Jesus het aangedring op bekering. "Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 3:14,15)
Die eis tot bekering was deel van die apostels se kernboodskap. “By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: "Wat moet ons doen, broers?" Toe antwoord Petrus hulle: "Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang." (Handelinge 2:37,38)
GELOOF EN BEKERING
Word ons dan nie deur die geloof gered nie? Ja, natuurlik. Geloof en bekering gaan egter altyd hand aan hand. Die twee vlerke van ‘n vliegtuig. Bekering sonder die element van geloof is blote moralisme. Geloof sonder bekering (dis algemeen in ons dag) is bloot sentimentele selfmisleiding. Anders gesê : Ware geloof in Jesus sal insluit dat ek berou en afsku oor my sonde sal hê, ware bekering sal insluit dat ek my vertroue persoonlik op Jesus sal stel en hoop op die genoegsaamheid van sy kruisoffer!
GEEN RESEPPIE
Daar bestaan baie misverstande – bekering is nie ‘n spesifieke voorgeskrewe reseppie of ‘n uitgewerkte rympie wat ek moet prewel nie. Daar is geen standaard bekeringsgebed in die Bybel nie. Daar is nie iets soos ‘n stap een tot vier bekeringsvoorskrif nie. Die Bybel voorsien ons ook nie van ‘n netjies uitgewerkte definisie van bekering nie. Dis ‘n saak van die hart. Die detail verskil van persoon tot persoon, maar daar’s sekere duidelike ooreenstemmende elemente. (Jy hoef dus nie jou bekering te bevraagteken as dit nie presies so plaasgevind het soos wat jy dalk in iemand anders se getuienis gehoor of in ‘n Christen biografie gelees het nie) Ons gaan na die wesenseienskappe van bekering kyk aan die hand van die bekende Psalm 51. (Dis so belangrik om die aard van bekering te verstaan, want daar is soveel vals bekerings in ons dag...)
Hier in Psalm 51 vind ons ‘n klassieke voorbeeld van bekering.
Dis eintlik die bekering van ‘n “backslider” (Ons ken mos die agtergrond... Dawid en Batseba. Kliek op
SMS – SWANGER!) Bekering het sekere basiese elemente en dit maak nie saak of dit iemand is wat nog nooit die Here geken het en of dit nou iemand is wat teruggeval het en nou weer terugkom na die Here soos die geval met Dawid nie. Die kernmerke van egte bekering is basies dieselfde of mens nou praat van ‘n aanvanklike eerste bekering of die daaglikse lewe van bekering. *
Kom ons gaan saam deur Psalm 51:
Met egte bekering is daar ‘n bewustheid dat my sonde en my oortredings die groot probleem is en daarom verlang ek na vergifnis. My grootste probleem is nie my gebrek aan gesondheid, geluk of geld nie. Dis nie wat ek nou van die Here vra nie – ek vra genade en vergifnis! “Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!" (3,4,9) (So baie “bekerings” is vals, want daar word vir mense belowe dat as jy jou hart vir Jesus gee sal Hy al jou ideale waarmaak en vir jou die lewe lekker maak. So baie mense neem dan ‘n besluit vir Jesus sonder enige besef van hulle sondenood.) Dis egter juis die mees basiese element van bekering – ek sien raak dat ek ‘n sondaar is wat skuldig voor God staan en daarom vergifnis nodig het.
Met egte bekering begin ek besef (dalk gaandeweg) dat my sonde eintlik sonde teen God self was. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” (6)Dis merkwaardig dat Dawid hier besef – sy sonde was nie net teen Batseba en haar man Uria nie, maar ten diepste teen God. Baie mense sien sonde maar net as ‘n klompie foute wat nou vir hulle probleme veroorsaak, maar besef nie dat alle sonde eintlik rebellie en opstand teen God is nie.
Met egte bekering en berou maak ek nie meer verskonings vir my sonde nie. Al daardie verskonings van : “Ek is maar net ‘n mens, ek kom uit ‘n moeilike huis, ag niemand is mos volmaak nie, ons is mos almal maar net mense...” Dis als dinge met ‘n element van waarheid, maar met bekering soek ek nie meer verskonings nie, ek soek verlossing! Met egte bekering begin ek besef dat my sonde dieper gaan as maar net ‘n klompie nare en verkeerde goed wat ek gedoen het. Ek is van geboorte af ‘n sondaar. My wese is sondig, daarom kies ek vir die sonde... “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” (7)
Met egte bekering is daar nie net ‘n verafskuwing van dit wat verkeerd is nie, maar ook ‘n opregte begeerte om nou volgens God se wil te lewe. “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. “ (8)
Ek wil nie net vry wees van sonde nie, maar ook vry van die begeerte tot sonde!
Die egte berouvolle bekeerling besef dat hy homself nie kan verander en verbeter nie, maar heeltemal op God se genade aangewese is. Ek het God nodig! Ek het ‘n herskeppingswonderwerk nodig. Ek het behoefte aan iets meer as maar net ‘n nuwe blaadjie omslaan. Ek het ‘n nuwe hart met nuwe begeertes nodig! “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (12) Dis die waarheid van die wedergeboorte wat hier reeds in Ou Testamentiese taal gestel word.
Met egte bekering is daar ‘n element van desperaatheid en erns! Dis nooit 'n ligtelike saak, koue formaliteit of haastige ritueel om 'n rympie agter iemand aan te prewel nie. Dawid pleit hartstogtelik: "Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!" (13)
Met egte bekering is daar ‘n element van nederigheid, gebrokenheid en verootmoediging. Here, ek verdien niks nie, ek is niks nie, ek het niks om op trots te wees nie, maar wees my tog genadig! “‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (18,19)
Bekering is nie ‘n menslike prestasie wat God se guns verdien nie, nee dis om vanuit my diep nood my hand uit te steek en God se genade deur Jesus in geloof te ontvang! Here, ek het U nodig!
Egte bekering lei tot blydskap of weer die herstel van blydskap van ‘n backslider. “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.” “Red my van ondergang, o God, my Redder, dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.” “Here, gee my die woorde om u lof te verkondig.” (14, 16, 17) Wanneer God die swaar skuldlas van jou wegneem, kan dit mos nie anders as dat daar blydskap sal wees nie!
Egte bekering kan nie en wil nie weggesteek word nie, maar moet en wil met ander gedeel word. “Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer."(15)
Bekering behels dat ek in nederigheid en eerlikheid en berou my hart voor God uitstort en om genade sal roep. Bekering laat my omdraai (ook van my vertroue op my eie geregtigheid, morele prestasies en godsdienstigheid) en my hoop op Jesus stel! Ja, beslis is dit nie die "kwaliteit" van my bekering wat my red nie, maar Jesus en die genoegsaamheid van sy eenmalige offer. Bekering ('n berouvolle omdraai en 'n diep "change of mind") lei tot geloof in Jesus, maar is terselfdertyd ook 'n gevolg van ware geloof in Jesus! Weereens, bekering en geloof gaan saam en moet nie as afsonderlike stappe gesien word nie, maar is ineengestrengel. Die Christen se hele lewe is immers 'n lewe van geloof en bekering!
*Die verskil kan aan die hand van ‘n eenvoudige beeld verduidelik word. (ek het dit by Nico van der Walt gehoor) Wanneer ‘n skip besig is om reg suid vanaf Kaapstad na Antarktika te vaar en dan skielik die opdrag kry om terug te keer na Kaapstad, maak hy ‘n radikale omdraai van 180 grade. ‘n Mens sou dit kon vergelyk met ‘n
aanvanklike bekering. Eers het hy suid gevaar, maar nou reg noord. Maar op die terugpad is daar gedurig winde, strome en golwe wat dreig om hom van koers af te dwing en daarom moet die stuurman voortdurend die roer gebruik om die skip weer terug te bring op koers sodat die kompas weer reg noord kan wys. Dit kan vergelyk word met
daaglikse of voortdurende bekering.
Dis baie duidelik dat die boodskap van bekering in die Nuwe Testament nie net aan buitestaanders en ongelowiges buite gemeentes gerig word nie. Lees gerus
Openbaring 2-3 en sien hoe hierdie oproep tot bekering herhaaldelik in die
briewe aan die sewe gemeentes voorkom.