Herderlike brief aan alle broers en susters in Jesus betrokke by Tsumeb gemeente.
Geliefde broers en susters. Of
dit nou al tot ons deurgedring het of nie, ons beleef ‘n wêreldwye pandemie.
Ongekende tye! Ons hier in Namibië staan nou maar eers nog net in die heel
begin… As kinders van God word ons deur dieselfde krisisse as alle ander mense
geraak (siekte, finansiële druk, werksverliese, ontwrigting op alle terreine…),
maar ons reageer anders as hulle wat God nie ken nie.
Jesus beskryf hierdie
tipe apokaliptiese krisisse en ontwrigtings so : “Daar sal groot aardbewings
wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal
skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.” (Lukas 21:11)
Die ongelowiges se reaksies gaan veral langs die pad van vrees en paniek
– “Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele
wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.”
(Lukas 21:26) Vir God se kinders daarteenoor, is hierdie tye ‘n
geleentheid van hoop en verwagting. “As hierdie dinge begin gebeur,
staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby."
(Lukas 11:28) Juis in hierdie tye moet ons aan die eenkant wegbly van
onverskilligheid en aan die ander nie toelaat om deur bekommernisse afgestomp
te word nie.
Ons moet waak en bid! “Wees
op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die
sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds
soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die
hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan
ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor
die Seun van die mens te verskyn." (Lukas 21:34-36)
Omdat ons nog steeds mense van
vlees en bloed is in hierdie wêreld, spreek dit vanself dat ons ook wat
ons gemeentelike bediening en bestuur aanpassings sal moet maak:
EREDIENS
In lyn met ons landswette, maar
ook ter wille van die veiligheid van kwesbares onder ons kan ons nie meer
soos normaal bymekaarkom nie.
Dis natuurlik ‘n groot hartseer
dat ons in hierdie tyd nie vir eredienste in die kerkgebou mag
vergader nie, maar ons gaan wel ons bes probeer om die gemeente steeds
met die Woord te bedien op die volgende maniere:
- · Kort stemposboodskappe van tyd tot tyd. Die eerste een, “Ek glo” is reeds aan die kerkraad deurgegee. Ook beskikbaar op Youtube by https://www.youtube.com/watch?v=U-_un96m6fE
- · Sondag boodskappe op Facebook en later moontlik ook op YouTube. U sal ingelig word.
- · Webjoernaal : Gaan loer by http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/ Hier is genoeg preke, besprekings en nuusbrokkies om julle vir ‘n lang tyd besig te hou tydens die ingrendeling!
KATKISASIE
Daar sal vir die afsienbare
toekoms uiteraard geen katkisasie kan plaasvind nie.
HUISBESOEKE
Daar sal geen roetine huisbesoek
gedoen word nie, maar enigiemand is baie welkom om my te kontak en dan maak ons
planne om mekaar te bedien en te ondersteun. Moet ook nie huiwer om julle
kerkraadslede te kontak nie.
BARMHARTIGHEID
Alle kerkraadslede en lidmate
word versoek om met fyn aanvoeling op te let na mense wat swaarkry veral in
terme van genoegsame kos en dit asseblief aan te meld. Daar is persone met ‘n
plan om op weeklikse basis ‘n groente kospakkie voor te berei en te versprei.
Ek sal ‘n lys maak van behoeftige gesinne en self toesien dat die hulp by die regte
persone uitkom. Maak gerus verdere voorstelle oor hoe ons mense in nood kan
bystaan soos die omstandighede dit vereis.
DANKOFFERS
Dis vir almal moeilike tye op
finansiële gebied. Ons moet almal begrip hiervoor hê. Met die verlies van ons
eredienste in die kerk sal daar uiteraard ook ‘n verlies aan kollektes en ander
bydraes wees. Daarom ‘n vriendelike versoek om u bydraes via EFT by die kerk se
bankrekening in te betaal. Baie dankie vir die voortgesette ondersteuning.
Bankbesonderhede
van die kerk :
NGK Tsumeb, Bank
Windhoek Tsumeb, tak 483-073, Rek no.
8001558097
GEBED
Laaste maar nie die
minste nie. Mag ons almal erns maak met gebed. Pasop daarvoor om verstrengel te
raak in die “infodemie” en soveel tyd op die internet te spandeer sodat ons
afgestomp en verhinder word in ons gebede. Estelle Alberts sal die
gebedsbediening dryf en ko-ordineer. Kontak haar gerus.
Natuurlik is enigeen ook altyd welkom om my persoonlik te kontak.
Genade en vrede vir
julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die kragtige werking
van die Heilige Gees!
Groete
Johannes
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.