Bladsye

Maandag 17 Oktober 2016

VERRE NOORD

- is nie te vêr vir God se genade nie.



Oshivelo, Oshakati, Oshikango… Ondangwa, Ongwediva, Onandjokwe… Omuthiya, Ombalantu... hierdie name spel : “Wamboland” en vir baie van  ‘n vorige generasie se manne : “Bosoorlog.” Wel, genadiglik is die oorlog verby, maar Oktobermaand in hierdie geweste beteken nog steeds : “Bloedig briesende hitte.” Dis byna sewe maal warmer hier as in Nebukadnesar se berugte oond. Die hitte het nie verander nie, so ook nie die donkies nie, maar verder amper alles. Dis nie meer die weermagbasisse, cuca winkels en stukkende karre wat die hoofrol speel nie. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa is ‘n polsende stad met moderne winkelsentrums, robotte en ‘n stroom luukse motors op die oorvol paaie... Dis ‘n plek van uiterste kontraste – op ‘n sypaadjie voor die moderne Bank of Namibia gebou gee ‘n bokooi geboorte aan tweeling lammers, direk langs die besige teerpad word daar voor my oë (in die versengende hitte) ‘n bees geslag... ja, as jy dalk gewonder het, daar is nog steeds boomslaghuise in bedryf!






Owamboland is egter baie meer as net ‘n versameling eienaardighede en bedrywighede, dis die tuiste van die NG Gemeente Verre Noord. Dis ‘n gemeente met ‘n veelbewoë geskiedenis van saamstaan, opofferings, wonderlike genadeverhale, maar helaas ook van verwaarlosing, skokke, teleurstellings, baie groot nood... geestelik, maar ook andersins. Die afgelope paar jaar is die gemeente veral deur ‘n moeilike meul. Hartseer dinge het gebeur. Daar is seerkry. Huiwering. Onsekerheid. Vir ‘n geruime tyd is hier ook nie meer ‘n predikant nie. Strukture sal weer opgebou moet word. Een ding is wel seker, die gemeente is nog hier, want hier is steeds wonderlike gelowige (en bereidwillige) mense en die belangrikste – die Here van Sy kerk laat sy mense nooit in die steek nie!

Die gemeente is nou in ‘n tyd waarin daar opnuut oor die pad vorentoe besin moet word, maar veral gebid moet word. Dit was my voorreg om vir bietjie meer as ‘n week vier dienste (waaronder ‘n nagmaalsgeleentheid) hier te hou en ook persoonlik by ‘n hele aantal van die lidmate uit te kom.

Ons kon praat oor basiese Christenskap en gemeentewees (Kliek op BYBELSE CHRISTENSKAP), oor die belangrikheid van die gemeente as die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:14-16), oor die wonderlikheid van Jesus die Seun van Dawid wat sonde, Satan, dood en hel oorwin het! (Kliek op DAWID). Ja, God self het deur sy Seun ons sondeskuld uitgewis en nooi ons uit om na Hom terug te keer! (Kliek op UITGEWIS)

Bid asseblief vir die Koning van die kerk dat Hy aan hierdie gemeente ‘n herder sal skenk wat Sy skape met liefde sal versorg. Die behoefte aan en versugting na 'n leraar is baie groot - "ons is soos visse op land." ‘n Herder wat in die eerste plek God sal behaag en die waarheid in liefde sal verkondig sonder kompromie met die tydsgees van losbandigheid en ongeloof! Bid vir die gemeentelede, die getroues en vlytiges, maar ook vir diegene want eenkant en afvallig of wantrouig geraak het. Daar is hoop, want God is ‘n God van ‘n nuwe begin...




NS 1. Dankie aan almal in Wamboland wat my so vriendelik ontvang en sommer diep in mens se hart gekruip het...

NS 2. AS jy 'n staaltjie uit die ou dae in Wamboland wil deel, is jy welkom om dit onder OPMERKINGS te doen. As jy 'n woord van bemoediging tot die gemeente wil spreek, kan jy dit ook hieronder doen!



Hierdie miershoop in die ou deel van Oshakati is die resultaat van samewerking onder die termiete... Kom ons werk saam en bid saam vir Verre Noord gemeente!




3 opmerkings:

  1. Ek het die volgende interessante e-pos gekry :

    Ek was vanaf 1963 tot 1969 in Oshakati as die destydse dept v Inligting se verteenwoordiger. Hierdie gemeente is gedurende hd jare gestig en ek en dr Marti Olivier was eerste diaken en ouderling. Dit was natuurlik jare v Sturm und Drang want in 1964 het die terroriste begin insypel.
    Die kerk het toe ook maat net nou en dan dienste aangebied want die predikant was in Tsumeb en die pad na Owambo was grond.
    Ek is ook n gebore Suidwester en het op n karakoelplaas naby Koes grootgeword.
    Hierdie ruimte is te klein om oor dd jare te skrywe.
    Baie sterkte met u taak in hierdie wonderlike deel van Namibie. Ek onthou Oktobermaand was bekend as selfmoordmaand agv die hitte.
    Ek het darem in my tyd daar n M graad behaal in Antropologie onder prof Bruwer wat ook die eerste kommissaris-generaal was. Dr Olivier het hom opgevolg. My verhandeling het oor die Ongandjerastam gehandel wat die tuiste van oud pres Sam Nujoma was.
    Baie sterkte en groete. Walter Louw

    AntwoordVee uit
  2. Johannes

    Was interessant om die stuk van jou te lees en ek is bly om te hoor dat die werk daar voortgaan. Kan my nie voorstel dat Oshakati en Ondangwa nou `n stad is nie.

    As ek die fotos van die Makalani palms sien dink ek altyd terug aan patrollie loop in Owamboland. Warm kry, natreen, muskiete in die nag, muggies in die dag, swaar dra met `n rugsak op my rug en B25 radio op my bors, dors wees, "ratpacks", "dog biscuits" met kondensmelk uit `n plastiese buis wat anders gesmaak het as gewone kondensmelk.In die reentyd kon die weer vinnig opkom en val in die nag en dan sit ek op my hurke onder my "bivvie" met my slaapsak in my arms want as jou slaapsak eers nat is slaap jy nie die res van die nag nie. Die harde grond het gevoel soos die beste binneveer matras. Die kleiner basisse het grondwalle rondom gehad en as ons in die basis was kon ons tydens "klaarstaan" sit en kyk na die mooiste sonsondergange.

    Ek het Suidwes leer ken deur die weermag en ook deur Jeug Met `N Sending. `n Besondere land met `n manier om onder jou vel in te kruip. Ek dank die Here vir die tyd wat ek daar kon deurbring. Sterkte met jou werk daar.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Pierre, jy moet dalk 'n plan maak en 'n slag kom kuier hier...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.