Bladsye

Vrydag 31 Januarie 2014

HERLEWING EN PINKSTER

- Kan en moet ons vandag nog iets soos herlewing verwag? 


Die antwoord is nie noodwendig so eenvoudig soos dit vir sommige mag klink nie. Daar is selfs ernstige behoudende Christene wat die konsep van “herlewing” bevraagteken. Een rede is natuurlik (soos reeds gesien – kliek op HERLEWING 1) die vervlakking van die term “revival”, veral deur die Amerikaners tot bloot ‘n reeks spesiale dienste. ‘n Ander saak wat Christene kan afstoot van “revival” is die gelykstelling van herlewing aan buitengewone en onordelike verskynsels.

Daar is egter ook ‘n meer grondliggende teologiese rede waarom sommige Christene nie vir die begrip “herlewing” te vinde is nie.
Dit gaan oor hoe ons die Pinkstergebeure moet verstaan. In die boek Handelinge kry ons die radikale uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag as ‘n vervulling van die belofte oor die Nuwe Verbond. Die Gees word as gawe aan die kerk gegee. Dit kan die vraag laat ontstaan of herlewing gesien as ‘n nuwe uitstorting en kragtige werk van die Gees in lyn is met die werklikheid van Pinkster as eenmalige heilshistoriese gebeurtenis? Want as die Heilige Gees dan gekom het, en gekom het om te bly, hoe kan daar sprake wees van opvolgende voller of groter “uitstortings” van die Gees na die unieke gebeure van Pinkster? Het ons dan die reg om te bid vir sulke “uitstortings”? Moet ons dan nie maar net fokus op gehoorsaamheid om die werk van die Gees te ervaar nie? (Johannes 14:21) Hierdie tipe denke het ons inderdaad by groot en kosbare teoloë soos Abram Kuyper en Charles Hodge gevind.

Hoe moet ons hierop antwoord? Beslis is gehoorsaamheid vir elke kind van God baie belangrik sodat ons nie die Gees sal bedroef nie en sy leiding en teenwoordigheid mag ervaar. Maar hierdie “voorwaarde” van gehoorsaamheid beteken nog nie dat daar noodwendig herlewing sal wees soos dit deur die kerk in die geskiedenis ervaar is nie. Die groot buitengewone en verrassende werkings van Gods Gees in die geskiedenis kan nie ontken word nie. Maar die vraag is nou nog steeds hoe dit by Pinkster inpas?

Kom ons kyk na Handelinge self. Dis duidelik dat Pinkster die vervulling van belofte oor die gawe van die Gees was binne konteks van die Nuwe Verbond. Petrus verstaan Pinkster as ‘n vervulling van Joël 2 :28,29 “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.” Nooit weer sou dinge dieselfde wees nie. Die tydperk van ‘n buitengewone werk van die Gees binne die raamwerk van die Nuwe Verbond in vergelyking met die beperkte werk van die Gees onder die Ou Verbond is ingelui. Dis Jesus Christus wat nou Sy Gees op die kerk uitgestort het. 


As ons na Handelinge (en die kerkgeskiedenis) kyk dan het hierdie eerste uitstorting van die Gees (wat heilshistories uniek en nie herhaalbaar is) gelei tot en die basis gevorm van voortgaande werkinge en seëninge wat voortvloei van die troon van Christus. Ook Pinkster vertel Handelinge ons van vars bekragtigings/vervullings van die Heilige Gees – dis niks anders as herlewing nie! Ons moenie die indruk kry dat voor Pinkster al die apostels swak en sondig was en na Pinkster bykans volmaak nie. Hulle kon nog steeds doen met diepere werk an die Gees in hulle as persone en die kerk as geheel... So vroeg as reeds in Handelinge 4 kry ons ‘n beskrywing van ‘n vars bekragtiging van die Heilige Gees (na gebed!) so intens dat die gebou waar hulle bymekaar was geskud het! “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (Handelinge 4:31) Ek dink die verskynsel van aardbewings kan mens help om die konsep van herlewing te verstaan. Dikwels is daar ‘n groot aardbewing, wat dan gevolg word deur verdere naskokke en aardtrillings waarvan die grootte en omvang baie kan wissel!



Pinkster was die groot aardbewing van die Gees, alle herlewings daarna was groter of kleiner naskokke!

As die eenmaligheid van Pinkster oorbeklemtoon word, dan maak dit ons laks en selftevrede. Aan die anderkant, as ons weet dat Jesus nog steeds sy kerk kan besoek met ‘n vars diep werk van die Heilige Gees, is dit ‘n motivering vir gebed en verootmoediging. Die soewereine Christus het dit steeds in sy mag om die Gees met nuwe krag op ons te laat neerkom! Die boodskap van Jesus aan die “dooie gemeente” van Sardis beklemtoon juis dat Hy by magte is om sy Gees uit te stuur! “Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” (Openbaring3:1) Let op : Sardis se gemeente was “dood” ten spyte van die feit dat die Gees reeds uitgestort was op Pinkster!

Jesus as die Middelaar en Hoof van sy liggaam gaan voort om na die uitstorting van die Gees op Pinksterdag die Gees soos en wanneer Hy wil ‘n vars werklikheid in sy kerk te maak. Hierdie vars ervaring van die groter werklikheid of invloed van die Heilige Gees op groot skaal is herlewing of ontwaking.

Ian Murray, bekende kerkhistorikus, ook in die veld van herlewing, stel dit so (aangehaal deur Armstrong) : "Thus, although the Spirit was initially bestowed on the church by Christ at Pentecost, His influences are not uniform and unchanging; there are variations in the measure in which He continues to be given. In the book of Acts times of quickened spiritual prosperity and growth are traced to new and larger measures of the influence of the holy Spirit (Acts 4:31-33: 11:15-16; 13:52-14:1), and so, through Christian history, the church has been raised to new energy and success by “remarkable communications of the Spirit of God... at special seasons of mercy.”

VANDAG IS DIT MEER NODIG AS OOIT

Die kerk van Jesus is in ‘n stukkende abnormale toestand…oor die algemeen sien ons min van "Handelinge" in ons gemeentes. Min bekerings, min groei, min offervaardigheid, min sendingywer en visie, min spontane blydskap… Ja, want dis moontlik vir God se kinders om ook na Pinkster in geestelike armoede te leef. Hoe so? Die Heilige Gees as Pinkstergawe is die geboortereg van alle gelowiges, maar nie alle gelowiges eien die volheid daarvan vir hullself toe nie of bedroef die Gees so dat hulle sy krag ontbeer. Prof Kolie Kotzé skryf : “Daarom sê ons – terug na Pinkster! Want hoewel ons Pinkster nog bely, is daar ‘n droewige gemis aan die krag en vrugte daarvan. Dit is dus nie terug na ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees nie, maar terug in dié sin, dat daar meer van ons belydenis van die Pinkstergawe ook in ons lewe geopenbaar moet word. Hiervoor moet ons gewillig word om die hindernisse van sonde, vlees en wêreld te verwyder, en die prys te betaal.”*  As God se kinders op groot skaal hiertoe bereid gemaak word deur God se soewereine werk in hulle en die volheid van die Gees beleef- dan het ons herlewing!

'n Bybelse balans is dus om kennis te neem van die eenmalige uitstorting van die Gees met Pinkster, maar ook te wag op en te bid vir ‘n vars kragtige belewenis van die Gees wat reeds uitgestort is.


Evan Robberts, 'n belangrike rolspeler in die kragtige Walliese herlewing van 1904-5









* Die belewenis van die volheid van die Gees in die gelowige kos 'n prys soos Prof. Kotzé tereg sê - 'n prys in terme van gebed, gehoorsaamheid en radikale lewensheiliging. Tog is herlewing op persoonlike vlak, maar ook in korporatiewe sin, in die eerste plek 'n gawe van die soewereine God. Volgende keer kyk ons na herlewing en die soewereiniteit van God. 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.