Bladsye

Woensdag 14 Desember 2011

LES UIT LEIPOLDT SE ELLENDE

SONDER ‘N ADVOKAAT?


Die bekende Afrikaanse skrywer en digter C. Louis Leipoldt het sendelinge as voorsate gehad, van beide vaders en moederskant. Sy eie pa, Christian Fredrich Leipoldt was vir ’n tyd lank ’n sendeling in Soematra, Indonesië. Later was hy die leraar van die NGK Clanwilliam. Die tragiese is dat hierdie pastoriekind blykbaar van vroeg af reeds sy rug op die Christelike geloof gekeer het. Hy was ’n wêreldreisiger wat beroemdes soos Joseph Lister en Florence Nightingale ontmoet het. Hier in Suid-Afrika maak hy kennis met Emily Hobhouse en ry perd saam met Cecil John Rhodes, maar volgens alle aanduidings het hy die belangrikste ontmoeting wat ’n mens moet hê, naamlik om Jesus as Here en Saligmaker (Advokaat!) te leer ken, gemis.



Die vraag is, wat het Leipoldt geglo? Volgens Kannemeyer (sy biograaf) het Leipoldt soms uitdagend verklaar dat hy ’n Boeddhis was. (dalk om sy mede Afrikaners te skok) Waarskynlik was hy nie ’n praktiserende Boeddhis nie, al het hy sy hele lewe lank ’n belangstelling in die Boeddhisme behou. Heel moontlik sou mens hom ’n agnostikus kon noem.



Op sy siekbed ’n tyd voor sy dood het hy na bewering ’n gesprek met mev. Dorothy O’Connor gehad wat mens ’n skrikwekkende insig in sy denke, maar ook in mense se onkunde oor die evangelie gee. Hy sou aan haar gesê het : “I believe in a Supreme Being, but I cannot accept Jesus Christ as God and because man has to adopt some mode of living, I’ve moulded my life on the teachings of Buddha” Mev. O’Connor, ’n Katoliek vertel die volgende: “I nursed him and it was during that time he said, “I am going to meet Jesus soon. What am I going to say to Him? What can I show for my life - nothing.” I assured him that Christ was kind and would take into consideration the kindness he had shown in educating boys. He brushed that aside, saying, “I did that for my own satisfaction.” The next day whilst I was watching him, he said, “I’ve been a very lonely and unhappy man - a misfit. If I had been given your faith thirty years ago, I would have gone to a Monastery and begged the Prior to take me in as a lay-brother. Now, dying, the Prior would bless me and all these horrible gremlins round my bed, that you can’t see but I can would not be persecuting me.” Hoe tragies dat hierdie dame blykbaar nie aan hom die evangelie kon verkondig nie, maar probeer het om hom terug te verwys na goeie werke en mense.



Volgens alle aanduidings het Leipoldt tot op die laaste ’n ongelowige spotter gebly. Kort voor sy einde het Markus Viljoen direk vir Leipoldt gevra of hy nie bang was om oor die laaste skeidslyn te gaan nie en wat hy van die dood verwag. Fluisterend het die antwoord gekom : “Ek dink dit is die end...Anderkant is niks.” Terwyl sy bene al besig was om koud te word, het hy sy laaste woorde gesê, smalend en feitlik sardonies : “Nou gaan ek na Jesus toe.” Leipoldt is op Saterdagnag 12 April 1947 die ewigheid in om voor die Regterstoel te verskyn... blykbaar sonder ‘n Advokaat! Skrikwekkend!



(Feite en aanhalings verkry uit LEIPOLDT van J.C. Kannemeyer)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.