- die onhoudbare en ongemagtigde bondgenootskap.
Hierdie gedenkteken op Swakopmund wys duidelik die "huwelik" tussen kruis en swaard uit!
MANNE OP DIE GRENS VAN ‘N CHRISTELIKE LAND?
Baie mense verlang waarskynlik terug na die ou bedeling in Suider-Afrika (weens ‘n
verskeidenheid van redes), maar onder andere ook omdat hulle van mening is dat
dit darem meer Christelik of bevorderlik vir die kerk was. “Ons het darem immers in ’n Christelike land gewoon” en “ons manne op die grens het ‘n Christelike
stryd gestry” klink die moontlike nostalgiese mymering. Nou is dit
so as mens verskillende politieke bedelings wil beoordeel raak dit baie moeilik
om ’n objektiewe afstand te behou. Ons eie subjektiewe belewenisse speel
onteenseglik ’n groot rol. Dis te verstane dat mense wat in die ou bedeling
bevoordeel is, geneig sal wees om eensydig die Christelikheid daarvan raak te
sien en blind sal wees vir die onregte wat gepleeg is. Dis ook te verstane dat
mense wat voel dat hulle nou vir die eerste keer menswaardig behandel word,
dalk kan dink dat die koninkryk van God deur die nuwe bewind bevorder word en
geneig sal wees om kritiekloos die euwels in die nuwe bedeling mis te kyk. As
ons egter erns maak met die Woord dink ek sal dit ons help om tot ’n baie meer
nugtere en gebalanseerde verstaan van die werklikheid te kom. Die radikale en
betekenisvolle uitspraak van Jesus in Johannes 18:36 kan ons baie hierin help.
"My
koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my
koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan
die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier
nie."
Met hierdie uitlating van Jesus teenoor Pilatus tydens Sy verhoor wou Jesus
hom laat verstaan dat al is Hy inderdaad ‘n koning, Hy nie skuldig is aan ‘n
politieke opstand of ondermyning van die owerheid se gesag nie. Sy koninkryk is
in ‘n ander sfeer en hou dus geen bedreiging vir Pilatus of die keiser in nie.
Die bewys hiervoor is dat Sy volgelinge hulle geensins tot wapengeweld gewend
het nie. Die frase “nie van hierdie wêreld nie” beteken Jesus se koninkryk is
in ’n ander klas, maar ook van ’n ander oorsprong. (Johannes 8:23)
Hierdie woorde van Jesus bevat egter ook ‘n opspraakwekkend belangrike
beginseluitspraak oor die aard en gestalte van Sy koninkryk binne die konteks van die huidige aardse
bedeling waarin ons leef. Hierin vind ons implikasies van hoe ons die koninkryk
moet verstaan, ons verwagtings oor wat die koninkryk vir ons inhou in hierdie
bedeling en die manier en middele waardeur ons Christus se koninkryk mag
bevorder en uitbrei.
Jesus se woorde aan Pilatus was nie maar net sommer ‘n gerieflikheidsuitspraak
om uit die moeilikheid te kom nie. Sy hele lewe en optrede het hierdie stelling
gedemonstreer. Jesus se koninkryk is inderdaad nie van
hierdie wêreld nie. Dit word deur talle voorbeelde in die Nuwe Testament uit sy
lewe en woorde gestaaf :
~ Hy het nie toegegee aan die verwagtings van mense wat Hom koning wou maak
nie; ‘n aardse aspirant koning sou so ‘n geleentheid aangegryp het. (sien Johannes 6:15)
~ Anders as ‘n aardse leier het Jesus nooit deur goedkoop propaganda of
deur omkopery aanhangers probeer werf nie. In vandag se taal : Jesus was nooit ‘n populis nie! Inteendeel Sy reguit
ongewilde uitsprake het mense laat aanstoot neem en wegdraai van Hom. (In Johannes 6 lees ons hoe Jesus se harde woorde die meeste van sy
dissipels laat omdraai het)
~ Die konings van hierdie wêreld bou paleise en versamel rykdom. Jesus het
in radikale kontras hierteenoor geleef. Hy is gebore in ‘n stal en het as
volwassene beweer dat Hy nie eens ‘n plek het om sy kop neer te lê nie.
~ ’n Aardse koning vergader die vernames, sterkes en slimmes rondom
homself. (en hou van fotosessies saam met “celebrities”) Mense wat nuttig kan
wees in ’n magstryd, mense met invloed - maar Jesus? Hy roep die swakkes,
eenvoudiges en uitgeworpenes... Ja, ’n kern groep van twaalf manne van wie een
’n verraaier sou word en die ander Hom almal in sy diepste nood in die steek
sou laat.
~ Jesus se uitsprake oor die koninkryk, spesifiek die Saligsprekinge maak
dit baie duidelik dat sy koninkryk radikaal verskil en in ’n totaal ander
kategorie val. Hy sê byvoorbeeld dat die sagmoediges die nuwe aarde sal erf.
Volgens menslike logika is dit eerder die sterkes en hardhartiges soos Alexander die Grote, Napoleon en Hitler wat ryke opbou en
mag in die hande kry.
~ Aardse konings gebruik wapengeweld en bied teenstand teen alle opposisie.
Jesus bied homself eintlik aan vir arrestasie en toe een van sy dissipels wel
van die swaard wil gebruik maak, berispe Hy hom. (Johannes 18:10,11)
~ ’n Koning met ideale vir ’n aardse koninkryk wil so sterk as moontlik
wees en so lank as moontlik lewe en aan bewind bly. Jesus lê die fondasie vir
sy koninkryk deur swak te word (mens te word) en gedwee na die kruis te gaan om
te sterf!
As onderdane van koning Jesus, is dit uiters belangrik om kennis te neem
van ons Koning se houding teenoor hierdie wêreld. As burgers van hierdie buite
wêreldse koninkryk moet ons weer grondig nadink oor ons verhouding
met hierdie wêreld en sy verwagte lojaliteite, sisteme en verbande.
GESKIEDENIS
Die tragiese geskiedenis van die kerk deur die eeue wys egter dat hierdie
woorde van Jesus grootliks geïgnoreer is. As die kerk hierdie woorde ernstig
opgeneem het en die praktiese implikasies daarvan begryp en
gehoorsaam het, sou die tragedie van die Kruistogte nie plaasgevind het nie. Dink ook aan die bloedige godsdiensoorloë tussen Katolieke en Protestante.
(Inderdaad was die konteks en samelewingstoestande uiters kompleks en radikaal
anders as vandag en moet ons baie spaarsamig wees met kritiek en tog mag ons
nie blind wees vir die foute van ons helde nie) Die feit bly staan, die kerk
het dikwels direk teen Jesus se voorbeeld en lering gegaan en haar tot die mag
van die swaard gewend of goedgekeur dat andere dit namens haar doen. Deur die
eeue het nasies God opgeeis vir hulle eie belange en selfs onbeskryflike
wreedhede in die naam van God en Christendom gepleeg. Nog erger, die kerk het
dikwels gehuiwer of heeltemal versuim om teen so ‘n valse staatsteologie te
waarsku.
WAT VAN NOU?
Jesus se uitspraak is bepalend vir ons denke oor kerk en wêreld in verskeie
opsigte :
Bepalend vir ons verstaan van die koninkryk en hoe dit ons verhouding met
alle vorms van nasionalisme raak. Jesus se koninkryk is nie van hierdie
wêreld nie en dus ook nie nasionaal of etnies gebonde nie. Jesus se koninkryk is nie ’n politieke of ’n geografies/nasionale koninkryk
nie. Dis nie net Pilatus wat onkundig was oor hierdie aangeleentheid nie, maar
selfs Jesus se eie dissipels het lank gevat voordat hulle dit gesnap het.
(Luister maar na hulle vraag in Handelinge 1:6) Die saak van die koninkryk
mag dus nooit gelykgestel word aan die saak van enige land of volk nie. Wie dus stry vir die
“Afrikanersaak” (of watse goeie saak ook al) kan dus nie sommer in dieselfde
asem beweer dat dit outomaties oor die saak van God gaan nie. Ons kan dus ook
nie sommer beweer dat die ou SA deel was van die koninkryk en die nuwe SA nie,
of andersom nie... Om dus te sê dat die “manne op die grens” geveg het vir die
behoud van die Christendom is nie Bybels heeltemal korrek nie*, maar om te
beweer dat die sogenaamde bevrydingsbewegings in diens van God gestaan het en
sy seën weggedra het, is natuurlik ewe absurd. Jesus het in elk geval nie
aardse soldate en wapens nodig om die behoud van sy Koninkryk te verseker nie.
Baie insiggewend, die kapelaansdiens van die ou SAW se kenteken was
die bekende woorde wat met die visioen van keiser Konstantyn geassosieer word
“in hoc signo”. (In hierdie teken m.a.w. die kruis sal jy oorwin**) Dis ‘n
klassieke voorbeeld van hoe die kruis en die swaard saamgevoeg is. Meer nog,
Konstantyn word in die kerkgeskiedenis gekoppel aan die begin van die ongesonde
verbintenis tussen kerk en staat. (alhoewel die Christelike kerk eers in die
tyd van keiser Theodosius staatskerk geword het)
Ongebreidelde nasionalisme en die selfsugtige soeke na eie belang doen baie
skade aan die koninkryk se beeld. My oordrewe nasionale trots en
lojaliteite kan ’n hindernis vorm in die uitdra van die evangelie. Dit geld
beslis nie net Afrikaners nie, maar ook Amerikaners wat byvoorbeeld na Afrika
as sendelinge kom met ‘n houding van “back in the States” weet ons van beter en
is alles groter!
Bepalend vir ons lojaliteite. Ons is mense en ons is
dus deel van aardse koninkryke en ons moet gehoorsame burgers wees wat op geen
manier aanstoot gee en die saak van die evangelie belemmer nie. Inteendeel ons
optrede teenoor alle mense (ingesluit owerhede met wie ons dikwels nie saamstem
nie) moet van so ‘n aard wees dat dit tot hulle bekering sal lei. Petrus was
baie duidelik hieroor : “Gedra julle altyd goed onder die heidene
sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle
voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike
owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet
straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur
goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit
onkunde praat.” (1 Petrus 2:12-15) Ons werklike burgerskap is egter in die hemel. God se koninkryk.
(Filippense 3:20) Ons lojaliteit aan koning Jesus moet dus voorrang geniet bo
alle aardse affiliasies. Ek is dus in die eerste plek ’n Christen en dan eers
Afrikaner, Duitser of Herero... Naaste aan my hart moet God en sy volk wees!
(En ek sê dit as iemand wat baie lief is vir my Afrikaanse volk, geskiedenis en
taal!)
Bepalend vir ons verwagtings ten opsigte van die staat.*** Jesus se Koninkryk
is nie van hierdie wêreld nie en Hy het ook nie die middele van aardse heersers
gebruik om sy koninkryk te vestig nie. Hy het nooit gebruik gemaak van
politieke vernuf, geweld en magspel nie. Hy het dus nie staatgemaak op menslike
instellings soos regerings, wetgewing en die howe om Sy saak te dien en te
bevorder nie. Ons moet dus ook nie onder die illusie leef dat wetgewing die
evangelie en die Koninkryk kan bevorder nie. Natuurlik sal ons nooit kan bly
wees oor anti Christelike wetgewing en staatspraktyke nie, maar aan die
anderkant moet dit ons nie moedeloos maak asof die voortgang van die evangelie
van die staat se goedgesindheid afhanklik is nie. Ons moet altyd onthou dat die
lewenskragtige kerk van die Nuwe Testament geen amptelike ondersteuning van
staatskant ontvang het nie. Inteendeel vir die eerste driehonderd jaar van die
kerk se bestaan is die kerk dikwels in mindere of meerdere mate deur die staat
teengestaan en bedreig en tog het die kerk gegroei. Natuurlik moet ons wel dankbaar
wees as die lidmate van die kerk van Jesus in hulle aardse sfere van
verantwoordelikheid (soos ook in owerheidsinstellings) die beginsels van die
koninkryk uitleef en ‘n getuienis uitdra, maar die kerk as instituut mag nie ‘n
magsliggaam word of homself in ‘n politieke party met aardse aspirasies omvorm
nie.
Bepalend vir die metodes wat die kerk mag aanwend vir bevordering van die
koninkryk van God. Jesus gebruik nie geweld, omkopery,
magspel nie...die kerk mag dus ook nie. Jesus gebruik prediking en diens. Dis
waarmee ons moet besig wees. Die groot troos is aan die anderkant, dat geen
wapengeweld en menslike instellings die Koninkryk van Jesus kan uitwis nie.
Menslike wapens is nie effektief teen die koms van die koninkryk nie! Die
geskiedenis het dit bewys...
Bepalend vir ons verwagting met betrekking tot die huidige tyd en die
toekoms. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie! Jesus se koninkryk is iets heeltemal nuut en anders. En hoor hier : Jesus se koninkryk is in streng aardse terme gemeet nie ’n
voordelige koninkryk vir sy onderdane nie. Jesus het nie wapengeweld of ander
magsmiddele gebruik om homself te beskerm en gerief of voordele te verseker
nie. Hy doen dit ook nie vir sy volgelinge nie. Baie van Jesus se volgelinge
verloor juis hulle burgerskapvoorregte, besittings en selfs hulle lewens weens
aardse vyande. Jesus se volgelinge gaan verder ook gebuk onder dieselfde aardse
ellendes wat alle mense teister soos siektes, rampe en misdaad. Weereens, Sy
koninkryk is nie van hier nie. In hierdie bedeling, in hierdie wêreld moet ons
nie gerief nie, maar eerder verdrukking verwag. (Johannes 15:19) Toestande op aarde gaan nie verbeter nie, maar versleg! Gelukkig vind
God se kinders te midde van alles vrede; weliswaar nie in verbeterde aardse
lewensomstandighede nie, maar in Jesus self. Hy verklaar immers baie duidelik :
“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle
dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin." (Johannes
16:33) Jesus se uitspraak beteken nie dat sy
volgelinge apaties staan teenoor die wêreld nie, nee ons oorwin die wêreld deur
getuienis, ons is ligdraers in die wêreld deur dade. Die koninkryk breek in die
wêreld in en ons lewe in hierdie wêreld volgens die norme van die koninkryk. As
koninkryksmense is ons sout en lig in die wêreld, juis omdat ons ons aan die
wil van ons Koning Jesus onderwerp. Ons het ’n positiewe invloed op ‘n
verskeidenheid van gebiede. Maar die koninkryk van God is van ’n ander
oorsprong, orde en aard as aardse koninkryke. Hierdie
koninkryk van Jesus behels nie maar net ’n gedeeltelike hervorming van hierdie
wêreld nie. In die finale sin behels sy koninkryk ’n nuwe hemel en nuwe aarde
waarin geregtigheid sal woon. God sal tussen ons woon. Die finale koms van die
koninkryk is daarom ‘n buite aardse Goddelike ingryping en iets waarna ons met
verwagting uitsien, terwyl ons nou reeds ons ligte laat skyn. Om dit anders te
sê : Die NOU is vir ons as Christene
onteenseglik belangrik – ons moet nou reeds nuut leef, maar daar is ook ‘n
sterk klem en verwagting op die EENDAG in die Nuwe Testament.
Jesus se opstanding en kruisdood open ‘n nuwe toekoms wat eers met sy wederkoms
volledig sal realiseer. Ons finale verlossing! Die twee sake mag nie van mekaar
losgemaak of teen mekaar afgespeel word nie. Dis tog juis diegene wat ‘n
lewendige toekomsverwagting het, wat ook met ‘n heilige lewe hier op aarde die
grootste erns sal maak. (Johannes 3:1-3) In hierdie wêreld is ons vreemdelinge
en bywoners wat uitsien na ons ewige vaderland, maar terwyl ons nog nie daar is
nie, lewe ons positief op so ‘n manier dat ons die evangelieboodskap versier,
om ander ook so na ons Verlosser te trek!
Mag Jesus se houding teenoor aardse mag en invloed ons weer nuut laat dink
en leef!
*Hiermee wil ek hoegenaamd nie insinueer dat dit
verkeerd is om as Christen jou land teen ‘n Kommunistiese (of watter ander ook
al) bedreiging te verdedig nie. Deelname aan die destydse diensplig was myns
insiens ook nie ‘n sonde nie. Dit gaan in hierdie stuk oor kritiek op die
naatlose gelykstelling van ‘n nasionale stryd aan ‘n stryd vir die koninkryk
van God. Hieraan het baie nasies hulle al skuldig gemaak.
Dis baie interessant om te kyk na die vroeë Christene se houding teenoor
militêre diens in die Romeinse leër. Wat die eerste 170 jaar betref is daar
stilswye, maar daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word in die
interpretasie van hierdie feit. Daar was redelike vrede in daardie jare in die
Romeinse Ryk en gevolglik kon die leër deur vrywilligers aan die gang gehou
word. Hierbenewens moet mens ook in gedagte hou dat die eerste Christene
hoofsaaklik vanuit die geledere van Jode, slawe en vroue gekom het en hulle is
in elk geval nie toegelaat in die Romeinse leër nie. Na 170 nC is daar wel berigte oor Christene wat diens in die leër gedoen en hulle getuienis daar uitgeleef
het. Eusebius vertel van ‘n interessante gebeurtenis in 173 nC. toe die
Twaalfde Legioen deur die vyand omsingel is. ‘n Ernstige waternood het
ontstaan. Christensoldate in die Legioen het op hulle knieë geval en gebid. ‘n
Donderstorm het losgebars en die soldate kon hulle dors les. Die weerlig het
ook die vyand op die vlug laat slaan.
Kerkvaders soos Tertullianus en Origines het wel geskryf dat geen Christen
militêre diens mag verrig nie. Hierdie houding moet mens egter verstaan vanuit
die versoekings wat die religieuse aktiwiteite in die Romeinse leër meegebring
het. Een hiervan was keiseraanbidding. Soldate moes ook deelneem aan
teregstellings van Christene en ander heidense rituele. Die gevaar van
kompromie was dus baie groot. Tog was daar in hierdie tyd Christensoldate wat
vasgestaan het in hulle geloof. ‘n Christen offisier, ‘n
sekere Marinus is bevorder. Een van sy mededingers het hom toe gaan verkla
omdat hy ‘n Christen was en nie offers aan die gode gebring het nie. Toe
Marinus hiermee gekonfronteer is, het hy dit erken. Hy het die doodstraf gekry
en sy mededinger die rang! Die vroeë Christene was dus nie pasifiste
(anti weermag) nie, maar ook nie rewolusionêre (terroriste) nie! (inligting met erkenning aan Prof. Hennie Stander)
** in hoc signo vinces
*** Ek is deeglik bewus van die kompleksiteit van die beginsel oor die
skeiding van kerk en staat en dat daar teen uiterstes gewaak moet word. Om
artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat in ‘n totaal ander omgewing
as ons huidige pluralistiese samelewings geformuleer is, vandag sinvol en
Bybels te verstaan en toe te pas, is geensins eenvoudig nie. Jy is baie welkom
om meer lig op die saak te werp en dit met ons te deel.