Bladsye

Vrydag 26 Oktober 2018

NIE ‘N SELFIE NIE,

MAAR ‘N LUGFOTO! 


Christenskap. Oor wie en wat gaan dit nou eintlik? Wat is die voordeel, die nut en die doel daarvan? As ons dit in terme van ‘n foto moes verduidelik, sou dit ‘n selfie, ‘n groepfoto of ‘n lugfoto wees? 

Kom ons tel dit sommer reg van die begin af - die Bybelse begrip van Christenskap, gaan nie oor ‘n selfie nie, maar oor ‘n lugfoto! Anders gesê dit gaan nie oor ‘n klein prentjie waar ekself die middelpunt en fokus is nie, maar oor ‘n groot prentjie, die groot prentjie van God se planne en God se eer! 

In ons dag is die versoeking baie groot om “selfie Christene” te wees. Die individualistiese selfie kultuur het oorgespoel na mense se verstaan van kerkwees en Christenwees. 

SELFIECHRISTENE. 

Hoe lyk en hoe klink hulle? Die selfiechristen sê : 

-Ek is seker van my saligheid en dis vir my genoeg. Al my planne en polisse is in plek, ook my polis teen die hel. Nou is ek veilig, nou kan ek rustig aangaan om vir myself die lewe so gerieflik as moontlik in te rig en as ek nou ongelukkig van my kosbare aardse besittings moet afskeid neem, gaan ek darem gelukkig hemel toe. 

-Die kerk is nie juis vir my nie, ek dien die Here op my manier, op my tyd en volgens my voorwaardes soos dit vir my gerieflik is. Niemand gaan my vertel wat om te doen nie. 

-Ek gaan nie kerk toe nie en ek raak nie betrokke nie, want daar is iemand in die kerk wat my geld skuld of lelik is met my. Ek word dus te na gekom en as ek dan te na gekom word speel ek nie meer saam nie! Ek gaan nie kerk toe nie, want dis nie lekker genoeg vir my nie... Die TV kerk by die huis is ‘n baie geriefliker opsie, want ek kan sommer met ‘n lekker koppie koffie in die hand myself op die rusbank uitstrek... O, ja ek gaan so af en toe na 'n Gospelfees, want dis aangename vermaak... 'n Toer na Israel klink ook vir my interessant!

-Die Here seën MY so baie. Hy seën MY besigheid, MY gesondheid, MY gesin..., Hy maak vir MY die lewe gerieflik en gemaklik. Trouens Hy is so goed vir MY ek kon nou al weer ‘n nuwe kar en nog ‘n stuk grond koop... Dis vir MY regtig voordelig om ‘n Christen te wees. Die Here maak MY ambisies waar. Hy is so goed vir MY, ek voel so spesiaal. Hy gaan MY help dat ek gou kan aftree en net dan die wêreld vol toer en golf speel…Ek is Sy witbroodjie... (Ja, Hy is so goed vir MY, ek vergeet heeltemal van die Christene in Sirië, Indië en in die plakkerskampe hier naby...)  Hierdie sienings is baie algemeen... dit word verkondig in die Christelike tydskrifte, die Christelike televisie..

Sendingwerk, opoffering, betrokke wees, mededeelsaamheid, lyding vir Christus, selfverloëning... dis vreemde begrippe vir die selfiechristen! 


Hierdie selfie Christenskap is baie gewild, maar is dit wat die Bybel leer? NEE! Hierdie sienings druis reël reguit in teen die gesindheid en perspektief wat Paulus hier uitstraal en verteenwoordig in Handelinge 20:17-38. Dis deel van sy roerende afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese op pad na Jerusalem. Kom ons kyk bietjie daarna: 

Kom ons gaan eers net bietjie terug. Paulus het God nie gedien binne sy eie persoonlike raamwerk en individualistiese planne nie. Paulus het God gedien binne die konteks van die kerk. Hy het nie sy eie “St. Paul’s ministries” gehad nie. Sy hele bediening was kerk gebaseerd – hy is uitgestuur deur die gemeente van Antiochië op sy eerste sendingreis. (Handelinge 13:1-3)

Hy roep hier in Handelinge 20 die ouderlinge bymekaar van die gemeente in Efese wat hy gestig het. Paulus weet daar wag vir hom groot moeilikheid en lyding in Jerusalem. "En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag." (22,23) Maar dan sê hy hierdie aangrypende woorde vir die gemeente ouderlinge in vers 24 : "Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God." (DLV)

Hier vind ons die passie en leuse van 'n ware dissipel van die Gekruisigde Jesus!

Dis baie duidelik. Vir Paulus het Christenskap nie oor persoonlike gerief en gemak gegaan nie. Ook nie die uitlewing van ‘n persoonlike ambisie en lewensideaal nie. Dit het nie vir hom persoonlike voordele gebring nie, inteendeel... wel baie lyding en hartseer. Ja, sy bediening in en buite die kerk was nie altyd maklik nie. Hoor wat sê hy 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” 

Paulus het nie geleef volgens sy eie drome en ambisies nie, maar volgens ‘n God opgelegde lewenstaak en bedieningsopdrag. Toe die Here kort na sy Damaskus ontmoeting die dissipel Ananias na Paulus gestuur het, het Hy vir Ananias gesê m.b.t. Paulus : "Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly." (Handelinge 9:15,16) Die kind van God stel nie meer sy eie agenda saam nie, God bepaal dit natuurlik elkeen volgens sy besluit en die gawes wat Hy ons gegee het! 

Paulus se doel was nie homself nie! Dit het gegaan oor die uitdra en uitleef van God se boodskap van genade. Dis die boodskap wat hom persoonlik aangegryp het. Hoekom? 

Hy was ‘n persoonlike ontvanger van genade! Sy sondes is uit genade vergewe. Maar sy Christenskap het nie daar geëindig nie. Hy het ‘n bediening en roeping uit genade ontvang. 

Hier begin mens dalk verstaan waar die wortel van die “selfie Christenskap” probleem is. Selfgesentreerde mense is mense wat heel waarskynlik nog nooit hulle behoefte aan genade besef het nie en dalk nog nooit deelgenote van Goddelike genade geword het nie. Christenskap gaan nie vir hulle oor dankbaarheid oor onverdiende genade nie, maar oor aanspraak maak op verbruikersvoordele... Die vraag is vir hulle is: “Watter nut en voordeel hou geloof in vir my?” Vir ‘n sondaar wat genade ontvang het, lyk alles egter anders. Ek besef ek verdien niks anders as die hel nie. Nou het ek genade ontvang en daardie genade lê ‘n dankbaarheidsplig op my om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my genade gegee het. Ek moet dus by sy wense, wil en planne inval! 

Die essensie van Bybels gefundeerde Christenskap is nie selfvervulling nie,maar selfverloëning! 

Jesus self het immers gesê : “Neem jou kruis op” (kies die dood ter wille van my), nie “volg jou persoonlike ambisie na” nie! Nie my ambisie nie, maar God se opdrag is wat tel. Dit gaan oor God, want als is net Sy Genade! 

Christenskap is dus nie ‘n selfie nie. Tot ‘n mate is dit ‘n groep foto, want ek is saam met my broers en susters as gemeente op pad. Maar ook die groep is nog steeds nie die fokuspunt nie, nee Christenskap behels ‘n lugfoto – God se perspektief, God se wil, God se groot oorsigtelike plan, God se eer! 

Die vraag moet nie wees – Wat WEN ek nie, maar wat WIL God? Maar juis hierin lê ons groot beloning en vreugde! 



*Die NAB se vertaling is baie onbevredigend. Die DLV word ondersteun o.a. deur die OAV en die NIV. 

Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. (OAV) 

However, I consider my life worth nothing to me; my only aim is to finish the race and complete the task the Lord Jesus has given me—the task of testifying to the good news of God’s grace. (NIV)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.