is nie en sout nie meer sout is nie, dan is dit ook niks werd nie.As dit so is, dan het die kerk ook geen funksie nie en sal dit tot niet gaan . Ons kan van een ding seker wees die Here sal sy Koningryk instand hou met of sonder die NG-kerk!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.