Bladsye

Woensdag 01 Februarie 2012

BLY OF GLY? DIE CHRISTEN EN EMIGRASIE

- gelowig nagedink vanuit die Skrif oor ‘n sensitiewe saak.

Die Woord van God is die riglyn vir God se kinders in alle sake wat ons raak. Ook wat betref die baie aktuele (en dikwels emosionele) kwessie van emigrasie. Dis nie so ’n ligte en eenvoudige saak nie. Vinnige maklike antwoorde is daar beslis nie.

Laat ek eers duidelik sê: Ek is ontsettend gelukkig waar ek nou op Tsumeb in Namibië woon, en op hierdie oomblik kan ek aan geen ander plek ter wêreld dink waar ek eerder sou wou gaan bly al sou ek ’n keuse gehad het nie. Maar natuurlik, ’n liefhebber van geskiedenis soos ek weet dat lands en wêreldsomstandighede oornag kan verander... Net God ken die toekoms...

Soos met baie ander lewensvrae gee die Bybel nie vir ons oor hierdie saak ’n pasklaar antwoord in ’n enkele teks nie. God behandel ons as volwasse kinders en ons moet self vanuit die beginsels in die Skrif onder die leiding van die Heilige Gees besluite neem. Kom ons kyk nugter na ’n paar sodanige Bybelse beginsels:

1. Al God se kinders behoort aan sy een unieke uitverkore volk. (1 Petrus 1:1; 2:10) Almal wat aan Jesus Christus behoort is nou kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Dit impliseer ’n verbintenis en lojaliteit wat die belangrikheid van alle ander verbintenisse relativeer. Ek is dus eerstens ’n Christen voordat ek ’n Afrikaner, Duitser of Herero is.

2. Hierdie een volk van God is verspreid oor die wêreld heen. Hulle word aangetref in alle lande en kulture (1 Petrus 1:1; Jakobus 1:1) Dis ’n gegewe en die Bybel gee ook nêrens opdrag dat Christene moet saamtrek op een of meer plekke nie. Daar is ook nie plekke op aarde wat heiliger is as ander plekke nie! Jerusalem is niks heiliger as Pretoria, Windhoek of Perth nie!

3. Alle Christene in alle lande moet weet (en sal beleef) dat ons in hierdie wêreld vreemdelinge en bywoners is. (1 Petrus 1:1;2:11) Dit het verskeie implikasies : Ons is oppadwees mense, op reis na ons finale permanente tuiste. Of ons omstandighede nou betreklik gerieflik of dalk onseker en gevaarlik is, kinders van God is soos Abram, mense wat verlang na die stad met vaste fondamente waarvan God self die ontwerper en bouer is! ( Hebreërs 11:10) Ons status as vreemdelinge beteken ook dat ons swaarkry en verwerping sal ervaar, ongeag die plek waar ons woon. Ons sal noodwendig in konflik wees met die sondige aard van die kultuur waarin ons ons bevind, omdat ons Koninkrykswaardes en ambisies het. (Sien : MAAK OOP BY OPENBARING (3) )

4. Die belangrikste is nie waar ons bly nie, maar hoe ons lewe! Vir alle Christene orals, geld die opdrag om heilig d.w.s. afgesonder vir die Here te leef! (1 Petrus 1:16) Hierdie heiligheid beteken egter nie dat ons eenkant handegevou moet staan en die booshede en onbekwaamhede van ons gemeenskappe moet kritiseer nie. Ons moet ten volle betrokke wees in die samelewings waarin ons ons tans bevind! Jeremia 29 wat ’n brief bevat aan die Joodse bannelinge in die verre Babilonië is besonder insiggewend. Kyk veral na vers 4 tot 7. Wat ’n geweldig positiewe benadering!

5. Die soewereine God gebruik ook emigrasie (soos ander gebeure in die geskiedenis) om sy Woord te versprei. Hiervan kry ons die klassieke voorbeeld in Handelinge 8:2,4. En natuurlik moet ons nooit vergeet nie : die Afrikanervolk self is gebou uit emigrante! Emigrasie is dus beslis nie inherent iets boos of verkeerd nie! Die hatige manier waarop sommige Afrikaners ons volksgenote in die buiteland veroordeel, is beslis nie Christelik nie. Aan die anderkant, diegene in die buiteland, moet ook nie Afrikaners wat voel dat hulle ’n Godgegewe roeping in Afrika het, probeer demoraliseer deur altyd net die negatiewe gebeure op ons kontinent uit te lig nie. Alle Christene se roeping word mos nie noodwendig op dieselfde plek uitgeleef nie.

6. Alle Christene (nie net dié wat emigreer nie) moet altyd hulle harte en motiewe ondersoek. Hoe vry is ons van selfsug en materialisme? Maar daar is ook ander motiewe wat nie pas by diegene wat bely dat God ons Almagtige Vader is nie. Paniekerige vrees en swartgallige pessimisme lyk volgens die Skrif ook nie vir my na dryfvere wat kinders van God se besluite moet beïnvloed nie. Aan die ander kant is beide die materiële en geestelike versorging van ons kinders, ’n Godgegewe ouerlike plig en verantwoordelikheid, wat beslis in die keuses van waar ons bly ’n rol sal speel. Maar selfs dit is ook relatief. As die veiligheid van sy kinders vir die Finse pioniersendeling in Owamboland, Martti Rautanen die hoofprioriteit was, sou daar nooit ’n kerk geplant gewees het nie. Net drie van hulle nege kinders het volwassenheid bereik! Rautanen het juis vanuit Finland na die gevaarlike malaria wêreld geëmigreer ter wille van God se Koninkryk!

Die belofte van Jesus in Johannes 12:25 word te maklik in ons eeu van gerief en gemaksug vergeet!

7. Ons geestelike band met God se een volk op aarde beteken nie die uitkansellering van ander aardse verbande soos huwelik, gesin en etniese bande nie. (Die nuwe lojaliteit aan Christus en sy kerk is wel die eerste prioriteit - sien punt 1) Dit beteken myns insiens wel dat ’n mens die gevolge vir huwelik, gesin, wyer familie en ook volk sensitief in berekening moet bring in ’n besluit oor emigrasie. In sekere gevalle sou dit ’n versterkende motief wees om te emigreer, in ander gevalle sou dit dalk lei tot ’n herbesinning.

8. God se kinders kan groot vrede en vreugde put uit die feit van Sy soewereine bestuur van ons lewens. Voorspoed en teëspoed, lewe en dood is alleen in God se hande! Ons glo nie soos die wêreldling in noodlot of toeval nie, ons weet ook dat selfs die foute en verkeerde keuses wat ons maak, nie die einde van ons bruikbaarheid beteken nie. God se soewereiniteit oorheers alles! Wanneer ons onseker is kan ons altyd nog bid : “Vader, laat U wil geskied!” Dit moet ons ook daarvan weerhou om ander wat volgens ons verkeerde besluite geneem het te veroordeel of te beswadder.


Bogenoemde lyk my na ’n paar belangrike Bybelse riglyne waarna mens nugter moet kyk indien emigrasie oorweeg word. Natuurlik maak dit my as trotse Afrikaner hartseer om my volksgenote oor die see te sien verdwyn, want ek weet dat die verlies van volksidentiteit op die lange duur onvermydelik is! En vir die voortbestaan van ons pragtige taal is dit ’n doodsteek! Maar as Christen moet ek verder kyk na die groter prentjie en dit is dat alle instellings op aarde tydelik is, ook tale, nasies en volke kom en gaan soos God dit beskik. Net God se Koninkryk is permanent en onwankelbaar! Dis vir hierdie ewige Koninkryk waarvoor ons ons moet beywer... orals en altyd!


Geniet vandag God se teenwoordigheid oral oor die wêreld heen!




2 opmerkings:

  1. Baie goed Johannes! Jy het die problematiek rondom emmigrasie baie goed opgesom. Op die ou end is alle Christene vreemdelinge op aarde - in die wereld maar nie deel van die wereld nie. Ons moet ook seker maak dat ons nie vlug van ons probleme nie. Kyk maar na Jeremia 42. Toe ons in 1995 amper na Kanada geimmigreer het, het God baie reguit met ons oor ontvlugting gepraat. Ons bly nou wel langer as 12 jaar in Engeland maar dit was nie omdat ons uit SA wou wegkom nie maar agv deure wat God vir ons oopgemaak het. Ek bly egter nog steeds 'n Afrikaner en Afrikaans bly my eerste taal. Aangesien ek egter deel van 'n wyer gemeenskap van gelowiges is beteken dit dat ek nader is aan my Christen broers en susters in Afrika, Asie, Latyns Amerika of waar ook al as wat ek aan my Afrikaner bloedvolk is.

    Sterkte in Tsumeb!

    Groete uit Oxford.

    Sas

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Sas

      Baie groete aan jou gesin en seën op jou werk. Ek hoop ons kan darem eendag weer iewers sien!

      groete
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.