Bladsye

Sondag 09 Junie 2013

GOD SE VERBONDSTROU

staan onwrikbaar vas, maar vra van jou ‘n keuse!

Hoe kan ek seker wees die Here het my vergewe? Hoe kan ek daagliks sonder vrees leef en weet dat God vir my sal sorg?  Hoe kan ek moed hou te midde van swaarkry en vervolging? Hoe kan ek in die aangesig van die dood, op die drumpel van die ewigheid, vrede beleef en weet dat God my as sy kind aangeneem het?

Ek kan net vrede en sekerheid beleef as ek ten volle oortuig is dat God getrou is aan sy beloftes! Maar hoe weet ek dat God altyd sy beloftes hou? Die antwoord kry ons in die verbond.  (God se kontrak) Die vraag is dan : Was God deur die eeue getrou aan sy verbondsbeloftes? Wat sê die feite? Dis tog maar feite wat tel. In die alledaagse lewe het ons dit mos al baie teëgekom- mense maak pragtige beloftes, maar niks gebeur nie.  

Wat van God, doen Hy sy beloftes gestand?

Kom ons kyk na die getuienis van die geskiedenis. Vir ongeveer vier honderd jaar is die nageslag van Abram nou al in Egipte.  Baie ellende en miskien baie vrae. Wat het geword van God se beloftes? Van ‘n eie land?  Het God vergeet, is Hy dalk magteloos? Dis net swaarkry en ellende. Dit gaan al erger. God se volk roep tot Hom. Dan lees ons:

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan.
God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

Hoor mooi : “God het...aan sy verbond gedink” Dit beteken nie dat God vir ‘n tyd van sy verbond vergeet het nie – God kan nie vergeet nie – dis maar menslike taal om te sê, God het besluit om te reageer op sy verbondsbeloftes. God het besluit dis nou die tyd om op te tree soos Hy beloof het aan Abram.

In die volgende hoofstuk sien ons wat God se aksie behels. (eintlik het God lankal al begin met die voorbereiding, met Moses in die mandjie...die opvoeding in die Egiptiese paleis...) Maar nou word dinge tot ‘n spits gedryf, God openbaar Homself aan Moses in die brandende bos en roep hom om die volk uit Egipte te lei. (Eks 3:1-10) Let veral op vers 6. “Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Dit kom daarop neer, Ek is die God wat met hulle ‘n verbond gesluit het, en Ek gaan nou die volk red omdat Ek getrou is aan my verbond! (nie omdat die Israeliete so oulik was nie!)

Ons ken die geskiedenis verder. God het getrou gebly aan sy verbond en die volk uit Egipte verlos deur Moses. Oppad na die land Kanaän het God sy verbond met Israel by die berg Sinaï vernuwe en die wet vir hulle gegee. Maar ons ken ongelukkig ook die hartseer geskiedenis van wat met Israel gebeur het in die beloofde land. Hulle het oor jare en jare ontrou geword aan God se verbond, totdat God gesê het : “Genoeg is genoeg!” Hulle is verdryf uit hulle land in ballingskap in Babilonië. Maar was dit die einde van als? Gelukkig nie. Die volk was ontrou, maar God kan nooit ontrou wees nie. God se liefde maak dat Hy nie moed opgee nie. Deur die profete het God ‘n nuwe verbond belowe. ‘n Beter verbond. In die plek van die ongehoorsame mens sou Hyself ‘n betroubare mens as verbondsvenoot stuur, Jesus Christus.

Die getrouheid van God aan sy verbondsbeloftes bereik ‘n hoogtepunt met die koms van Jesus, as Hy gebore word uit die maagd Maria. Kom ons luister na haar loflied nadat sy deur die Heilige Gees swanger geword het. (Lukas 1:46-55)  Hoor wat sê sy in 1:54,55 – “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." Weereens, dit gaan oor die getrouheid van God aan sy verbond...eeue en eeue nadat Hy die verbondsbeloftes aan Abram gemaak het.

Die geskiedenis gee dus ‘n duidelike uitspraak : 

God doen wat Hy beloof in sy Verbond. 

God se Verbondstrou staan onwrikbaar vas. Dis die vaste fondasie van ons hoop en sekerheid. Nie ons  wispelturige gevoelens of wisselende emosies nie, maar God se vaste verbondsbeloftes!

Glo jy God se beloftes? Dis baie maklik om vas te stel. Het jy jou al tot Jesus Christus bekeer en tot geloof in Hom gekom? Het jy al jou rug gedraai op die sonde en die genade aangegryp? Jesus, die Gekruisigde Verlosser is die hoogtepunt en vervulling van God se verbondsbeloftes, in Hom is al die genadebewyse van God gekonsentreer. Hyself is God se volledige Verbondspakket!  Jy kan Hom persoonlik vertrou, want God kan nie lieg nie. Romeine 10:11 sê : “Niemand wat in Hom glo sal teleurgestel word nie” en 13 “elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word”

God se verbondsbeloftes dwing mens tot ‘n keuse.  Dit deel alle mense in twee kampe.

As ek dit glo en my tot Jesus bekeer is dit die fondasie van sekerheid en blydskap, want ek weet God doen wat Hy beloof.

As ek my nie bekeer nie, is God se getrouheid aan sy woord juis die bevestiging van ‘n ewige verdoemenis. In Hebreërs 2:3 vra die skrywer : “hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het?” Ja, as ek Jesus verwerp (selfs deur Hom net te ignoreer) bly daar geen ander verwagting oor as ewige smart nie.

As God mos die waarheid praat wanneer Hy redding beloof, beteken dit ook dat Hy die waarheid praat as Hy ewige straf beloof. 

God se onkreukbare integriteit sny immers na twee kante toe! Verlossing maar ook oordeel.


Mag ons almal betyds positief reageer op God se getrouheid, op sy heerlike waar beloftes... Omhels Jesus Christus in sy volle genadeheerlikheid!


Greg en Anja Williams met klein Lincoln. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.