Bladsye

Vrydag 04 Oktober 2019

NAAK OP DIE SYPAADJIE

- Die genade wat ek in Jesus ontvang het, maak my genadig betrokke by ander! 



In ‘n bekende Europese stad, kom ons sê maar Amsterdam was daar ‘n Bybelskool net langs ‘n berugte rooiligbuurt. ‘n Gevaarlike gebied vol van misdaad, prostitusie en ellende. Een oggend vroeg ry een van die dosente wat klasgee by die Bybelskool met sy fiets (soos dit ‘n goeie Nederlander betaam) deur hierdie gebied en sien ‘n sleg vernielde en beseerde jong dame halfpad naak op die sypaadjie lê. Slagoffer van ‘n aanranding. Hy besef hier is ‘n potensiële skandaal so hy maak maar of hy haar nie sien nie, draai sy kop weg en ry vinnig verby. Kort daarna loop een van die Bybelskoolstudente met sy kitaar op sy rug en Bybelsak oor sy skouer langs dieselfde roete. Ook hy sien die jong dame en ook hy besef hierdie is ‘n moeilike situasie. Hy onderdruk die stem van sy gewete, steek die straat oor en loop op die oorkantste sypaadjie verby. Nie lank daarna nie kom daar nog iemand verby. Hy sien die vrou en hy gaan staan. Hy is een van die onlangse Moslem immigrante. Hy gaan buk by haar, gooi respekvol sy jas oor haar en bel dadelik die nooddienste. Hy tref al die nodige reëlings vir haar mediese sorg en laat sy selfoonnommer as sy nog enigiets nodig sou kry waarmee hy kon help. (Dis maar net 'n storie waarvan ek die essensie HIER gekry het)

[En as ek en jy nou dalk dink ons is beter as hierdie dosent of Bybelskoolstudent, dan maak ons 'n groot fout...]


Natuurlik hoor ons elkeen hierin iets van die dramatiese en aangrypende boodskap van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Kom ons lees dit in Lukas 10:25-37. 

BETEKENIS EN KONTEKS 

Die Barmhartige Samaritaan is natuurlik ‘n baie bekende gelykenis, maar wat beteken dit?* Hoe raak dit ons? Die algemene oppervlakkige verklaring sou kon wees – “Bewys liefde aan jou medemens soos die barmhartige Samaritaan en jy sal die ewige lewe beërwe…” Maar is dit regtig so? Kan ons dan deur hard te probeer die ewige lewe verdien? Wat dan van die evangelie? 

Dis tog so belangrik dat mens vir die verstaan van enige Bybelgedeelte na die KONTEKS sal kyk. Die onmiddellike konteks en ook die wyer konteks. Anders gaan ons VERKEERDE AFLEIDINGS maak! 

Dié gelykenis is ‘n onderdeel van ‘n groter gesprek. ‘n Wetgeleerde het probeer om Jesus met ‘n moeilike strikvraag uit te vang. “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (25) Nou moet ons dadelik die ore spits - in hierdie gesprek en daaropvolgende gelykenis, gaan dit oor iets meer as 'n morele kwesie, maar inderdaad oor die heel belangrikste saak wat elkeen van ons raak:

HOE KRY EK DIE EWIGE LEWE?

Jesus antwoord met ‘n teenvraag. “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (26) Dit was dikwels Jesus se styl. Die wetgeleerde gee ‘n mooi antwoord uit die Skrif. “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Maar nou laat Jesus hom in ‘n strik trap. “Doen dit en jy sal lewe!” (28) Die wetgeleerde weet baie goed hy kan dit nie regkry nie! Hy weet, Jesus weet ook hy kan dit nie regkry nie. (Ek en jy weet mos ook as ons eerlik is ons kry dit nie reg nie) 

SOEK ‘N VERSKONING 

So, die wetgeleerde weet hy is nou in ‘n hoek, as hy eerlik sou wees moet hy erken dat ‘n mens nie deur iets te doen die ewige lewe kan verkry nie! En omdat hy weet hy is vas en veroordeel staan soek hy ‘n verskoning. “Maar hy wou homself handhaaf, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?” (29) OAV - “wou homself regverdig.” ‘n Uitkomkans om nie sy verantwoordelikheid teen sy naaste na te kom nie – want wie is dan nou my naaste? Dis mos maklik om verskonings uit te dink waarom hierdie of daardie een nie my naaste kan wees nie. En dis dan hier waar Jesus hierdie aangrypende en radikale gelykenis vertel… Ek en jy ken mos die gelykenis... 

DIE GEBEURTENIS OP PAD NA JERIGO 

Die gelykenis speel af in 'n "real life setting." Die pad na Jerigo was inderdaad ‘n gevaarlike kronkelpaadjie deur die heuwels. Rowers kon maklik daar skuil en toeslaan. Priesters en Leviete het die pad dikwels gebruik na of van Jerusalem as hulle hul diensbeurte by die tempel moes doen. Nou sien hulle ‘n man langs die pad. Heel waarskynlik sou hulle nie op ‘n afstand kon sien of hy nog leef of nie. Dit lyk al asof hier 'n moeilike en ongemaklike situasie homself voordoen... Een probleem - Volgens die Mosaïese wette mag ‘n priester nie aan ‘n lyk raak nie, want dit sou hom onrein maak. “En hy mag by geen dooie kom nie, selfs aan sy vader en moeder hom nie verontreinig nie;” (Levitikus 21:11) Heel waarskynlik sou hy naak of halfnaak daar lê, want ‘n kledingstuk was een van die kosbaarste besittings wat geroof sou wees. Nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe dit ook al sy, ‘n onaangename en grusame situasie, nie iets waarby mens graag sou betrokke wou raak nie. 

Maar toe kom ‘n Samaritaan verby. Deel van ‘n veragte bastervolk wat deur die Jode geminag en gehaat is! En as minderwaardig en onrein beskou is. Juis hý help hierdie ongelukkige man. En hy doen meer as wat mens van hom sou kon verwag. Hy vat hierdie man se volle onkoste op homself. Hy staan in vir al die uitgawes wat daar mag wees. Dis iets groter as wat dit vir ons mag klink. Onthou destyds was daar nie allerhande ingewikkelde kredit reëlings nie. As jy nie jou skuld kon betaal nie, word jy die persoon vir wie jy skuld se slaaf! Hierdie man sou ernstige beserings gehad het, sy herstel in die herberg sou lank kon duur en dit sou groot skuld kon meebring. Die Samaritaan vat volle verantwoordelikheid daarvoor en verhoed dus die hierdie man ‘n slaaf sou word. En loop die gevaarlike risiko om dan self 'n slaaf te word...

Die slotsom van die gelykenis is duidelik : "Meneer die wetgeleerde, jy moet nie vra wie jou naaste is nie, jy moenie probeer verskonings uitdink by wie jy nie betrokke wil raak nie. Jyself moet ‘n naaste word vir elkeen wat oor jou pad kom! En aan jou liefde vir daardie persoon mag daar geen perke of afsnypunt wees nie!" Uiters radikaal. Dit moet nou tot die wetgeleerde deurdring dat sulke liefde eintlik onmoontlik is en dat hyself dus nie iets kan doen vir die ewige lewe nie! 

JESUS ONTBLOOT DIE DWAASHEID EN ARROGANSIE VAN ELKEEN WAT DINK HY KAN DEUR GOED TE DOEN OF 'N PAAR STUKKIES GODSDIENS DIE EWIGE LEWE VERWERF!

Nou wat wil Jesus dan sê oor hoe ons die ewige lewe kan kry? 

KONTEKS VAN DIE KRUIS 

Dis waar die wyer konteks so belangrik is. “ En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,” (Lukas 9:51) Die oorhoofse konteks van hier af in Lukas se geskrif is dat Jesus op pad is na Jerusalem om aan die kruis te sterf! Hy gaan die verlossing vir sondaars bewerk, juis vir mense wat dit nie regkry om God en hulle naaste volmaak lief te hê nie! Dis die groot probleem met die wetgeleerde. Hy wil hom nie aan Jesus onderwerp nie. Inteendeel hy verwerp Jesus en probeer Hom mos juis met strikvrae uitvang. Hierdie konteks word bevestig deur die paragraaf wat net na hierdie gedeelte kom. Jesus by Marta en Maria. Marta is die flukse een en sy werk hard in die kombuis. Maria sit maar net aan Jesus se voete. Marta kom bekla haar lot. Maar wie word tereggewys? “Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie." (41,42) Marta is die een wat hier fouteer! (Sy maak in 'n sin dieselfde fout as die wegeleerde - sy fokus nie op Jesus self nie) Jesus lig uit dat net een ding nodig is – Hyself. Hyself as die een wat op pad is na die KRUIS! Dis wat Maria gekies het. Een ding is nodig – om Jesus te ken! Dis wat die wetgeleerde ook nie besef het nie -Hy het Jesus nodig, die Jesus wat op pad is na die kruis om versoening te doen vir sondaars. Deur wetsonderhouding sal niemand gered word nie, maar alleen deur volle vertroue in Jesus! (Vgl. Rom 3:20-24, 4:1-8) Wat Paulus leer en wat Jesus geleer het, verskil immers nie!

EK EN JY HET DIE GEKRUISIGDE NODIG! 

Is dit al wat die gelykenis vir ons sê? NEE!

GENADE BRING VERANDERING 

Jesus verlos ons van die straf van die wet omdat ons dit nie volledig kan nakom nie, maar wie Hom as Here het word juis in staat gestel om te begin anders leef volgens die diepste bedoeling en standaard van die wet. Die opdrag aan die wetgeleerde : “Gaan maak jy net so!” maak wel sin as ‘n opdrag aan elke volgeling van Jesus. As ons die vryspraak gekry het deur geloof in Jesus alleen rus die verpligting van heiligmaking op ons. Mense wat vergifnis by Jesus ontvang het sal begin anders leef. “Ja, maar niemand is mos volmaak nie!” Dis inderdaad so, maar dis ook so dat as jy Jesus ontmoet het gaan jou lewe wys dat jy Hom ontmoet het. 

As jou lewe dieselfde bly het jy Jesus nog nooit ontmoet nie!

John Newton die goddelose man wat in die slawehandel betrokke was en radikaal tot bekering gekom het (die skrywer van “Amazing Grace”) het dit so treffend opgesom: 

I am not what I ought to be,
I am not what I wish to be,
I am not what I hope to be;
but, by the grace of God,
I am not what I used to be. 

Diegene wat deur die geloof in Jesus barmhartigheid ontvang het, kan nooit dieselfde bly nie en sal ook aan ander barmhartigheid bewys. Hou op om verskonings te soek en begin almal wat God op jou pad plaas radikaal lief te hê! Raak betrokke by die naak gewonde op die sypaadjie!** 

*Vir ‘n deeglike uitleg en toepassing van hierdie gelykenis luister na Don Carson. Ek het uiteraard maar as net ruimskoots van sy gedagtes gebruik gemaak. 

** “What is at stake then and now is the question of whether we will use the God-given revelation of love and grace as a way of boosting our own sense of isolated security and purity, or whether we will see it as a call and challenge to extend that love and grace to the whole world.” N.T Wright 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.