Bladsye

Sondag 13 September 2015

VERGETE FRANSE HERLEWING

- toe die vlam van toewyding onder die nasate van die Hugenote weer aangeblaas is.

Die evangeliese herlewings van die 18de eeu in die Engelssprekende wêreld is welbekend en goed nagevors. Dieselfde geld ook vir latere herlewings soos die in die New Hebrides en Wallis (1904). Die herlewing tussen die twee Wêreldoorloë (veral van 1922-1930) in die suide van Frankryk (Le Réveil de la Drôme) is  egter taamlik onbekend veral vir ons hier in Suidelike Afrika.



Dit was nie op dieselfde skaal as die herlewings in die Engelsprekende wêreld nie, maar tog in baie opsigte merkwaardig en dus belangrik om van kennis te neem. Dit was nie ‘n ingevoerde beweging nie, maar het in Frankryk ontstaan en die betrokkenes was Franse en enkele Switsers. Ook interessant, dit was ‘n herlewing wat in wese gereformeerd en Calvinisties was. Vir die Afrikaner is dit juis ook van besondere betekenis omdat dit plaasgevind het in die ou plattelandse Hugenote gemeentes.* ‘n Herlewing dus binne die protestantse kerk van ons voorsate.

Net so iets oor veral hoe die herlewing begin het...

Soos dikwels die geval met historiese herlewings het hierdie buitengewone werking van God se Gees ook plaasgevind in uiters donker en ontmoedigende omstandighede. Die kerk was in ‘n beklaenswaardige toestand van verval.

Op Volvent is daar vir 16 jaar geen erediens meer gehou nie en selfs die deur van die kerkgebou was toegegroei met onkruid. Verskeie gemeentes het vir jare nie meer leraars gehad nie. Die morele verval en die benarde finansiële toestand kan mens jou kwalik voorstel.

Opvallend is dat al die jong leraars tydens wie se bediening die herlewing uitgebreek het, nie aanvanklik evangelies gesind was nie**. Nietemin was daar tog by hulle ‘n egte liefde vir God en ‘n ware bekommernis oor die toestand van die kerk. Onder die laag van teologiese rasionalisme was daar tog iewers ‘n vlammetjie van die evangelie. Hierdie leiers van die herlewing, genoem, “les brigadiers de la Drôme”, was jongmanne wat die verskrikkings van die Eerste Wêreldoorlog oorleef het. Die feit is dat die betreurenswaardige toestand van die kerk hulle aan die hart gegryp het, soos Nehemia diep geraak was deur die tragiese toestand van Jerusalem se omgevalle mure. Soos Nehemia het hulle ook nie by treur stilgestaan nie, maar hulle in gebed tot die Here gewend. Vanaf 1922 het hierdie jong predikante saamgekom en tot die Here geroep en hulleself in gebed voor Hom verneder. Die verskillende herlewings in die Bybel en in die kerkgeskiedenis is ook bestudeer.

En die wonder het toe gebeur – die herlewing het uitgebreek daar waar dit die minste verwag is! In ‘n afgeleë gemeente waar daar vir jare geen leraar was nie. La Motte Chalancon tussen Nyons en die Drôme vallei. Geen predikant wou soontoe gaan nie, maar ‘n evangelis wat opgelei is deur die Heilsleër, Victor Bordigoni is daarheen gestuur. Gou het hy toe hy die ellendige toestand sien, ‘n daaglikse biduur gereël. Tydens so ‘n biduur het hulle besef net God kan herlewing stuur. Terwyl hulle gebid het, het God die geloof in hulle harte gegee om Hom te vertrou met ‘n doping deur Sy Gees. Die volgende dag het daar iets merkwaardig gebeur. In die klein gehuggie van Establet, tydens die diens het ‘n vrou opgestaan en aan die prediker te kenne gegee dat sy wou praat. Bewend het sy met die mense gepraat en bely dat sy tot op daardie stadium net vir haar plaas, haar diere en haar kaas geleef het. Sy het besef God is nie met haar tevrede nie, daarom wou sy van toe af net vir Hom lewe. God kom eerste!*** Die prediker was diep geraak en het ‘n uitnodiging tot die mense gerig en verskeie persone het gereageer. Dieselfde aand tydens die hooferediens by La Motte Chalancon het Victor Bordigoni vertel wat by Establet gebeur het en het weer ‘n uitnodiging tot oorgawe aan Jesus gemaak. Daar het ook toe verskeie mense gereageer. Die herlewing het gekom!

God het so in mense se harte gewerk dat hulle ten spyte van die feit dat dit laventel oestyd was (Augustus 1922) nie alleenlik kerk toe gekom het nie, maar ook stukkende kerkgeboue herstel het!

Op die 24ste September omtrent ‘n maand na die eerste bekering is Édouard Champendal een van die leraars ook vir die herlewing gewen. Twee maande later het God gewerk tydens ‘n tweedaagse leraarsbyeenkoms van die kerk by Crest. Victor Bordigoni het met die broers gepraat aan die einde en hulle gevra : “Ek wonder terwyl ek na julle luister of julle weet wie God is en wat die bediening is waartoe Hy julle geroep het?” Hy het hulle daarop gewys dat God nie verander het nie, hulle het verander. ‘n Kragtige uitdaging en oproep het gekom : “Ek het na julle geluister die afgelope twee dae... julle is die hindernis vir sy krag. Bekeer julle, bely julle bankrotskap, neem nuwe besluite en mag God se heerlikheid voortaan gesien word!” Die manne het op hulle knieë gegaan en belydenis van sonde gedoen en vergifnis gevra... laksheid, hoogmoed, twyfel, geheime bitterheid en baie ander dinge... Bevry van hierdie dinge, het God hulle besoek!

Die effek was gou sigbaar. Henri Eberhard, die leraar van Dieulefit het sy boodskap wat hy vir die Sondag voorberei het in die vuur gegooi. Toe hy moes preek het hy gesê : “My broers, die herlewing het pas begin in ons kerk en die eerste ontwaakte een is ekself.” Na die preek het hy die mense wat soos hyself nou aan die Here die eerste plek wil gee, uitgedaag om hulle name in ‘n register te skryf wat hy voorberei het. Verskeie persone het hulle name by die lys gevoeg. Twee of drie dae later het ‘n dame na hom gekom en gevra dat hy tog haar naam van die lys moes afhaal, want sy was nie gereed nie. Eberhard het die boek geneem en by die regte bladsy oopgemaak en geantwoord : “Haal self jou naam af, mevrou!” Sy is geruk deur sy reaksie en het in trane uitgebars, omdat sy nou gevoel het dat sy self haar naam uit die boek van die lewe sou uitwis. In die studeerkamer van die leraar het sy haar lewe aan die Here gegee... Die herlewing het voortgebrand in die meeste gemeentes in die suide van die Drôme. 

Die herlewing is gekenmerk deur spanwerk, prediking wat gefokus het op die heiligheid van God, entoesiasme en ‘n gees van oorwinning, ‘n vashou aan Gereformeerde teologie en ‘n balans tussen leer en lewe. Opvallend van die herlewing was dat die leiers (uitgesonder Bordigoni) almal jongmanne was!**** Sal ons nie bid dat God ook in ons dag jongmanne sal opwek om ons weer op te roep tot ware oorgawe, gehoorsaamheid en diens aan God nie!

*Il se produisit et se développa dans de vieilles paroisses huguenotes campagnardes.

** S’adressant aux étudiants de l’Institut Biblique Emmaüs, Édouard Champendal disait : “Si je vous racontais ce que je croyais à cette époque, vous sauteriez tous par les fenêtres.”

*** J'ai compris aujourd'hui, dit-elle, que Dieu ne se contente pas de ce que je suis. Jusqu'à présent, j'ai vécu pour mes terres et mon troupeau de brebis. Je prends l'engagement de mettre Dieu à la première place dans ma vie et dans mes affaires ; le reste viendra après ! (soos aangehaal deur Edouard Champendal)

****À part V. Bordigoni, ils avaient tous entre 25 et 30 ans. Pour chacun d’eux c’était leur premier poste pastoral.

[Hoofsaaklik ‘n verwerking van ‘n gedeelte van Philippe Decorvet se “Le Réveil, du rêve à la réalité : Un exemple français, le Réveil de la Drôme”]




Laventel - ek was ongelukkig nie self daar om die foto's te neem nie!

Onder. Van links na regs :

Henri Eberhard, Pierre Caron, Jean Cadier et Edouard Champendal
(Le matin vient, Jean Cadier 1990)




2 opmerkings:

  1. Geweldig interesant, BAIE dankie vir die plasing. Ag, hoe roep my hart dat hier ook herlewing mag kom!

    AntwoordVee uit
  2. Laat ons mekaar aanmoedig om onverpoos daarvoor te bid...

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.