Bladsye

Saterdag 19 Mei 2018

DIE ONVERNIETIGBARE VREUGDE VAN JESUS

- en Hy het bedoel dat ons in hierdie blydskap sal deel! 



Hoe belangrik is dit dat jou Verlosser nie sommer enigiemand nie, maar ‘n Verlosser vol vreugde moet wees? 


As ’n lewensredder jou uit ’n gevaarlike seestroom red en jou so ‘n wrede verdrinkingsdood spaar*, dan gee jy nie juis veel om of hy ‘n vreugdevolle of ‘n droefgeestige ou is nie. Dit maak tog nie saak wat sy gemoedstoestand is, terwyl jy weer jou familie op die strand omhels nie. Met die verlossing wat Jesus bewerk is dit egter anders gesteld. Jesus red ons nie vir ons familie nie, maar vir Homself. As Hy droefgeestig, depressief of neerslagtig sou wees, sou ons verlossing maar ’n droewige saak wees. Dit sou dan nie ’n heerlike verlossing wees nie. Christene sou ‘n klompie bedremmeldes met lang gesigte wees. 

Jesus self is ons groot beloning, niks minder nie. Verlossing is nie bloot net die vergifnis van sonde nie, maar in hoofsaak gemeenskap, saamwees met die lewende Jesus. Die ewige lewe is mos nie bloot ‘n lang lewe nie, maar om God en om sy Seun Jesus waarlik te ken! Innige gemeenskap! In Johannes 17:3 maak Jesus dit self baie duidelik : “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” As hierdie gemeenskap nie intens heerlik en volkome bevredigend is nie, dan het ons nie te doen met ’n groot verlossing nie. 

As Christus neerslagtig of vreugdeloos sou wees, dan sou die ewigheid een lang droewige sug en vervelige uitmergeling gewees het. 

Maar nou is dit juis wonderlik, die genade en heerlikheid van Jesus behels onder andere ook dat Hy altyd onvernietigbaar gelukkig is en sal wees. Sy genade, sy vrede, sy liefde sluit ook in dat Hy ons vreugde gee. Luister bietjie mooi na Jesus se woorde en drink dit in :“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11) 

Blydskap, volkome blydskap is Jesus se bedoeling vir ons wat aan Hom behoort! 

Dit sou nie volkome genade wees as Jesus bloot my blydskap sou vermeerder tot op die maksimum nie, en my dan so sou los in ’n blydskap wat nog ver benede sy vlak van blydskap is nie. Ons kapasiteit vir blydskap is mos beperk. So wat wonderlik is, is dat Jesus sy kapasiteit vir vreugde in my stort, sodat ek Hom kan geniet, met die vreugde van God. Dit is heerlikheid, dit is genade. Ons word nie net bly nie, nee, meer as dit, SY BLYDSKAP word deel van ons lewe! 

Daar is niks heerlik aan vreugdeloosheid en droefgeestigheid nie. Christus was daarom nooit droefgeestig en neerslagtig nie. Van ewigheid af was Hy die spieël van God se onpeilbare vreugde. Die Wysheid van God sê hierdie woorde in Spreuke 8:30 : “Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet.” Hierdie woorde gesien in die konteks van die hele Bybel, gaan oor Jesus, die ware Wysheid! (Kliek op WYSHEID) Die ewige Christus, was altyd in vreugde voor God. Hierdie feit van Jesus se oortreffende blydskap kom duidelik in die Nuwe Testament ter sprake. 

Kyk na twee voorbeelde: 

In Hebreërs 1:8-9 praat God met die Seun (nie met die engele nie) met hierdie verstommende woorde : “U troon, o God staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God , U onder groot vreugde tot koning gesalf bo u tydgenote.” Jesus is die gelukkigste wese in die heelal. Sy blydskap oortref al die engele blydskap in die hemel. (En ons weet die engele is baie gelukkig!) 

In Handelinge 2:25-31 interpreteer Petrus Psalm 16 as verwysend na Christus : “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel.....want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.....u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.” Die opgestane Jesus sal die somber skadu’s van die dood afskud en bly wees met die lig van God se blydskap. Die heerlikheid van Christus is sy oneindige, ewige onvernietigbare blydskap in die teenwoordigheid van God. 

EN SY LYDING? 

Maar wat dan van Jesus se smarte en lyding? Hoe pas dit in by sy vreugde? Net soos dit nie heerlikheid is om depressief te wees nie, is dit ook nie heerlik om ligsinnig oppervlakkig te wees nie. Die kortstondige joligheid op die dansvloer en die ononderdrukbare grondige blydskap wat mense selfs in ’n strafkamp kan ervaar is twee verskillende dinge. Die een is nietig tydelik, die ander diep triomfantelik. Kwaliteit blydskap, onvernietigbare vreugde! – dis die blydskap van Jesus! 

Vreugde is iets dieper as net die afwesigheid van hartseer. Daarom is dit nie ’n teenstrydigheid dat hierdie Man van onvernietigbare vreugde juis ook ’n “Man van lyding wat pyn geken het” was nie. (Jesaja 53:3) Self sê Jesus : “Ek voel doodsbenoud” (Matteus 26:38) Hierin lê ook ‘n stuk heerlikheid vir ons in opgesluit. Juis omdat Jesus hierdie hartseer en lyding moes deurgaan is Hy as ons Hoëpriester in staat om met ons medelye te hê. Hy was immers net soos ons getoets. (Hebreërs 4:14-15) Hy het die allervreeslikste versoekings beleef. Ook al die hartsere van menswees. Hy het gehuil saam met die wat gehuil het en was bly saam met dié wat bly was. Hy was honger, moeg, verlate, verraai, gegésel, gespot en gekruisig. Juis in hierdie konteks sien ons die onvernietigbare blydskap van Jesus! Sy blydskap was nie net ’n teoretiese saak nie, dit het bly staan in die harde werklikheid. Die hardste denkbare lyding. Deur die foltering van Getsemane en Golgota, is Jesus juis onderskraag deur hierdie onvernietigbare blydskap. “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins....” (Hebreërs 12:2) En wat was daardie alles onderhoudende blydskap? Dit was die vreugde om aanbid te word en eer te ontvang van hulle vir wie Hy gesterf het om sodat hulle kan deel in die vreugde van God. Die Goeie Herder verheug Hom oor een verlore skaap wat gevind word. Hoeveel te meer oor ontelbare leërmagte van verlostes! 

Is hier ’n les te leer oor hoe ons lyding moet verduur? Het jy al ooit raakgesien dat ons Jesus nie net moet navolg in sy lyding nie, maar ook in sy vreugde in lyding? Paulus stel dit so : “En julle het ons voorbeeld nagevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.” (1 Tessalonisense 1:6) Dit was ’n vreugde in die Here te midde van vervolging wat in hierdie jong kerk sigbaar was. 

Hierdie is ’n Uitdaging vir ons! Sal ons lyding ter wille van die saak van Christus omhels? Nie vreugdeloosheid nie, maar lyding. Sal ons ag gee op die wekroep in Hebreërs 13:13 “Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het”? Wie deel in Jesus se lyding met vreugde, sal ewige vreugde sonder lyding beleef! 

EWIG BLY!

Elkeen wat reeds iets gesmaak het van die vreugde van Jesus, sal finaal eendag te hoor, “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf......Kom in en deel in my vreugde.” (Matteus 25:21) Dis ‘n aansporing vir ons. Ja, ons ewige tuiste is die stad van God en dis ’n stad van vreugde. En daardie vreugde is die onvernietigbare vreugde van Jesus Christus. 

Die Heilige Gees oortuig ons nou reeds van die vreugde van Jesus wat soveel meer is as die tydelike vreugde van die sonde en wêreld! Dis net as ek oortuig is van die vreugdevolle heerlikheid van Jesus dat ek die “lekkerte” van sonde die rug kan keer en Hom volg. Hierdie oortuiging laat elke ware kind van God volhard! 

*John Piper, Seeing and Savouring Jesus Christ. Hierdie is in wese ‘n weergawe van een van die hoofstukke in hierdie besondere boek.


"vreugde" - Hentiesbaai se noordduin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.