Bladsye

Vrydag 14 September 2018

BYBELSE BALANS

EN AGAB OP SY WA !


“Iemand het egter losweg ‘n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat...” ( 1 Konings 22:34)

‘n Onbekende naamlose soldaat skiet sommer lukraak ‘n pyl af. Hierdie pyl tref egter niemand anders nie as Agab die goddelose koning van Israel. Is dit toevallig? Nee, Agab sterf soos God reeds vantevore aangekondig het, na die wrede moord op die onskuldige Nabot wie se wingerd hy so graag wou gehad het. 

Nou is die vraag, wie het Agab doodgemaak : God of die soldaat? 

Ja, Agab se dood het ‘n menslike oorsaak, die pyl van ‘n boogskieter. Was dit sommer toevallig, ‘n blote gelukskoot? Nee, Agab se dood het ‘n Goddelike oorsaak, dit was presies so deur God beplan. Die belangrikheid van menslike aksies en menslike verantwoordelikheid word net so in die Bybel beklemtoon soos Goddelike aksies en Goddelike soewereiniteit. 

Josef word deur sy broers verkoop. Dit was verkeerd en hulle bly verantwoordelik vir hulle eie gruwelike sonde. Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak. “Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Psalm 105:16,17. God se daad van stuur word parallel genoem met die daad van verkoop deur sy broers! Die een weerspreek nie die ander nie. 

Kom ons toets hierdie beginsel met nog ‘n gebeurtenis. Wie het Jesus gekruisig? Wie is verantwoordelik vir sy dood? Die skare in Jerusalem, Pilatus, Kajafas, Judas, die Romeinse soldate of die Satan self? Ja, hulle was almal verantwoordelik en dus skuldig. Petrus beskuldig juis die volk van hierdie vreeslike onreg. Maar daar is ook ‘n ander waarheid wat in balans hiermee is. “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” Dis wat Petrus sê in sy toespraak op Pinksterdag in Handelinge 2:23. God is volkome in beheer, als gebeur soos wat Hy bepaal!

Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid is altyd in balans. 

Mense vergeet dit so maklik. Soms is dit vir ons gerieflik om menslike verantwoordelikheid te ontken. As iemand teen ‘n roekelose spoed jaag en so verongeluk, dan word die skouers maklik opgetrek en gesê : “Ag, wat sy strepie was maar getrek.” Dis waar, maar dis eensydig. God het ook vir ons die gebod gegee wat ons beveel dat ons nie menslike lewe (ook ons eie) in gevaar mag stel nie. God het ook vir ons die opdrag en verantwoordelikheid gegee om landswette te gehoorsaam. Die Bybel leer vir ons op baie plekke dat ons dade gevolge het. (Kliek - SWAPE EN SOTTE IN SPREUKE) Ons kan nie maar ons skouers optrek en onskuldig pleit nie. 

Die Bybel sien geen teenstrydigheid tussen menslike verantwoordelikheid en Goddelike soewereiniteit nie.

Dit geld ook vir ons geloofspad. Ons kry die ernstige opdrag in Filippense 2:12. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” of soos die OAV dit nog sterker stel : “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing”

Menslike verantwoordelikheid! Ons plig! Maar net daarna die wonderlike versekering. “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2:13 Goddelike soewereine genade. Ons moet werk ja, maar dis eintlik Hy wat ons die wil gee om te werk. Beide waarhede : die onteenseglike opdrag aan onsself én God wat alles bewerk soos Hy wil moet ernstig opgeneem word. Beide moet in balans gehou word.

Nog ‘n soortgelyke voorbeeld. Daar kom na elkeen ‘n dringende uitnodiging om na Jesus te kom. Dit behels ‘n keuse van my kant af.

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) Dis jou verantwoordelikheid om hierdie besondere uitnodiging te aanvaar. Aan die anderkant as jy dit aanvaar is dit nie jou goedheid nie, maar dit was Jesus se wil om Homself aan jou bekend te maak. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matteus 11:27) Hierdie waarheid word immers bevestig in Johannes 6:44. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie;...”

Dit bring mens nou natuurlik weer by die ou strydpunt rondom die uitverkiesing. So baie Bybelse tekste beklemtoon God soewereine en onvoorwaardelike uitverkiesing. God kies ons van voor die grondlegging van die wêreld om sy kinders te wees. Dis 'n waarheid waaroor ons moet juig en bly wees! Daar is egter net so baie tekste wat die belangrikheid van ons keuse onderstreep. “Kies wie julle wil dien, vandag as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie, kom kry die water, elkeen wat wil… “ Ons moet beide waarhede ernstig opneem. Ons moet beide aspekte preek.

Paulus lê baie klem op die feit dat ons nét deur die geloof gered word sonder enige werke of verdienste van ons kant. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Rom 3:28) Jakobus stel dit weer duidelik dat geloof sonder werke heeltemal nutteloos is. “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” (Jakobus 2:24) 

Is dit ‘n teenstrydigheid? Nee, Paulus vertel ons hoe ons gered word en dat redding alles net genade is. Hy sê dit vir mense wat die genoegsaamheid van Jesus se offer bevraagteken het en op eie prestasies, afkoms en wetsonderhouding wou staatmaak vir hulle redding. Jakobus praat aan die anderkant met mense wat genade wil misbruik en op hulle louere wil rus. Hy wil ons bewaar van ‘n valse skyngeloof. Dis vir mense wat redeneer, ons kan maar leef soos ons wil , want ons glo mos! Vir gesonde gebalanseerde Christenskap het ons beide waarhede nodig.

So is daar baie ander waarhede wat ons in balans moet handhaaf. Moet ons bid of werk vir ons kos? Ons moet bid, want Jesus het dit vir ons in die Onse Vader geleer. Beteken dit dat ons nie moet werk nie, en moet wag soos Elia dat die kraaie vir ons kos bring? (Nee, Elia het ‘n unieke opdrag van God gehad.) Die Bybel maak dit wel baie duidelik dat ons moet werk vir ons kos! "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." (2 Tessalonisense 3:10) Daar is ‘n Bybelse balans – bid en werk! 

Ons sien hierdie kombinasie baie treffend in die geskiedenis van Nehemia se opbou van die muur van Jerusalem. Daar is ernstig, gebid en gevas. Daar is net so ernstig hard gewerk en gebou. Hulle was ook gereed met hulle swaarde om hulle te verdedig teen die vyande wat die muur se bou wou keer. Gebed, maar ook troffels en swaarde was die instrumente... 

Ook wat die uitdra van die evangelie betref moet ons vashou aan beide bid en werk. As ons eksamen skryf,  bid en leer, as ons siek is… bid en medisyne gebruik.

Baie waarhede in die Bybel wat lyk of dit mekaar weerspreek. Dit weerspreek nie mekaar nie, maar is aanvullend. Ons moet elke waarheid ernstig opneem, maar nie eensydig opneem en verabsoluteer nie.

Simmetrie en balans is ‘n kenmerk van geestelike volwassenheid en insig. Baie dwalinge ontstaan juis wanneer een Skrifwaarheid bo ander beklemtoon word. Mag ons groei na geestelike volwassenheid wat Bybelse waarhede in balans sal hou! 

Erkenning aan Peter Barnes, Holding Two Truths Together, Banner of Truth, Dec 1997

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.