Bladsye

Maandag 05 Maart 2012

DIE SUPER SIEK REEKS

- raak realisties oor rugby!

Eers was dit die Super 10, toe die Super 12, gevolg deur die Super 14,15....wel dis nou die Super Siek Reeks! Dit maak my naar! Simptomaties van die oordaad van rugby. Dink jy ek is dalk te kras? Gee my tog ’n kansie om te verduidelik. Dis nie die debat oor watter spanne mag deelneem aan die Super watse reeks nie. Dis ook nie een of ander skeidsregter of speler wat my kwaad gemaak het nie. Dis ook nie dat ek dit het teen rugby as sport nie.... Trouens as gebore Suidwester dink ek nog met nostalgie en trots terug aan die jare van die Biltongboere se wonderlike rugby prestasies! Onthou jy nog vir Gerhard Mans, McCulley, die Stoop broers... en daardie onvergeetlike dag toe hulle die WP op Nuweland geklop het? Toe ons manne soos vurige Etosha leeus gespeel het? Toe rugbyspelers nog lojaal aan hulle provinsie en land was? Maar baie dinge het intussen verander...

Nee, dis nie rugby as sport nie, maar die gierige kommersialisering, histeriese oordrywing en blatante verafgoding van rugby wat ’n wrewel by my opwek! Dit wil amper voorkom asof rugby elke samelewingsfasset begin oorheers. In ’n advertensie vir ’n predikantspos in Die Kerkbode word as voorwaarde gestel, die ondersteuning van ’n bepaalde span. Goed, ek neem aan dis tong in die kies gedoen, maar dis ’n goeie aanduiding van hoe allesoorheersend rugby in ons volkie se denke geword het.

Rugby op topvlak is lankal nie meer gesonde sport en ontspanning nie. Dis ’n vermaaklikheidskoei (skuus Bulle!) wat deur die ryk magnate en hul meelopers gemelk word vir elke moontlike sent. En die rugbyverslaafde publiek is te onnosel om agter te kom dat hulle sakke geplunder word!

Rugby oor die algemeen het al verder weggedryf van Christelike norme en beginsels ten spyte daarvan dat sommige spelers so graag oor hulle Christenskap praat. Hoe kan ’n Christen nog rugby kyk as die spannetjie halfkaal (en heeltemal breinlose) prikkelpoppe wat hulle lywe langs die velde wikkel in jou keel (sig) afgedruk word? Waar is die Christen rugbyspelers wat nog weier om op Sondag rugby te speel en soos dit ’n kind van God betaam die Here op sy opstandingsdag in die erediens aanbid?

Rugbyspelers het niks anders geword as hoogsbetaalde gladiators wat net soos hulle Romeinse voorgangers van destyds, wrede en wellustige skares moet vermaak nie. Simptome van ’n beskawing wat besig is om onder te gaan!

Ons waardesisteem is heeltemal skeefgetrek deur die ovaalbal.

Ons bewillig belaglik groot somme geld vir iemand wat met ’n bal in die hand baljaar, maar daar is nie geld vir ordentlike onderwys nie! Die man wat ’n bal deur die pale kan skop kry baie meer geld as die persoon wat ek aanstel om my kind en sy toekoms te vorm! Dis mos balligheid, ai tog, malligheid!

Rugby het die Afrikaner se oordeelsvermoë afgestomp om die werklikhede van die dag nugter in oënskou te neem. Suid-Afrika wek die indruk van ’n sinkende skip : onderwys, gesondheidssorg, die berugte munisipale dienslewering, misdaadbestryding, omgewingsbewaring en vele ander noodsaaklike funksies van die samelewing is in ’n skrikwekkende vryval! Tog wil dit voorkom dat die meerderheid Afrikaners houtgerus en selftevrede alles maar sluk solank hulle net na hulle gunsteling spanne op die kassie kan kyk. Rugby is soos ’n dwelmiddel wat ons aan die slaap sus! (en as ons die dag wakker word, is daar dalk geen boere... en renosters meer oor nie!)

Rugby het vir baie mense die alles geword! Meer korrek gestel : die werklike god van hulle lewens. ’n Mens merk dit al op skoolvlak. Rugby is die ware prioriteit. Rugby is die hoofvak, die res is ’n bysaak. As seunie kan rugby speel sal die skool vir hom gou ’n beurs reël. (Ander talente word nie maklik raakgesien deur die rugbyblindes nie) Rugby mal ouers wil alles en almal, hiet en gebied. Rugbybenewelde toeskouers maak hulself skuldig aan openlike barbarisme langs die veld tydens skoolwedstryde. Ons sien die fisiese gevolge van die rugby beheptheid : skoolseuns wat op krukke rondskuifel; offers op die altaar van hullle ouers se rugby ego’s. Kinders wat rugbyslawe geword het, wat naweek na naweek van een dorp na die ander gekarwei word om vermaak aan volwassenes te verskaf (en hulle en hulle ouers is Sondae dan te uitgeput om na die Woord van die Lewe te kom luister)


Kom ons raak realisties oor rugby! Mag diegene wat dit as gesonde sport beoefen, dit met balans geniet tot eer van God. Maar mag die rugby verslaafdes bevry word van hulle afgod en die ware God begin dien.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.