Bladsye

Vrydag 04 Julie 2014

DADELIK MORSDOOD

- pasop vir die minagting van die Gees binne die heilige gemeenskap! 

As jy die boek Handelinge lees word mens getref deur die positiewe klanke van oorwinning, liefde, blydskap en getuienis in die eerste gemeente. Alles gaan so goed. Dan skielik die hartseer en skrikwekkende gebeure rondom Ananias en Saffira (Handelinge 5:1-11) wat uitstaan soos ‘n seer vinger, ‘n vals noot. Tragies, skrikwekkend, om van te sidder! ‘n Hele paar vrae word by ons opgeroep. Die spoed en die strengheid van hulle straf klink vir ons vreeslik, buitensporig en vreemd. Was dit regtig nodig en geregverdig om so drasties op te tree of het ons dalk hier te doen met die onbeheerste uitbarsting van ‘n outoritêre figuur? (Petrus) Word hier ‘n metode van tug in die kerk voorgeskryf? Wat is die betekenis vir ons vandag?

WIE IS GOD?

Reg aan die begin moet ons sê dat baie van die moderne verbasing en onbegrip vir hierdie gebeure te maak het met die feit hoe vêr ons denke en optrede verwyder geraak het van die Bybelse begrip van die ontsagwekkende heiligheid van God. Ons het ons eie inhoud aan God gegee. Vir ons self ‘n mak Vader Krismis god gemaak...een wat altyd met al ons doen en late saamstem... Die boodskap van Jesaja 6* het vergete geraak...

NOU WAT WAS FOUT?

Hoe moet ons hierdie twee mense se skokkende straf verstaan? Wel, om begrip vir die straf te kry sal ons eers die aard van hulle sonde moet probeer verstaan. Daar was geen verpligte kollektivisme in die Vroeë Kerk nie, so hulle sonde het niks te maak met die weiering om afstand te doen van persoonlike besit nie. Dit was ook nie net ‘n geval van gierigheid opsigself nie. Nee, die saak wat hier ter sprake kom is die kwessie van integriteit in die teenwoordigheid van die God van Waarheid. Ananias en Saffira het nie besef dat daar waar God se Gees is , daar is God, nie. Die God wat as heilige God ‘n verterende vuur is, wat alle valsheid vernietig.

Uit Lukas se vermelding van die gebeure is dit baie duidelik dat Ananias en Saffira met voorbedagte rade daarop uit was om te mislei. Hulle was daarop uit om op ‘n valse manier erkenning vir hulleself te kry in die geledere van die kerk. Daar was ‘n groot verskil tussen hulle optrede en die van Barnabas. Barnabas het vanuit ‘n gesindheid om andere te dien die volle prys van sy eiendom na die apostels gebring. Ananias het hierdie liefdesdaad vir mense oë gedoen en nog boonop doelbewus die waarheid verdraai. Hy het deel van die geld agtergehou.

AGAN EN ANANIAS

Deur die gebruik van die Griekse woord vir “agterhou” (2) vestig Lukas waarskynlik die aandag op die enigste plek waar hierdie betrokke woord in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) gebruik word, naamlik die verhaal van Agan se sonde (Josua 7) Onthou weer die parallelle wat tussen die Intog gebeure (Josua) en die heilshistoriese fase wat in Handelinge vir ons geskets word. (Kliek op MET JOU) Agan het van die bangoed (dit wat aan die Here behoort) agtergehou vir homself. Deur dit te doen het Agan op ‘n tweeledige manier God geminag: 

· Hy het God se alwetendheid geminag, deur te dink dat hy God kan flous en ongesiens kan wegkom met sy daad.

· Hy het God se heiligheid en heerskappy geminag deur so arrogant te wees om te vat van dit wat aan God behoort het.

Agan se optrede het meer as net persoonlike implikasies gehad. Deur sy minagting van God het Agan Israel ontheilig. Dit was ‘n ernstige saak en loop uit op Israel se vernederende neerlaag teen die klein stadjie Ai. In ooreenstemming met die erns van die sonde is Agan en sy familie ook dan gestraf. Hulle almal is gestenig en verbrand. God is voorwaar ‘n verterende vuur! God laat nie met Hom speel nie!

Die ooreenkomste is ook verder baie opvallend. In beide gevalle het die weerhouding van die Here van dit wat aan Hom behoort tot die doodstraf gelei. Die vraag is nou net of Ananias wel die Here se eiendom gesteel het? Petrus het dit tog duidelik gestel dat hy sy eiendom kon gehou het. Die kernsonde wat Ananias se sonde ‘n parallel gemaak het met die van Agan was sy misleiding en bedrog. Ananias het openlik in die teenwoordigheid van die Heilige Gees (onthou die Heilige Gees woon in die gemeente) verklaar dat dit die volle prys van sy eiendom was. Daardeur het sy hele eiendom die Here se besitting geword. In hierdie opsig het hy dus van God gesteel. Net soos Agan het Ananias en Saffira die kennis en heiligheid van God beledig en geminag. Vir God gelieg! “Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God." (Handelinge 5:4) Hierdie paartjie het die arrogante sonde begaan om dit te durf waag om in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel bedrog te pleeg.

DIT RAAK ONS!

Lukas wil ‘n bepaalde boodskap aan die kerk van alle eeue oordra. Deur hierdie gebeure toon God Sy heiligheid en sy standaard van heiligheid vir Sy volk. (Sy kerk) Opvallend – die episode met Agan redelik vroeg gebeur het in die nuwe fase van God se plan met Sy volk - die intog in die beloofde land. Hierdie gebeure is ook aan die begin van ‘n nuwe bedeling, die bedeling van die Heilige Gees in die Nuwe Verbond, die veroweringstog van die kerk in die wêreld! (kort na Pinkster) 

Die kerk is die gemeenskap van die heiliges, reeds hier op aarde. Ons bely mos : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Ons moet besef ons leef in die teenwoordigheid van ‘n heilige God. Hierdie besef moet ons motiewe en optrede bepaal. ‘n Lewe voor die aangesig van God! Coram Deo! Om vir elke oomblik te besef ek het met Hom te doen die Almagtige, Alwetende, Alheilige. God se oordeel tref hulle onmiddelik. 

Tog weet ons dat dit nie altyd so gebeur nie. (Ook maar goed so). Waarom gebeur dit nie aldag nie? Dis ‘n teken van God wat vooruitwys na die finale en skrikwekkende oordeel van misleiers en skynheilige meelopers by die finale koms van Jesus. 

VREUGDEVOLLE VOORREG, MAAR OOK GEVAARLIKE VUUR!

Om God in ons midde te hê is ‘n oneindige voorreg en genade, maar sy teenwoordigheid moet ook ‘n heilige eerbied en erns by ons wek, met hierdie God kan ons nie oneerlike speletjies speel nie! 

Binne die heilsgeskiedenis is hierdie nie ‘n voorbeeld wat ons presies so moet probeer navolg nie, maar is dit ‘n teken! Voor die finale aanbreek van die groot dag sien ons nog nie die volle seën en volle vloek waarvan hierdie tekens getuig nie. Ook in die Vroeë Kerk is nie alle ernstige sonde dadelik gestraf nie. Soms straf God sy kerk fisies deur byvoorbeeld siekte (1 Korintiërs 11:30-32; Jakobus 5:15), maar aan die anderkant sal daar baie skynheiliges wees wat eers by die finale oordeel aan die pen sal ry. Ons lewe nou nog in genadetyd, dis God se lankmoedigheid wat ons kans gee vir bekering. Daar is reeds tekens van God se oordele, maar alles word nie nou al voltrek nie.

EN NOU...?

Hierdie skrikwekkende gebeure rondom Ananias en Saffira :

~ is ‘n duidelike boodskap van waarskuwing aan die kerk van alle eeue. Dis kranksinnige dwaasheid om God se heiligheid en alwetendheid uit te daag en te dink ek gaan daarmee wegkom. Dis dwaas om die gemeente van die lewende God te probeer bedrieg of skade aandoen! (Ook jy wat jou liggaam, God se tempel skend deur onreinheid, jy wat probeer mislei deur in twee wêrelde te leef, neem kennis voor dit te laat is.

~ korrigeer die eensydige klemme wat op die Heilige Gees se werk en teenwoordigheid geplaas word. Ja, die Heilige Gees bring vreugde en blydskap (13:52; 8:39) By ‘n vorige keer het ons gesien dat dit juis die teenwoordigheid van die Heilige Gees is wat die gemeenskap van die gelowiges moontlik maak. (Kliek op GEMEENSKAP) Maar die Heilige Gees se teenwoordigheid hou ‘n skrikwekkende gevaar in vir almal wat Sy krag en heiligheid ligtelik opneem of wil misbruik.

~ laat ons besef die gepaste reaksie op die bewustheid van die brandende heerlikheid van die Heilige Gees se werk en teenwoordigheid is eerbiedige vrees en ontsag. (5:5,11,13) Lukas volg die Ou Testament se voorbeeld (Psalm 103:17; Spreuke 1:7) en som die hele lewe van geloof en vroomheid op met die frase, “die vrees van die Here” (Lukas 1:50; Handelinge 9:3) Waar is die vrees van die Here? Dit het ‘n skaars bestanddeel geword in die kerk van die Here. Is dit nie ‘n aanduiding dat ‘n groot deel van die Christendom maar besig is met hulle eie mensgemaakte here nie? Hartgrondige vreugde en eerbiedige vrees is nie vir God se kinders teenstrydige emosies nie. Ons vrees vir God is juis gegrond in die feit dat Hy die regverdige, heilige en konsekwente God is, maar dis juis ook die rede vir ons blydskap. Hy is deur Jesus ons Vader, ons is versoen met Hom. Dis met ander woorde nie dieselfde as die heidene se vrees vir hulle wispelturige gode nie. Wie bewus is van die angswekkende heiligheid van God verbly hulle in Sy genade en sal dit nooit goedkoop maak en God tart nie.

~ dwing ons om weer te besef met wie het ons te doen. Die Heilige van Israel! Sy volk moet ook ‘n heilige volk wees, dit was Sy standaard gewees in die Ou Bedeling, dis ook Sy standaard in die Nuwe Bedeling! (1 Petrus 1:16) Ja, Sy deur van Genade staan wyd oop, maar diegene wat dink hulle kan onheiligheid en disrespek en misleiding by hierdie deur insmokkel maak ‘n fatale fout. Genade en die feit dat God op grond van Jesus se werk al ons gruwelikste sonde vergewe, beteken nooit dat God Sy heiligheid prysgee nie. Dis juis hoekom genade die bloed van Jesus gekos het sodat God ons kan vergewe sonder om sy heiligheid prys te gee.

*Lees gerus hoe die profeet met die heiligheid van God gekonfronteer word en so sy eie en sy volk se sonde besef, maar dan ook vergifnis (en ‘n opdrag) ontvang!

(Hierdie boodskap was die laaste van die Pinksterreeks van 2014 oor temas uit Handelinge. Vir die eerste aflewering in die reeks, kliek op JESUS TEENWOORDIG)


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.