Bladsye

Saterdag 18 Augustus 2018

GEEN KORTPAD

- Vergeet maar van kitsoplossings en maklike resepte vir heiligmaking en geestelike volwassenheid!



Ons mos hou almal maar van kortpaaie en kitsoplossings. Skoolkinders wens hulle kon net hulle handboeke onder die kopkussing sit en siedaar! Gierige grootmense val na al die jare nog steeds vir gou-ryk-word skemas... Hierdie drang na kortpaaie kry mens ook by ons as Christene ten opsigte van ons geestelike lewens. Ons soek na kitsoplossings vir ons stryd teen sonde en onvolmaaktheid, ons soek na kitsantwoorde vir sukses in evangelisasie, ons soek na suksesresepte vir gebed en maklike wenresepte vir kerkgroei. En daarom gebeur dit so dikwels dat net soos gierige mense maklik gevang word deur kitsrykword skemas ons as Christene maklik kan val vir allerhande geestelike resepte en foefies wat maklike vinnige oplossings bied. Maar, helaas...die einde is groot teleurstellings, skade en verwarring. (Al die mense wat by ‘n spesiale diensreeks “omgeval" het, se lewens daarna getuig nie juis van die vrugte van die Gees nie...) Veral as iets gewerk het vir ’n ander persoon of ’n ander gemeente dan wil ons dit sommer ook net vinnig by ons toepas. God werk egter anders - Ja, Hy werk kragtig en radikaal - maar nie met eenvormige kitsoplossings nie. Ja, Hy gee sommige mense wonderlike ervarings wat binne ’n oomblik ’n reuse verskil maak, maar selfs ’n besondere keerpunt ervaring is slegs maar net ’n deel van die pad wat God met sy kinders stap. God stap ’n pad met elkeen van ons. God gaan geduldig op weg met sy kerk. Hy werk deur langsame prosesse. Dis ’n feit - daar is baie bewyse vir hierdie beginsel. Mense word nie onmiddellik na hulle bekering hemel toe oorgeplaas nie. Die baie Nuwe Testamentiese vermanings oor sonde en stryd wys dat dit “normaal” is vir ’n Christen om te stry teen sondes en om met probleme te kampe te hê. 


God se werkinge met sy volk in die Ou Testament is ’n verdere bewys dat Hy tyd en prosesse gebruik om sy doelwitte te bereik.

Die verlossing uit Egipte en die daaropvolgende woestyntog en verowering van Kanaän is uitstekende voorbeelde. Daar is immers duidelike parallelle tussen ons verlossing en die redding uit Egipte, tussen ons heiligmaking en die woestyntog ens.

Deuteronomium 8:1-5 is ‘n uitstekende voorbeeld van Ou-Testamentiese lering wat vir ons wonderlike insig gee in God se werking met ons op die pad van heiligmaking. 

1."Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het.

2."Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.

3. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

4. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

Moses is hier aan die woord. Hy spreek die volk toe in die woestynvlakte oos van die Jordaan.* Die oos Jordaangebied is nou reeds verower en nou moes hulle nog die Jordaan oorsteek om Kanaän te verower. In die eerste gedeelte van Deuteronomium gaan Moses se preke oor dit wat God gedoen het en nog sal doen. Spesifiek in hfst. 7-11 gaan dit oor lesse wat tydens die woestyntog geleer is. Die volk Israel het 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf. Dit kom rofweg daarop neer dat Israel veertig jaar geneem het om ’n tog te voltooi wat eintlik maar 11 dae sou kon duur.** Die rede vir die rondswerf was hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.....(behalwe natuurlik in die geval van Josua en Kaleb) Hier in 8:2-5 kry ons ’n opsomming van dit wat die Here vir hulle geleer het gedurende die lief en leed van veertig jaar:

1) God het hierdie pad gebruik om vir hulle nederigheid (2) te leer. (OAV - verootmoediging). Israel se hoogmoed en trots moes afgebreek word. Hulle moes leer dat hulle niks sonder God is of kan nie. (Vgl. 1:41-46)***   As kinders van God moet ons ons plek voor Hom ken - in nederigheid en gebrokenheid. Christene het gedurig nodig om dit te leer - ons het dit nie sommer vanself nie. Ons vroomheid is dikwels deurspek met hoogmoed en ’n hoe dunk van onsself. “Ek is gered en nou gaan ek die wêreld omkeer.” Ons moet onthou - God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. God gebruik baie metodes om ons nederigheid te leer, selfs ons sonde, mislukkings en foute. Die selfversekerde Petrus moes eers deur ‘n baie diep mislukking en teleurstelling gaan. Hy kan ook ander ellende en beproewinge gebruik. Soos die doring in die vlees” in Paulus se geval... Kind van God - God gaan vir my en jou nederigheid leer al kos dit wat! Ja, ons kry die opdrag om onsself te verneder onder sy hand, maar ons gehoorsaam dit nie juis dikwels nie en daarom gebruik Hy die toetse en beproewings op die harde “woestyn pad” van die geloof.

2) In tye van swaarkry en moeilikhede, en teleurstellings word, is Israel se gehoorsaamheid getoets.(2b) Ons werklike gesindheid teenoor God se wet en wil word geopenbaar as ons onder druk kom. Ons weet ons moet geduld hê as een van die vrugte van die Heilige Gees. Maar hoe sal ek ooit weet of ek geduldig is voordat ek vir ure in ’n ry moet staan en wag om dan nog verder te wag terwyl ‘n onbeholpe amptenaar ongewillig of onbevoeg is om my vinnig te help? God verwag vriendelikheid. Om tussen vriendelike mense se vertoef sal nooit ’n toets wees of ek vriendelikheid het nie - daarom het die Here jou dalk in ’n kantoor vol onvriendelike mense geplaas. Die groot eis van die wet is liefde - om te weet of daar liefde in jou hart is plaas die Here jou in ’n huis saam met ’n moeilike eggenoot of kinders. Op die moeilike woestynpad van die geloof word ons gelouter, word die verborge sondige geneigdheid van ons harte aan die lig gebring en ons gehoorsaamheid word deeglik getoets.

3) Tydens die woestyntog moes Israel afhanklikheid van en vertroue op God en sy beloftes te leer ken. (3) God het vir sy volk in ’n woestyn gesorg. Gevoed en geklee en beskerm. In ’n woestyn waar daar nie kos is nie het Hy vir hulle kos gegee. Hy het hulle van brood voorsien en van vleis voorsien. (Vgl. 2:7) Geloof in God en afhanklikheid van God is iets wat ons nie in boeke kan leer nie. Geloof in die lewende God word net deel van ons in die harde woestyn wêreld van krisisse, finansiële nood, die magteloosheid van ’n siekbed... Die ware aard van ons geloof kom aan die lig - is dit net mooi woorde en fyn uitgewerkte teorie? In die woestyn omstandighede waar mense nie meer kan help nie word ons gedwing om ons ten volle op God en sy beloftes te verlaat. “Niemand kan nou iets meer doen nie, Here net U alleen.” Ons moet ook leer dat alles eintlik om God self gaan, sy Woord en sy karakter en nie dit wat Hy vir ons gee nie! Hy is baie meer wonderlik en heerlik as dit wat HY vir ons gee. Ons moet Hom aanbid vir wie Hy is!

4) Israel is in die woestyn onderwerp aan onderrig en dissipline. (5) die woestyntog was ’n leerskool van vaderlike dissipline. Die lewe wat God van hulle verwag moes ingeoefen word. Hulle moes op die harde manier leer om sy wet te gehoorsaam en sy wil te doen. Op die harde manier moes hulle die gevolge van ongehoorsaamheid leer ken - dink maar aan die verhaal van die giftige slange. Hulle moes leer om God se opdragte ernstig op te neem, want hulle sou dit baie nodig kry in die verowering van Kanaän. As kinders van God moet ons dikwels op die harde manier leer om sy Woord en wil te gehoorsaam. Het dit al gebeur dat jy ’n ding doen of na ’n plek gaan en jy beleef so ‘n vae onrus? Jy weet dis verkeerd, maar dan doen jy dit steeds. En wat gebeur dan dikwels? Dit loop dit uit op ’n groot mislukking, hartseer of selfs skade! Dan besef mens die Here het die hele tyd deur sy Gees met my gepraat, maar ek wou nie hoor nie. Nou moet ek voel. Dis nie lekker nie, maar dit sal my leer om volgende keer meer sensitief te wees vir sy stem.

Elke kind van God is in ’n proses van voorbereiding. 

Voorbereiding vir die beloofde land, voorbereiding tot diensbaarheid. Partykeer verloop baie jare voordat Hy jou vir ‘n groot lewenstaak gebruik of wanneer Hy dink HY het jou nou genoeg aan ‘n bepaalde les laat leer. Dink maar aan die geskiedenis van Moses, Paulus , Jesus...

Kom ons aanvaar met opgewondenheid dat Hy besig is met ons, met my, jou in die spesifieke krisisse wat ons dalk nou mag beleef. 

Kom ons onderwerp ons met blymoedigheid aan sy dissipline. 

Kom ons wees wakker om te verstaan, wat Hy vir ons wil leer en wat Hy in ons wil verander. 

Kom ons sien sy liefde in alles raak. Wat jy dalk NOU beleef is nie lekker nie, maar weet dit is ‘n Liefdevolle Vader wat besig is met opvoeding!

*“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.” (Deuteronomium 1:1)

**“Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom.” (Deuteronomium 1:2)

*** Dit gaan hier oor die rampspoedige veldtog teen die Amoriete toe Israel teen hulle gaan veg het sonder dat die Here by hulle was! Israel moes die onderspit delf.


Oom Willie de Bruijne is die afgelope week oorlede... ook hy het 'n lang en harde pad gestap!

1 opmerking:

  1. Dankie vir die aanmoediging uit die Woord, Johannes!

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.