Bladsye

Woensdag 18 Junie 2014

JY IS OOK WELKOM!

- in die Geesgewerkte gemeenskap is daar plek vir uitgeworpenes en buitestaanders.

Ons het gekyk na die unieke gemeenskap van die kinders van God. Dis slegs moontlik deur die bonatuurlik werk van die Heilige Gees. (Kliek op GEESGEWERKTE GEMEENSKAP) Maar presies wie is almal welkom? In elke samelewing of groepsverband is daar mos sekere mense wat uitgestoot en verwerp word. Onwelkom. Hulle is onaanvaarbaar op grond van afkoms, voorkoms, sosiale of ekonomiese status, ras, ‘n slegte verlede, fisiese of verstandelike gebreke en nog baie ander redes. Mense hou nou maar net nie van hulle nie. Deur al die eeue was dit so en dis vandag nog steeds die geval ten spyte van al die aansprake van verdraagsaamheid in ons tyd. Die wêreld het egter nie ‘n blywende antwoord vir die probleem van verworpenes nie. Die sondige mens se selfsug en strewe na oorheersing verhoed dit. Ongeag wat mense sê - in die wêreld is daar maar een oorheersende beginsel : elkeen vir homself. “Ek gebruik jou net tot my eie voordeel.” Die enigste plek waar alle uitgeworpenes met ope arms ontvang word is die kerk van Jesus. Die ware kerk van Jesus. Nou frons jy en vra : “Regtig? Dis nie my ervaring nie...” Wel, as dit nie in die praktyk so is nie, is dit omdat die kerk direk optree teen die boodskap van Sy hoof Jesus Christus...

DIE ONTMANDE

Handelinge het so baie te sê oor die insluiting van uitgeworpenes. In hoofstuk 8 sien ons hoe die kerk van Jesus, die verworpe Samaritane, hierdie tussengroep mense verwelkom het. Hulle het ook net soos die Joodse gelowiges die gawe van die Heilige Gees ontvang. Die bekering van die Etiopiese eunug (ontmande) soos ons dit vind in Handelinge 8:26-40 (lees dit gerus in jou Bybel) is nog ‘n verdere drastiese bewys van God se bedoeling om alle voormalige uitgeworpenes as volwaardige lede van die nuwe gemeenskap van die heiliges op te neem.

Die bekering van hierdie eunug was egter nie net opsigself belangrik nie. Deur verskeie parallelle in dade in woorde impliseer Lukas dat bekering van hierdie man ‘n voorskou was van die bekering van die heidense Kornelius, waarby Petrus betrokke sou wees. In beide gevalle (Filippus en Petrus ) is God se boodskapper op bonatuurlike manier gelei na die heidene. Filippus deur ‘n engel, Petrus deur ‘n visioen (vir hom het dit waarskynlik gevol soos ‘n nagmerrie!) en ‘n engel het ook met Kornelius gepraat. Direkte bonatuurlike inmenging. (Dit beteken nou nie ons moet elke keer voor ek sending doen eers wag vir ‘n engel nie - onthou hier was nuwe grond wat betree is, nuwe grense wat oorgesteek in hierdie heilshistoriese situasie) In beide gevalle kry ons dieselfde kwessie (8:37; 10:47) oor wat die ontvangs van die doop sal “verhinder”. Die antwoord is natuurlik niks nie - almal wat glo in Jesus is volledig aanvaarbaar in Sy liggaam en mag daarom gedoop word! Filippus het die grens oorgesteek na Samaritane en Petrus breek nou nog ‘n skeidsmuur - hy bring die evangelie in ‘n heidense gebied en doop ‘n heiden. 

SPEEL VIR DIE EERSTESPAN

Fillipus ontmoet hierdie eunug in ‘n heidense gebied, met sterk heidense konnotasies uit die verlede. Oppad na Gasa. Dis ook opmerklik dat dit spesifiek aan die einde van die gebeure vermeld word dat hy in Asdod gevind is. Beide die name Gasa en Asdod is bedoel om ‘n klokkie te lui - dit was stede wat deel was van die antieke Fillistynse gebied ( vgl. 1 Sam 6:17) Meer heidens kan jy nie kry nie. Dis die hartland van die heidendom! Juis na hierdie gebied word Filippus beveel om te gaan. Ook die man na wie Filippus gestuur word is ‘n heidense vreemdeling en uitgeworpene. Alhoewel hy so pas ‘n pelgrimsreis na Jerusalem voltooi het en in besit was van ‘n Jesaja boekrol, was hy nietemin ‘n heiden, ‘n Etiopiër. Geestelik gesproke was hy in terme van die bedeling van die Ou Verbond in ‘n minderbevoorregte possisie, eintlik ‘n uitgeworpene. Op ‘n dubbele manier was hy uitgesluit van die verbondsgemeenskap van Israel - as heiden en as ontmande. Die wet het duidelik bepaal : “Hy....van wie die manlike deel afgesny is, mag in die vergadering van die Here nie kom nie” (Deuteronomium 23:1) Hierdie man sou dus ten spyte van sy godsdienstigheid nooit ‘n volle bekeerling tot die Joodse geloof kon word nie. Hy sou maar altyd ‘n tweedeklas plek in die kring van gelowiges moes inneem. Sou maar altyd met die krummels tevrede moes wees. Hy sou ongeag sy toewyding nooit vir die eerstespan mag gespeel het nie!

Hoe wonderlik (en geensins toevallig nie) dat Filippus juis na hierdie man gestuur word met die evangelie! Weereens ‘n geval hoe God van twee kante af werk – dis nie toevallig dat hy in die boek van Jesaja lees nie, en natuurlik ook nie toevallig dat Filippus na hom toe gestuur word nie.

Hierdie Etiopiër se aanvaarding van die evangelie was nie maar net op persoonlike vlak ‘n heerlike gebeurtenis nie. Dit is van heilshistoriese belang. Hoe so? Sy bekering was ‘n duidelike teken van die aanvang van die Koninkryk van God se internasionale uitbreiding oor alle grense heen. ‘n Koninkryk waar daar ruimte is vir die voorheen verworpenes. Hierdie nuwe dimensie van die Koninkryk was egter nie iets vreemds nie, dis vooraf duidelik deur die profete voorsien. Treffend word dit o.a. in Psalm 68:31 in die vooruitsig gestel. “Edeles sal uit Egipte kom, Kus (= Etiopië) sal haastig sy hande uitsteek na God.” (vergelyk ook Psalm 87:4; Jesaja 11:10-11) Die bekering van hierdie man was ‘n duidelike aanduiding dat hierdie beloftes nou in vervulling gegaan het.

Soos reeds gesê was hierdie man nie net ‘n vreemdeling nie, maar boonop ook nog ‘n ontmande. Ook in hierdie opsig is die vermelding van sy bekering nie toevallig nie. Die Skrif het reeds lank tevore ‘n woord van hoop vir beide vreemdelinge en ontmandes gehad. “‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond,aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke." (Jesaja 56:3-7) Die wet van Moses wat vreemdelinge en ontmandes uitgesluit het van die heiligdom was nou uitgediend.* In Jesus het ‘n heerlike nuwe bedeling aangebreek vir elkeen wat glo in Hom. 

DIE LAM SE OFFER

Omdat hy geglo het, word hierdie uitgeworpene nou ten volle deel van die gemeenskap van die heiliges en niks kan daarom in sy pad staan om gedoop te word nie. Die Lam van God van wie die eunug hier gelees het in Jesaja 53 se offer was ook vir hom genoegsaam! (Hy word opgeneem in die EERSTESPAN!!) Jesus se offer was OOK VIR JOU groot genoeg as jy maar net eenvoudig dit wil aanvaar...

Jesus het die deur wyd oopgemaak vir almal wat hulle bekeer. Die bekering van hierdie man is ‘n bewys daarvan. As jy buite staan, kan jy nie God of die evangelie beskuldig nie. Jy het net jouself te blameer...

* Dis daarom so tragies dat die Hebrew Roots Movement weer wil terugkeer na die Wet van Moses (Tora) en dus in effek na die Ou Verbond en so die Nuwe Verbond in Jesus ignoreer! Kliek op WORTELS VAN VERWARRING

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.