Bladsye

Donderdag 25 Julie 2024

ERNSTIG - DIS 'N HALSMISDAAD

 IN GOD SE KONINKRYK!




Baie mense loop met ‘n skewe idee rond – dis die idee dat God in die Ou Testament baie heilig en streng was, maar in die Nuwe Testament vandat Jesus gekom het, is God nie so streng en heilig nie, God is nou net liefde; so ons hoef nou nie meer so erg heilig te wees nie.  En verder, so word geredeneer...Paulus stel dit mos duidelik dat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade – so ons hoef die opdragte in die Bybel nie meer so ernstig op te vat nie, want Jesus sal mos maar net verstaan as ek nie vrede wil maak met my buurman nie, Jesus sal verstaan as ek maar so af en toe vir ’n  ander vrou loer en die kat in die donker knyp... (veral by geleenthede soos die Visfees, Wildsfees of agter die skuur na die onskuldige boeredans...)

Maar wat sê Jesus self? In die Bergrede (Matteus 5-7) vertel Jesus aan mense hoe om toegang te verkry tot die Koninkryk van God. Die grondbeginsels het Hy nou reeds neergelê in die Saligsprekinge (5:3-12) Die basiese lering daarin is – “Julle moet besef julle kwalifiseer nie vir die Koninkryk nie...treur daaroor! Julle het ’n groter geregtigheid, rein harte nodig wat net Jesus vir julle kan gee. Alles draai om Jesus en julle sal weet julle behoort aan Hom as die mense julle vervolg en beledig ter wille van Hom! Nou werk Jesus die praktiese implikasies van die saligsprekinge verder uit.

Jesus het dit reeds duidelik gestel dat ’n groter geregtigheid as die van die Fariseërs vereis word om in te gaan in die Koninkryk. (20) 

"Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie."

Wat bedoel Jesus? Iets meer as net wetsgehoorsaamheid i.t.v. die Ou Verbond is nodig vir die nuwe bedeling van die Koninkryk. Die fariseers het nog net gebly by die letter van die Ou Verbond m.a.w. hulle was tevrede dat as ek nie iemand doodgemaak het nie, dan was ek gehoorsaam aan die sesde gebod – “Jy mag nie moord pleeg nie” of as ek darem nou nog nie fisies egbreuk of owerspel gepleeg het nie, dan was ek gelukkig darem nie skuldig aan die sewende gevod van “Jy mag nie egbreuk pleeg” nie. So as ek by die tegniese reëls van die tien gebooie en ander wette gehou het, was ek eintlik oraait en  het God van my gehou.

Jesus gooi nou die appelkar om en skok almal.  Hy stel nou sy leringe teenoor die Wet van Moses. Die Fariseërs se gebooie was nog net die gebooie van die Ou Verbond - Jesus  bring die  Nuwe Verbond tot stand en die standaarde daarvan gaan verder as die wet van Moses. Hy verwerp dit nie, Hy gaan net verder en dieper!  Jesus stel ’n duidelike kontras...“Julle het gehoor...... maar ek sê vir julle” (Terloops - Jesus sê : “Julle het gehoor” , want onthou die meerderheid van die skare wat hier na Jesus luister, het nie die wet gelees nie, maar dit gehoor het in die voorlesings in die sinagoges.)

Kom ons kyk nou na Matteus 5:21-26 :

 “Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. 

“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.

“Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.

Die eerste voorbeeld van Jesus se hoër standaard kry ons in sy hantering van die sesde gebod “Jy mag nie moord pleeg nie” Hierdie gebod impliseer dus duidelik dat ’n moordenaar skuldig staan. Die wet het iemand wat moord pleeg onontkombaar en regmatig tot veroordeling en straf verdoem.

Nou kom Jesus – “Ek sê vir julle.” Jesus stel sy uitspraak op die selfde vlak as God se uitspraak in die sesde gebod. (Hy kan dit doen want as die nuwe Moses, ja groter as Moses, as die Seun van God, het Hy Goddelike volmag!) Op skokkende wyse verklaar Jesus elkeen skuldig wat boos optree teenoor sy broer. In hierdie konteks gaan dit oor elke mede Israeliet. Jesus praat met die skare uit Israel. In ons konteks gaan dit in die eerste plek oor onmin tussen gemeentelede – die volk van God in die Nuwe Verbond. 

Jesus lê sy vinger op alle konflik, kwaaivriendskap, onmin, aggressie, beledigings en  woede.  Woede as sodanig is nie deur die wet van Moses veroordeel nie, maar volgens Jesus se hoër standaard is sulke woede ’n ernstige oortreding. Moord het in die Ou Testament doodstraf verdien, Jesus verklaar onregverdige woede tot ’n halsmisdaad in die Koninkryk van God. Die beledigings “Raka” (nikswerd/gek, "jou stupid") en “dwaas” moet nie te sterk teenoor mekaar afgespeel word nie (die betekenis is maar min of meer gelykwaardig) – dis waarskynlik gekies vir woordvariasie.  

Die punt is - Volgens Jesus  is ’n  slegte beledigende woord teenoor jou broer al ’n  saak vir die hoogste regbank en verdien dit ’n  vonnis wat verder gaan as die hoogste straf op aarde naamlik die helse vuur . Gehenna verwys na die stinkende en smeulende ashoop in die Himnon dal wat ‘n kragtige en afgryslike metafoor vir die hel is.

Deur die erns van broederlike onmin so sterk te stel beklemtoon Jesus maar net weer wat Hy reeds in die Saligsprekinge gesê het oor die sagmoediges en die vredemakers! 



 WAT NOU?

Besef ek en jy die erns van Jesus se lering hier? En wat gaan ons hieraan doen? Jesus gaan nou voort en gee ’n positiewe opdrag wat voortvloei uit hierdie besondere hoë standaard van die Koninkryk waar dit gaan oor menseverhoudings. Dis so ’n ernstige saak - wel, “Gaan versoen jou met jou broer!” Dis ‘n Goddelike opdrag! God duld nie ’n bose gesindheid teenoor mekaar nie! Die oplossing is : spoedige versoening! Versoening weeg vir God so swaar, dis selfs belangriker as ’n offer! Hierdie moes ’n skokkende uitspraak gewees het vir ’n skare wat  gewoond was aan offers en geweldig onder die indruk was van die heiligheid en gewigtigheid van ’n offer. Die gedagte dat ’n offerhandeling eers onderbreek moet word om met ’n broer te gaan versoen sou na heiligskennis/lastering  klink. Jesus wil hulle dus goed laat verstaan, dat om onversoen te bly met ’n broer in God se oë nog ’n groter heiligskennis/lastering, ’n groter euwel is! Kon Jesus dit nog ernstiger gestel het? Gaan ons hoor wat Hy vir ons wil sê?

Nog ‘n keer beklemtoon Jesus die dringende noodsaaklikheid van onderlinge versoening in die praktiese beeld van 25-26. Die noodsaaklikheid van versoening word beskryf in die lig van dreigende straf. Wees goedgesind, welwillend, maak vrede, word weer vriendelik teenoor jou teenstander, opponent. Doen dit haastig sonder versuim (net soos in die voorbeeld van iemand wat gaan offer). Jesus verduidelik die saak met ’n alledaagse praktiese beeld van teenstanders wat op pad is na ’n regter om tussen hulle te beslis. Die punt is - ’n Spoedige tydige skikking is in jou belang! Onversoendheid laat ’n mens vir ewig skuldig staan voor God!

Versoening met mekaar is nie ’n ekstra of ’n luukse nie. Dis ’n allernoodsaaklikheid.  

Daar is geen toegang tot die Vader sonder versoening met die broer nie!

Donderdag 20 Junie 2024

Yashua en die Torah

 [Jesus en die Wet]

Die advertensiebord lei na iets baie groter en heerliker...



Die grootste deel van ons Bybels word beslaan deur die Ou Testament. (Die wet en die profete) Maar dis ’n vraag by baie Bybelgetroue Christene - Hoe ons hierdie grootste gedeelte van ons Bybel moet verstaan en toepas? Waarom sien die meeste Christene niks fout met die eet van varkvleis nie, onderhou nie die Sabbat nie, bring nie meer offers nie....?

DIE BERGREDE

Jesus self raak hierdie kwessie in detail aan as deel van sy beroemde Bergrede in Matteus 5:17-20.

  17“Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. 

18Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.

19“Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. 20Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.

“Moenie eeers daaraan dink...” Waarom maak Jesus hierdie uitspraak? Klink asof Hy skerm vir iets, Homself verdedig. Hier is geen direkte beskuldiging van iemand teen Jesus nie, so wat is Sy bedoeling? Kom ons kyk weer net na die geheel konteks. In die Saligsprekinge spreek Jesus self mense salig, salig in die hoogste sin. Hy sê wie deel het aan die Koninkryk en wie nie. Jesus bepaal dus die norme vir die ingang na die Koninkryk. Nou sou die vraag by die luisteraars kon ontstaan of Jesus dalk nou die openbaring van God in die wet en profete verwerp en Sy eie openbaring in die plek daarvan stel? 

Is Jesus dan nou hier besig met ’n  nuwe vreemde lering en godsdiens?

Jesus sny nou enige sodanige gedagte by die wortel af. Hy wil enige sodanige suspisie in die kiem smoor.  Hy maak dit duidelik - Ek het nie gekom om die wet en profete, die openbaring wat God reeds gegee het te ontbind nie. Ek het nie gekom om dit te verwoes of ongedaan te maak nie. Jesus stel dit onomwonde dat Hy nie, ’n vreemde of valse leer verkondig soos die heidene of Samaritane nie. (die heidene het God se openbaring in die OT totaal verwerp, die Samaritane het wel die wet van Moses aanvaar, maar die profete verwerp) Jesus is nie ’n heiden of ’n Samaritaan nie, Hy is ’n  gelowige Israeliet. (jy sal onthou dis presies waarvan die Jode Hom later beskuldig het, dat Hy ’n Samaritaan was - Johannes 4:48) Jesus is ’n gelowige Israeliet wat volgens God se geopenbaarde wil getrou aan Hom is (soos die versoeking in die woestyn duidelik bewys het) Hy het juis gekom om die wet en profete te vervul. In die lig hiervan, nl. dat Ek gekom het om die wet en profete te vervul moet julle die lering wat Ek aan julle gebring het (Saligsprekinge) verstaan.

VERVUL

Nou natuurlik die groot vraag : Wat bedoel Jesus met vervul? Daar is uiteenlopende menings hieroor en dit het nogal belangrike teologiese konsekwensies. Daar is ’n siening wat sê dat Jesus hiermee bedoel dat Hy maar net self die wet uitvoer en doen. (onveranderd handhaaf) Wel, die feit is hier staan nie doen nie, maar “vervul”.

So wat beteken “vervul”. Nou vervul is ’n term wat algemeen in die evangelies voorkom, en gebruik word in verband met die Skrifte. ( met ander woorde God se openbaring) Keer op keer lees mens – “sodat die Skrif vervul sou word, sodat wat die profeet gesê het vervul sou word..” vgl. 1:22; 2:15 ens. Vervul beteken dus dat dit wat nog onvoltooid is, dit wat nog oopstaan nou kan realiseer.* Om die wet en profete tot vervulling te bring beteken om dit wat die wet en profete in vooruitsig gestel het, te laat gebeur. Jesus verwerp nie die wet en profete nie, Hy is nie ’n invoerder van allerhande nuwighede in stryd met God se openbaring nie, Hy gaan juis laat gebeur dit wat die wet en profete in vooruitsig gestel het

 GEEN JOTA OF TITTEL

In vers 18 versterk Jesus hierdie uitspraak van Hom. “Voorwaar/Amen” - Jesus bevestig Sy gesag. “voordat die hemel...” Die jota is die kleinste letter in die Hebreeuse alfabet, tittel is ’n vokaalteken. In hedendaagse taal sou ons kon sê nie eers ’n kolletjie op een i sal tot niet gaan nie. Jesus sê dus : die doel van die  wet en profete sal bereik word, alles wat aangekondig is sal vervul word, alles wat deur God se openbaring aan Moses en die profete in vooruitsig gestel word, sal plaasvind. Ja, eers wanneer die hemel en die aarde verbygegaan het, dan sal die openbaring deur die wet en profete nie meer nodig wees nie.  Dan het alles mos klaar gebeur wat in vooruitsig gestel was.  Dan sal daar niks meer oor wees wat vervul kan word nie. Dan het die voleinding mos aangebreek.

Hier lê iets heerlik in Jesus se uitspraak. Alles wat in die wet en profete in vooruitsig gestel is sal tot die bedoelde vervulling kom - Jesus waarborg dit. “Ek sê vir julle”  - ’n Goddelike waarborg.  Die volledige vervulling van die inhoud van die wet en profete kom neer op die volledige aanbreek van die Koninkryk van God. Die wet en profete  het die koms van die Koninkryk voorberei en aangekondig.   Dis soos ’n bloeisel wat nou ontwikkel (vervul word) in ’n vrug. Die bloeisel is baie belangrik, maar dis nog nie die finale eindproduk en doelwit nie. Dit vind voltooiing en vervulling in die vrug. Die vrug is in ‘n sin die voortsetting van die bloeisel, maar is ook baie meer en baie heerliker.



Die boodskap van vers 17,18 is duidelik :Jesus skuif nie deur sy lering in die Saligsprekinge die wet en profete weg nie, maar Hy laat juis nou die Koninkryk aanbreek, waarvan die wet en profete die voorbereiding en aankondiging was.

GERINGSTE GEBOOIE

In vers 19 kom nou ’n nuwe saak aan die orde. Dit gaan hier oor die luisteraars en hulle houding. Die belangrike vraag is wat word bedoel met “hierdie geringste (kleinste) gebooie”? Sommige bring dit in verband met vers 18. In vers 18 is daar egter nie sprake van gebooie nie. Ons het gesien dit gaan daar oor die totaliteit van die wet en profete, God se openbaring wat ten volle sy doel sal bereik. Kleinste gebooie kan tog nie na Dekaloog (Tien Gebooie) verwys nie - dis tog nie klein/gering nie! (Geen Jood sou so kon dink nie)

Hierdie geringste gebooie verwys na die gebooie/opdragte wat Jesus so pas self uitgevaardig het in die Saligsprekinge.** Hierdie gebooie is bepalend vir toegang tot die hemelryk, (Natuurlik nie as ’n stel wette waardeur mense iets verdien nie. Onthou die Saligsprekinge fokus op Jesus self en bring mense na Jesus self.) Hoekom “gering”? Onthou vir mense wat al die wette van die OT geken het sou Jesus se gebooie oor sagmoedigheid, treur, vredemaak maar gering en onbeduidend kon lyk. Klein en onbelangrik in die oë van die mense, maar juis omdat Jesus die wet (die openbaring van God) kom vervul, voltooi het, moet mense deeglik rekening hou met sy opdragte. Jesus bring wet en profete tot vervulling in sy lering en optrede. Jesus laat die Koninkryk aanbreek en bepaal die voorwaardes vir toegang. Wie die Koninkryk van God wil ingaan moet eerbied hê vir Jesus en Sy opdragte al sou dit baie klein en gering kon voorkom.

JESUS GAAN VERDER EN VERWAG MEER

Vers 20. Ons moenie hier al ’n aanval op die Fariseërs en Skrifgeleerdes sien nie. Ons moenie op hierdie punt allerhande kritiek teen die Fariseërs inlees nie. Jesus wil sê dat Hy nie teen hulle lering van die wet en profete is nie, maar vir die ingang in die Koninkryk moet Sy lering ter harte geneem word. Jesus as die vervulling van die wet en profete as die hoogtepunt stel ’n hoër standaard. Jesus het die Koninkryk nou laat aanbreek en wie deel wil hê aan die Koninkryk moet Hom aanvaar. Jesus verwag van sy dissipels om ’n stap verder te gaan as die lering van die Fariseërs. Dit sal ons duidelik vorentoe sien in die “Ek sê vir julle uitsprake” Inderdaad bring Jesus die diepste bedoeling van die Wet na vore naamlik – radikale opregte liefde tot God en radikale opregte liefde tot die naaste. Hierteenoor som Martyn Lloyd-Jones een aspek die tekortkoming van die Skrifgeleerdes en Fariseërs soos volg op. “Die probleem met die Fariseërs was dat hulle bekommerd was oor detail eerder as beginsels, aksies eerder as motiewe, in doen in plaas van wees (in doing rather than being)”

Kom ons vat saam: Omdat Jesus juis die openbaring van God (wet en profete) vervul, sal elkeen wat erns met God se wet wil maak respek hê vir sy gebooie (Saligsprekinge en ook sy lering in die res van die Bergrede) om sodoende in te gaan in die Koninkryk. Israel wat reeds al die wet en profete het word daarom opgeroep om Jesus en Sy leringe te aanvaar, want Jesus laat die Koninkryk wat deur die wet en profete voorsien en voorberei is aanbreek.

DIE RES VAN DIE NUWE TESTAMENT EN PRAKTIESE IMPLIKASIES

q    Dit wat Jesus hier vir die skare leer in terme wat hulle sou verstaan is eintlik maar net dit wat ons in Hebreërs 1:1,2 lees. In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Jesus self is die einddoel en finale verwerkliking van God se openbaring in die wet en profete. Die wet en profete bestaan nie ter wille van hulleself nie, hulle het ’n tydelike heenwysende en voorbereidende funksie wat voltooiing, wat hulle doel bereik in Jesus en sy lering. Wie dus erns met God se openbaring van die verlede maak en dit reg verstaan sal dus by Jesus self  uitkom en nie vashaak by die openbaring van die verlede nie. (OT)

q    As ons Jesus self as vervulling van die wet beskou is dit duidelik -Vers 18 leer nie die ewige geldigheid van die spesifieke vorm van die wet nie, maar wel dat niks in die wet verniet daar staan nie. Alles daarin sal hulle doel bereik. ( Jesus se persoon en werk wat die Koninkryk sal laat aanbreek) Dis ook baie duidelik uit Jesus se uitspraak dat geen deel van die wet en profete maar net geïgnoreer kan word nie, nee vervulling impliseer wel dat ons dit nie letterlik sal handhaaf nie, maar positief beteken dit dat ons die hele OT (die wet en die profete) ernstig moet opneem en die betekenis en bedoeling daarvan in die lig van die koms van die Koninkryk moet verstaan en toepas.

q Die Ou Testamentiese lering en voorskrifte oor Sabbat, besnydenis, die tabernakel (later die tempel), die Israelietiese feeste...ja, noem maar op ALLES bring Jesus in fokus en gee ons ’n besondere perspektief op Jesus se lewe en sterwe. Dit help ons om die rykdom van Jesus se verlossingswerk te begryp. Juis as ek dus erns maak met die bedoeling van die Torah sal ek al hoe meer vrede vind in die algenoegsaamheid van Jesus self! Hy vervul als. As ek erns maak met Moses se geskrifte sal ek juis tot vertroue in Jesus kom. Jesus sê vir die ongelowige Jode : “As julle Moses geglo het sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf.” Dis baie duidelik dat mens nie Matteus 5:17-20  kan gebruik vir die onveranderde letterlike uitvoering van die wet nie - as dit die betekenis was sou ons nog die sabbat moes hou en ook die besnydenis moes toepas, die voedselwette moes nakom en selfs ook nog bloedoffers moes bring! (Dis immers als dinge wat deur die Torah vereis word) Wat sou dan nog die nut en noodsaak wees van Jesus se koms?

q Onthou die wet en profete  het die koms van die Koninkryk voorberei en aangekondig. Dis nie opsigself die finale vorm en standaard van die Koninkryk nie. Galasiërs 3:24 maak baie duidelik dat die wet byv. ’n voorlopige tydelike funksie gehad het. Dit was slegs ’n “oppasser” Dit het ’n tydelike verbygaande oppas funksie gehad voordat Christus gekom het. Daarom trek Paulus so te velde teen mense wat nog steeds die besnydenis en die sabbat wil onderhou.

q Die voorlopige funksie van iets soos die Sabbat word treffend in Kolossense 2:16,17 gestel. “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor 'n fees, 'n nuwemaansfees of 'n Sabbat nie. Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.” Paulus noem die voedselwette, feeste en Sabbat ’n skaduwee, Christus is die realiteit.**** Christus het hierdie skaduwees vervul. Hulle het heengewys na Hom, Hyself is die werklikheid. Hulle was net padtekens maar Jesus is die bestemming. Die bestemming is die einddoel, die padteken het net ‘’n voorlopige funksie!

Die teken/bord wil jou net na die werklikheid lei...



 

q    Jesus maak hier Sy deurslaggewende rol in die koms van die Koninkryk duidelik. Israel (en ons) het Hom nodig, sy openbaring, sy lering om in te gaan. Maak erns met die persoon Jesus, maak erns met die opdragte van Jesus.  Jesus se opdragte (soos gestel in die Saligsprekinge en later verder in detail uitgewerk) lyk maar gering- dit gaan oor afhanklikheid, treur, barmhartigheid, reinheid, lyding...- moenie die fout maak om hierdie opdragte van Jesus te verontagsaam nie!

 Iets meer as wetsgehoorsaamheid is nodig om in die Koninkryk in te gaan, Jesus self!

 NOTAS

*Van Bruggen p93 Vgl. ook Lauer : . Literally or figuratively the word describes the act of providing that which is lacking, so that the object (in this case the OT) attains to its ultimate purpose. For example, it is used to describe a cup being filled with liquid, or an auditorium being filled with people. Thus, Jesus' use here implies that prior to his coming, the Law and the Prophets, i.e., the OT, was in some sense incomplete or imperfect. The coming of the kingdom fulfills it.

 **Van Bruggen p94. Hendriks p292 sê dit verwys na elke gebod “of which is truly God’s moral law” Waar kry hy die reg om so ’n indeling hier te veronderstel?  Schweizer p108 is nader aan Van Bruggen as hy sê : “it probably refers to the commandments taught by Jesus”


Kyk ook op YouTube na YASHUA EN DIE TORAH

Saterdag 27 April 2024

TOE EN NOU

 Die verganklikheid van die mens is 'n harde werklikheid... ons sien dit elke dag gebeur. Mense, geliefde mense word ouer, sterf en raak mettertyd buite bereik van 'n huidige generasie se geheue. Selfs foto's kan uiteindellik nie die uitwissing van dierbares uit ons geheues verhoed nie.

Ek het dit nou onlangs weer besef toe ek en my jongste spruit Natanie so 'n bietjie deur die Kaap, Suid Kaap en Oos Kaap getoer het.

Ons het ook so vinnig aangedoen op Heidelberg. Oupa Piet en ouma Marie de Wit het jare lank op die plaas Bloemendal geboer en met hulle aftrede hulle op Heidelberg kom vestig. In Fouriestraat, regoor die kerk, langs die spoorlyn.

Ek is in besit van 'n familiefoto wat nog voor hierdie statige ou huis geneem is. (Oupa en ouma de Wit is in die middel voor. Pa links agter met die swart pak, Ma regs voor met Maria op haar skoot en ek langs haar) Die grootmense is op enkele uitsonderings na vandag nie meer met ons nie. Die kinders is nou self ook al grootmense met hulle eie nageslag...


Ek en Natanie het nou weer by hierdie einste huis aangedoen. Dis nou 'n gastehuis. Die mense daar was baie vriendelik en het ons binnegenooi en bietjie rondgewys. Ek het hulle vertel, my oupa en ouma het hier gewoon. So baie het verander... Hulle weet natuurlik niks van die familie wat voorheen hier gewoon het nie...



Heidelberg is natuurlik ook die dorp waar Pa en Ma op 10 Februarie 1962 in die huwelik bevestig is. In die besonder indrukwekkende gebou van die NG Kerk.



En nou na soveel jare later...






Die hartseer oor die verganklikheid wil mens soms oorweldig. Maar as ons waarlik die blye evangelie van Jesus glo, dan kry mens natuurlik 'n nuwe perspektief. Dan juig ons oor die oorwinning van Jesus oor sonde, Satan, dood en hel.  Jesus se verlossingswerk het ONVERGANKLIKHEID weer 'n blye vooruitsig gemaak!

"Hy het ons verlos en geroep
met 'n heilige roeping –
nie op grond van ons dade nie,
maar op grond van sy eie besluit en genade.
Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk,
en nou is dit geopenbaar
deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus,
wat die dood vernietig het,
en die lewe en die onverganklikheid
deur die evangelie aan die lig gebring het." (1 Timoteus 1:9,10)

Kliek ook op TOER


Donderdag 25 April 2024

Die Afkop Hond

 FAMILIE IS KOSBAAR...

Dis deel van die De Konings se familie oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...

Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.

Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie neef Thomas…waardeer!) Thomas  as oudste neef is  soort van die skakel en verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer afgestof.

Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes. Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar tevergeefs.

In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense. Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...

Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar Bontes het nie ‘n kop nie...”  Die presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...

Die volgende dag is daar weer na Bontes gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes ‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...

Thomas het ons nou weer na die einste brug gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.


Thomas, my oudste neef


Die treinbrug oor die Gamtoos


Tannie Miem is nou op 93 jarige ouderdom, my oorlede Pa se enigste lewende sibbe. Nog vol energie en helder van verstand. Natuurlik ken sy die storie van die afkop hond. Ek het haar gevra. Maar sy self onthou niks van die gebeure nie, sy was te jonk.

Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook moeilik om te verklaar...

Wat sou kon gebeur het?  Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!


Natanie (13) en tannie Miem (93)