- Is sy die ark van die Nuwe Verbond?
Ons lees in Lukas 1 hoe die Engel het aan Maria 'n verbysterende buitengewone wonderbaarlike boodskap oordra... Dit kom daarop neer... "Ja al het jy nie ‘n man nie, sal jy moeder word van die Seun van die Allerhoogste." Dink bietjie... Sy ‘n gewone tienermeisie. Dis asemrowende genade! Dis ook die ontsagwekkende ALMAG van God in aksie.
Die engel het ook die feit van Elisabet se swangerskap genoem as voorbeeld dat niks vir God onmoontlik is nie. (Dis natuurlik nie die eerste keer dat 'n kinderlose vrou, wonderbaarlik moeder word nie. Dink maar aan Hanna die moeder van Samuel. Later blyk dit dat Lukas doelbewus die aandag wil vestig op die Samuelgeskiedenis...)
BESOEK AAN ELISABET
Maria gaan besoek nou Elisabet en daar gebeur weereens onbeskryflike heerlike dinge. Die ongebore Johannes, spring op van vreugde in Elisabet se baarmoeder. Elisabet word vervul met die Heilige Gees. Dan maak sy met die krag en insig van die Heilige Gees ‘n merkwaardige uitspraak – Maria is uniek geseënd onder vroue ( absoluut uitsonderlik spesiaal) “Geseend is die vrug van jou moederskoot.” Dit sou nog normaal kon klink, maar dan kom die klimaks in vers 43 – “die moeder van my Here,” maw die moeder van Jesus die Here, onthou - Jesus wat waarlik God is m.a.w. die moeder van God! Dis ontsagwekkend! Opvallend ook is die manier waarop Elisabet se woorde gestel word in vers 43 “Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?” Wie is ek, ek is dit mos nie werd nie?
ARK VAN DIE NUWE VERBOND?
Hier kom ons nou by ‘n baie interessante en fassinerende saak. Ons is mos nou nie die eerste mense wat hierdie gedeelte in Lukas lees nie. Ons moet dit ook lees saam met die kerk van 2000 jaar. Nou is dit interessant dat van die ou kerkvaders na Maria verwys het as die Ark van die Nuwe Verbond.
Ark van die Ou Verbond |
Maria – “Ark” van die Nuwe Verbond |
Die ark gaan na die bergland van
Judea. (2 Sam. 6:1-11). |
Maria reis na die huis van Elisabet en
Sagaria in die berglandskap van Judea. (Lukas 1:39). |
Dawid dans gekleed in ‘n priesterlike
kleed voor die ark. (2 Sam. 6:14). |
Johannes die Doper, van priesterlike
afkoms, spring op in sy ma se moederskoot as Maria naderkom - (Lukas 1:41). |
Dawid vra “Hoe kan die ark van die Here na
my toe kom?” (2 Sam. 6:9). |
Elisabet vra : ““Wie is ek, dat die
moeder van my Here na my toe kom?”
(Lukas 1:43). |
Dawid en die hele volk van Israel
begroet die ark met uitroepe van vreugde. (2 Sam. 6:15). |
Elisabet het “hardop uitgeroep” (Lukas 1:42). Die Griekse
woord ἀνεφώνησεν word in die Septuagint gebruik in konteks van die ark. (Hier in Lukas is dit die enigste plek
in die NT waar dit gebruik word!) |
Die ark het drie maande in die huis
van Obed-Edom gebly. (2 Sam. 6:11). |
Maria bly drie maande by Elisabet. Lukas
meld dit spesifiek. (Lukas 1:56). |
“Die Here het Obed-Edom en
sy hele huishouding geseën.” (2 Sam. 6:11). |
Die woord geseënd/gelukkig word drie
keer gebruik. (Lukas 1:39-45). |
Die ark kom terug na Jerusalem en uiteindelik teruggebring na die tempel waar
die heerlikheid van die Here geopenbaar word. (2 Sam. 6:12; 1 Kon. 8:9-11). |
Maria keer terug huis toe en eindig
uiteindelik ook in die tempel in Jerusalem met die vleesgeworde Woord van
God, die baba Jesus in die tempel. (Lukas 1:56; 2:21-22). |
Is dit nou alles toevallig? Ek dink nie so nie...
DIE FOKUS OP DIE HEERLIKHEID VAN JESUS
Wat nou? Wat moet ons nou hiervan maak? Een saak is duidelik - God is op ‘n unieke manier in beheer van die geskiedenis. Die geboorte van Jesus word vooruitgesien in die detail van die Ou Testament selfs in die geskiedenis van die verbondsark. Maria is ‘n “tipe” van verbondsark, daar is ‘n lyn, ‘n ooreenkoms. Die ooreenkomste is te opvallend om maar net "toevallig" te kan weees... Maar nou moet ons fyn trap - gaan dit oor die uniekheid van Maria of oor die uniekheid van Jesus?
Hierdie merkwaardige gebeurtenis onderstreep net bo alles die
uniekheid van Jesus – belangrik – in die res van Lukas val die klem nie op
Maria nie, maar op Jesus die Seun van Maria, die Seun van God.
Die verbondsark tipologie help ons juis om die heerlikheid van Jesus nog meer te besef! Kyk eers na Hebr 9:3,4 waar die tabernakel beskryf word :
"En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond;"
Dink nou weer :
Die verbondsark het die Woord van God, die Tien gebooie op kliptafels bevat, Maria dra die Lewende vleesgeworde Woord van God, Jesus Christus. Die verbondsark het die staf van Aaron die hoëpriester wat gebot het bevat - Maria dra die ewige finale Hoëpriester, Jesus in haar skoot; Die verbondsark het ‘n goue kruik met Manna bevat wat die volk moes herinner aan God se versorging in die woestyn, Maria se baarmoeder bevat Jesus, die ware Manna, die Brood van die lewe wat van die hemel gekom het soos Jesus self dit verduidelik in Johannes 6:41.
Maria se uniekheid as anti-tipe van verbondsark plaas die fokus op Jesus se uniekheid en genoegsaamheid. Hy vervul al die Ou Testamentiese gebeurtenisse, instellings, seremonies en voorwerpe. Aanbid Hom! Fokus op Hom.
Dis die groot vraag bly dus- nie wat dink jy van Maria nie, maar - Ken jy die unieke Jesus die Seun van God?
Tog bly Maria vir ons ‘n voorbeeld van
opregte oorgawe aan die wil van God. Sy is ‘n modeldissipel. Ons dink aan haar
met dankbaarheid. Ons respekteer haar as die begenadigde maagd, die Moeder van Jesus saam met die kerk van alle eeue.
VOETNOTAS
*Die Griekse woord ἐπισκιάζω wat gebruik word in Lukas 1:35 ("oorskadu" word ’n paar keer in die LXX gebruik om na die wolk van heerlikheid te verwys wat die verbondsark in die tabernakel oorskadu het. Ons vind dit byvoorbeeld in Eksodus 40:35 (καὶ οὐκ ἠδυνάσθη Μωυσῆς εἰσελθεῖν εἰς τὴν σκηνὴν τοῦ μαρτυρίου, ὅτι ἐπεσκίαζεν ἐπʼ αὐτὴν ἡ νεφέλη καὶ δόξης κυρίου ἐπλήσθη ἡ σκηνή.
** Met erkenning aan die volgende tabel. Kliek op tabel.
Vir 'n volledige akademiese artikel oor hierdie onderwerp, kliek op MARIA - tipologie
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.