Bladsye

Donderdag 15 Augustus 2019

EK IS MOEG EN FLOU


WAT NOU? MOET EK OPHOU? 



Voel jy moeg, moedeloos en flou? Ja, kinders van God raak fisies moeg, maar ons raak ook geestelik moeg. Ons word net moeg om goed te doen. Ek raak moeg om my wyk getrou te besoek, moeg vir my Sondagskool klas, moeg om gereeld huisgodsdiens vir my kinders te hou, moeg om vriendelik te wees met onvriendelike en ondankbare mense, moeg om mense uit te nooi wat nie belangstel in God se Woord nie, moeg om Christelike liefde in 'n liefdelose huwelik te probeer uitleef, moeg om entoesiasties kind van God te wees, moeg om gedurig teen my eie sondige natuur te stry... Kortom – Net moeg, moeg vir goeie werke! 

OORSAKE 

Daar is natuurlik baie moontlike redes en oorsake vir so ‘n totale gevoel van moegheid en uitputting. Beslis het die droogte (tans hier in Namibië) ‘n invloed op ons motivering en gemoedstemming. Definitief dreineer die neerdrukkende politieke en ekonomiese nuus waarmee ons daagliks gekonfronteer word ons geesdrif en lewenskrag. Maar daar is ook ander dieperliggende faktore : gebrek aan vordering of resultate, ons sondige natuur wat ons verlei tot luiheid en kortsigtigheid... Selfs ook ons liggaamlike toestand kan 'n rol speel... 


Paulus het kennis gedra van hierdie probleem van moeg word om goed te doen en spreek dit duidelik aan in Galasiërs 6:7-10. Hy rig daarom ‘n kragtige en dringende uitdaging aan elkeen van God se kinders wat moeg geword het! 

"Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel." (Galasiërs 6:9) 

STRYD

Hierdie aansporing van Paulus is natuurlik deel van ‘n groter konteks. Dis deel van die groot konflik in die kind van God naamlik die stryd tussen die vlees en die Gees. Hy het reeds hiervan melding gemaak in 6:16,17. 

“Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 
Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” 

Ons vergeet so maklik – as jy waarlik ‘n kind van God geword het, woed daar ‘n hewige stryd in jou binneste! Dis ‘n onophoudelike en uitputtende geveg tussen die vlees (ou sondige natuur) en die Heilige Gees wat nou in elke kind van God woon. Dis normaal om hierdie stryd te ervaar. En hierdie stryd put ons uit en tap ons krag! 

Elke kind van God het die verantwoordelikheid om daagliks en voortdurend te kies teen die ou natuur en myself doelbewus te onderwerp aan die Heilige Gees! “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (5:25) Dis ‘n keuse wat ons moet maak en ‘n keuse wat ingrypende en geweldige gevolge het. (6:8) Dit wat jy saai (jou dade, optrede, gedrag) het direkte gevolge – dis wat jy oes! Ons dade nou het ewigheidsgevolge. Pasop hoe jy optree, pasop wat jy besluit en doen. In hierdie konteks vermaan Paulus ons om te volhard in goeie werke. 

Ons moet gedurig waak teen die versoeking om te laat slap lê. 

Geestelike slaapsiekte en lomerigheid is 'n voortdurende ernstige bedreiging. Om dit teen te werk moet ons die waarskuwings en aanmoedigings van die Skrif ernstig opvat. Dit sal ook van ons vereis om praktiese maatreëls te tref. 

Ek deel met jou ‘n paar moenies en moets wat dr. Martyn Lloyd Jones hanteer in sy boek SPIRITUAL DEPRESSION

~Moenie tou opgooi nie. Moenie eers so ‘n gedagte kans gee om wortel te skiet nie! Omdraai is nie ‘n opsie nie. " Moenie eers oorweeg om toe te gee aan die versoeking om aan die slaap te raak nie. (Dink aan die gevare van die Betowerde grond in Bunyan se klassieke werk, DIE PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID) 


Spurgeon het gesê : "Continue with double earnestness to serve your Lord when no visible result is before you.” 

Onthou Markus 13:13! Net diegene wat volhard sal gered word! 



~Moenie vrede maak met 'n voetesleep toestand nie. Dis nie God se bedoeling vir sy kinders nie. Dit steel jou vreugde en bring oneer op ons Verlosser se Naam. Om die Here met geesdrif te dien is immers ‘n staande opdrag. “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” (Romeine 12:11) 

~Moenie jou wend tot kunsmatige geestelike stimulante nie. Sommige Christene probeer hulleself stimuleer deur allerhande “nuwighede” te probeer, wat hulle uiteindelik wegvoer van die evangelie. (Die snaaksighede van die HRM). Ander probeer “church hopping” en word geestelike swerwers sonder roeping en rigting! Sommige kry gunsteling geestelike “stokperdjies” en kry oogklappe aan. (Hulle wil gedurig oor die doop of wegraping stry en verloor Christus uit die oog!) 

~Moenie in selfbejammering verval nie! Murmurering/kla  is ‘n ernstige sonde. (1 Korintiërs 10:10) Selfbejammering maak jouself, jou huwelik, jou bediening dood!

WAT OM PRAKTIES TE DOEN? 

Daar is beslis ook positiewe maatreëls wat getref kan word, as ek geestelik lam en lui geword het. 

1.Doen selfondersoek en vra na die oorsake! Vra jouself: 

~ Is die rede vir my tamheid en traagheid nie dalk fisies nie? Kry ek genoeg slaap, gesonde kos, sit ek dalk te veel voor die rekenaar..? (Terloops, daai skootrekenaar dreineer mens se energie) Dit mag wees dat ek dalk moet gaan vir ‘n deeglike mediese ondersoek! Dalk moet ek drastiese aanpassings in my daaglikse leefstyl maak! 

~ Probeer ek dalk om geestelike werk met menslike krag te doen? Ek hardloop baie rond om dinge vir die Here te probeer doen, maar my hart is nie op Hom ingestel nie. Ek skeep my persoonlike tyd met Hom af en strompel kragteloos voort, vasgevang in ‘n menigte van sinlose aktiwiteite. Is ek daagliks in verbinding met die Bron, Jesus? Gaan dit nog oor Hom? Sit ek aan sy voete soos Maria? 

~ Wat is my motiewe vir my goeie werke? Is dit dalk aktiwiteit bloot ter wille van aktiwiteit? Probeer ek dalk my saligheid met allerhande pligte te verdien of my eie koninkrykie te bou? Probeer ek via geestelike aktiwiteite naam maak vir myself? Dalk is ek by baie aksies betrokke net om van die huis af weg te vlug, want ek kom nie met my eie huismense oor die weg nie? Stel eers jou motiewe reg voor God. Onthou dit gaan oor dankbare diens vir ‘n genadige verlossing... 

2. Onthou die Christelike lewe is 'n onophoudelike lewe van goed doen - wees voorbereid. Wees realisties soos ‘n marathon atleet – hy weet hierdie wedloop gaan nie binne tien minute oor wees nie, ek moet my instel vir ‘n lang stryd... Jou eie heiligmaking vat tyd, die werk aan jou huwelik vat tyd, volharding in jou bediening vat tyd... Daar is nie kortpaaie en kitsoplossings nie!

3. Hou Jesus in die oog! Vra opreg : “Vir wie doen ek alles? Doen ek goeie werke vir mense eer en gelukwensinge of vir Hom wat sy bloed vir my gestort het?” Maak tyd om Hom weer innig en diep te leer ken... Laat Jesus en sy liefde voorop in jou gedagtes staan 

4. Fokus op die eindresultaat. Dink aan die oes! Dink aan die beloning. Dis wat Paulus hier sterk onderstreep! Dink jy aan die eindpaal? Is die regterstoel van Christus ‘n werklikheid, is jou oog op die toekoms? 

KYK WEER OPNUUT NA JESUS EN GAAN AAN!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.