- PAULUS MAAK VIR FELIKS BANG MET DIE WAARHEID.
Paulus het onskuldig in die tronk beland weens die komplotte van die Jode. Hy verskyn nou die tweede keer voor goewerneur Feliks wat as regter optree. Hier in Handelinge 24:24-27 gebeur nou iets merkwaardig. Gewoonlik is dit ‘n beskuldigde wat bang word in ‘n regter se teenwoordigheid, maar hier gebeur die teenoorgestelde. Feliks, die regter is die een wat bang word!
Dit lyk asof Feliks meer wou uitvind rondom Jesus. Mens kan aflei dat Feliks nie heeltemal onkundig was oor Jesus nie en nou meer wou hoor. In die berig oor die eerste verskyning van Paulus voor Feliks, lees ons immers : “Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek.” (Hand 24:22)
Nou laat hy Paulus roep om meer te hoor van Jesus. Pragtig! Wat ‘n wonderlike geleentheid vir die evangelie! ‘n Kans wat Paulus kry om met ‘n persoon in ‘n hoë posisie die boodskap van Jesus te kan deel. Wat sou hy vir Feliks sê? Wel, as Paulus ‘n Amerikaanse Prosperity TV evangelis of ‘n ander kwaksalwer profeet was sou hy dalk baie aangename dinge vir Feliks kon gesê het. Miskien... “Edele Feliks, Jesus kan al u probleme oplos. Jesus kan u drome verwesentlik, u gelukkig maak, u suksesvol maak, u ryk maak ... Ag, edele al wat nodig is, maak net ‘n geldelike bydrae tot my “ministry” dan gaan die Here u sommer uit u sokkies uit seën... Ag , Feliks die pad na redding is baie eenvoudig, u kan maar net ‘n gebedjie agter my aanbid en u hart vir Jesus gee, dan is alles reg! Great!”
DIE BEGIN
Nee, toe nou nie! Paulus is nie ‘n selfaangestelde kommersiële profeet nie, maar ‘n geroepene van God. Omdat Paulus die ware evangelie hier aan ‘n verharde selfversekerde sondaar verkondig, begin hy by die begin. En wat is die begin? Waar moet ons begin voor ons mense van genade en vergifnis kan vertel (of beter gestel voordat genade en vergifnis vir hulle gaan sin maak?) Ons moet hulle wys op wat God se Woord te sê het oor hulle sondige toestand en die gevaarlike posisie waarin hulle hulself bevind. Dis presies wat Paulus hier doen.
Hy praat met Feliks oor drie dinge:
- ’n Lewe in gehoorsaamheid aan God. (geregtigheid - OAV) Die lewe wat God van mense verwag. Ja, God het ‘n bepaalde leefstyl wat Hy van ons verwag. Hy het die reg om sekere dinge van ons te vra. Hy is mos ons Maker. Daar is dinge waarvan Hy hou en daar is dinge waarvan Hy nie hou nie. Hy maak die reëls en nie onsself, die Huisgenoot of die algemene opinie van die dag nie! Hy en Hy alleen besluit wat is reg en verkeerd! (Nie eens die Algemene Sinode wat kort-kort van opinie verander nie.)
- Selfbeheersing. Miskien was ‘n gebrek aan selfbeheersing persoonlik Feliks se swak punt. Dit wil voorkom dat hy in elk geval nie ‘n man met vaste beginsels en integriteit was nie. Eintlik is ‘n gebrek aan selfbeheersing ‘n wesentlike kenmerk van alle onbekeerde sondaars Efesiërs 2:13 gee ‘n beskrywing van die onbekeerde mens en dis duidelik die mens sonder God leef en maak net soos hy wil, sonder enige selfbeheersing! “So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.” Ja, dis die mens sonder God, hy word deur sy luste aan die neus rondgelei...
- Die komende oordeel. "Feliks jy moet besef, daar is ‘n God wat jou gaan verantwoordelik hou vir jou dade!" Dis seker die laaste ding wat hierdie selfsugtige en gierige jakkals wou hoor! Die boodskap van die oordeel was egter deel van Paulus se evangelieverkondiging, so Feliks moes maar luister... Paulus het hierdie boodskap ook aan die gekultiveerde Atheners gebring. "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Hand 17:30,31) Hy verwys ook hierna in die Romeine brief in Rom 2:16. “...Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” Dit was nie net Paulus wat oor die oordeel gepraat het nie. Die komende oordeel was deel van die Johannes die Doper se prediking en dit was ook ‘n belangrike deel van Jesus se prediking! Vandag is dit natuurlik taboe om na die oordeel en hel te verwys. Dit val buite die postmoderne mens se verwysingsraamwerk, want alles is mos maar reg en als is mos relatief!
Die werklikheid van ‘n oordeel is deel van die onveranderde Bybelse boodskap!
EK HET JESUS REGTIG NODIG!
Hierdie feite, hoe ongemaklik ook al, onderstreep die sondaar se nood en behoefte aan Jesus! Hierdie is basiese waarhede wat nodig is om te verstaan voordat ‘n sondaar regtig na Jesus sal kom en regtig genade sal verlang. Dis net Jesus wat vergifnis kan skenk aan my vir my ongehoorsaamheid en ongeregtigheid. Dis net Jesus wat my kan nuutmaak en vir my selfbeheersing deur sy Gees kan gee. Dis net Jesus wat my kan red van die komende oordeel.
Sonder die feit van die oordeel maak die evangelie van God se genade geen sin nie en sal geen mens ook daarin belangstel nie. Hierdie dinge is natuurlik nie lekker om te hoor nie. Dis vandag nog nie lekker om te hoor dat jy ‘n rebel is nie. Trouens hierdie sake het Feliks so ontstel en verskrik dat hy uitroep : “Dit is nou genoeg….!”
EN DIE GENADE?
Miskien wonder jy tog nog of Paulus op hierdie stadium dan vergeet het van die boodskap van genade? Nee, beslis nie. Nie lank voor hierdie gebeure op sy reis na Jerusalem waar hy toe gevang is, het Paulus weereens bevestig – sy hele loopbaan gaan om een sentrale saak, die verkondiging van die goeie nuus oor genade! “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) Nee, Paulus se boodskap was en bly die genadeboodskap, maar dit is net relevant vir sondaars binne die konteks van God se geregtigheid en oordeel.
TYDELIKE INDRUKKE
Feliks het bang geword, maar dit was ook net vir ‘n tydjie. Sy hart het onaangeraak gebly. Dit gebeur met baie mense . In tye van siekte of dood, begin hulle nadink oor die dood en oordeel en toon selfs vir ‘n kort rukkie belangstelling in die Woord. Hulle kom selfs ‘n paar keer kerk toe. Maar helaas, dis net tydelike indrukke. Gou-gou waai die vrese en bekommernisse oor en gaan hulle weer aan op dieselfde pad van sonde. Feliks het geen ware belangstelling gehad in die Woord van God nie. Geen ware begeerte om gered te word nie. Hoekom nie? Sy groot passie was GELD! “Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.” (26) Terloops, korrupsie is nie iets wat deur Zuma uitgedink is nie! Dit kom van ver af. ‘n Liefde vir geld verdring alle bekommernisse oor my saligheid. Nou kan mens sommer ook verstaan waarom Paulus nie vir Feliks gesê het dat Jesus hom kan ryk maak nie. Vir seker sou Feliks dan sommer baie belang gestel het in ‘n rykmaak Jesus, maar hy stel nie belang in ‘n Jesus wat van sonde verlos nie!
SO TRAGIES
Hierdie hoofstuk het ‘n tragiese einde. “Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.” (27) Feliks is nog steeds vasgevang in ‘n lewe van korrupsie, ongeregtigheid en onbeheersde hebsug. Feliks het die kans gehad om die evangelie te hoor, maar hy het dit laat verbygaan…
Mag ons van sulke dwaasheid bewaar word!