FAMILIE IS KOSBAAR...
Dis deel van die De Konings se familie
oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat
as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...
Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar
in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n
geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.
Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste
neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat
hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie
neef Thomas…waardeer!) Thomas as oudste
neef is soort van die skakel en
verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die
jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en
luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar
volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer
afgestof.
Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy
honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes.
Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar
tevergeefs.
In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die
kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense.
Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te
kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook
geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die
oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat
jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba
meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...
Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug
met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere
storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was
van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die
Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die
brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar
Bontes het nie ‘n kop nie...” Die
presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende
ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...
Die volgende dag is daar weer na Bontes
gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes
‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...
Thomas het ons nou weer na die einste brug
gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant
Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.
Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet
nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook
moeilik om te verklaar...
Wat sou kon gebeur het? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie
en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en
susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.