Bladsye

Sondag 12 Augustus 2012

VERLORE SEUNS (1)

- die jongste word feestelik vergewe.

Ons ken almal hierdie baie bekende en pragtige vertelling van Jesus in Lukas 15 as die gelykenis van die Verlore Seun. Dis natuurlik ‘n opskrif wat die vertalers voorsien het. ‘n Beter titel sou dalk kon wees : DIE VERLORE SEUNS. (Waarom, sal ons in volgende week se preek sien) Voorlopig kan ek net sê, die skerpkant en verrassingselement in die boodskap van  hierdie gelykenis kom eintlik eers na vore in die tweede gedeelte wat handel oor die oudste tuisblyer seun. Tog het hierdie eerste gedeelte (Lukas 15:11-24) opsigself ook ‘n baie sterk boodskap. 

Ons het hier ’n radikale verhaal. ’n Verhaal van uiterstes! Uiterste opstand, uiterste ellende, maar ook uiterste vergifnis en genade!  Maar daar is ‘n probleem, ons ken die verhaal so goed - dit  raak ons eintlik nie regtig meer nie. Ons hoor nie meer die soet  musiek van opwindende genade hierin nie. Ons voel nie meer die “onbeskryflik groot” nie.* Ons harte word nie meer so geraak dat ons in aanbidding voor ons Vader wil neerbuig nie.

So kom ons luister bietjie op ‘n ander manier na die “Verlore Seun”.

Die Amerikaanse joernalis-skrywer Phillip Yancy** vertel die gelykenisse van Jesus op ’n eietydse manier oor, gegrond op  hedendaagse gebeurtenisse. Johan Celliers vertel sy weergawe van die “Verlore Seun” so oor in Afrikaans:

’n Tienerdogter het op ’n dag van haar ouerhuis in die platteland af weggeloop na die stad en in verkeerde geselskap beland. Sy raak verslaaf aan dwelms en verval in prostitusie. Gou beland sy op straat en moet sy saans in gevaarlike stegies slaap. Een nag terwyl sy lê en luister na voetstappe, lyk die wêreld om haar skielik anders. Sy voel nie meer soos ’n vrou van die wêreld nie. Sy voel soos ’n klein dogtertjie, verlore in ’n koue en vreesaanjaende stad. Sy het onttrekkingsimptome. Haar sakke is leeg en sy is honger. Sy trek haar bene in en rol haar op in die fetusposisie waar sy bewend van die koue onder ’n paar koerante lê. Skielik vul ’n enkele prentjie haar kop : haar ouerhuis, waar die kersiebome vol bloeisels is, haar hond wat blaffend tussen die bome en die bloeisels op die grond agter ’n tennisbal aan hardloop.
“God, waarom het ek weggegaan,” sê sy vir haarself, en die pyn sny deur haar hart “My hond by die huis eet beter as wat ek nou eet.” Snikkend besef sy dat sy meer as enigiets anders in die wêreld wil huis toe gaan.
Op die een of ander manier slaag sy daarin om haar ouers te skakel, maar hulle is nie daar nie en al wat sy kan doen is om ’n boodskap op die antwoordmasjien te laat kom om te sê dat sy die volgende dag om twaalfuuur met die bus huis toe kom. “En Pa,” voeg sy by : “ek sal verstaan as julle my nie wil kom ontmoet nie. Dan bly ek maar op die bus tot my geld opraak.”
Die sewe uur wat sy op die bus moet deurbring, word vir haar ’n nagmerrierit. In haar gedagtes probeer sy ’n verskoning aan haar ouers formuleer, maar haar keel trek toe. Sy het in geen jare enige mens vir enigiets om verskoning gevra nie.
Uiteindelik na wat soos ’n ewigheid gevoel het, bereik sy haar bestemming. In totale onsekerheid sluip sy die busterminus binne. Nie een van die tientalle tonele wat sy in haar gedagtes sien afspeel het as moontlikhede vir wat sy daar sou aantref, het haar egter voorberei op dit wat sy voor haar oë sien nie. Want, toe sy om die hoek die saal binnekom, bars daar ’n blye pandemonium los. Daar staan ’n skare van haar broers en susters en ooms en tantes en neefs en niggies en ’n ouma- en oupagrootjie ook nog. Hulle het almal sulke skewe potsierlike partytjiehoedjies op en blaas op raserige partytjietrompette, en dwarsoor die hele terminusmuur is ’n banier gedrapeer wat uitroep: “Welkom tuis! Welkom tuis!”
Iemand tree uit die groep na vore. Dis haar pa! Sy staar na hom deur haar trane heen, en begin haar gememoriseerde toesprakie stotter : “Pa , ek is jammer, pa. Ek weet ek is nie werd...”
Hy onderbreek haar. “Stil, my kind. Ons het nie tyd vir verskonings nie. Jy gaan laat wees vir jou partytjie. Daar wag ’n reuse -feestelikheid op jou by die huis...”  

Daar was drie radikale momente in die verhaal van die jongste se terugkeer wat treffend die reddingsgeskiedenis van die sondaar beskryf. Miskien herken jy jouself.

Radikale rebellie en ellende. Die jongste seun het sy Vader se liefde op ‘n gruwelike wyse verwerp. Met minagting het hy losbandigheid bo Vaderversorging gekies. Maar uiteindelik moes hy agterkom dat ‘n lewe weg van die Vader bitter en eensaam is. Sonde bring net tydelike genot en gewildheid. Dit bring ‘n skynvreugde met skynvriendskappe. Maar op die ou einde trek die sonde jou af in ‘n smerige varkhokbestaan. As die laaste dop uitgewerk is, as die losbandige verhouding begin vaal raak, as die geld vir plesier op is - dan is die sondaarhart leeg en eensaam. Dan word die geestelike bankrotskap pynlik en voelbaar.

Radikale besef en besluit.  Iewers het die waarheid tot hierdie seun deurgedring en het hy eerlik met homself geraak. Dis ‘n baie belangrike draaipunt in die sondaar se bekering. Die eerlike  erkenning : “Dis hoe ek lyk voor God!” So het Dawid (nadat Natan die vinger na hom gewys het) ook besef dat hy skuldig staan voor God. (Psalm 51)  As God uit genade deur sy Gees in die afgedwaalde werk, begin dit by ‘n sondebesef, ‘n bewustheid van my boosheid en leegheid. Deur die genade kom ek dan tot ‘n besluit : “Tot hier toe en nie verder nie. Ek staan nou op en gaan terug, kom wat wil.” 

En jy... het jy al opgestaan?

Radikale Vaderlike vergifnis.   Dis waar die klem val in die eerste gedeelte! Ja, die opstand en ellende van die seun word redelik breedvoerig beskryf, maar die Vader se optrede steel die kalklig! Die terugkerende seun kry ‘n ontvangs wat alle verwagtinge oortref.  ‘n Rebelse seun loop homself vas in ‘n fees! Mens sou nie raai dis hy wat sy Pa beledig en bitter verdriet aangedoen het nie. (Dit lyk eerder of hierdie seun ‘n olimpiese medaljewenner was!)  Pa gooi alle waardigheid oorboord en hardloop na die seun. Hy het nooit sy seun vergeet nie...hy het nog al die tyd vir hom gewag.  Hy was wel vir ‘n tyd uit sy seun se gedagtes, maar sy seun was nooit uit sy gedagtes nie. Sy hart is gebreek oor hierdie wegloperseun. As die seun by hom aankom is daar  geen verwyt nie.   Nie eers,  “ja, ek vergewe jou, maar van nou af moet jy darem in jou spoor trap” of “is jy seker jy is jammer?” of “ek hoop jy het nou jou les geleer” nie.  Onvoorwaardelike liefde. Ja, die seun het berou, hy bely en erken sy sonde (dis onmisbare elemente in ons redding!)... maar vanuit die Vader se oogpunt is dit amper ‘n bysaak. “Ja, ja, ja ek hoor jou, maar kom ons vier fees!” (Kyk hoe word die element van feesvier beklemtoon in vers 23,24)

Terugkerende sondaars kry ‘n  omhelsing van God. Volkome vergifnis! Volkome aanvaarding! Volkome vreugde!

Waarom wag jy? Waarom is jy bang of skaam? Wat hou jou terug? Om nog net een uur in die varkhok van sonde te sit is ‘n vermorsing van vreugdetyd wat jy kon beleef het. Staan op, gaan na jou Vader, Hy wag reeds vir jou... Hy het reeds sy liefde aan die kruis bewys deur Jesus Christus.  Hy nooi jou uit : “Kom nou laat ons die saak met mekaar uitmaak...”  (Jesaja 1:18)
“Ja, maar ek het eens op n tyd sy liefde en beleef by my bekering, maar het weer afgedwaal. Ek is 'n ware ‘backslider’, ek het my genadekanse weggegooi”, maak iemand beswaar. Vriend, hierdie boodskap is juis vir jou. “Kom terug kinders wat afgedwaal het...” (Jeremia 3:14)

Staan op, kom na die Vader, vind vergifnis en vier fees in heiligheid en reinheid!

*Johan Celliers
** Die feit dat ek Yancey aanhaal impliseer nie dat ek noodwendig met al sy sienings in sy werk saamstem nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.