Bladsye

Maandag 22 April 2013

ONS GAAN DIE WÊRELD REGRUK

- die illusie van die “Social Gospel” 

Gaan ons die wêreld ten goede omkeer en die koninkryk laat kom deur die mens se sosiaal-ekonomiese omstandighede te verander? Gaan almal beter mense word as ons deur ‘n verskeidenheid van programme dit regkry om werkloosheid, onkunde, siektes, ongelykhede en dergelike ellendes uit te wis? Is dit die kerk se primêre taak om ons te beywer vir ‘n wêreldbestaan sonder bomme en ‘n aarde sonder armoediges? Blykbaar dink baie mense in die kerk so en verkondig met groot entoesiasme hulle idees wat mens breedweg as die “Social Gospel” kan tipeer. 

Die “Social Gospel”* is ‘n verskraalde, nee ‘n vals evangelie, want dit: 

1. Lê die klem op die horisontale verhouding tussen mense. Natuurlik is medemenslike verhoudings vir God ontsettend belangrik. Nooit mag ons egter vergeet dat die mens se grootste nood sy gebroke verhouding met God is nie. Die grootste en wortelsonde is immers die oortreding van die eerste gebod : "‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matteus 22:38) Beslis verander die aanvaarding van die evangelie ook mense se onderlinge verhoudinge en selfs hulle ekonomies-sosiale omstandighede. Waar groot getalle mense tot bekering kom soos tydens die Walliese herlewing van 1904 word huishoudings nuut en verbeter lewensstandaarde omdat vaders nie meer hulle geld uitsuip nie, maar vir hulle gesinne begin sorg in lyn met die opvolgende gebod van naasteliefde. Die punt is net, dinge begin nuut word op alle terreine as mens weer in die regte verhouding tot God kom. Dit kom heel eerste. 

2. Hou nie rekening met die totale verdorwenheid en uiterste verlorenheid van die mens nie. Dit gaan klaarblyklik van die veronderstelling uit dat die natuurlike mens tot goeie werke instaat is en opgehef kan word tot 'n Godaanvaarde vlak. Mag ons altyd onthou dat ons beste dade vir God verwerplik is. Moenie my verkeerd verstaan nie. Goeie werke is absoluut God se duidelike wil vir sy kinders, maar dis goeie werke wat voortvloei uit die redding deur geloof. Sulke werke word deur God voorberei en is welbehaaglik vir Hom. Efesiërs 2:8-10 leer ons : “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Mense het eers nodig om gered te word, voordat hulle kan begin nuut leef. En ons moet ook nie sommer aanvaar dat almal wat ons kerkbanke volsit reeds gered is en maar bloot aangemoedig kan word om goeie werke te doen nie. 

Met alle respek, Madonna se “goeie werke” om vir Malawiese kinders skole te bou, tel nie in God se oë as goeie werke nie, want sy doen dit nie vanuit die geloof in Jesus as Verlosser nie! 

3. Maak nie erns met die Bybelse prioriteit en vereiste van die wedergeboorte nie. Om bloot Jesus en sy etiese leringe  (soos in die Bergrede) as voorbeeld na te volg, verleen nie toegang tot die koninkryk nie. Die vereiste is die wedergeboorte, niks minder as ‘n herskeppingswonderwerk nie! Die erns van Jesus se duidelike woorde aan Nikodemus mag nooit uit die oog verloor word nie. Om vir armes boorgate te sink maak nie van my ‘n Christen nie. Nog minder maak dit Christene van diegene wat uit daardie boorgate gaan drink. (lees meer hieroor en kliek op – DIE BOK WAT ‘N LEEU WOU WORD

4. Verkondig dikwels ‘n oppervlakkige Christus, wat deur sommige as net ‘n besondere Joodse rabbi gesien word. Jesus word bloot gedefinieer in terme van sy morele opdragte van naasteliefde. Alles mooi, maar van sy grootste primêre doelwit op aarde naamlik om Homself as offer aan die kruis te gee in plek van sondaars praat hierdie sosiale weldoeners en woelgeeste maar min. Jesus is in die eerste plek die Gekruisigde! Dis Hom wat Paulus verkondig het. Meer nog, Jesus self is baie duidelik as dit by sy hooftaak kom : “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45) Jesus se kruisdood staan sentraal in die boodskap wat ons moet verkondig.

5. Reduseer die kerk tot net nog ‘n NGO, juis omdat die boodskap van die Gekruisigde Christus verswyg word. Sommige “Christelike” joernalistiek bewys hierdie gebrek baie opvallend.** Mens hoor baie van sop en komberse (en dis wonderlik!), maar selde van sonde oortuiging en bekerings. Daar is baie hulporganisasies wat goeie werke bepleit en organiseer. Dis mooi, maar niks unieks nie, die Moslems doen dit ook. Die kerk volgens sy Bybelse bedoeling is egter iets meer en iets heeltemal anders. Die kerk bestaan uit mense wat deur die geloof verlos is en so lede van Christus se liggaam geword het. Hierdie kerk het die taak om die evangelie te verkondig (Groot Opdrag) sodat mense hulle kan bekeer en aan die Koning kan onderwerp. 

6. Maak dikwels valse “strooipopfigure” van mense wat die Bybelse evangelie verkondig en skiet hulle dan met groot geraas aan flarde. Opmerkings soos “die ou sendelinge het net in mense se siele belang gestel” word gehoor. “Party Christene stel so belang in die lewe hierna dat hulle vergeet om nou te leef”, is ‘n ander beskuldiging. Dis grotendeels so onwaar en onbillik. Dis juis mense wat die herstelde verhouding met God as eerste prioriteit beskou het, wat die meeste vir ander mense se liggaamlike en sosiale nood omgegee en iets daaraan gedoen het te midde van groot opofferings. Dis tog immers die evangelie wat iemand soos die klipharde John Newton se hart verander het en hom teen die slawehandel laat draai het! 

7. Maak ‘n valse teenstelling tussen dade en dogma. Lewe en leer. Die slagspreuk (wat met baie mense resoneer) is : “Deeds not Creeds.” Allerlei aktiwiteite en aksies word voorgehou as die taak van die kerk en die hoop vir die wêreld. Wat mense glo, maak nie regtig meer so saak volgens hierdie siening nie. Die nuwe geslag “Social Gospel” verkondigers glo nie dat daar iets soos waarheid bestaan en dat dit geken kan word nie. (Lees meer, kliek op – KERKBODEKASKENADES) Michael Horton vat die Bybelse balans en volgorde pragtig saam : “Yet the answer is not “deeds over creeds,” but to be re-introduced to the creeds that generate the deeds that are the fruit of genuine faith. Getting the gospel right and getting the gospel out, as well as loving and serving our neighbours, comprise the callings of the church and of Christians in the world. However, confusing these is always disastrous for our message and mission.” Die regte leer, as dit werklik geglo word, sal noodwending tot hart en lewensverandering by die individu lei en onvermydelik ook ‘n impak hê op die breër gemeenskap. Ja, hoe meer bekeerdes daar in ‘n gemeenskap, staatsdiens of land aanwesig is, hoe positiewer die invloed! 

8. Behels ‘n naïwe optimisme dat die mens deur ‘n verskeidenheid van aksies en aktivisme die aarde ‘n beter plek kan maak. Dit maak nie genoeg erns met die feit dat die probleme waarmee die mensdom te kampe het die direkte gevolg van sonde of die indirekte nalatenskap van die sondeval is nie. Horton slaan weereens die spyker op die kop as hy opmerk: “Terrorism, global warming, and AIDS are problems we need to address as responsible human beings together with non-Christians in our common life together… However, the Great Commission is not the Great Cultural Mandate… If we could resolve our top ten crises in the world today, we would still have the devil on our back, sin mastering our heart, and everlasting death as the penalty for our mutiny.” Die wortel van alle ellende is die mens se sonde en dis die unieke taak van die kerk om hiervoor die oplossing aan te bied in die verkondiging van die evangelie. Jesus het immers gekom om sy volk van hulle sondes te verlos. (Matteus 1:29) 

9. Misken of onderspeel die Bybelse hoop wat gerig is op ons ewige erfenis, die opwindende werklikheid van die nuwe hemel en nuwe aarde. Natuurlik leer die Woord ons nie om hande gevou te sit en vir die wederkoms te wag nie. Natuurlik moet ons as verantwoordelike burgers nou hard werk sodat ons (en andere saam met ons) kan eet. Natuurlik, moet ons uitreik na ‘n wêreld in nood en nou en hier sout en lig wees. Dit behels om deur heiligheid (wat barmhartighed insluit) God te eer te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Tog was die fokus van die eerste Christene (juis omdat hulle so vervolg is weens hulle kompromislose lewens) die heerlike erfenis wat wag. Daarom sien Paulus daarna uit om by Jesus te wees, al weet hy dat hy nog werk oor het om te doen op aarde. Christene is realistiese mense. Ons weet dat nie die ANC, of die VN of Siener van Rensburg se aanhangers die wêreld ‘n beter plek gaan maak nie. Ons glo dat hierdie aarde eers deur vuur gesmelt en gereinig sal word, voor God dit gaan herskep by Jesus se wederkoms! “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? -- julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:11-13) Wat ‘n heerlike vooruitsig! Die Christen neem met blydskap kennis van Jesus se uitspraak teenoor Pilatus : "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie." (Johannes 18:36) Hierdie wêreld is ook nie ons finale tuiste nie, ons is bloot vreemdelinge en tydelike bywoners. 

Dis juis Christene wat hierdie hoop op ‘n ewige erfenis die sterkste koester, wat ook nou heilig en gehoorsaam lewe en ‘n verskil maak in ander mense se lewens. Hoekom? Ons weet ons gaan voor ons Koning verantwoording doen, ons weet ook daar wag ‘n beloning! 

10. Dit maak nie onderskeid tussen die Groot Opdrag (die kerk se sendingtaak), die Liefdesgebod (vir alle mense) en ons Kultuurmandaat (om die aarde te onderwerp) nie. Jesus se laaste opdrag is baie duidelik dat ons mense sy dissipels moet maak deur die verkondiging van die evangelie. Sondaars moet uitgedaag word om hulle te bekeer en in Hom te glo. Die kerk mag nooit hierdie primêre fokus verloor nie. Die korrekte aandag aan die ander twee sake is ‘n uitvloeisel van eersgenoemde. Mense wat reeds sy dissipels is sal noodwendig in gehoorsaamheid aan Hom ook ander mense liefhê en in alle verhoudings (ook teenoor die skepping) nuut leef. Hierdie nuwe lewensstyl dien ook weer om die verdere evangelieverkondiging meer geloofwaardig te maak. 


Kan ons iets leer by die “Social Gospel”? Beslis ja! ‘n Mens kan van almal iets leer. (selfs van die duiwel, hy is ‘n voorbeeld van vlytigheid!!) Alle grappies daar gelaat. Ja, dit is so dat daar by sommige opregte Christene ‘n skeeftrekking kan plaasvind. ‘n Oorbeklemtoning van die suiwere leer, terwyl die praktiese Christelike lewe wat naasteliefde insluit verwaarloos kan word. Soos in baie gevalle is die “Social gospel” ‘n dwaling wat deels ontstaan het vanweë ‘n eensydige Christenskap wat liefde tot die medemens verwaarloos het. Die “Social Gospel” bly egter ‘n vals boodskap wat verwerp moet word, maar dit moet ons tog aanmoedig om seker te maak dat ons nie in ivoortorings sal lewe wat die geloofwaardigheid van die evangelie sal skaad nie. 

Voetnotas

*Hierdie is nie ‘n akademiese bespreking van die “Social Gospel” in al sy variasies en uitlopers (soos byv. Bevrydingsteologie) nie. Die term word baie breed oorkoepelend gebruik om die denkrigting aan te dui wat die Bybelse klem op die verhouding tussen God en mens verskuif het na ‘n mensgerigte benadering. Dit word goed beskryf deur H. Richard Niebuhr as volg : “A God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgment through the ministrations of a Christ without a Cross.” 

** Ds. Hein Bertram merk tereg op in ‘n reaksiekolom van die aanlyn Kerkbode : “Misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus.”
In die lig van dié stelling moet die sin verderaan verander word na: “Kerkbode is verbind tot die bevordering van die Sosiale Evangelie(Social Gospel).” Die evangelie van Jesus Christus en Kerkbode is twee konsepte wat deesdae oënskynlik totaal vreemd teenoor mekaar staan. 


4 opmerkings:

  1. Hierdie stuk is sooo tydig en sooo wáár! Die "social gospel" en die "deeds, not creeds" spreek oor-duidelik uit die pad wat die NG Kerk in Suid-Afrika in die laaste paar jaar ingeslaan het. 1 Kor 13 spel duidelik uit, dat sonder "agape" (Goddelike) liefde sal al ons mooi dade ons nie baat.

    Ek dink die ware betekenis van Joh 15 vers 5 se "sonder My kan julle NIKS doen nie", lê daarin dat enigiets wat ons BUITE God om doen, ( al is dit miljoene werd in die sekulêre lewe) in God se oë NIKS is nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir die aanmoediging. Ja, Johannes 15 se boodskap is beslis van toepassing. Slegs dade wat vanuit die geloofsverbintenis met Jesus gedoen word het enige waarde in God se opinie!

      Vee uit
  2. Johannes, baie dankie. Ek share dit op ons Studiegroep se FB. Ons het 'n geslote groep - gelowiges (hele aantal afgetrede leraars) wat uiters bekommerd is oor die rigting waarin ons kerk beweeg. Ons het 'n verklaring uitgereik wat ek graag aan jou stuur. As jy jou daarmee kan vereenselwig laat my weet dan sluit ons jou graag by ons 'FB vriende' in. Danie du Plessis

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie. Ek sal graag die verklaring wil ontvang. Ek is egter nie meer op FB nie, dit het my te veel opgeslurp.
      Mag die Here ons kerk genadig wees!
      groete
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.