en GLO!
Abram, soos ons almal weet, was ‘n man van geloof. Die vader van alle gelowiges. Maar dis baie belangrik om altyd te onthou dat God self die inisiatief geneem het met Abram op die geloofspad. In Genesis 12:1-4 lees ons van hoe God vir Abram ‘n gewone afgodsdienaar geroep het, ‘n opdrag aan hom gegee het en beloftes aan hom gemaak het.
“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees."
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here...”
Dit was die begin van Abram se geloofspad – hy het die beloftes geglo en dus gehoorsaam weggetrek al het hy glad nie geweet presies waarnatoe als sou lei nie. Belangrik om nou reeds te sien :
Geloof is geloof nie in wat ek wil glo of wens nie, maar geloof in God se duidelike beloftes!
NIE MAKLIK NIE!
Hierdie pad van geloof was natuurlik nie maanskyn en rose nie. Dit was ‘n pad vol bedreigings, vertwyfeling, aanvegtinge, herhaalde keuses en volharding. Dit was geen afdraende ontspanningspaadjie nie, maar ‘n opdraande stryd. Abram se geloof was voortdurend onder druk. Hoe so? Ons weet God het hom ‘n groot nageslag beloof, maar nou na jare was Abram steeds kinderloos. Abram word in sy geloofsbestaan bedreig. Dit was die harde feite en dis die agtergrond vir die merkwaardige gebeure in hoofstuk 15. Hier kom die Woord van die Here na Abram en sê vir hom : “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.” (OAV) God gee ‘n versekering aan Abram. Hy wil Abram versterk en bemoedig.
HY MAAK SY HART OOP
Dit lyk of God se bemoedigende woorde van versekering Abram se hart raak, want hy maak sy hart oop en praat eerlik oor die wanhoop en frustrasie wat in sy hart is. (Genesis15:2,3) In effek kom dit daarop neer: “Ek is op pad om kinderloos te sterwe Here, so wat help al die beloftes van ‘n land en beskerming? Wat help die wonderlike belofte van ‘n land as daar geen nageslag is nie?” Geloof beteken nie ons kan nie eerlik met God wees nie. Geloof is immers ook ‘n leerproses en in die proses mag ons maar vrae vra. Abram suggereer dat hy maar ‘n plan B gemaak het en sy getroue dienskneg Eliëser aangeneem het as sy erfgenaam. Dis so ‘n tipies menslike aanpassing en mensgemaakte oplossing. Dis egter nie God se wil nie. God weier om deur ‘n surrogaat ‘n kwasievervulling van sy belofte te gee.* Die belofte was immers dat Abram se nageslag ‘n groot nasie sou word en die land erf. (Terloops, dit was ook nie Abram se laaste keer dat hy na ‘n menslike plan gegryp het nie... In Gen 16 luister hy na Sara en neem Hagar as vrou; dit lei tot Ismael se geboorte en eeue van geweld en ellende) Abram se plan is nie God se plan nie, want God vervul nie sy beloftes halfpad nie. Hy maak ook nie halwe beloftes nie – ook nie aan ons nie, Hy belowe nie halwe vergifnis, halwe redding en ‘n halwe hemel nie. Bo alles Hy het nie ‘n halwe Verlosser beloof nie, maar sy eniggebore Seun!
BELOFTE HERNU
God self kom Abram te hulp met ‘n hernuwing van sy oorspronklike belofte. Die Almagtige God hoef nooit terug te val op ‘n plan B nie. God maak seker dat daar geen misverstand kan wees nie – nie ‘n aangenome kind nie, maar een uit jou liggaam, Abraham! Jy het reg gehoor - JOU liggaam! Maar dit was juis ook die probleem. Abram se liggaam was oud! Verstorwe noem Paulus dit! “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” (Romeine 4:18,19 OAV)
“Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!”
Opvallend, die Here verwyt nie die weifelende en wanhopige Abram nie, Hy kom hom helpend en bemoedigend tegemoet. Hy vat Abram na buite. Sien...Abram uitstap in die donker woestynnag, sy oë oplig na die helder sterrehemel... Hy hoor die opdrag : “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan!” Kyk na die almag van God! In gewyde stilte kyk hy, kyk hy... Dink vir ‘n oomblik hoe Abram in stilte na die sterrehemel staar en die oorweldigende almag en majesteit van God indrink... KYK NA DIE STERRE! ‘n Woordlose boodskap van God : “Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” Dalk is dit vir ons in ons swakheid nodig om letterlik weer na die sterre te gaan kyk... Ons kan die boodskap van die sterre dalk nog beter as Abram verstaan...ons weet mos daar is der miljoene galaksies met elk der miljoene sterre...oneindig, ontelbaar! Duiselingwekkend! So oneindig almagtig is God. Ja, wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Dis wat Maria moes hoor... “Niks is vir God onmoontlik nie." (Lukas 1:37) Dis wat die ontnugterde dissipels uit Jesus se mond hoor na die hartseer gebeurtenis met die ryk jongman... “Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (Lukas 18:27)
KYK NA DIE STERRE! AANSKOU GOD SE ALMAG!
Die almag van God is die antwoord op ons wankelende geloof! KYK NA DIE STERRE!
Twyfel jy? Wonder jy? Kan die Here my regtig vergewe? – KYK NA DIE STERRE! Kan die Here my veilig bewaar om in sy koninkryk in te gaan? KYK NA DIE STERRE! Kan God sy kerk in stand hou teen die vloedgolf van boosheid en goddeloosheid? KYK NA DIE STERRE!
Daar onder die sterrehemel, waar God sy beloftes sigbaar onderstreep met sy almagswerke** daar glo Abram weer opnuut. “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (6) Geloof is die antwoord van die mens op God se beloftes. Sonder God se beloftes, sonder God se Woord is daar geen geloof nie. Weereens -Geloof is daarom nie gebou op wat ek graag wil hê of doen nie, maar op dit wat God belowe in sy Woord om te doen.
Waartoe wil hierdie gedeelte ons oproep? Om opnuut ons geloof in die beloftes van God te stel. Spesifiek in die belofte aangaande sy Seun. Die afgehandelde genoegsaamheid van sy kruisoffer en sy opstanding. Paulus praat so heerlik hieroor...
“Daarom is dit hom (Abraham) ook tot geregtigheid gereken.
Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking." (Rom 4:22-25)
Ja, die sigbare feite maak ons moedeloos en laat ons wanhoop. Die sigbare (en ongemaklike) feite oor ons sondigheid, gebrokenheid en vele geloofsmislukkings..., maar daar is iets groter - God se Almag. Sy ALMAG skyn feitelik, sigbaar duidelik in die naghemel bokant ons... Nog heerliker... God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Abram se geloof was in God en sy beloftes. Ons geloof is in God wat Jesus oorgelewer het vir ons sondes – ons sondeskuld is betaal, en Hom opgewek het en so ons vryspraak/regverdigmaking verseker het!
Gaan kyk na die sterre, glo in God wat sy Seun Jesus vir jou oorgelewer en opgewek het! Dank Hom met jou lewe!
*A van Selms p222, De prediking van het Oude Testament, Genesis deel 1
** God se algemene openbaring naamlik sy openbaring deur die skepping versterk ons geloof in sy besondere openbaring, sy openbaring deur die Woord. Hierdie waarheid is die eerste keer onder my aandag gebring deur Nico van der Walt.
Had ons maar 'n klein greintjie van Abram se geloof en onomstootbare vertoue, dan sou ons kon sê - ons het ge-"arrive". DIT sal ons eers by Sy wederkoms kan sê. Dankie Jesus - U kruisdood, opstanding en hemelvaart, laat ons toe om deel van die "arrivals" te wees!
AntwoordVee uitTog is die troos juis dit - Abraham se geloof was ook nie altyd perfek nie - hy wou 'n plan B maak - maar God het sy geloof versterk! Dis die groot punt om raak te sien, die Almagtige God ondersteun ons geloof, trouens dis juis God se Gees wat geloof in ons wek! Daarom kan ons vertrou dat ons ook ten spyte van ons swakheid die wenstreep sal haal.
Vee uitAmen, dankie Johannes!
AntwoordVee uitPhilip, Kaapstad