Bladsye

Vrydag 04 September 2015

GOD IS GETROU!

- maar wat van jou?

God is getrou! Ja, beslis! God is getrou in die sin dat Hy altyd doen wat Hy beloof het. 


“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” (Hebr. 10:23) 

Dis nie net ‘n waarheid van die Nuwe Testament nie, maar dis ‘n groot tema dwarsdeur die Bybel. Dink maar aan die aangrypende woorde van koning Salomo by die inwyding van die tempel! 

“Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: "Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog ‘n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe.” (1 Konings 8:22,23)

God is getrou volgens dit wat Hy beloof het. En God se beloftes is nie sommer ’n klomp losstaande dinge wat Hy hier en daar beloof nie. Sy beloftes word geformaliseer in ‘n verbond. Dink maar aan sy beloftes aan Noag, Abram, die volk Israel, Dawid. Dit gaan telkens saam met die sluiting of bekragtiging van ‘n verbond. Uiteindelik word God se beloftes vasgemaak in die Nuwe Verbond wat Jesus tot stand gebring het. Dis die groot punt van die Hebreërbrief skrywer. Jesus se koms is die hoogtepunt van al God se beloftes. Jesus is die samevatting en waarmaking van al God se beloftes. As ons in Jesus glo en aanhou glo dan ontvang ons wat God beloof het.

MAAR WAT VAN...?

God is getrou! Ons sê dit seker almal, maar tog twyfel ons dikwels. Ons twyfel in tye van swaarkry en hartseer en onverstaanbare rampe. Ons twyfel wanneer dinge skeefloop en dit voel of God ons vergeet het. Onthou net twee sake:

God se beloftes vrywaar ons nie van die ellende en hartseer op aarde nie. (God se beloftes het nie gekeer dat Abram droogte in die beloofde land aangetref het nie; dit het nie verhoed dat Paulus, hongerte, naaktheid, gebrek, slae en tronkstraf moes verduur nie.)  Die einste mense vir wie hier geskryf word in Hebreërs is van hulle besittings beroof, God se getrouheid het nie gekeer dat dit gebeur nie. Vgl. 10:34)

God se beloftes beteken ook nie dat God altyd dadelik optree en maak soos ons graag sou wou gehad het nie. Ons weet dat God aan Abraham se nageslag die land Kanaän beloof het in die verbond wat Hy met hom gesluit het. Maar wat gebeur toe? Die Israeliete was vir vierhonderd jaar in Egipte. Jare van swaarkry. Jaar na jaar, geslag na geslag het dit gelyk asof God nie sy beloftes nagekom het nie, tot op ‘n dag toe die tyd ryp was...  

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25)

God het sy plan en sy tyd, maar Hy bly altyd getrou! Nou waarin lê hierdie getrouheid? Wat behels dit? God se getrouheid het te make met die volmaaktheid en gewaarborgde voltooiing van sy verlossingswerk deur Jesus!

Al God se beloftes wat aan Abram, Moses en Dawid gemaak is, het in die finale sin betrekking op Jesus en sy volmaakte verlossingswerk. Jesus se koms en sy verlossingswerk het alles te make met God se verbondsgetrouheid. Die verbondsgetrouheid van God is nie net iets in die Ou Testament nie, dit kom juis tot volle heerlikheid in die Nuwe Testament. Dit kom so duidelik ter sprake in die lofsang van Sagaria. 


"So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou.

Met ‘n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe." (Lukas 1:70-75)


Jesus se koms het vir ons hoop gebring, omdat Hy vrede gemaak het tussen ons en die Vader. Hierdie heerlike hoop word so pragtig beskryf in  Hebreërs 10:19,20. 

"Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam."

Die heiligdom verwys na die allerheiligste vertrek in die tempel, waar die hoëpriester net eenmaal ‘n jaar mag ingegaan het namens die mense. Jesus is ons hoëpriester wat vir ons die pad oopgemaak het deur sy kruisdood. Ons het vrye toegang tot die teenwoordigheid van God!

Gewone sondaarmense ontvang deur Jesus vryspraak en vergifnis en kan nou met vrymoedigheid na God se troon van genade gaan. As ek aan Jesus behoort het ek dus ‘n vaste hoop op volkome vergifnis, ‘n vaste hoop op die ewige lewe, ‘n vaste hoop op die onwankelbare erfenis! Hierdie hoop sal my nie teleurstel nie, want GOD IS GETROU! Omdat God getrou is, kan ons seker wees! Seker van vergifnis, seker van ons ewige bestemming, seker van God se liefde in Jesus...

God se getrouheid aan sy verbondsbeloftes het dus finaal en absoluut sigbaar in Jesus se sterwe en opstanding. Die sakramente (doop en nagmaal) is sigbare herinnerings en bevestigings van God se getrouheid omdat dit ons aandag vestig op Jesus se sterwe en opstanding. Die tekens roep uit : GOD IS GETROU! God kan nooit ontrou wees nie. God kan nie vals wees of lieg nie. Jy kan dus sy beloftes glo, maak nie saak wat jou omstandighede is nie.

EN NOU?

God se getrouheid maak ons nie passiewe toeskouers nie! Dit vereis getrouheid van ons. Dit vra reaksie. God se beloftes roep ons op tot geloof, bekering, liefde en goeie dade. Baie belangrik : God se getrouheid word in die verbondsgemeenskap van die Here (die plaaslike gemeente) beleef, God se getrouheid vereis dat ons ook getrou betrokke sal wees by hierdie gemeenskap, jou plaaslike gemeente. 

"Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom." (Hebreërs 10:25) 

Ons moet pasop vir ‘n individualistiese verskraling in ons verstaan van God se getrouheid. Ek mag nie dink dat God se getrouheid bloot ‘n waarborg is dit dit met my en my persoonlike belange sal goed gaan nie. Natuurlik ervaar individuele gelowiges God se getrouheid persoonlik, maar lees maar die Bybel, God se getrouheid staan in hoofsaak in verband met sy doelwitte met sy volk, sy gemeente! God is getrou om die beloftes uit te voer ten opsigte van sy groot doelwitte met sy kerk en sy koninkryk. 

GOD IS GETROU, maar wat van jou?



[God se beloftes staan onwankelbaar vas soos 'n rots! Vierkantklip naby Swakopmund.]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.