Bladsye

Dinsdag 26 Mei 2020

Pasop vir die HONDE!

- hulle mislei julle om op uiterlike vleeslike bates te vertrou in plaas van op Jesus alleen! 



Soos ons ‘n vorige keer gesien is Paulus se brief aan die Filippense ‘n heerlike aanmoedigings brief vol blydskap, vreugde, vertroosting en vergenoegdheid. (Kliek op MATRIEK

Tog vind die apostel dit ook nodig om ‘n ernstige waarskuwing te rig in Fil. 3:2. Sy waarskuwing klink baie hard, reguit en eintlik ‘n bietjie kru. Letterlik staan daar soos die OAV dit vertaal “Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” Die NAB omskryf dit ietwat versagtend soos volg : “Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis!” 

Waarom vind Paulus dit nodig om so iets aan die Christene van Filippi te skryf? Daar was dwaalleraars wat hierdie jong Christene in Filippi geleer het dat die geloof in Jesus alleen nie genoeg was vir hulle volle verlossing en vreugde nie – hulle moes steeds die Joodse besnydenis ondergaan. Ons noem hulle die Judaïseerders – (hulle was ook in die gemeentes van Galasië ‘n probleem) Natuurlik is dit ‘n valse lering wat die hart van die evangelie en die eer van Jesus aantas en daarom wek dit Paulus se argwaan en sterkste misnoeë op. Hy noem hierdie valse leraars “honde” en die besnydenis noem hy spottenderwys die “versnyding” In die Grieks kry ons hier ‘n skerp woordspeling. Tussen peritome (peritomh) - besnydenis en katatome (katatomh)
 – versnyding (OAV), versnippering - dis sommer eintlik net ‘n onnodige verminking* wil Paulus hulle laat verstaan! 

Besnydenis is natuurlik nie iets wat in isolasie verstaan moet word nie. Hierdie selfde dwaalleraars wou die Christene laat terugkeer na die ou Joodse wetsisteem wat ingesluit het die onderhouding van die Sabbat en die voedselwette. (Klink bekend, nê? Sabbat en koswette – dis vandag nog die alewige snaar waarop die dwaalgeeste so graag tokkel!) 

Kortweg gestel, al hierdie wette wat hulle op die Christene wou afdwing het neergekom op ‘n terugkeer na die Ou Verbond! 

Dit bring ons by die kernsaak waaroor dit hier gaan. Waarop of op Wie vertrou jy vir jou volle genoegsame verlossing? Op die tora (die wet van Moses) of op Jesus? Op uiterlike gebruike en rituele (wat Paulus hier die vlees noem) of op Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here? 

Wees eerlik! Op wie of wat vertrou jy nou eintlik? 

Ek rig hierdie uitdaging aan al die aanhangers van die Israelvisie en die Hebrew Roots Movement. Julle wat so spog oor julle sabbat, julle nuwe mane, julle streng voedselwette, julle bedrieglike kastige afstamming (Israelvisie) van die tien stamme van Israel. Julle gedwepery met Hebreeuse name! En so terloops, daar is net een NAAM bo alle name, die naam Jesus waardeur ‘n mens gered kan word. En in die Nuwe Testament wat oorspronklik in Grieks geskryf is, kom dit in die Griekse vorm IhsouV na ons. Gaan bestudeer maar net eerlik Handelinge 4:10-12 en Filippense 2:5-11. 

Vertroue op Sabatte, name en kosreëls? Wat anders is dit as vertroue op uiterlike dinge? Vertroue op die vlees?

Maar ek rig ook hierdie waarskuwende woorde aan mense wat gereeld in die kerk sit, lidmate, maar vir wie dit maar net bloot oor uiterlike godsdiens of mooi tradisie gaan. Die punt is vertrou jy op Jesus die gekruisigde alleen of is ander bates nog vir jou belangriker? Is ander bates nog jou eintlike sekuriteit? Troos jy jouself met allerhande mooi gebruike of ordentlikheid? 

In hierdie konteks is Paulus se uitspraak in vers 3 veelseggend en kardinaal belangrik! “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (Fil. 3:3) 

Paulus weet waarvan hy praat. Soos hy verder beskryf (en lees gerus verder in hfst. 3) het hy eens op ‘n tyd ook op alle uiterlike bates vertrou soos sy fisies afkoms van Abram en soos sy fanatiese stiptelike gehoorsaamheid aan die tora. Hy was onberispelik getrou aan die tora oftewel die wet van Moses. Maar toe ontmoet hy Jesus Christus. Meer korrek dis Jesus wat hom wat Paulus is gegryp het daar op pad na Damaskus. Toe verander als... En van toe af beskou hy al hierdie vorige bates as drek, gemors , waardeloos sodat hy Jesus as enigste bate kan aankleef. Hoekom? Paulus het nou besef - Die regverdiging, die vryspraak is in Jesus alleen te vind. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil. 3:7-9) 

My vriend, hoor mooi! Al jou indrukwekkende Hebreeuse frases en name, streng onderhouding van allerhande wette en spitsvondige slimmighede is waardeloos! Stel jou vertroue op Jesus alleen en dank Hom deur die vrugte van die Gees te dra wat die einste Paulus vir ons in Galasiërs 5:22,23 beskryf. Dis natuurlik ten diepste in lyn met God se bedoeling met die wet. 

Jesus self is die volkome vervulling en eind doelwit van al die bepalings van die Mosaïese wette. 

Die Mosaïese wette was die konstitusie van die Ou Verbond. Jesus het die Nuwe Verbond deur sy finale en volledige bloedoffer bevestig. Hy sê dit self met die instelling van de nagmaal. Die implikasies is duidelik : Wie aan Jesus behoort is die ware Israel en dus kinders van Abram. (Gal. 3:7) Wie op Jesus vertrou het die ware besnydenis en deel in die ware Sabbatsrus, want Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe! Alles wat die tora was in die Ou Verbond (die waarheid en lewe en die regte pad) is nou in Jesus self te vind binne die Nuwe Verbond! Om dus weer terug te keer na die Ou Verbond is ‘n verwerping van Jesus en die evangelie! Wees gewaarsku! 

My vriend, vriendin, plaas jou vertroue op Jesus en Hom alleen! Vandag nog! 

Kyk op Youtube - kliek HONDE!

*Ook in die brief van die Galasiërs waarin Paulus dieselfde probleem van terugkeer na die besnydenis en die wet van Moses aanspreek, raak Paulus baie driftig op dieselfde trant soos in Gal.5:12. “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (NAV) “ Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” (OAV) Paulus raak hier erg sarkasties teenoor die dwaalleraars en sê dus in effek : as hulle dan nou wil besny moet hulle sommer by hulleself als afsny!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.