- die onverantwoordelikheid van Namibiese skolesport!
[Hierdie paar gedagtes het lankal reeds begin groei in my hart en op die rekenaar, maar ek het tot nou toe gehuiwer om dit te plaas, tot vanoggend toe ’n bekommerde pa sy hart met my gedeel het...]
Slaan my, skop my, skiet my, nes jy wil, maar die waarheid moet gesê word. As ‘n onderwyser-afrigter laat deurskemer dat hy eintlik nie heeltemal so bly is as ‘n span van hom na ‘n eindronde deurdring nie. As jy hoor hoe ‘n skolespan op een dag op Okahandja én Outjo moet speel. As getroue katkisante weens sportverpligtinge dit net nie kan maak om op ‘n Sondag betyds en vars in die klas te wees nie. As ‘n enkelouer by jou kla oor die geweldige klomp geld wat dit kos om die kinders te laat deelneem... As daar naweek vir naweek ‘n dolle gejaag oor die Namibiese vlaktes en op gevaarlike taxi roetes plaasvind om kinders van noord en suid, oos en wes vir wedstryde aan te karwei... As die uiteenlopende sportbedrywighede oor naweke selfs verwydering binne in ‘n huisgesin bring, want een kind speel op hierdie dorp en ‘n ander een op ‘n ander plek... As daar weinig plek is vir geestelike en kulturele bedrywighede in die week, want sportoefeninge word nou al vir drie middae in die week gereël, dan begin jy vermoed dat dinge op sportgebied hand uit geruk het. Daar is byna nie meer iets soos ‘n rustige naweek wanneer ‘n gesin iets op hulle eie kan doen nie! Om ‘n kerkbasaar of gemeentefunksie te reël, waar ons kosbare kinders ook saam kan wees het haas onmoontlik geword. Dit word geskuif ter wille van skolesport na ‘n ander naweek om maar net weer uit te vind dat die ander naweek ook geokkupeer is.
Iewers is iets nie pluis nie, of is dit normaal en reg dat kinders met beserings gedruk word om maar deel te neem? Is dit reg dat die geestelike opvoeding van ons kinders altyd tweede viool moet speel? Is dit gewens dat ons kinders (en ouers) te moeg is om op Sondae in die erediens te wees?
Ek hoor iemand teenkap : “Sport was nog altyd vir ons Suidwesters baie belangrik, ook in die ou dae.” Ja, ek stem saam, maar dit word vandag baie meer oordryf. (en natuurlik was als wat in die “ou dae” gebeur het ook nie noodwendig altyd reg nie) Een rede vir die sportontploffing is natuurlik al die ekstra byeenkomste, want ons privaatskole moet ekstra fondse insamel. En mens het begrip daarvoor. En die onderwysers (wie se gesinslewe ook ontwrig word) se harde werk moet waardeer word. Maar is die prys in lewenskwaliteit en gesinstyd en Godstyd wat ingeboet word om by die sportkalender by te hou nie dalk net te hoog nie?
Is ek nou teen sport en veral skolesport? Baie beslis nie. Sport is baie belangrik vir ’n gesonde liggaam, en ons weet almal mos ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Laat ek dit kategories stel : ‘n Gebalanseerde sportprogram gerugsteun deur goeie morele beginsels is van groot waarde vir die vorming van kinders na liggaam en gees. Niemand betwyfel dit nie. Maar alles wat TE is (behalwe te voet, te perd en tevrede), is gevaarlik! En ons is nou reeds heeltemal TE ver binne die gevaarsone van oordrywing en verafgoding van sport...
Hierdie eensydige klem op sport laat my weer dink aan die hartseer verhaal van die seun wat in die beeskraal begrawe wou word... (so op my manier vertel) Dit het blykbaar iewers op ‘n plaas in Suid-Afrika gebeur. Pa was ‘n uitstekende Afrikanerbeesteler. Sy hele bestaan en lewensdoel het gedraai rondom die teel en versorging van sy spog rooi Afrikanerbeeste. Pa het vir sy seun als van beeste geleer, maar nagelaat om die evangelie aan hom oor te dra. Toe word seun siek en lê sterwend en sonder hoop vir die ewigheid in die opstal. Sy pa het hom nooit voorberei op hierdie laaste groot reis nie. Daar was vir niks anders tyd as Afrikanerbeeste nie... Nie tyd vir aandag, vir luister, vir liefde en vir die Woord nie. Die seun se laaste woorde het die tragedie van sy lewe en sterwe pynlik akkuraat opgesom: “Pa, begrawe my maar in die beeskraal!”
PASOP!
Pasop vir eensydigheid in ons kinders se opvoeding. Hulle weet als van rugby en netbal en hokkie, maar baie is totaal onkundig oor die Woord van God.
Pasop vir die onmenslike groot druk op kinders, diegene wat in sport presteer sowel as die ongelukkiges wat nie die span haal nie.
Pasop vir ouers wat hulle eie (sport)ideale wil uitleef in hulle kinders, dikwels ten koste van hulle kinders.
Pasop as skole sport as ‘n advertensiemedium, werwingsaksie, geldinsamelingsprojek en beeldbou-poging gebruik op so ‘n manier dat dit lei tot benadeling van ander fasette van ons kinders se vorming.
Pasop as kinders se persoonlike gesondheid in gevaar gestel word, omdat hulle moet speel ten spyte van beserings of omdat te jong kinders in spanne ingedruk word en dus met groter en sterker kinders moet kompeteer.
Pasop dat oorvol sportprogramme in die week en naweek ons nie van kosbare gesinstyd en kerktyd beroof nie. Tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie...
Pasop dat die manier van sportbeoefening en motivering nie lei tot ‘n onbybelse (kliek) SPOG EN GROOTPRAAT kultuur nie!
Pasop dat ons soveel energie en tyd aan sport bestee sodat ons die belangrikste in die lewe verwaarloos en ons kinders uiteindelik ‘n uitsiglose ewigheid moet binnegaan... Dat ons dalk eendag, by wyse van spreke moet hoor : “Begrawe my op die rugbyveld” of “Begrawe my onder die netbalbaan...”
Pasop dat sport nie die eintlike “god” in ons lewens word nie! Wie of wat aanbid ons regtig? Nie mooi woorde (spangebedjies) en vroom leuses nie, maar sigbare lojaliteit aan Jesus en Sy kerk sal uitsluitsel gee oor hierdie vraag...
Dis seker onrealisties om te verwag dat alle ouers die gevaar van eensydige Christuslose (of gebrekkige) opvoeding moet kan insien, maar verbondsouers mag beslis nie in die lig van hulle doopbelofte toesien dat hulle kinders op die Molog altaar van oordrewe skolesport geoffer word nie!
Dit sal seker onmoontlik wees vir ouers en onderwysers wat self nooit hulle voete in enige kerk sit nie om ons angs oor verlore gemeentetyd te verstaan, maar vir die wat honger en dors na die Woord en die gemeenskap van die gelowiges het die sportoordrywing pynlike gevolge. Kinders van God alleenlik sal instemmend kan begryp wat Paulus aan Timoteus skryf : "Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms." (1 Timoteus 4:8)
Ons kan baie mooi verskonings en verduidelikings aanvoer om God, sy gemeente en ons huisgesinne af te skeep ter wille van sport, maar in die lig van Jesus se radikale liefdesoffer klink dit hol en leeg... Mag ons genade vind om volgens ons gewetens te handel in dankbaarheid oor hierdie groot liefde!
Lees ook : FOUT MET RUGBY?