Bladsye

Sondag 14 April 2019

DIE KANKER VAN PARTYDIGHEID


“Versigtig, hy speel mos vir die eerstespan...” 

“Sy gee darem heelwat vir die kerk...” 

“Hy borg immers altyd ons jaareindfunksie...” 

“Pasop dat julle hulle nie aanspreek of kwaad maak nie, want...!” 

Ons weet mos dat alle mense nie dieselfde is nie. Ook binne die gemeente en in die breë gemeenskap van die gelowiges is daar groot verskille... Alreeds in destydse gemeentes van die Vroeë kerk was daar verskille... (baie lidmate het immers uit ‘n slawe agtergrond gekom...) Minder welvarend en meer welvarend, minder aantreklik en meer aantreklik, minder invloedryk of meer... Daarom vind Jakobus dit nodig om te waarsku teen partydigheid. “aanneming van die persoon” soos die Ou Vertaling dit stel. Hy praat uitvoerig hieroor in Jakobus 2:1-13. Partydigheid! Watse ding is dit? Ons behandel verskillende mense onregmatig op verskillende maniere en volgens verskillende maatstawwe. Dit gaan hier oor die sonde dat ons bevooroordeeld staan en diskrimineer teenoor mense op grond van een of ander uiterlike rede. Ons maak ’n sondige onderskeid tussen mense, wat maak dat ons sommige benadeel en ander bevoordeel. Ons klassifiseer mense op grond van hulle sosiale status, welvaart, voorkoms, afkoms, intelligensievlak, “nuttigheid” en behandel hulle dan onregverdig. Ons verdeel mense eintlik in twee groepe - belangrikes (in ons oë belangrik) en onbelangrikes (in ons oë onbelangrik). Belangrikes (soos ‘n skool se eerste rugbyspan of die invloedrykste persone in die dorp) word voorgetrek en goed behandel, terwyl die onbelangrikes (diegene wat nie borgskappe kan voorsien of sosiale aansien geniet nie) minder goed en minder regverdig behandel word. Hierdie praktyk van voortrekkery is reeds in die Ou Testament veroordeel, spesifiek in die konteks van die regspraak. “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God.” (Deut 1:17) 

DISKRIMINASIE SKREEU TEEN DIE GELOOF IN JESUS! 

Partydigheid, uiterlike beoordeling of onregverdige bevoordeling...Geliefdes hierdie dinge gebeur ook onder ons. Binne in die gemeente van Jesus. Ons moet ons nou nie vaskyk teen hierdie spesifieke voorbeeld in Jakobus en maklik sê ons is nie skuldig nie. Ons het voortrekkery en diskriminasie tot ’n subtiele kuns verfyn. Hoe lyk diskriminasie onder ons? Spesiale aandag, vriendelikheid, behandeling en voordele word gereserveer vir die wat EK as belangrik beskou en uit wie ek dalk een of ander tyd voordeel kan trek. 

Praktiese voorbeelde: 

~ Deur ons manier van doen en praat word sekere mense uitgesluit. Ons sal nooit direk sê jy is nie welkom nie, maar ons optrede laat sommige mense uitgestoot voel. Ons sal miskien ‘n funksie reël wat net vir die rykes haalbaar is... Ons hou daarvan om eksklusief te wees. Ons houding sê ons is eintlik beter as ander Christene . 

~ Met sommige mense praat jy uit die hoogte. Jy sê niks verkeerd nie, maar jou houding en manier van aanspreek wys sommer net: “Ek is beter en belangriker...” 

~ Soms is dit ’n geheime sonde van die hart. Hierdie diskriminasie veroorsaak dat ons mense in ons harte veroordeel, afskryf, verag, degradeer... weereens sonder dat ons iets negatief sê. (Gewoonlik voel hulle dit aan vanuit ons lyftaal en algemene optrede) 

~ Sommige mense se opinies, probleme en klagtes word ernstig opgeneem, maar  ander s'n word feitlik geïgnoreer. Ons luister net met ’n halwe oor of glad nie... Aan die anderkant voor die magtiges, invloedrykes en belangrikes kan ons baie maklik ’n kruiperige houding openbaar, oordadig vriendelik of tegemoetkomend wees en dis net so verkeerd. 

~ Sommige mense word baie maklik en direk aangespreek. Ja, ons sal sommer ronduit die swakkes en die onbelangrikes uittrap, maar die rykes en die wat status het se misstappe word meer geredelik oorgesien. Die reëls word maar bietjie gerek en aangepas in hulle geval... 

Jakobus stel dit baie duidelik dat sulke optrede nie strook met ons geloof in Jesus Christus nie. Dit pas hoegenaamd nie by gelowiges nie. Kom ons kyk na drie redes waarom Christene nie so behoort op te tree nie. 

Partydigheid: 

1) is ’n gesindheid wat indruis teen God se karakter en optrede. “Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?” (5) God is nie partydig nie en Hy trek nie mense voor nie. Dit word ook baie duidelik gestel deur Paulus in Romeine 2:11! “God trek immers niemand voor nie.” (NAV) “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” (OAV)* Hy het ons gekies uit genade nie volgens voorkoms of prestasie nie. Sy onbevooroordeeldheid blyk juis uit die feit dat Hy die armes uitkies as erfgename van die Koninkryk. 

“Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 
En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 
en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.” (1 Kor. 1:26-28.) 

God kies anders as wat die wêreld kies! Watter skande dat ons as sy kinders, wat onverdiende ontvangers van genade is weer die wêreld se standaarde en denkwyse wil toepas - en die armes en swakkes benadeel of uitstoot ter wille van die rykes of belangrikes. Partydigheid en diskriminasie is wêreldgesindheid van die eerste water! 

2) is teen die koninklike wet van God. “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself," dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders.” (8,9) Hierdie wet sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” Gehoorsaam ons hierdie wet as ons mense uitstoot, verag, teen hulle diskrimineer of volgens ons eie standaarde klassifiseer? Nee! As ons mense voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangriker lyk dan oortree ons die wet van naasteliefde. Dan doen ons nie wat God van ons vra nie. Dan staan ons dus skuldig teenoor die hele wet van God! 

3) is ’n uiters gevaarlike praktyk in die lig van die komende oordeel. “Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.” (12,13) Onbarmhartige en gevoellose optrede weens ons beoordeling van mense sal ernstige gevolge hê by die eindoordeel. “Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets... Iemand wat ander mense sonder werklike liefde behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar.” (Blye Boodskap) “Jakobus sluit aan by dit wat Jesus geleer het : Salig is die barmhartiges want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 

VAT SAAM! 

-Partydigheid en onregverdige diskriminasie is verwoestende kankers wat hartseer en dood bring in ‘n gemeente. Behalwe dat dit die Heilige Gees bedroef lê dit ’n gemeente lam want dit werk in alle opsigte direk teen die liggaamsbeginsel. As die lede wat volgens ons oordeel swak is en minder belangrik lyk uitgesluit word, of weggedryf word dan sal die hele liggaam uiteindelik daaronder ly. (God gee immers van sy kosbaarste geestelike gawes juis aaan die geringstes...) Deur partydigheid, al is dit hoe subtiel word kosbare ledemate geamputeer en bly daar net ’n verminkte liggaam oor. (Terloops, is dit nie wat ons moet erken apartheid ook aan die kerk gedoen het nie? Val ons nie egter maar nog steeds in dieselfde strik nie?) 

-Om onpartydigheid na te streef beteken nie dat ons sê mense is almal dieselfde nie - daar sal altyd armes en rykes, sterkes en swakkes, “dommes en slimmes, lelikes en mooies” en inderdaad verskille in vermoëns of kultuur... Dis ‘n gegewe in ons onvolmaakte wêreld. Onpartydigheid en Christelike liefde beteken egter dat ons niemand op grond van hierdie verskille as onbelangrik sal ag nie, niemand op grond van status, voorkoms of iets dergeliks sal minag en benadeel nie. (En natuurlik onpartydigheid beteken nie dat ons ooit sonde moet goedpraat nie! Dit moet aangespreek word, op ‘n regverdige manier onder almal sonder onderskeid!) 

- DIE GROOT VRAAG : Geliefde is ons bereid om te doen wat God van ons vra? Wat vra Hy? Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit beteken dat alle vorme van diskriminasie - hoe subtiel ook al verkeerd is. Maar positief beteken dit - om alle broers en susters ten volle te aanvaar! Kom ons kyk positief na hierdie saak, ons het ‘n regverdige God wat nie ’n aannemer van die persoon is nie, Hy aanvaar ons volkome in Jesus Christus, ons kan dit bekostig, dit WAAG om andere volkome te aanvaar. Dis waar dit moet begin - ons moet besef en raaksien wie God is, ons moet glo dat ons in Jesus volkome aanvaar word; as ek hiervan seker is dan word dit sinvol, logies, bevrydend, heerlik om ander te aanvaar as God se skepsels in die algemeen, maar spesifiek ons broers en susters in Jesus wie hulle ook mag wees! 

"Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God." (Romeine 15:7)

 
*Dieselfde woord in Grieks wat ons in Jakobus kry. proswpolhmyia


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.