Bladsye

Vrydag 28 September 2018

OPSPRAAKWEKKENDE HOFSAAK!

- ‘n Skuldige seun kry weer ‘n kans! 

[ In 'n dramatiese wending in die hofsaak wat die land se verbeelding nou al vir 'n tyd lank aangryp, het die Regter onverwags ingegryp en 'n rebelse seun weer 'n kans in die lewe gegee... Ons korrespondent Hosea berig...]



Waarom maak God soveel bemoeienis met mense? God se liefde! Waarom was daar ‘n kruis? God se liefde! Almal weet dit. Waarom kry ek en jy nie op hierdie oomblik ons verdiende helse straf nie? God se liefde! Ons weet... Tog het ons maar baie min begrip van wat God se liefde regtig behels. Hoe sterk, hoe eg, hoe passievol... En juis ook die inhoud en doel van hierdie liefde is baie onbekend en word oppervlakkig versentimentaliseer en gebruik as verskoning om te sondig! 

Hosea 11 gee ’n aangrypende uitsig op God se liefde. Dis geskryf in die vorm van ’n hofgeding wat ’n vader teen ’n opstandige seun aanhangig maak. (Terloops, opstandige kinders is nie ‘n nuwe verskynsel van die 21ste eeu nie!) So ’n hofsaak was ’n baie ernstige saak soos mens kan aflei uit Deuteronomium 21:18-21. “Wanneer ‘n man ‘n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. 
Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is ‘n vraat en ‘n suiplap.’ 
Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees." Die ouers van so ’n seun moes hom na die leiers vat by die stadspoort en die skuldige seun word dan met klippe doodgegooi. Rof! 

DIE AANGEKLAAGDE

Die seun wat hier in Hosea 11 aangekla word is baie duidelik God se volk Israel. Israel word alreeds in Eksodus, God se seun genoem. “Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun.” (Eksodus 4:22) 

VERLOOP VAN DIE HOFSAAK

’n Mens sou hierdie hoofstuk in wat die hofsaak beskryf in 4 dele kon verdeel (maak gerus self jou Bybel oop by Hosea 11): 

~ 1-5 Die aanklag teen die seun en die getuienis om dit te staaf 

~ 6-7 Die oordeelsaankondiging oor die seun 

~ 8-9 Die hersiening van die oordeel 

~ 10-11 Die nuwe begin 



1) Die aanklag teen die seun Israel gaan daaroor dat hulle God se liefde verwerp het en ontrou geword het deur aan die Baäls te offer. 

“Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. 
Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.” (Hosea 11:1,2) 

Baälgodsdiens het ’n geweldig appel op die mense gehad. Dit was ’n vrugbaarheidsgodsdiens gepaardgaande met onsedelike rituele. Lekker vir die vlees! Dit was net so verslawend en verleidelik as vandag se dekadente Huisgenoot, TV programme en allerlei vorms van pornografie.... Op aangrypende manier lê God bewyse voor van sy liefde vir die seun. Hy verwys spesifiek na die verlossing uit Egipte. Israel was maar nog ’n seuntjie, ’n jong volkie toe het God hulle uit slawerny in Egipte verlos. God die liefdevolle vader het hierdie seun leer loop. Hy het hulle, hand aan hand bygestaan in die eerste swak treetjies van volkwees. Dit verwys na God se sorg oor sy volk in die woestyn. Ja, hierdie liefdevolle vader het sy jong seuntjie ook in sy arms opgetel en gedra. Maar wat is die reaksie wat hy kry? Tragies. Die seun maak asof die Pa nie bestaan nie. In vers 4 word daar verder uitgebeeld wat die pa vir die seun gedoen het. God het die juk van Israel afgehaal en vir hulle kos gegee. ‘n Juk was ‘n simbool van slawerny. Verder, gevangenes het ’n nekring gedra en hulle hande is ook daaraan vasgemaak. Die Here het die slawehandelaar se toue en nekring van sy seun Israel afgehaal en hy het dit vervang met liefdesbande (mensebande, koorde van liefde) God se verbondenheid met sy volk was ’n liefdesverbintenis, ’n verhouding. God staan nie bloot in ’n juridies tegniese verhouding met sy volk nie maar in ’n innig menslike verhouding. T.s.v.  hierdie liefde bly die seun Israel koppig en weier om te bekeer en dit gaan weer lei tot slawerny. Hierdie keer onder Assiriese verdrukking. (5) 

2) Die seun Israel is baie duidelik skuldig. Volgens Deuteronomium moet ’n opstandige seun na regte die doodstraf kry. God se volk word dus ter dood veroordeel. (Is dit nie wat ek en jy en elke sondaar verdien nie?) Die straf sal deur middel van oorlog voltrek word. Die Assiriërs sal sommige vermoor en die res as slawe wegvoer. God straf! Dis ’n feit waarvan ons nie kan wegkom nie. 

3) Hersiening van die vonnis. In vers 8 kom daar ‘n dramatiese kragtige wending in saak. Hoor God se hart! “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” (Adma en Sebojim was twee susterstede van Sodom en Gomorra wat destyds vernietig is) Dis asof daar ’n tweestryd in God se gemoed is – ja, daar is gloeiende toorn weens Israel se sonde, maar daar is ook ’n onuitblusbare liefde. God se heiligheid en eer vereis dat die seun gestraf word en tog....die liefde brand nog steeds in sy hart. “My seun, ja, jy is skuldig en jy verdien straf, maar my seun ek het jou te lief! Ek kan jou nie los nie! Die rede vir die ommekeer in God se straf is duidelik : MY LIEFDE BRAND TE STERK! God se liefde triomfeer oor die straf wat die seun verdien. 

God gaan Israel se opstand wat die dood verdien met liefde beantwoord! 

4) Hierdie liefde behels ’n nuwe begin. “Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ‘n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië. Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.” (10-12) Sy liefde sal wederliefde opwek sodat hulle agter Hom sal aankom soos destyds uit Egipte. Daar word ’n nuwe Uittog voorspel. God gaan ’n ’n nuwe begin maak en ’n splinternuwe verhouding tot stand bring. Die kern van die nuwe begin is : Hulle sal die Here volg! Hierdie belofte aan Israel het waar geword toe God sy Seun Jesus na hierdie wêreld gestuur het om die verhouding tussen Hom en sy volk te herstel. Jesus, God se Seun sterf i.p.v. die seun (verbondsvolk). Die oplossing van die "Goddelike dilemma" vind ons by die kruis - Sy Goddelike toorn oor die sonde van sy volk en Sy Goddelike onuitblusbare liefde kom daar bymekaar, wanneer die Seun die toorn verduur wat oor Israel (die seun) moes kom! Terloops hierdie Seun het ook ‘n draai in Egipte gemaak! Matteus herinner ons daaraan wanneer hy die geboortegeskiedenis van Jesus vertel.* Hy dra ons straf wat ons verdien en as ek in Hom glo gaan ek vry. Dan is ek nuut en vrygespreek in God se oë! ( 2 Korintiërs 5:21) 


Wat sê die feit van God se liefde vir jou op hierdie oomblik? 

God se liefde is ’n onverdiende liefde, ’n onuitblusbare brandende liefde, ’n roepende en soekende liefde. Vers 8 sê dit so sterk. Sit jou eie naam daarin. God sê : Ek het jou lief, selfs al is jy ’n rebel; Ek het jou lief, selfs al het jy van my vergeet en is jou Bybel toe onder die stof, Ek het jou lief, selfs al het jy my verlaat en geld en eer nagejaag, Ek het jou lief, selfs, al het jy amper geen tyd vir my gehad nie, Ek het jou lief, selfs al het jy elke gebod van my verontagsaam, al het jy my geterg met jou blatante sonde.... Ek het jou lief, selfs al het jy my nie lief nie. My liefde is te sterk , ek kan jou nie net sommer los en aan jouself oorlaat nie. Ek kan jou nie afskryf nie!” 

Kom terug! 

Baie belangrik - God se liefde hang nie maar in die lug nie, God se liefde sê nie, dinge moet nou maar aangaan soos dit is nie! God se liefde wil ’n nuwe begin maak met jou! En dis hoekom Jesus na hierdie wêreld gestuur is. God se liefde is ’n appèlerende liefde, dit roep jou op om terug te keer. Dit roep jou op om Jesus te aanvaar en te omhels. Ons verdien die ewige doodstraf, maar God se liefde sê vir ons daar is ’n nuwe kans. Daar is volkome vergifnis en lewe in Jesus. Baie mense verstaan God se liefde verkeerd en maak dit ’n bespotting. Jy sien God se liefde sê NIE bly maar soos jy is nie. Gaan maar aan met jou verkeerde lewe nie! NEE! NEE! God se liefde nooi jou uit en sê : Kom ons begin nuut! Kom terug! Juis omdat ek jou liefhet kan en moet jy terugkom!  

"Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.” (Hosea 12:7) 



GOD SE ONUITBLUSBARE LIEFDE ROEP JOU TOT BEKERING EN ‘N NUWE TOEKOMS! 





* Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: "Uit Egipte het Ek my Seun geroep." (Matteus 2:14,15) 


Vrydag 14 September 2018

BYBELSE BALANS

EN AGAB OP SY WA !


“Iemand het egter losweg ‘n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat...” ( 1 Konings 22:34)

‘n Onbekende naamlose soldaat skiet sommer lukraak ‘n pyl af. Hierdie pyl tref egter niemand anders nie as Agab die goddelose koning van Israel. Is dit toevallig? Nee, Agab sterf soos God reeds vantevore aangekondig het, na die wrede moord op die onskuldige Nabot wie se wingerd hy so graag wou gehad het. 

Nou is die vraag, wie het Agab doodgemaak : God of die soldaat? 

Ja, Agab se dood het ‘n menslike oorsaak, die pyl van ‘n boogskieter. Was dit sommer toevallig, ‘n blote gelukskoot? Nee, Agab se dood het ‘n Goddelike oorsaak, dit was presies so deur God beplan. Die belangrikheid van menslike aksies en menslike verantwoordelikheid word net so in die Bybel beklemtoon soos Goddelike aksies en Goddelike soewereiniteit. 

Josef word deur sy broers verkoop. Dit was verkeerd en hulle bly verantwoordelik vir hulle eie gruwelike sonde. Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak. “Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Psalm 105:16,17. God se daad van stuur word parallel genoem met die daad van verkoop deur sy broers! Die een weerspreek nie die ander nie. 

Kom ons toets hierdie beginsel met nog ‘n gebeurtenis. Wie het Jesus gekruisig? Wie is verantwoordelik vir sy dood? Die skare in Jerusalem, Pilatus, Kajafas, Judas, die Romeinse soldate of die Satan self? Ja, hulle was almal verantwoordelik en dus skuldig. Petrus beskuldig juis die volk van hierdie vreeslike onreg. Maar daar is ook ‘n ander waarheid wat in balans hiermee is. “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” Dis wat Petrus sê in sy toespraak op Pinksterdag in Handelinge 2:23. God is volkome in beheer, als gebeur soos wat Hy bepaal!

Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid is altyd in balans. 

Mense vergeet dit so maklik. Soms is dit vir ons gerieflik om menslike verantwoordelikheid te ontken. As iemand teen ‘n roekelose spoed jaag en so verongeluk, dan word die skouers maklik opgetrek en gesê : “Ag, wat sy strepie was maar getrek.” Dis waar, maar dis eensydig. God het ook vir ons die gebod gegee wat ons beveel dat ons nie menslike lewe (ook ons eie) in gevaar mag stel nie. God het ook vir ons die opdrag en verantwoordelikheid gegee om landswette te gehoorsaam. Die Bybel leer vir ons op baie plekke dat ons dade gevolge het. (Kliek - SWAPE EN SOTTE IN SPREUKE) Ons kan nie maar ons skouers optrek en onskuldig pleit nie. 

Die Bybel sien geen teenstrydigheid tussen menslike verantwoordelikheid en Goddelike soewereiniteit nie.

Dit geld ook vir ons geloofspad. Ons kry die ernstige opdrag in Filippense 2:12. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” of soos die OAV dit nog sterker stel : “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing”

Menslike verantwoordelikheid! Ons plig! Maar net daarna die wonderlike versekering. “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2:13 Goddelike soewereine genade. Ons moet werk ja, maar dis eintlik Hy wat ons die wil gee om te werk. Beide waarhede : die onteenseglike opdrag aan onsself én God wat alles bewerk soos Hy wil moet ernstig opgeneem word. Beide moet in balans gehou word.

Nog ‘n soortgelyke voorbeeld. Daar kom na elkeen ‘n dringende uitnodiging om na Jesus te kom. Dit behels ‘n keuse van my kant af.

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) Dis jou verantwoordelikheid om hierdie besondere uitnodiging te aanvaar. Aan die anderkant as jy dit aanvaar is dit nie jou goedheid nie, maar dit was Jesus se wil om Homself aan jou bekend te maak. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matteus 11:27) Hierdie waarheid word immers bevestig in Johannes 6:44. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie;...”

Dit bring mens nou natuurlik weer by die ou strydpunt rondom die uitverkiesing. So baie Bybelse tekste beklemtoon God soewereine en onvoorwaardelike uitverkiesing. God kies ons van voor die grondlegging van die wêreld om sy kinders te wees. Dis 'n waarheid waaroor ons moet juig en bly wees! Daar is egter net so baie tekste wat die belangrikheid van ons keuse onderstreep. “Kies wie julle wil dien, vandag as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie, kom kry die water, elkeen wat wil… “ Ons moet beide waarhede ernstig opneem. Ons moet beide aspekte preek.

Paulus lê baie klem op die feit dat ons nét deur die geloof gered word sonder enige werke of verdienste van ons kant. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Rom 3:28) Jakobus stel dit weer duidelik dat geloof sonder werke heeltemal nutteloos is. “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” (Jakobus 2:24) 

Is dit ‘n teenstrydigheid? Nee, Paulus vertel ons hoe ons gered word en dat redding alles net genade is. Hy sê dit vir mense wat die genoegsaamheid van Jesus se offer bevraagteken het en op eie prestasies, afkoms en wetsonderhouding wou staatmaak vir hulle redding. Jakobus praat aan die anderkant met mense wat genade wil misbruik en op hulle louere wil rus. Hy wil ons bewaar van ‘n valse skyngeloof. Dis vir mense wat redeneer, ons kan maar leef soos ons wil , want ons glo mos! Vir gesonde gebalanseerde Christenskap het ons beide waarhede nodig.

So is daar baie ander waarhede wat ons in balans moet handhaaf. Moet ons bid of werk vir ons kos? Ons moet bid, want Jesus het dit vir ons in die Onse Vader geleer. Beteken dit dat ons nie moet werk nie, en moet wag soos Elia dat die kraaie vir ons kos bring? (Nee, Elia het ‘n unieke opdrag van God gehad.) Die Bybel maak dit wel baie duidelik dat ons moet werk vir ons kos! "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." (2 Tessalonisense 3:10) Daar is ‘n Bybelse balans – bid en werk! 

Ons sien hierdie kombinasie baie treffend in die geskiedenis van Nehemia se opbou van die muur van Jerusalem. Daar is ernstig, gebid en gevas. Daar is net so ernstig hard gewerk en gebou. Hulle was ook gereed met hulle swaarde om hulle te verdedig teen die vyande wat die muur se bou wou keer. Gebed, maar ook troffels en swaarde was die instrumente... 

Ook wat die uitdra van die evangelie betref moet ons vashou aan beide bid en werk. As ons eksamen skryf,  bid en leer, as ons siek is… bid en medisyne gebruik.

Baie waarhede in die Bybel wat lyk of dit mekaar weerspreek. Dit weerspreek nie mekaar nie, maar is aanvullend. Ons moet elke waarheid ernstig opneem, maar nie eensydig opneem en verabsoluteer nie.

Simmetrie en balans is ‘n kenmerk van geestelike volwassenheid en insig. Baie dwalinge ontstaan juis wanneer een Skrifwaarheid bo ander beklemtoon word. Mag ons groei na geestelike volwassenheid wat Bybelse waarhede in balans sal hou! 

Erkenning aan Peter Barnes, Holding Two Truths Together, Banner of Truth, Dec 1997

Vrydag 07 September 2018

LGBTQI+ en wat nog?

Dis met diepe skok en ontnugtering dat ek die artikel van Prof. Nadia Marais in DIE KERKBODE getiteld, "Jesus diskrimineer nié", gelees het. Die konteks is die gay debat wat nou weer in die kollig geplaas is deur die hofsaak wat deur ‘n groep ontvrede lidmate gemaak is om die 2016 sinodebesluite ongedaan te maak. 



Nadia verwyt die kerk en skryf o.a. in haar betoog soos volg : 



“Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.” 


Sy wil dus beweer dat wanneer ons in getrouheid aan die Woord, sodomie en sogenaamde selfdegeslagverhoudings afkeur en mense in hierdie konteks tot bekering oproep, ons eintlik besig is met diskriminasie en nog erger, geweld! Sy berei eintlik die weg hier voor vir die kriminele vervolging van mense wat aan God se Woord getrou wil bly! 'n Baie verontrustende wending...!

Haar hele betoog is dat Jesus teen niemand diskrimineer nie. Sy noem dan byvoorbeeld iemand soos Saggeus, die belastingontduiker! Sover stem ek natuurlik heeltemal saam. Ek het self al dikwels oor Saggeus gepreek om die absolute nie-diskriminerende genade van Jesus uit te wys. Jesus het gaan oorbly by die slegste ou op die dorp, en dit gee inderdaad hoop vir sondaars, waaronder ekself! Wat Nadia egter verswyg is dat Saggeus deur Jesus se ontmoeting verander is! Hy het nie ‘n gierige skelm gebly nie, want wie genade ontvang soos hy kan nie anders as om nuut te word en die rug op jou ou leefstyl te draai nie. 

Natuurlik is God se genade net soveel bedoel vir LGBTQI+ mense (elke keer as ek weer sien kom daar nog ‘n letter by, ek wonder hoekom noem hulle nie maar die groep sommer A-Z nie?) soos vir alle sondaars! Daar is genade vir moordenaars, maar beteken dit ons moet sê dis reg hulle kan maar aanhou moor? Daar is genade vir pedofiele, kannibale, diewe, skynheiliges... maar beteken dit ons moet dit goedkeur dat hulle met hulle leefstyl onverhinderd voortgaan as lidmate van Jesus se kerk? En nog erger moet die kerk sover gaan om hierdie slegte dade goed te praat en amptelik te seën (soos wat die gay aktiviste soos Nadia wil hê)? Nadia en haar mede aktiviste is immers luidkeelse voorstanders van die siening dat die kerk amptelik sogenaamde selfdegeslagverbintenisse moet bevestig. 

Nadia is ‘n professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar denke is alles behalwe sistematies en haar teologie kom uit alle bronne behalwe die Bybel. Ek sidder om te dink dat mense soos sy ons nuwe geslag predikante moet vorm, ek bedoel vermink! 

Nadia, ons moenie God se genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy genade word nooit in die Skrif buite die konteks van sy heiligheid geplaas nie. Wanneer dit gebeur, maak ons die fout van Ussa. (kliek) Genade gee ons nie 'n vrypas om God te tart nie!

Nadia se manier van redeneer is gevaarlik! Dit bedreig die heiligheid van die kerk, maar ook gewetensvryheid as sodanig! Dis juis die liberaliste wat die grootste vervolgers van Jesus se kerk gaan word!

Dinsdag 04 September 2018

SKOKKEND : Ussa sterf

omdat hy sy hand na die verbondsark uitsteek. Hy wou keer dat dit nie afval van die wa nie en God tref hom onmiddelik met die dood! Dis ‘n verhaal (2 Samuel 6) wat vir ons ongemaklik laat voel, onverstaanbaar en onregverdig klink. Ussa keer dat die ark nie op die grond val nie. Tog sekerlik ‘n goeie daad? Ons verwag dat hy dalk ‘n stem uit die hemel sou hoor wat sê : “Dankie Ussa!” In plaas daarvan word Ussa deur God gedood. Summiere teregstelling op die plek! 



“Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis*, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” (2 Samuel 6:6,7) 

Wat het hier gebeur? Was God onregverdig of dalk erger, in ‘n slegte bui of wispelturig? Ons moet onthou die verbondsark (‘n Goue kis met die tien gebooie daarin, met ‘n goue deksel waarop twee gerubs was.) was ‘n besonder heilige voorwerp. Sy normale plek was in die allerheiligste, die heel heiligste deel van die tabernakel waar die hoëpriester net een maal per jaar mag ingegaan het. God het duidelike voorskrifte gee t.o.v. die vervoer van die verbondsark. 

"Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet ‘n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met ‘n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek...Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. (Numeri 4:5,6,15!) 

Om te raak aan die ark of een van die heilige voorwerpe was strafbaar met die dood! Dit was ‘n duidelike Goddelike bevel! Die ontwerp van die ark self het dit al inherent duidelik gemaak. Daarom was daar ringe aan die ark met draaghoute sodat by die vervoer van die ark niemand daaraan sou hoef te raak nie! Die ark moes dus gedra word! (Hulle het dit baie goed besef - sien vers 13) Daar is geen voorsiening gemaak vir vinnige vervoer op ‘n wa nie. Die ark was meer as maar net nog ‘n houtkis, dit was die setel van God se heilige teenwoordigheid. "...Dit is die ark waaroor die Naam: "die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon", uitgeroep is." (2) Dis op die deksel van die ark waar die hoëpriester die bloed van die jaarlikse versoenoffer moes sprinkel! 

DIS GEVAARLIK OM TE VERGEET DAT GOD HEILIG IS! 

A Ussa sterf, sterf hy dus nie onskuldig nie. Hy het ‘n duidelike voorskrif en wet van God oortree. Hy sterf as iemand wat God se waarskuwings geïgnoreer het. Die doodstraf wat Ussa kry is nie onregverdig of onredelik nie. Dit was nie ‘n gril of bevlieging van God nie. Dit was niks buitengewoon nie. Wat wel skokkend voorkom is die skielikheid en finaliteit van hierdie straf. 

Die eintlike rede waarom ons geskok en dronkgeslaan word deur die verhaal van Ussa is omdat ons nie die Bybelse begrippe van heiligheid, geregtigheid, sonde en genade reg verstaan nie. Anders gestel ons as mense is kansvatters wat God se genade misbruik en dink dat genade iets is wat ons verdien. Ons raak mak vir God. “Ag, dis mos vanselfsprekend, God sal en moet my mos genadig wees,” is die gedagte diep in ons agterkoppe! 

RC Sproul in sy boekie “The Holiness of God”** gebruik ‘n uitstekende voorbeeld om hierdie arrogante houding te illustreer: Hy het 250 studente in sy OT klas gehad. Sy studente moes drie take voltooi. Hy het vooraf die inhandigdatums deurgegee en dit duidelik gestel dat as die taak nie op die regte tyd ingehandig word nie, jy ‘n druipsimbool (F) daarvoor sou kry. Die eerste taak moes op die laaste dag van September in wees. 225 van die 250 studente s’n was betyds. Die ander 25 het bewend en beangs vir uitstel gepleit. RC het toegegee aan hulle pleidooie en uitstel gegee. Die studente was baie dankbaar en vol mooi woorde en beloftes! Toe kom die einde Oktober. Net 200 van die 250 was betyds. Die ander was senuagtig, maar glad nie paniekerig nie. Weer vol verskonings, verduidelikings en mooi beloftes. Weer was RC hulle genadig. “Maar onthou”, het hy gesê, “geen uitstel die volgende keer nie. Dan druip julle die taak as julle laat is!” Die studente was baie bly : “Prof Sproul, ons is lief vir jou, jy is wonderlik!” RC was nou hulle held! ‘n Regte Mr. Popularity!

Raai wat het gebeur aan die einde van November met die inhandiging van die derde taak? Net 150 van die 250 se take was betyds in! “Waar is julle take?”, het hy gevra? Een het geantwoord : “Moenie worry nie prof. ons werk daaraan…” Toe het RC sy punteregister gevat en die name begin aflees. Die wat nie ‘n taak ingegee het nie, het ‘n F gekry. Die studente was verontwaardig en het hardop geprotesteer. “Dis nie billik nie!” RC het met ‘n spesifieke student gepraat. “Jy sê dis nie billik nie?” “ Nee!”, antwoord die student. “Wel, wil jy regverdigheid hê? “Ja” “Goed, as jy daarop aandring,sal jy dit kry. Verlede keer was jou taak ook laat. Ek gaan jou nie net hierdie keer ‘n F gee nie, maar ook vir die vorige taak. Ek sal jou vorige punt verander na ‘n F, want dis wat jy regverdiglik verdien.” Die student was stomgeslaan. Geen argumente nie. Hy het om verskoning gevra en was te dankbaar om net een F te kry in plaas van twee. 

Die studente (en ons) vat genade as vanselfsprekend op! Ons dink ons verdien genade, ons moet genade kry. Nee, genade word nie verdien nie. God skuld ons ook nie genade nie. Ons verdien straf en oordeel. Ons verdien die straf van Ussa! God se toorn is oor ons en dis ‘n regverdige toorn, want ons is skuldig aan die oortreding van sy wette. 

GOD SKULD ONS NIE GENADE NIE; HY SKENK DIT WEL! 

Nou hoor (sien) ons hier aan die nagmaalstafel hoe God se toorn vir Jesus aan die kruis getref het! Ons hoor hoe die Goddelike wraak vir Jesus getref het in ons plek en dat ons vry kan wees van skuld en straf! Maak dit ons dankbaar? Of dink ons dat ons kanse kan vat met God se heiligheid ? God skuld nie vir ons genade nie, Hy skenk vir ons genade deur Jesus. Hy hoef ons nie te spaar nie, dis sy goedheid en guns. Hoor wat sê God vir Moses. “...want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” (Eksodus 33:19) 

Genade is regtig genade! Vrye onverdiende guns alleen! Maar pasop, Hy is nog dieselfde heilige God! Ons moet Hom nie tart nie. Ons moenie kanse vat nie. Ons moenie dink ons verdien genade of is geregtig daarop nie. Oor genade kan ons net oneindig dankbaar wees! 

Die Nagmaal vertel ons van genade. Jesus het in my plek die toorn en straf gedra. Sy liggaam is vir my gebreek, sy bloed het vir my gevloei! Maar die Nagmaal is juis ook die heilige Nagmaal. Ons moet dit nie ontheilig deur dit ongeërg of onnadenkend te gebruik nie. Ons moet dit nie ontheilig deur onberouvol te volhard met sonde en ongeloof nie! Onthou wat het met Ussa gebeur! God is nog dieselfde heilige God wat bedoel wat Hy sê! 

*Heiligskennis is die skending of ontering van iets wat heilig is. (Eng = sacrilege) 

**p124ev