Bladsye

Saterdag 04 Mei 2013

'N TSOTSI EN 'N VRYSTAATSE BOER

- beleef beide die krag van die evangelie!

['n Verdere uittreksel uit die boek wat ek oor my Pa, Johan de Koning se wedervaringe skryf. Kliek ook op DIE LAASTE SIGARET en DIE MAN ONDER DIE BOOM. Vir van die gegewens oor Shadrack Maloka het ek gebruik gemaak van 'n boek oor die verhaal van die Dorothea Sending, "RED WAT VERLORE GAAN"]

Deur jare se werk op verskillende plekke en in ‘n verskeidenheid van gemeenskappe word mens met ‘n rykdom van vriende met uiteenlopende agtergronde beloon. Dis soos Johan de Koning dit ook beleef het. Een so ‘n besondere vriend was ‘n voormalige leier van ‘n tsotsi-bende, Shadrack Maloka. Vir baie jare is hy "Mohanoe" (verworpene) genoem. In sy hart was daar net duisternis en wanhoop. Op 27 Desember 1947 het sy lewe radikaal verander toe hy ‘n tentdiens en rolprentvertoning in Moroka (Soweto) bygewoon het. Hy het sy sonde bely en ‘n onbeskryflike vrede het van hom besit geneem. Hy het nooit die liefde van ‘n vader of moeder geken nie, maar nou het hy die liefde van God ondervind. Daardie nag het hy die eerste keer in jare rustig geslaap. Al was hy ongeletterd en kon hy net Sotho praat, het hy aansoek gedoen om in die Bybelskool opgeneem te word. Hy was later baie tale magtig en ‘n besondere instrument in God se hand wat selfs ook oorsee opgetree het. 

Shadrack was reeds in die sending toe Johan in 1956 voltyds deel van die Dorothea span geword het. Hulle het vanaf die begin groot vriende geword. Johan het as jong werker baie by Shadrack geleer. ‘n Bybel teks soos Spreuke 28:13 het hy die eerste keer by hom gehoor. Met Shadrack kon Johan die diepste geheime van my hart bespreek. 

‘n Onvergeetlike veldtog saam met Shadrack was in Bethlehem in die Vrystaat by Dr. Bloem se gemeente. Selfs vanaf die plase sowat 40 km ver het boere hulle werkers gebring. Kosie Nortje, ‘n boer van die plaas Geskenk, by Daniëlsrus was gereeld daar met ‘n vragmotor vol singende mense.

Shadrack was aan die woord, Kosie was aandagtig aan die luister, buite het dit gedonder en geblits en die reën het in strome neer gegiet. Johan het by die konsistorie deur uit geloer. Diewe was besig om die storm as geleentheid te gebruik om die motors deur te snuffel. Jonk en vinnig soos Johan was, het hy die trappe af gesnel bo-oor die hek gespring en voor die dief kon wegkom het hy hom voor sy bors gegryp. Eers ‘n keer sy kop teen die deur van die motor gestamp. Skaam oor sy daad het hy hom feitlik ingedra tot in die kerk. Maar tog so ‘n bietjie trots oor sy kordaat stuk het Johan vir Kosie probeer beduie dat hy in sy motor wou inbreek. Hoe skaam het Johan gevoel toe Kosie se reaksie was : “Dit is tog aardse goed, ek wil luister na die Woord.” 

Kosie was so aangeraak deur wat hy by die dienste belewe het dat hy gevra het of hulle nie na die Bethlehem dienste ook ‘n reeks dienste op sy plaas kan kom hou nie. Alhoewel die span se reëlings gewoonlik lank vooruit getref word, kon hulle tog verskuiwings maak en ‘n paar dae na Kosie se plaas gaan. Daardie dienste was so geseënd met honderde plaaswerkers van oral op die plase wat bygewoon het, dat dit daarna ‘n jaarlikse instelling geword het. 

Die grootste gebeurtenis was egter daardie eerste aand. Johan het in ‘n rondawel en Shadrack in ‘n motorhuis net langsaan geslaap. Hulle en Kosie het oor die Woord en geestelike dinge gesels en by geloofsekerheid en bevryding uitgekom. 

Kosie en Shadrack is laat uit sy rondawel, en soos wat Johan later verneem het, het hulle nog ‘n tydjie in Shadrack se kamer gesels. Dit is toe dat Shadrack baie eerbiedig maar ernstig vir sy vriend sê: “Jy is ongehoorsaam. God wil jou gebruik maar jy is nie bereid om die sigaret wat vir jou ‘n struikelblok is, vir die Here te gee nie.” 

Niksvermoedend terwyl Kosie die volgende oggend vir Johan vroeg koffie bring, sê hy: “Maar Kosie jy het nog nie vanoggend gerook nie.” “Hoe het jy geweet?” was sy verbaasde antwoord. “Ek het vir jou gebid en ek kan dit sien.” Kosie het ‘n kragtige getuie en pragtige werker vir die Here in sy omgewing geword. 

Kosie en Sannie Nortje het ook besondere vriende van die de Konings geword en het hulle jarelank die werk in Namibië ook finansieël ondersteun. Dit was vir Johan ‘n besondere eer toe hy gevra is om by Kosie se begrafnis die boodskap te gee. 

Shadrack en Johan was weer saam vir ‘n veldtog in Bethlehem kort voor sy beplande verlowing in November 1961. Net hy en niemand anders het iets daarvan geweet nie. Vanaf Bethlehem is hulle na Kroonstad en verder na Odendaalsrus. Die bussie was vol gelaai. Johan het nie ‘n vulstasie gesien voor hulle na Odendaalsrus afgedraai het nie. Toe hy met die wind van voor en ‘n swaar gelaaide bussie besef hoe ver hy nog moes ry was hy in groot benoudheid. As die Here nie ‘n wonder laat gebeur nie, sal hulle brandstof nie hou tot by Odendaalsrus nie. Johan sê toe vir sy passasiers: “As ons voor die petrolpomp op Odendaalsrus stilhou sal ek julle ‘n geheim vertel.” Shadrack het hom skeef aangekyk en seker gewonder : “Gaan Johan van die geheim van die verlowing vertel?” Helen, ‘n ander werkster sê: “Nee wat, ek ken meneer de Koning, hy sal nie vir ons iets sê nie.” Johan bid in sy hart dat die Here hulle daar sal bring. 

Toe hulle dit wel maak en stilhou was almal gou by : “ Meneer het belowe, vertel nou. “ “Goed”, sê Johan : “Ons het nou baie myle gery, die Here het ‘n wonder gedoen om ons teen die wind hier te bring.” Die werkers was verbaas en Shadrack kon ‘n sug van verligting slaak want hulle twee se geheim het steeds geheim gebly. 

In 1964 het Johan die geleentheid gekry om saam met Shadrack en ander werkers in Malawi te gaan werk. Dit was ‘n besondere vrugbare tyd. Die Dorothea span met Shadrack, Tom Barlow en ander was tevore reeds vir ‘n veldtog in die land. Hulle het van die gemeentes gaan besoek waar hulle die vorige keer gewerk het. Dit was wonderlik om die getuienisse te hoor, die mense self te ontmoet en hulle lewens wat verander het, te sien. Een leraar getuig hoe dat hy en van sy kerkraad tot bekering gekom het. Die Heilige Gees het hulle van diefstal van balke oortuig. Nadat die prediker gaan restitusie doen het, het sy vrou later dieselfde nag onder sonde oortuiging gekom. Shadrack en ‘n ander werker was by hulle aan huis. Haar man wou eers nie dat sy in die middel van die nag die moeë werkers gaan lastig val nie. Sy sê toe: “Jy is nou gered nou wil jy nie hê ek moet ook gered word nie, ek gaan hulle wakker maak.” In die vroeë môre ure was daar groot vreugde toe sy die Here gevind het. 

Dit was Johan se voorreg om ook die boodskap in daardie leraar se kerk te bring. Nog mense het na Christus gekom en ander het getuig hoe hulle reeds die Here gevind het nadat Shadrack-hulle weg was. Sommige het gewag dat hy moes terug kom om met hom persoonlik te praat, want hulle was nie in die gemeente tydens sy vorige besoek nie, maar was aangespreek deur die ander se getuienis en veranderde lewens. 

Wat ‘n wonderlike God het ons, wat so ‘n verskeidenheid van mense bymekaar kan bring en kan gebruik!



Naskrif : Om na Shadrack Maloka se getuienis in sy eie woorde te luister, kliek op Shadrack se Getuienis.

(dit beteken nie ek stem saam met alle materiaal op die betrokke webwerf nie)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.