- wat ek en jy nou baie nodig het!
Negatiwiteit, pessimisme en selfbejammering kom
so maklik. Daar is so baie dinge wat ons sien, hoor en aan ons eie lyf voel,
wat ons soms kan laat wonder, is alles nog die moeite werd? (Dink ESKOM, oorlog, grootskaalse armoede....) Kyk al die korrupsie en onreg en
onbevoegdheid…Is daar nog ‘n toekoms op hierdie aarde, maak dit nog sin om te
werk, te gaan studeer, loopbane te bou,
kinders te hê, met vreugde te lewe? Is ons aardse lewe nog enigsins, hoegenaamd sinvol? Weet julle ons is nie die eerste mense wat
hierdie tipe vrae vra nie. Die profeet Jeremia het juis ‘n brief vir so ‘n
groep mense geskryf. Die ballinge in Babel…(dis die Israelite wat uit hulle land ontvoer is en na die verre Babel gebring is) Dis ‘n brief vol verrassings en
hoop! Lees gerus Jeremia 29:1-14
Kom ons kyk net kortliks na ‘n paar feite uit hierdie brief. (Dit gaan nie oor 'n volledige verklaring van die hele brief nie) Ons kry ook hier vaste altyd geldende beginsels wat vir ons insig en hoop kan
bring. Vandag kyk na twee opvallende groot verrassings in hierdie brief:
God het geen simpatie met selfbejammering en niksdoen nie!
Nee, Hy beveel
hierdie volk om positief die lewe aan te pak met geesdrif! Wees entrepreneurs –
werk met dit wat julle het! Bou julle huisgesinne en word meer! Lewer ‘n
positiewe bydra tot die gemeenskap waarin julle julle bevind! Neem positief
deel aan die aktiwiteite daar waar julle woon. En dis nog nie al nie – bid vir die plek waar julle woon. (Ja,
hulle vyande) Onthou dis tot julle eie voordeel as dit goed gaan met die plek
waar julle nou bly, al is dit julle vyande, al is dit die mense wat julle
soveel leed en onreg aangedoen het. Kan ons sien, God het geen plek vir ‘n
negatiewe, wraaksugtige, passiewe houding nie.
God se duidelike boodskap vir sy mense in nood is dus : "Wees positief en doen wat Ek sê en moenie julle ore uitleen vir die boodskap van die valse profete nie." (Ons sal volgende keer hierop ingaan, maar die valse profete het gesê die ballingskap sal gou verby wees. Hulle was verkeerd, die ballingskap sou lank duur en daarom moes die ballinge positief besig wees en betrokke wees by hulle omgewing)
Hoe raak hierdie positiewe boodskap ons as volgelinge van Jesus? Die Nuwe Testamentiese parallel is die 1 Petrus brief. Dis geskryf aan die vreemdelinge in die diaspora (verstrooiing), God se kinders wat as vreemdelinge dwarsoor die wêreld leef. Ons as God se kinders is eintlik ook maar ballinge in ‘n vreemde land. Ons burgerskap is nie van hierdie wêreld nie. Ons pas nie in hierdie wêreld nie. Petrus lê baie klem daarop. (2:11)
Ons gewoontes, leefstyl, visie, gedrag en selfs kleredrag… is anders (en behoort anders te wees) as die goddelose wêreld rondom ons. En wat beveel Petrus dan aan vir God se kinders in so ‘n situasie? Gaan lees gerus 1 Petrus 2:12-17 Die kernboodskap is : "Wees goeie burgers, wat deur julle onkreukbare, voorbeeldige en eerlike leefstyl ander se respek sal afdwing en op so ‘n manier hulle ook daartoe sal beweeg om te erken dat God die ware God is!"
GEEN PLEK VIR NEGATIWITEIT NIE!
Pasop om te verval in ‘n negatiewe gemor – "Ag, die wêreld is so sleg, die regering is so korrup…ek gaan nou maar in ‘n hoekie sit, myself jammer kry en wag vir die dood of die wederkoms." NEE! Leef elke dag positief as kind van God. Gaan aan met jou daaglikse pligte en werk, bou positief aan huisgesinne wat God eer en bid vir alle mense! Wees ‘n voorbidder! God plaas ons met ‘n doel in moeilike situasies en plekke, ons moet dit gebruik om positief gehoorsaamheid te leer. Ons ellendes is nie maar toevallig nie – God laat dit toe in ons lewens om sy doelwitte te bereik. Hou op kla en Benut jou huidige omstandighede positief om sinvol en heilig te leef tot God se eer!
Die groot
punt is : As jy aan Jesus behoort het jy
altyd rede om positief voluit te leef maak nie saak waar of in watter
omstandighede nie. God het vir jou ‘n positiewe getuienistaak daar waar jy is,
terwyl jy op pad is en uitsien na jou finale tuiste!
LUISTER na hierdie boodskap op YouTube, kliek op BID, BOU EN TROU!
As jy aan Jesus behoort het jy altyd rede om positief voluit te leef, maak nie saak waar of in watter omstandighede nie.
AntwoordVee uitGod is die Pottebakker en ons is die klei.
Hy vorm ons, sodat ons voorwerpe tot eer in sy huis kan wees.
Hy is die Landbouer en ons is die lote.
Hy snoei ons, sodat ons met volharding veel vrug en goeie vrug kan lewer.