Bladsye

Vrydag 11 Januarie 2013

JESUS BIED STEEDS HOOP


 – al misluk alles en almal.

(Lees eers die aangrypende gebeure in MARKUS 9:14-29) 

Gewoonlik praat mense aan die begin van die jaar oor nuwejaarsvoornemens, ek dink ons moet liewers eers kyk na ‘n paar nuwerjaarsfeite! (miskien sal dit dan wel daartoe lei dat ons voor die aangesig van God wel sekere besluite neem oor ons lewens) Dis feite wat na vore kom uit hierdie gebeure van 2000 jaar gelede, maar dis presies net so geldig vandag nog. In hierdie gedeelte word ons gekonfronteer met skokkende feite, maar ook inspirerende feite. Feite wat ons hartseer maak, maar ook feite wat ons opnuut bemoedig en hoop gee! Ons kan die feite groepeer rondom die drie hoofrolspelers in hierdie gebeure : die kragtelose dissipels, die gelowige pa en die Almagtige Jesus! 

1. Die kragtelose dissipels : dis die groot skok en teleurstelling hier. Jesus keer terug van die berg van Verheerliking waar sy majesteit en Goddelike opdrag deur die stem uit die hemel bevestig is. Wat Hy nou by sy terugkeer aantref is ‘n groot skande... en antiklimaks. Hy kom af op ‘n Stryery! Die oorsaak was die dissipels se magteloosheid om ‘n bose gees uit ’n kind uit te dryf. Jesus hoor toe by die pa wat aangaan en reageer baie skerp teenoor sy dissipels : “Ongelowige geslag..." (19) Dis die tragiese stand van sake - die dissipels wat volgelinge van Jesus is, is maar net so ongelowig soos al die skeptiese mense rondom hulle. Hulle is niks anders as die res van die volk nie. Hulle wat hoop moes bring is tot niks instaat nie. 

Dis ‘n ramp wanneer mense wat veronderstel is om in die krag van Jesus te leef, kragteloos is. 

Die kragteloosheid van Jesus se volgelinge, die hulpeloosheid van die kerk (juis ook in ons dag) is ‘n verontrustende en tragiese feit. Het die kerk (ek en jy is mos die kerk) ‘n kragtige getuienis en effek op die mense rondom ons? Het ons getuienis die afgelope jaar tot ander mense se bekering gelei, kon ons ander mense uit die Woord help sodat huwelike en gesinne herstel kon word? Het ons die Woordkennis en geloof om mense in geestelike nood te help? Kon ons troos en rigting gee? Was ons ‘n voorbeeld vir die mense rondom ons? Was ons vir die wêreld ‘n navolgingswaardige model van huwelikstrou of was ons maar net so ontrou? Is ons vreugdevolle positiewe mense of is ons net so vol klagtes en ondankbaarheid soos almal rondom ons? Lei ons ons kinders op ‘n pad van goeie waardes en goeie maniere of lyk hulle maar net soos al die ander? Is ons werklik sout en lig? Maak ons ‘n verskil?... 

Wat was die redes vir die dissipels se kragteloosheid? Jesus beskuldig hulle van ongeloof! Dis ‘n vreeslike beskuldiging! Het hulle dan nie geglo nie, hulle was dan openlike volgelinge van Jesus? In die nabetragtingsgedeelte kry ons die antwoord. (vers 28,29) Hulle geloof het nie oorgegaan in gebed nie! Biddeloosheid is ‘n kenmerk van ‘n onegte geloof, ‘n speel-speel geloof! Die kragtelose Christenskap van die dissipels het ook op ander maniere na vore gekom (behalwe in hulle onvermoë om die kind te help) Hulle was nog in onkunde oor Jesus se ware doel, en het het nog bloot ‘n gebrekkige aardse begrip gehad van wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Geen begrip vir die “kruis” nie. (30-32) Hulle was vasgevang in hoogmoed en jaloesie. Hulle stry oor wie die belangrikste is. (33,34) ‘n Mens sou verwag dat hulle darem bietjie meer beskeie sou wees na hulle afgelope mislukking, maar nee, hulle sondige gesindheid was nog net so sterk! Hulle het ook ‘n kleinlike selfgesentreerdheid geopenbaar! As iemand nie saam met ons groepie is nie, is hy uit! (38) Klink bekend nê? 

Hierdie is alles vandag nog kenmerke van ‘n sukkelende kerk : min gebed, min ware kennis oor Jesus, maar baie stryery, jaloesie, kleinlike kompetisie... 


2. Die gelowige pa : ‘n aangrypende en bemoedigende voorbeeld van iemand in nood, maar met ‘n eenvoudige en opregte geloof. Die pa se eenvoudige geloof word deur Jesus beloon. Sy geloofsvertroue is ‘n helder lig teen die donker agtergrond van die dissipels se onbekwaamheid en ongeloof. Hierdie is vir my persoonlik ‘n baie bemoedigende gedeelte. Kom ek verduidelik : Die hartseer pa, kom met sy krisis na Jesus toe. Dit was ‘n jarelange hardnekkige probleem. (21-22) Mens kan jou indink dat hy al baie kere hulp gesoek het en elke keer maar weer teleurgesteld was – soos nou deur die dissipels, maar nou kom hy na Jesus self. Hierdie pa glo, maar hy is nie een of ander geloofsreus nie. Hy is baie bewus van die swakheid van sy geloof en baie eerlik daaroor. Vers 24 : “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof!” Dit voel nie eens vir homself of hy glo nie, en tog glo hy eg! Daar is net ‘n sprankie geloof, maar Jesus is gretig om daarop te reageer en genees die seun. Hier sien ons iets van die essensie van ware geloof : dis om eerlik met my probleem na Jesus te kom in die vertroue dat God deur sy Seun Jesus die mens in nood kan aanraak!* Geloof is nie ‘n selfvoldane gevoel dat my geestelike spiere sterk is nie. 

Geloof self is maar swak, maar wat tel is nie die krag van my geloof nie, maar die krag van die Een in wie ek my vertroue stel! 

Geliefde, baie Christene en baie kerke het jou dalk al teleurgestel – maar het jy al eerlik na Jesus gekom met jou sondeskuld en smart? Wie in Hom glo word nie teleurgestel nie! (Romeine 10:11) En dit bring ons by die laaste Rolspeler... 

3. Die Almagtige Jesus : Daar bestaan nie iets soos ‘n hopelose geval by Jesus nie! Die bevryding van hierdie seun en baie ander is die duidelike bewys! Ja, die duiwel maak jou wys...jou sonde is te groot, jou probleme is te veel, jy het al te veel kere probeer en misluk...Jesus kan tog nie ‘n verskil maak nie! Dis die grootste leuen op aarde! Jesus is nie net die Verlosser nie, Hy is die Almagtige Verlosser. (Johannes 17:3) Kom na Hom! Nog iets...Nie net die almag van Jesus nie, maar ook sy bo-menslike geduld met sy dissipels word sigbaar. Hy het hulle wel berispe, maar hoegenaamd nie afgeskryf nie, maar voortgegaan om hulle te leer. (al was daar nog baie mislukkings en misverstande op die pad vorentoe) Na Pinkster het hierdie einste dissipels, wel mense van vas en gebed geword en met krag die evangelie verkondig! Toe kon hulle mense in nood van hulp wees, soos die boek Handelinge so mooi beskryf! 

Wat doen ons met hierdie feite? 

Ons word aangespoor tot selfondersoek – is ek nie dalk maar ‘n kragtelose Christen met meer lawaai as binnegoed nie? 
Ons word opgeroep tot gebed as ‘n oplossing vir ons kragteloosheid. 
Maar bo-alles word ons elkeen opnuut weer uitgedaag en uitgenooi om kinderlik ons diepste nood na die Lewende Jesus te neem! 

Jesus bied ‘n oplossing waar alle ander mense en pogings misluk het. Amen

*Kommentaar van Ralph P. Martin oor Markus, "WHERE THE ACTION IS" Ook gebruik gemaak van THE GOSPEL OF MARK van William L. Lane

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.