Bladsye

Donderdag 25 Junie 2015

GEDOOPTES EN NAGMAALGANGERS

- moenie op hulle louere rus nie, maar vlug vir die sonde!


Baie mense (ook binne die kerk) dink dat sonde nie meer ernstig en gevaarlik is nie. Hulle hou daarvan om ‘n klomp geykte verskonings af te rammel :

“Ag, ons is mos almal maar mense, ag, niemand is volmaak nie, onthou ons mag nie oordeel nie, die kerk is bedoel vir sondaars. Ag die genade is mos darem daar. Ag, wie is in elk geval sonder sonde? Ons is mos darem gedoop, ons vier mos die nagmaal…”

Dit klink asof mense sê : “Dis God se dure plig om sonde te vergewe en dis ons heerlike voorreg om sonde te doen soos ons wil en lekkerkry...”

Hierdie ligte ongeërgte houding oor sonde is natuurlik so oud soos die kerk self. Van die vroegste tye af was daar mense wat verskonings vir sonde gesoek het. Judas praat van mense wat die genade van God misbruik. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe. (Judas vers 4) Hierdie probleem was ook onder die Korintiese gemeente aanwesig.

WAARSKUWING

Hier in 1 Korintiërs 10:1-13 waarsku Paulus hulle baie hard en duidelik, maar gelukkig stop hy nie daar nie! Ons sal ook sien hier is ‘n heerlike troos boodskap vervat.

Paulus gebruik die volk Israel as voorbeeld om die erns en relevansie van sy boodskap oor te dra. Hy herinner sy lesers aan die groot wonderlike gebeurtenis van die Uittog uit Egipte. God het mos die hele volk, klein en groot op dramatiese wyse gered deur hulle veilig deur die Rooi See te lei toe die bloeddorstige Egiptenaars hulle agtervolg het. ‘n Aangrypende gebeurtenis van God se genade en goedheid! Dit was iets meer as net ‘n fisiese gebeurtenis. Dit was ‘n omvattende genadige reddingsdaad van God. Almal het gedeel in dieselfde geestelike voorregte.

Paulus sinspeel duidelik hier op die doop en nagmaal. Vers 2. “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop.” Hulle deurgang deur die Rooi see sien hy as ‘n simbool van die doop. Vers 3,4. "Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus." Hier is ‘n duidelike verwysing na die Nagmaal. Maar dan maak hy ‘n skokkende stelling in vers 5. “Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom.” Dis ‘n historiese feit – die grootste deel van die volk wat uit Egipte verlos is, het nooit die land Kanaän veilig bereik nie! Die mense wat soveel heerlike genade ontvang het se witgebleikte geraamtes het uiteindelik die woestynsand ontsier!

Wat Paulus eintlik wil sê is : “Hierdie bevoorregte volk het in al die verbondsvoorregte gedeel, maar dit het hulle niks gehelp nie, want hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde optrede nie. Hulle het met sonde geheul. Die oordele van God het hulle getref!”

Paulus gebruik die tragiese verhaal van Israel se woestyntog as ‘n voorbeeld (gaan lees dit na) dat ons nie in dieselfde strikke van versoeking en sonde moet trap as waarin hulle getrap het nie. Hy noem voorbeelde en gebeurtenisse uit Israel se uittoggeskiedenis by die naam : Sondige begeertes (6); afgodery (7) – verwys hier na die groot partytjie en jol wat gehou is tydens die episode van die goue kalf (sien Eksodus 32:6); onsedelikheid (8) – vergelyk Numeri 25:1,9*; uittarting van Christus (9); verset/ opstand oftewel “murmurering”, om te kla oor God se pad met ons, m.a.w. onvergenoegdheid! (10)

Pasop vir sonde! Pasop vir die misbruik van God se genade! Moenie met sonde speel en eksperimenteer nie! Moenie God tart nie!

Hierdie geskiedenis raak ons direk, dis vir ons ‘n voorbeeld en waarskuwing! (11) Ons moet elkeen onsself ondersoek! Moenie ligtelik hierna luster en dink dit kan nie vir my en jou oorkom nie! (12) Enige kind van God kan in enige sonde val... juis dalk op die gebied wat jy dink jou sterk punt is... Moenie by jouself redeneer - “ek was nog nooit dronk, of ek het nog nooit my vrou verneuk nie..." Wees bedag op alle versoekings! Sonde het skrikwekkende gevolge!

BEMOEDIGING

Paulus waarsku nie net nie, hy bemoedig ook. Hy wys ons op ‘n heerlike vertroostende feit : GOD IS GETROU! (13) Hy sal ons nie bo ons kragte laat versoek nie (Hy is billik, Hy ken ons grense) en Hy sal uitkoms gee (krag, oorwinning)! Paulus se waarskuwings is nie om ons moedeloos en beangs te maak nie. Hy wil sê : Wees versigtig, maak erns, pasop en weet dan dat God jou ook deur versoekings sal dra... Versoekings sal kom, maar God is getrou. Die dringende en ernstige waarskuwings is juis deel van sy getrouheid en ‘n manier wat Hy gebruik om ons te bewaar!

Paulus se boodskap wat hy wil oordra is baie duidelik:

Vir die wat speel met sonde en God uittart wag daar ‘n skrikwekkende oordeel al deel hulle in die verbondstekens. Alle gedooptes en nagmaalsgangers moet kennis neem!

Vir die wat die erns van sonde besef en daarteen stry kom daar die heerlike versekering, dat God ons nie in die steek sal laat nie, maar oorwinning sal gee. Mag ons almal in hierdie tweede groep wees...

* Die getal wat dood is volgens Numeri 25:9 is 24 000 en nie 23 000 soos Paulus hier in Korintiërs skryf nie. Die getal is opsigself is seker nie so belangrik nie, maar die waarskuwing wat ons ter harte moet neem, weens die skrikwekkende gevolge van hulle onsedelikheid.

Sondag 14 Junie 2015

WEES GEWAPEND EN STAAN VAS!

- DIE BYBELSE BELANGRIKHEID EN EENVOUD VAN GEESTELIKE OORLOGVOERING.



Geestelike oorlogvoering het ‘n veelbesproke saak onder baie Christene geword. Baie is al daaroor geskryf en bespiegel. Ongelukkig kry mens soms die indruk dat dit voorgestel word as ‘n hoogs tegniese kwessie waarvoor jy spesiale tegnieke moet bemeester. Dat dit eintlik net ’n saak is vir ’n paar uitverkore deskundiges, “super Christene” met geheime inligting en ‘n hele klomp esoteriese navorsing agter die blad. Dis nou die ouens wat weet hoe om “bloedlynvloeke” te breek en hardnekkige “gebiedsgeeste” vas te pen... 

Allermins! Geestelike oorlogvoering is iets wat elke Christen direk raak, want elke ware Christen is in ‘n hewige stryd teen die Satan en sy trawante gewikkel. Elke dag. As jy ’n Christen is, dan het jy die afgelope week deel gehad aan hierdie stryd... Dis veel erger as net ‘n fisiese stryd - dis ‘n stryd teen bose magte. Efesiërs 6:10-20 is seker een van die Bybelgedeeltes waar die tema van geestelike oorlogvoering die mees direkte wyse aangespreek word. Daarom is hierdie gedeelte van die grootste belang vir elke Christen. Ongelukkig bly dit vir baie ‘n onverstaanbare Skrif.* Ons lees dit op ’n manier wat maar min konkrete hulp en troos bied. Daar is veral twee redes: 

- Mense gaan met vooropgestelde idees van wat geestelike oorlogvoering is, na hierdie Skrifgedeelte en sien dus nie regtig raak wat Paulus wil sê nie. Hulle het sulke vaste idees oor wat die liste van die duiwel behels en vaste idees dat geestelike oorlogvoering oor duiwel uitdrywing, die bevegting van sogenaamde gebiedsgeeste, die verbreking van vloeke en die binding van demone gaan, dat hulle dit hier inlees en hulle eie betekenisse aan die gedeelte gee. 

- Aan die anderkant kan mens in te veel detail verval met betrekking tot die stukke wapenrusting. Na al die tegniese beskrywings van die Romeinse soldaat se uitrusting en die verwante simboliese betekenisse wonder jy aan die einde van die reeks preke hieroor - “maar nou, wat nou?” Hoe gaan al hierdie feite prakties ‘n verskil maak aan my stryd teen die bose? Dis myns insiens ‘n gevaar om te veel afsonderlik aandag te gee aan elkeen van die stukke wapenrusting, te spekuleer oor al die moontlike betekenisse van die gordel of die helm of die borsplaat. So verloor mens maklik die draad van dit wat Paulus eintlik wou sê. En die praktiese nut van sy kosbare lering gaan verlore. Die kernboodskap gaan by ons verby. Onthou hierdie brief was ‘n gewone brief aan die gemeente van Efese, dis nie ‘n letterkundige stuk werk of ‘n tegniese handleiding wat mens moes uitpluis en allerhande verborge betekenisse daarin soek nie. 

BELANGRIKE VERTREKPUNTE 

Nou sal jy dalk vra, maar hoe gaan ons seker maak dat ons hierdie gedeelte wel reg verstaan? Daar is twee belangrike vertrekpunte vir die verstaan van hierdie gedeelte: 

~ Dis tog net vanselfsprekend dat ons hierdie gedeelte oor die wapenrusting moet verstaan in die lig van die hele brief. Hierdie opdragte in hoofstuk 6 vorm tog ‘n integrale deel van die brief, dit sal dus uiteraard logies aansluit by dit wat Paulus in die voorafgaande gedeelte geskryf het. Lees hierdie oorlogsmetafoor saam met die vloei en inhoud van die brief as geheel! 

~ Verder moet ons kyk na die Ou Testamentiese agtergrond wat Paulus verreken het in die skryf van hierdie gedeelte. Paulus het tog sy Bybel geken, dit wil sê die OT en inderdaad sal ons sien dat hy die waarhede en begrippe wat hier gebruik vanuit die OT kry. 

Kom ons kyk eers na die inleidende verse naamlik 10,11. 

"Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 

Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly."  ( Ef 10-13) 

STAANDE BLY! 

Ons word opgeroep om staande te bly teen die liste van die duiwel. Belangrik, die deurlopende klem val op staande bly en nie allerhande avontuurlustige en verbeeldingryke aanvals ekspedisies teen bose magte nie! 

WIE IS HULLE?

Ons stryd is teen Satan en sy trawante wat hier genoem word : "magte, wêreld heersers, bose geeste." Wie en wat is hierdie magte? Nou is dit belangrik dat ons hierdie magte sal verstaan binne die konteks wat Paulus hulle reeds vooraf in dieselfde brief aan ons bekend gestel het. As ons hoor van hierdie magte moet nie toelaat dat ons verbeelding met ons op loop gaan of dat ons die idees van fiksie skrywers (soos Frank Peretti) hier sal inlees nie. Dis dwaas en ongeoorloof om oor die aard, range en identiteite van hierdie magte te spekuleer. Kom ons hou ons by die Bybel! Belangrik : Satan se aktiwiteite en planne is ‘n deurlopende tema in hierdie brief en dis waar ons ons agtergrond inligting vir die verstaan van hierdie gedeelte moet kry. Een basiese feit wat na vore kom is : Hierdie kragte en magte teen wie ons stryd is, is baie magtig, maar ons moet onthou dat hulle volkome onderworpe is aan Christus. God het met krag Chrstus uit die dood opgewek en Hom laat sit “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.” (1:21) Hierdie selfde feit word ook baie duidelik en nog meer uitgebreid in Kolossense gestel. Die implikasie van die kruis was dat “Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.” (Kol 2:15) Die stryd waarin ons ons bevind is nie ’n stryd waarvan die uitslag onseker is nie. Die Satan en sy magte is aan die kruis verslaan. Hoe? Wel deurdat ons sondes gestraf is, het die Satan nie meer aanspraak op God se kinders nie, hy het sy houvas op ons verloor, want God het ons vergewe op grond van Jesus se betaling aan die kruis. Tog is die duiwel nog gevaarlik. Uit hierdie gedeelte kan ons aflei daar is ’n hewige stryd. Hoe werk dit? Miskien kan mens dit vergelyk met ’n groot oorlog...Die groot slag is gelewer,daar is geen twyfel oor die uitslag nie, maar daar is nog opruimingsoperasies en die vyand is nog steeds gevaarlik en kan ons inderdaad baie seermaak. 

DIE DOEL EN METODES VAN DIE BOSE MAGTE 

Ons het gesien ons word opgeroep om vas te staan in ons worstelstryd teen die bose magte. Dis belangrik om te vra wat is die aard van hierdie stryd, hoe val die magte ons aan, wat is die duiwel se oogmerk met ons? Dis baie belangrik om te weet, want anders sal ons tog nie weet hoe om te kan weerstand bied nie. Weereens moet ons ons inligting uit die brief aan die Efesiërs as geheel gaan haal. 

Die werk van die bose soos in Efesiërs beskryf, is moreel van aard. “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander."  (2:1-3) Wat is duidelik uit die beskrywing van die bose magte se aktiwiteite? Die vernietigingswerk van hierdie magte word gesien in die mens se verslawing aan sonde. Die gevolg daarvan is dat mense onder die toorn van God staan. In die ongelowiges se lewe voer hierdie magte totaal die botoon deurdat ongelowiges verslaaf is aan die sonde, oftewel die “werke van die vlees”. 

Alhoewel die kinders van God vrygspreek is van hulle sondeskuld en bevry is van die slawemag daarvan val die duiwel en sy magte ons nog steeds aan om ons weer te laat sondig. Daarom die opdrag in 4:27. “Moenie die duiwel vatkans gee nie.” Weereens die duiwel se oogmerk met ons is moreel van aard - hy wil ons laat sondig. Sy modus operandi, sy werkswyse is om ons te mislei met sy leuens. Die wapen wat die duiwel gebruik om ons te laat val, ons te verwar en ons daartoe te bring om weer die werke van die sondige natuur te doen is dus verraderlike misleiding, listige planne, allerhande slim “schemes”. Hy wil ons weglok van Christus met allerhande truuks. Reeds in 4:14 verwys Paulus hierna. “Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.” Ook in 5:5-6. “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie. Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.” 

Nou is dit baie belangrik om raak te sien, Paulus sluit aan by hierdie gedagte van misleiding in 6:11,12. In die vorige gedeeltes het dit gegaan oor die misleiding deur mense, menslike bedrog en menslike leringe. Versoekings wat via mense na ons kom. Wat Paulus nou hier impliseer is dat ons moet besef dat die duiwel eintlik die een is wat agter die misleidinge sit. Daarom beklemtoon hy dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie. Hy wil dus sê : “Moenie vaskyk teen die bedrog en geslepenheid van mense nie, moenie dink dit gaan sommer net oor menslike versoekings en leuens nie. Dis die Satan self wat agter hierdie misleiding sit, die stryd is veel erger en dieper as wat julle dink! Ons moet die werklike aard van ons stryd besef - dis nie ‘n fisiese stryd teen valse mense en hulle boodskap nie, maar teen die Satan en sy magte. Die werklike vyand is die duiwel en sy listige verraderlike planne en slim stories. Die woord wat hy hier vir liste gebruik is meqodeiaV. (Die woord laat ons dink aan ons woord “metodes”) Dis ‘n vorm van dieselfde woord wat ook in 4:14 gebruik word! So wanneer ons aan die duiwel se vyandelike aktiwiteite teenoor ons dink moet ons veral dink in terme van sluwe verleiding deur middel van leuens tot sonde en ongehoorsaamheid aan Christus. Dis sy taktiek al van die tyd van Adam en Eva af. Kan u sien dit gaan nie hier oor ‘n bedreiging van vloeke of bindinge of besetenheid of sogenaamde gebiedsgeestenie? Nêrens in hierdie brief kry ons so ‘n insinuasie of waarskuwing in die verband nie. Die stryd en die saak waaroor dit hier gaan het betrekking op ‘n morele konflik en ons kwesbaarheid om deur die duiwel mislei te word. 

GENADE VAN GOD EN VERNIETIGINGSWERK VAN SATAN 

Onthou ons het gesê ‘n brief vorm ‘n eenheid. Die groot temas wat in hoofstuk 2:1-10 aangespreek word, word verder uitgepluis in die res van die brief. Die twee groot sake waaroor dit in 2:1-10 gaan is aan die eenkant die vernietigingswerk van die Satan en aan die anderkant die genadewerk van God in Jesus. Die krag van Satan teen die krag van God. Hoe lyk en werk die krag van Satan? Die krag van die Satan kom na vore en word gesien in die heerskappy van sonde en die sondige natuur. 

Waarin kom God se krag na vore? God se krag sien ons deur die genadegawe van geloof in Jesus Christus en die gevolglike doen van goeie werke. (LW - goeie werke is baie prominent hier, maar as uitvloeisel van genade) Die verloste kinders van God word dus opgeroep in die res van die brief om nie ‘n toonbeeld van die verwoestingwerk van die duiwel nie, maar van die genadewerk van God te wees. Byv. in 4:1; 4:17; 5:1,2. Die boodskap is dus : Leef ‘n nuwe lewe soos dit pas by die kinders van God. Natuurlik wil die duiwel dit nie hê nie en gaan hy alles in sy vermoë doen om ons te probeer laat terugval in die sondige patrone van die ou lewe. Dis die doel van die duiwel se listige planne om ons weer ‘n Godonterende lewe te laat lei. In die lig van hierdie bedreiging maak Paulus die oproep in 6:10,11. 

ONTHOU : 

Die duiwel se krag en verwoestingswerk in mense lewens word sigbaar deur sonde, God se krag en genade word sigbaar deur geloof en goeie werke. 

Dis die duiwel se doelwit om deur leuens ons te verlei tot sonde en ongehoorsaamheid aan God. Sy werkswyse is misleiding, leuens, slinkse bedrog. Deur subtiele misleiding wil hy ons sover kry om sy wil naamlik sonde te doen. Wanneer ons dus dink aan die aanslae van die Satan moet ons dus dink in terme van sy misleiding en leuens. Hy gaan uiters slinks te werk dis hoekom dit so gevaarlik is. Hy sal nie sommer sê “”Gaan pleeg owerspel” nie, nee eerder : “Gaan verleen geestelike hulp aan daardie mooi vrou wat so swaar kry...” Hy sal nie direk sê: “Haat God” nie, nee eerder insinueer : “Jong die Here behandel jou darem nie goed nie... So wil hy jou laat verval in onvergnoegdheid en selfbejammering en so sondig ons dan teen God deur sy goedheid en liefde te bevraagteken. Deur gesprekke, films, persone, omstandighede... probeer hy weer om ons ou sondige passies te laat opvlam... 

DIE WAPENRUSTING 

Die antwoord op hierdie subtiele bedreiging van Satan en sy meelopers is om die volle wapensruting van God op te neem. 

Hoe kan ons seker maak dat ons reg verstaan wat Paulus met hierdie wapenrusting bedoel? Ons moenie te veel of te min daarin lees nie. Onthou die brief vorm ‘n eenheid. Nou as mens mooi lees sal mens sien dat Paulus in die hele brief self ‘n voorbeeld is van hoe hierdie wapenrusting gebruik moet word. In die brief self gee Paulus ‘n demonstrasie van hierdie geestelike oorlogvoering.

PAULUS

Paulus se heupe is omgord met die waarheid van die evangelie. Wat behels dit? Hy glo en bevestig die waarheidsboodskap van Christus. Hy het die borswapen van geregtigheid aan. Hy gehoorsaam God (die doen van geregtigheid) en hier in Efesiërs leer hy ander om die pad van geregtigheid te doen. Paulus gebruik die skild van geloof. Hy lewe deur geloof in die krag van God (1:19) Dit beteken om nie te kyk na die sigbare feite nie, maar vas te staan op God se beloftes in Jesus. Hyself het die helm van verlossing op. Hy verheug hom in die vastigheid van die verlossing soos deur Jesus bewerk (1:3ev). Hy bring die evangelie van vrede na die nasies - dis waarmee hy besig is - hy het dus die skoene aan. Nodeloos om te sê - hy gebruik die swaard van die Heilige Gees nl. die Woord van God - lê dit uit. Hy bid vir andere om te groei in die kennis van Christus en sy krag. (en vra ook gebed vir homself) Die brief as geheel illustreer vir ons wat dit beteken om die wapenrusting van God aan te hê en hoe om staande te bly teen die liste van die duiwel. Hierdie laaste gedeelte in Efesiërs 6:10ev is eintlik net die samevatting daarvan in ‘n mooi metafoor. 

REEDS IN DIE OU TESTAMENT 

Ons moet ook kyk na die OT agtergrond as ons werklik wil verstaan waaroor die wapenrusting gaan. Dis baie duidelik dat Paulus se beskrywing en terminologie vir die wapenrusting sterk beïnvloed is deur veral die boek van Jesaja. Een groot saak word duidelik as ons na die OT gaan - die wapenrusting van God is die wapenrusting wat God self dra. Dit vergestalt God se modus operandi soos gesien in die lewe van Jesus. Luister na die beskrywing van die Messias in Jesaja 11:5 (OAV) “En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.”** Die Here self sit die (gordel) geregtigheid aan in sy stryd om sy volk te bevry. Met ander woorde Hy is volmaak sonder enige ongeregtigheid soos die versoeking in die woestyn bevestig het. (Jes 59:17) Dis die Here self wat die boodskap van verlossing uitroep. (Jesaja 52:7) In die psalms is die Here self die skild waaragter die gelowige skuil. (Genesis 15:1, Psalm 91:4) Hier word sommer ‘n baie belangrike saak onder ons aandag gebring. Dis nie ons sterk geloof opsigself wat ons skild is wat ons beskerm nie. (dit sou nie ‘n baie veilige skild wees nie, want ons weet hoe wankelbaar ons geloof is) Dis God en sy getrouheid wat ons skild is, Jesus en sy volmaakte werk. God beskerm ons - ons fokus is dus nie op hoe sterk ons geloof is nie, maar op hoe sterk ons Here en Verlosser is. En as ons op Hom fokus en in swakheid ons vertroue op Hom plaas, wel dan het ons geloof. Dit gaan dus nie oor die kwaliteit van ons geloof nie, maar oor die objek van ons geloof. Die Here word geskets as die Een wat die helm van verlossing dra. “En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in 'n mantel.” (Jesaja 59:17) 

Hy bring vaste en onaantasbare verlossing. Die Woord van God is die swaard wat uit die mond van die Messias gaan. Jesus het God se Woord aan ons gebring. (Jes 49:2 en vgl. ook Openbaring 1:16) 

JESUS EN SY WERK 

Ons het gesien die wapenrusting is maar eintlik ‘n beskrywing van Jesus se persoon en werk. Om die wapenrusting op te neem is om jouself met Christus te beklee, Hom te vertrou, te gehoorsaam. Toets nou maar dit aan die beskrywing van die wapenrusting : 

~ Die gordel van die waarheid is die evangelie waarheid met ander woorde waarheid van Jesus se persoon en werk. Dis om vas te klou aan en te bly staan by die waarhede, die feite van die evangelie al gebeur wat. 

~ Die borswapen, die harnas van geregtigheid. Die geregtigheid is die geregtigheid van Christus - hier bedoel in subjektiewe sin nl. om te leef soos Hy geleef het.*** (dis duidelik uit konteks van Efesiërs waar die term geregtigheid****   gebruik word in die konteks van ‘n oproep tot ‘n heilige lewenswandel - Ef. 4:23,24) Praktiese gesproke die najaag van wat reg is. 

~ Die skoene is die bereidheid vir die evangelie van Christus – om daarin te volhard, daarby te bly en dit verkondig! ( ‘n lang redekaweling of die bedoeling hier is ons commitment tot die evangelie of die uitdra daarvan is irrelevant - die twee aspekte sal noodwendig saamgaan), 

~ Die skild van die geloof, is geloof in Christus. Prakties sal dit behels om volkome op Hom en sy werk namens my staat te maak. (weereens nie op my geloof staat te maak nie, maar op Christus se volmaakte krag en sy volmaakte versoeningswerk in my plek, om blindelings sy beloftes te vertrou) 

~ Die helm van die verlossing is die vaste hoop op die Verlossing wat Hy, Jesus bewerk het. Hierdie verlossing is ’n uitgemaakte seker saak, want dis nie iets wat ’n feilbare mens bewerkstellig het nie. Nee, Christus het dit deur sy dood en opstanding eens en vir altyd verseker. Hierdie hoop dra my in alle omstandighede en laat my volhard ongeag die sette van die duiwel om my mismoedig te maak. 

~ Die swaard, die Woord van God is die Woord waarvan Jesus Christus self die sentrum is. Die Woord lei ons voortdurend weer na Jesus, vestig ons aandag op wat Hy gedoen het. Dit bring ons telkens weer by ’n ontmoeting met die lewende Jesus! 

AANTREK 

Kan u sien : Alles fokus ons op Jesus! En dis nou waar die gebed inkom. “Doen dit alles biddend” (NAB) Gebed is die aantrek of aanwending van die wapenrusting. Gebed is vertroue op Christus prakties geïmplimenteer. Daar's geen duideliker of meer direkte manier hoe om jou prakties tot Christus te wend nie, dis tog die manier waarop ons uiting gee aan ons verstaan van die waarheid, aan ons geloof en vertroue ens. Gebed is praktiese gehoorsaamheid aan die Woord, ‘n beoefening van geloof, ‘n staatmaak op Christus alleen. 

’n Biddelose mens het dus nie die wapenrusting aan nie! 

’n Gebrekkige en verwaarloosde gebedslewe maak jou weerloos teen die Satan se listige aanslae. Die Christen wat nie knieëwerk doen nie is ’n sagte teiken.

Kan jy sien, om die wapenrusting van God aan te trek is nie ‘n klomp ingewikkelde stappe of rituele of tegnieke nie. Eenvoudig kernagtig stel David Powlison dit so : “To take up the armour is simply to live in Christ”. Ek bly staande teen die misleiding van Satan en sy bose magte deur voortdurend op Jesus te vertrou, op Hom te hoop, sy opdragte te gehoorsaam, in die genoegsaamheid van sy offer te rus. Dit behels o.a. dat ek voortdurend in biddende afhanklikheid van Jesus sal leef. Die uitdaging is - beoefen voortdurende vertrouende kontak met JESUS. Dis die verrassing van die wapenrusting, dis nie iets ekstra of nuut nie, dis maar net 'n metafoor om ons weer te wys op Jesus se heerlikheid, mag, genoegsaamheid en ons weer terug te bring na die "basics" van die evangelie! Fokus biddend op Jesus! Bring jou denke doelbewus en keer op keer by Jesus en wat Hy gedoen het, stel telkens weer opnuut jou vertroue op Hom en Hom alleen. Dit gaan dus oor Jesus en sy krag nie oor ons tegnieke nie. Dis die hoofgedagte en dit word bevestig as ons na die inleiding tot die hele gedeelte oor die wapenrusting kyk. Vers 10 - “word kragtig IN DIE HERE en die krag van SY sterkte”



* Erkenning aan D. Powlison, "POWER ENCOUNTERS - Reclaiming Spiritual Warfare" wat hierdie deel van die Skrif vir my oopgemaak het en waaruit ek die bogenoemde verkry en verwerk het.

** “trou” in OAV word met “waarheid” in die LXX vertaal.
Kyk gerus na al hierdie Skrifgedeeltes:

Jesaja 11:5 (OAV) En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou (waarheid) die gordel van sy heupe wees.

Jesaja 59:17 En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in 'n mantel.

Jesaja 52:7 Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!

Psalm 91:4 Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.

Jesaja 49:2 En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek; 



*** Die konteks van die brief as geheel waarin Paulus die gelowiges tot heiligheid en goeie werke aanspoor vereis dit. Ek moet dus (ongelukkig) hier met Martyn Lloyd-Jones verskil. Hy gebruik hierdie term hier om die hele leerstelling van die regverdigmaking deur die geloof, toegerekende (imputed) geregtigheid te verduidelik. (Die 1983 NAB sien dit ook so en vertaal dus geregtigheid met vryspraak) Myns insiens is die leerstuk van die regverdigmaking/vryspraak deur die geloof eerder geïmpliseer in die skild van geloof. Geloof in Jesus se volmaakte versoeningswerk in my plek waardeur ek onveroordeeld voor God kan staan. Ek dink Martyn Lloyd-Jones maak die fout om hier te veel dogma in die teks in te lees eerder as om meer ag te slaan op die onmiddellike konteks van die gedeelte soos gevind in die res van die brief. 

**** dikaiosunh



Satan is slinks en gevaarlik, hy reël vir jou 'n vriendelike ontvangs...

Donderdag 04 Junie 2015

UITVERKORENES MOET GOD LOOF!

- IS JY IN?

Alles in God se Woord is belangrik, maar as ‘n saak by herhaling direk en indirek genoem word, moet ons seker ons ore 'n bietjie ekstra spits en besondere aandag gee. Een van die begrippe of sake wat dwarsdeur die Woord by herhaling genoem word is God se uitverkiesing van mense.* Woorde soos "uitverkies, uitverkorenes, bestem, Sy voorneme..." loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament.

Dink maar sommer so vinnig aan die Bybelse geskiedenis: God kies om Noag en sy gesin te red tussen al die bewoners van die aarde. God kies vir Abram (uit baie ander heidene) om juis met hom ‘n verbond te sluit. God kies Abram se seun Isak en nie die oudste Ismael nie, om die verbond voort te sit. Dan kies God weer een van Isak se tweelingseuns , Jakob en nie die eersgeborene Esau nie. Baie jare later as God ‘n koning vir Samuel aanwys uit die seuns van Isai dan kies hy die jongste een Dawid. As Jesus ‘n spesiale groep kies om sy binnekring dissipels te wees dan kies Hy twaalf manne en opvallend, Hy kies hulle nie tussen die geleerde skrifgeleerdes in Jerusalem nie, maar uit eenvoudiges soos vissermanne.


Paulus skryf aan die Christene van Efese en let op al die begrippe wat betrekking het op God se verkiesing en vooraf besluite : “uitverkies” (4) “genadige beskikking, bestem” (5) “sy besluit en voorneme” (9) “vooruit al bestem het, voorgeneem, sy raadsbesluit” (11) (Sien teks onderaan)

Kom ons kyk net kortliks na drie praktiese aspekte van God se uitverkiesing :

Wat is die maatstaf vir God uitverkiesing? Soewereine genade! Met ander woorde God kies mense omdat Hy wil, omdat Hy hulle liefhet en bloot omdat Hy hulle liefhet! Hierdie beginsel word so pragtig in Deuteronomium 7:6-8 met betrekking tot Israel gestel : “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.” 

Dis duidelik : God kies nie soos mense kies nie. God kies nie volgens prestasie of menslike maatstawwe nie. (soos iemand gesê het - "nie die cream vir die team nie.") Die leer van die uitverkiesing onderstreep net dat ons redding heeltemal uit genade is, sonder enige verdienste van ons kant af. Dit het immers reeds voor die skepping gebeur, voor ons nog enigiets ouliks kon doen.   Wat ‘n groot troos! Want as Christenskap oor prestasie gegaan het, wie van ons sou ‘n kans gestaan het? Dan was daar geen goeie nuus in die Bybel vir sondaars nie. God kies sondaars, regte sondaars soos Petrus en Paulus en maak van hulle getuies! Die Here sê byvoorbeeld van Paulus : “Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.” (Handelinge 9:15)

Uitverkiesing en genade is sinoniem. As daar nie iets soos onverdienstelike uitverkiesing uit genade was nie, wie van ons sou 'n kans staan om in die Koninkryk in te gaan? 

Uitverkiesing blokkeer nie ons pad na die hemel nie, dit open die enigste pad!

WAT VAN MY?

Hoe weet ek of ek uitverkies is? Uitverkiesing staan nie los van Jesus Christus nie, maar is direk gekoppel aan Hom. (4) “deur Christus” (lees weer 11,13) As jy deur geloof verbind is aan Jesus, deur Hom die vryspraak ontvang het is jy ‘n uitverkorene! Jy weet nie dat jy ‘n uitverkorene is deur een of ander spesiale openbaring of visioen nie. Jy word uitgenooi om in Jesus te glo en Hom te aanvaar en as jy dit gedoen het, weet jy jy is ‘n uitverkorene! Calvyn het dit treffend gestel : Christus is die spieël van die uitverkiesing! Ek sien gelowig op Jesus en dan sien ek in Hom dat ek uitverkies is! God se GROOT UITVERKORE GELIEFDE** is Jesus en in Hom is ek ook 'n uitverkorene!

Hoe moet ek reageer op die feit van die uitverkiesing? Vir baie mense het die leerstuk van die uitverkiesing ‘n onderwerp vir filosofiese spekulasie geword. Bespiegeling oor 'n donker lys en wie se name daarop is of nie... Dit is egter nie hoe die Bybel oor uitverkiesing praat nie. Die Bybel praat met God se kinders hieroor in die konteks van lof en aanbidding. Sekerheid en blydskap. Ons verbly ons oor die feit dat ons verlossing seker is, omdat dit nie van ons goedheid afhang nie, maar gegrond is op God se ewige genadige besluite en raadsplanne. Paulus verweef sy lering oor God se verkiesing hier met die tema van lof! Vers 3,6,12,14. Die heerlike feit van die uitverkiesing roep ons op om in dankbaarheid heilig te lewe en God te loof! Ons is immers uitverkies om heilig en onberispelik te leef.

Uitverkiesing in die Bybel is nie iets om oor te debateer nie, maar om oor te juig!

Lees en kyk self in Efesiërs 1:4-14 hoe die temas van genade, lofprysing en uitverkiesing met mekaar verweef is. As ons dus die uitverkiesing nie verstaan as iets om oor bly te wees nie, verstaan ons dit verkeerd!

(4) So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

(5) In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

(6) Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

(7) Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God

(8) wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

(9) Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak

(10) en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

(11) Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

(12) Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.

(13) Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.

(14) Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Is jy in? Juig jy saam? As jy nie seker is nie, kan jy vandag Jesus se uitnodiging (Matt 11:28) aanvaar en begin saamjuig!

*Hierdie is uiteraard nie 'n volledige behandeling van leerstuk rondom die uitverkiesing nie, maar binne 'n pastorale konteks 'n fokus op die lofaspek daarvan.

** Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. (Jesaja 42:1 OAV)

Oor UITVERKIESING en MENSLIKE VERANTWOORDELIKHEID kliek op ROBOTTE?









NIE ROBOTTE NIE

- God se soewereine uitverkiesing reduseer ons nie tot willose houtpoppe sonder verantwoordelikheid nie!

Ons moet daarteen waak om nie die uitverkiesing deterministies mis te verstaan nie. In die uitverkiesing gaan dit inderdaad oor God se voorbeskikking, maar ons moet in gedagte hou dat daardie voorbeskikking van ’n unieke aard is. ’n Deterministiese denke oor die uitverkiesing skryf wel die volle heil aan God se genade toe, maar kan nie verstaan dat die genade van God juis die volle aktiwiteit van die mens oproep en so die mens met sy geloof en bekering ten volle by die ontvangs van die heil betrek nie.

God beskik op sodanige wyse oor die mens, dat die mens se menslikheid, vryheid en verantwoordelikheid nie opgehef word nie. God tas in sy beskikking oor die mens nie sy persoon-wees aan nie, oorweldig hom nie en dwing hom nie, maar trek hom onweerstaanbaar deur sy liefde (Joh 6:37) en werk in hom die vryheid om sy eie redding met vrees en bewing uit te werk (Fil. 2:12-13).

God se uitverkiesende wil word verwerklik deur die werk van die Gees en langs die weg van die genade middele : die verkondigde Woord en die Sakramente waarop die mens in geloof antwoord. Omgekeerd geskied die verwerping in die weg van die verset teen die Woord en die genade van God. Die groot verdedigers van die leer van die uitverkiesing soos Augustinus, Luther en Calvyn het, ondanks die gebrekkigheid van hulle woorde, die saak waarom dit hier gaan, intuïtief in ’n diep godsdienstige verhouding voor die aangesig van God verstaan. Wanneer ’n mens in die geloof voor die aangesig van God staan, weet hy dat God oor alle dinge beskik en dat hy met elke vesel van sy bestaan van God afhanklik is, en tog weet hy terselfdertyd dat hy geen marionet is nie en dat hy God in geen enkele opsig verantwoordelik kan hou vir sy eie sonde en ongehoorsaamheid nie. In die verwerping is die mens nie die slagoffer van ’n duistere besluit van God nie, maar ontvang hy die regverdige vergelding van wat hy gekies en gesoek het. In die werklike situasie van die mens voor die aangesig van God kan dié twee dinge albei vasgehou word : dat die verlossing volkome uit God is, maar dat die mens tog volkome daarby betrokke is, sodat alle lof vir die genade aan God gegee moet word, terwyl die skuld vir die mens se ongeloof en verlorenheid ten volle op sy eie skouers rus.


(Aangehaal/effens verwerk uit W. D. Jonker, UIT VRYE GUNS ALLEEN)


Dinsdag 02 Junie 2015

SELFMOORD

- een elke 40 sekondes!



Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het onlangs hierdie skokkende stuk statistiek bekend gemaak. Volgens hierdie syfers is selfmoord die tweede grootste oorsaak van dood by jongmense in die ouderdomsgroep 15 tot 29 jaar. Onmiddellik moet ons sê dat wanneer ‘n saak soos selfmoord op die tafel is, ons kwalik in terme van statistiek kan praat of dink. Die hartseer impak, rou seer en selfverwyte van die agtergeblewenes, onbeantwoorde vrae en ontwrigting op alle terreine kan nouliks in stom statistieke vergestalting vind. Om die versagtende woord “selfdood” te gebruik vat ook nog niks weg van die skrikwekkende hartseergevolge van so ‘n daad nie!



WAAR IS HY/SY NOU?


Die groot (dikwels onuitgesproke) vraag wat die Christenouers, familie of vriende van die selfmoordenaar teister is : “Waar bevind my kind of my geliefde hom nou? Is hierdie nie ‘n sonde wat mens beslis hel toe neem nie, want daar was dalk nie tyd vir vergifnis vra nie?”

IS SELFMOORD 'N ONVERGEEFLIKE SONDE? 

Die verkeerde manier om dit te antwoord is met ‘n oppervlakkige stelling soos : “Ja, selfmoord is sonde, maar wie van ons doen nou nie sonde nie?”  Of 'n holle troostersousie van : "Eintlik het hy nou rus van sy probleme of eintlik was hy dapper om so iets te doen." Dan is daar selfs die arrogante alwetende dominees wat met sekerheid verklaar dat selfmoord nie sonde is nie!* Nee, vir ‘n duideliker perspektief moet ons bietjie dieper kyk...

REGVERDIGMAKING (VRYSPRAAK)

Wanneer ons oor die selfmoordenaar se eindbestemming nadink moet ons begin by idie Bybelse begrip en leerstelling van vryspraak/regverdigmaking (justification). Daar is immers net twee soorte mense op aarde : die vrygespreektes (in Christus) en die skuldiges (in Adam). My ewige bestemming hang van net hierdie een vraag af : Is ek ‘n vrygespreekte/geregverdige of nie?

Vryspraak/regverdiging is ‘n juridiese begrip. God verklaar – en hoor nou mooi – “goddeloses vry” as hulle in Jesus Christus glo. (Rom 4:5) Hierdie mense het dan vrede met God (Rom 5:1) en staan onder geen veroordeling meer nie. (Rom 8:1) Hierdie vryspraak beteken dat ons sondeskuld, die rekeninge wat teen ons getuig vir ewige en altyd uitgewis is! (Kol 2:13,14) Die kind van God, as vrygespreekte het volkome genade ontvang en God dink nie meer aan my sonde nie – en dit geld al my sonde, van die verlede, hede sowel as toekoms! Vir meer duidelikheid, kliek op VRYSPRAAK

Die sondaarmens se ewige bestemming word dus nie bepaal deur watter sondes hy gedoen of nie gedoen het nie, ook nie of ek kans vir sondebelydenis gehad het of nie, maar net deur hierdie een saak : Is ek iemand wat vryspraak ontvang het? Natuurlik oortuig die Gees van God sy kinders van sonde en dit bring hulle tot belydenis, maar my saligheid hang nie van daardie belydenis af nie! Anders sou dit beteken dat elke mens heeltyd sou rondskuif van vry tot verdoem, afhangende van sy belydenis ... en die erns van sy belydenis. Dan word redding weer ‘n saak van menslike verdienste, en dit is duidelik nie wat God se Woord leer nie.

SONDE, EN TOG...

Natuurlik is selfmoord ‘n sonde! Die sesde gebod sê baie duidelik: “Jy mag nie moord pleeg nie.” Enige vorm van moord en doodslag is verkeerd, ook selfmoord. Die Heidelbergse Kategismus sê in sy verklaring van hierdie gebod: “Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.”

God is die Gewer van die lewe. Lewe, die lewe van elke mens is ʼn geskenk van God. Niemand het dus die reg om te besluit oor die neem van die lewe van enige mens nie - behalwe in die geval van ’n regter wat ʼn moordenaar ter dood veroordeel en wat as regter in diens van God staan (Rom. 13). Niemand mag dus ook besluit om sy eie lewe te neem nie, want my lewe is God se eiendom! Dit kom neer op vergrype teen God!

Natuurlik is selfmoord ‘n baie ernstige sonde en in baie gevalle die aardse uiteinde van ‘n toestand van Godverlatenheid en rebellie soos in die geval van Saul en Judas. Nooit maar nooit, mag ons aan selfmoord dink as 'n dapper daad nie!

Natuurlik is dit ons plig om mense wat in hierdie rigting neig ernstig te waarsku en met alles binne ons vermoë te help. Betyds hulle noodkrete te hoor en betyds uit te reik. En laat ons dit maar duidelik sê, selfs die diepste gelowiges met die grootste insig in God se genade kan in hierdie versoeking en sonde val, weens erge depressie of ander redes. (Dink maar aan die hartseer geskiedenis van die bekende William Cowper en ook aan die merkwaardige ondersteuning wat hy van sy nog meer bekende vriend John Newton ontvang het.)

...IS DAAR HOOP!

Sonde, alle sonde is erg en doen God se eer skade aan. Maar as ons die Bybelse lering oor regverdiging/vryspraak glo weet ons :

Die selfmoordenaar wat wel ‘n vrygespreekte is, se selfmoord kan hom nie uit die hemel hou nie! Die volledige offer van Jesus aan die kruis vir so ‘n persoon was genoeg vir ALLE sondes, ook die sonde van selfmoord. Indien dit dan sou gebeur dat ‘n vrygespreekte die sonde van selfmoord begaan, is dit ‘n sonde wat net soos ander sondes oneer aan sy naam bring en wat Hy nooit sal goedkeur nie, maar dis ook ‘n sonde, soos alle ander sondes waarvoor Jesus se offer genoegsaam was.

[erkenning aan ds. Sors Geldenhuys]




[Ook vir God se kinders kan dit soms voel of die water net te diep raak...]

*Kliek op WILDE STELLING OOR SELFDOOD




Maandag 01 Junie 2015

VERSTAAN JOU OMSTANDIGHEDE REG

- en herwin so jou blydskap as kind van God!


Dis geen geheim nie. Ook God se kinders word dikwels blootgestel aan swaarkry, teleurstellings, ongelukke en allerhande siektes, kwale en ellendes in hierdie lewe. Ja, soms uiters pynlike en onverklaarbare smart... As ons hierdie dinge nie reg verstaan nie, kan dit veroorsaak dat ons ons blydskap verloor en in moedelose swartgalligheid verval. En onthou, Satan is altyd baie gou by om sy eie verdorwe interpretasie aan jou ellende te gee... Hy koggel jou en probeer twyfel saai: “Is dit nou hoe ‘n God van liefde sy kinders behandel...?” Of dalk nog erger : “Sien jy het altyd gedink jy behoort aan God, maar hierdie ellende wys dat jy nie syne is nie...” HEBREËRS 12:5-11* is uiters belangrik as ons as kinders van God die moeilike omstandighede waarin ons ons dikwels bevind reg wil verstaan.

GOD SE REGTIGE EIE KINDERS

Die skrywer bemoedig hierdie kinders van God wat swaarkry: “Wag ’n bietjie julle interpreteer julle swaarkry verkeerd. Julle maak verkeerde gevolgtrekkings! Julle moet hierdie swaarkry in die regte perspektief sien. As julle die doel van hierdie toetse, teenstand en teleurstellings reg verstaan gaan dit juis rede wees vir blydskap en nie vir moedeloosheid nie. Hierdie toetse, teenstand en teleurstellings is ’n bewys dat julle werklik God se kinders is en dat Hy julle werklik liefhet.”

Kom dink bietjie saam met my : As daar stout kinders in die straat verby my stap, dissiplineer of tugtig ek hulle nie. Hoekom nie? Dis nie mý kinders nie. As my eie kinders leiding, opvoeding of straf nodig het gee ek wel dringend aandag aan die saak. Hoekom? Dis MY kinders en ek stel intens belang in hulle welsyn en vorming! Die feit dat God ingryp in ons lewens, ook deur swaarkry en teleusrstellings, bewys dus dat ons sy eie egte kinders is!

Geliefde jy moet besef, die probleme wat jy as kind van God ervaar is ’n bewys dat Hy besig is met ’n opvoedingsproses in jou lewe. Dit beteken ook nie noodwendig dat jy iets verkeerd gedoen het nie. Dit gaan oor bevordering en ontwikkeling van jou geestelike volwassenheid. Dis ‘n leerproses.

TWEE MANIERE VAN OPVOEDING

Ons weet mos daar is basies twee maniere hoe ons as ouers (en God ook) kinders opvoed : deur woorde/inligting, maar ook deur dissipline of straf. Ons weet ook woorde is selde genoegsaam en ander stappe is nodig om ‘n kind te vorm en op te voed. Net so in God se geval met ons. Die Woord alleen is selde voldoende.... God is dus genoodsaak om tugtiging in ons lewens te gebruik.

Die tugtiging, die toetse, teenstand en teleurstellings wat Hy oor ons lewens toelaat, is dus nie ’n teken dat Hy ons afgeskryf het nie! Nee, juis die teenoorgestelde, dis ’n bewys dat Hy intens besig is met ons. Kom ek vra jou : Is jy ’n kind van God? Ervaar jy op hierdie oomblik een of ander toets, teenstand of diepe teleurstelling? Dank God Hy is op hierdie oomblik werksaam in jou lewe! Moenie mismoedig word nie, Hy het ’n baie spesifieke doel met jou. Hy weet presies wat Hy jou deur hierdie swaarkry wil leer. (Natuurlik, alle mense beleef swaarkry, nie net Christene nie. Die verskil lê in die effek - swaarkry dryf ’n kind van God al nader na die Here , terwyl ’n onbekeerde wat swaarkry dikwels al hoe meer verhard en verbitter word.)

DIE GROOT DOELWIT

Wat is God se doelwit met sy kinders hier op aarde? Vers 10 - “sodat ons in sy heiligheid mag deel!” Dis 'n mondvol! God wil hê jy moet net so heilig soos Hy word. Dis hoekom Hy jou gered het. Dis sy ideaal vir sy kinders. Sê nou maar ’n sekere man is ’n beroemde jagter. Hy wil hê sy seun moet ook so word. Nou leer hy hom... deur woorde, maar ook deur swaarkry in die harde werklikheid. Hy vat hom saam veld toe dat hy kan leer om vas te byt en deur te druk, hy laat hom toe om foute te maak, te voel hoe dit is om mis te skiet en teleurgesteld te word. ... Ja, die jagters sal weet, hy laat jou die hele dag agter ‘n gekweste bok aanloop... so leer jy op die harde manier, kosbare lesse en tel ondervinding op wat op geen ander manier verkry kan word nie. God wil hê jy moet heilig word soos Hy! Hy weet watter metodes om te gebruik.

Kom ons raak nou sommer prakties. Deel van God se heiligheid is byvoorbeeld geduld. Nou sê God vir ons in Sy Woord om geduldig te wees. Maar wie gehoorsaam dit dadelik. So wat doen God? Hy bring jou in ’n slegte situasie, waarin jy gedwing word om geduld te beoefen....en hy sal aanhou totdat jy geduld geleer het. (Daardie lang ry in die bank, kinders wat jou geduld beproef, familie omstandighede wat jou tot die uiterste beproef...)

ONS REAKSIE

Wat moet ons reaksie wees in tye van tugtiging? Verdra! (7) Moenie in opstand kom teen die Here nie, laat Hy maar die pad met jou loop! Onderwerp jou aan sy tugtiging (9) “Here wat moet ek nou leer?” Sê : “Here ek buig voor U, verander my!”

Nou ja, hierdie tugtiging wat ons tans beleef is nie lekker nie. Dit laat ons huil! Jy kners op jou tande as die Here jou in daardie lang ry laat staan, jy wil huil oor jou moeilike familie of eggenoot, uitputtende werksomstandighede, vernederings, verontregting en baie ander dinge wat druk en skaaf. Jy is platgeslaan deur 'n ramp...  Voorwaar dit is nie lekker nie. Die Bybel is so realisties. Hy sê dit in vers 11. (Lees) Later het hierdie tugtiging egter heerlike positiewe gevolge. Vrede. ’n Diep innerlike blydskap omdat jy nou al meer in lyn leef met God se wil. Omdat jy ‘n dieper vlak van geestelike insig en volwassenheid bereik het.

ONTHOU NET : DIE HEMELSE VADER WAT ONS OPVOED IS ‘N LIEFDEVOLLE VADER! HY DOEN NIKS WAT NIE NODIG IS NIE EN OOK NIKS WAT ONS NIE SAL KAN HANTEER NIE.

Kind van God as jy regtig God se kind is kan jy maar tugtiging (opvoeding) te wagte wees. Jy gáán toetse, teenstand en teleurstellings beleef. Dis deel van die Christelike wedloop. Maar onthou dis daar met ’n heerlike doel : God wil jou heilig maak! Vir God is jou heiligmaking ’n prioriteit. Want ware heiligheid lei tot ewige ware blydskap!

Waak teen vier wanopvattings (vier valse stellings) :

1. ’n Kind van God se lewe is altyd lekker en sonder probleme. Nee! Nee, dis ‘n eensydige en valse beeld. Oral in die Nuwe Testament word God se kinders gewaarsku dat hulle stryd, beproewings en verdrukking te wagte kan wees. Baie Christene ken egter nie die Woord nie, en is nie voorbereid op moeilikheid nie.

2. As ek hard genoeg bid sal die Here my omstandighede verander. Nee! Hy wil JOU verander. Paulus se gebed dat die Here die doring in sy vlees moet wegneem is die klassieke voorbeeld. God het nie hierdie gebed beantwoord nie, maar hom wel verseker “My genade is vir jou genoeg...” (2 Korintiërs 12:8,9)

3. God se ideaal vir ons hier op aarde is rykdom, gerief en gesondheid. Nee! Verandering na Jesus se beeld is vir God eerste prioriteit. God wil ons vorm dat ons soos Jesus sal word. Ek moet optree soos Jesus in daardie moeilike huislike of werksomstandighede sou opgetree het! (Romeine 8:28-30) Hy wil ons geestelik herstel om in te pas by sy Koninkryk . 

4. As dit swaar gaan is dit omdat die Here my minder liefhet. Nee, juis is dit ’n bewys dat Hy vasberade is om jou nie te los nie, maar te verander. En Hy doen dit omdat Hy vir jou lief is en vir jou ewige welsyn omgee. Selfs al tugtig en dissiplineer Hy ons is dit uit liefde. Onthou weereens, die Hemelse Vader wat ons tugtig is ‘n volmaak liefdevolle Vader en nie ‘n wrede kindermishandelaar nie. 


PASOP VIR VERKEERDE GEVOLGTREKKINGS OMTRENT JOU HUIDIGE MOEILIKE TYE EN OMSTANDIGHEDE! Satan probeer jou mislei, moenie na sy influisteringe luister nie, maar kyk wat sê die WOORD.

*(Hebreërs 12:5)Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

(6) want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem."

(7) Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

(8)As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.

(9) Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?

(10)Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

(11) Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

(12) Versterk daarom die slap hande en die lam knieë

(13) en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.


[Hoogwater, Walvisbaai strandmeer.]