Ek was deel van die Matteus 18 Taakspan wat die besluit van die NGKN sinode in Maart 2022 om af te skei van die Algemene Sinode indien daar nie bekering binne ses maande sigbaar is nie, uit te voer. Die Taakspan se finale verslag sal sekerlik binnekort in die openbaar beskikbaar wees. Aangesien die Namibiese moderamen die verslag met sy aanbevelings aanvaar het, wil ek myself nou reeds duidelik daarvan distansieer. (Die besluit sal later in detail gekomminikeer word en daarom wil ek niks nou verder daaroor sê voor dit nie via amptelike kanale bekend gemaak word nie) Ek het my standpunt aan die Moderamen voorgelê in die vorm van 'n minderheidsopinie wat slegs as 'n Addendum in die Matteus-18 Taakspan se verslag opgeneem is. (Dit is dus nie afsonderlik in die vergadering gedebatteer nie.) Ek plaas dit hieronder:
VERSLAG VAN DIE MATTEUS-18 TAAKSPAN
(minderheidsopinie)
In opdrag van die sinode van die NGKN van Maart 2022
My oë teer weg in trane, my
ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die
verbreking van die dogter van my volk, omdat kind en suigling op die pleine van
die stad versmag,
Klaagliedere 2:11 33/53-Vert.
Jou profete se visioene is
vir jou nutteloos en niksseggend. Hulle het nie jou skuld ontbloot om jou
ballingskap te verhoed nie. Die visioene wat hulle aan jou oorgedra het, was
nutteloos en misleidend.
Klaagliedere 2:14 2020-Vert.
MINDERHEIDSOPINIE VAN DIE MATTEUS-18 TAAKSPAN
VOORAFOPMERKINGS EN INHOUD
Die Matteus-18 Taakspan
(voortaan net die “Taakspan”) het sy taak ernstig opgeneem en met integriteit
probeer uitvoer. Hierdie is ‘n minderheidsverslag wat beteken dat dit nie deur
die Taakspan amptelik as standpunt aanvaar is nie. Die saak waaroor dit gaan is
egter van sodanige belang dat die minderheidstem ook gehoor moet word. Dit gaan
oor die grootsheid van die saak en wil nie die bona fides van die meerderheid
in twyfel trek nie, maar net die saak eerlik volgens feite en
gewetensoortuiging stel. Hierdie dokument wil ook nie probeer om ‘n herhaling
te wees van die meerderheidsopinie en daarom sal alle tegniese en formele
aspekte wat in die ander verslag gemeld word nie noodwendig hierin voorkom nie.
Die klem sal val op belangrike verskilpunte. Dit word soos volg aangebied:
1.Konteks en aanloop
2.Opdrag en fokus
3.Oorsig van die werksaamhede
van die Taakspan
4.Gesprek met ander sinodes
5.Pad met gemeentes
6.Die kernvraag : “Hartgrondige bekering?”
7.Artikel 37 toeligting
8.Nou of nooit – die erns van die saak
9.Aanbeveling aan die moderamen
1.Konteks en aanloop
‘n Voorstel vir losmaking van
die AS het op die Namibiese sinode 2022 gedien. Die debat was robuus met sterk
standpunte van beide kante, maar geleidelik het dit al hoe meer gelyk asof die
voorstel (vanuit die beskrywingspunt van Kalkrand) ’n baie goeie kans gehad het
om goedgekeur te word. Tog sou dit waarskynlik nie met ’n groot meerderheid
wees nie en verdeeldheid bevorder het. Op die nippertjie is ’n kompromis
voorstel ingedien wat die wese van die oorspronklike voorstel bevat het met
veral twee belangrike nuwe komponente, naamlik die stap van ’n Matteus 18
Jesuspad en ’n tydsbeperking van ses maande. Die eerste komponent
het vir sommige die gerustheid gegee dat hier nie oorhaastig en
onverantwoordelik opgetree sou word nie, die tweede komponent het vir ander
weer die gerustheid gegee dat hierdie nuwe voorstel nie maar net ’n slim set
was om uitvoering van die besluit aanhoudend en onbepaald uit te stel nie. Dis
om hierdie rede dat die nuwe kompromisvoorstel met ’n oorweldigende
meerderheid van 70-14 goedgekeur is. Die verwagting was baie duidelik dat
daar wel met die AS (gevolmagtigdes) gepraat gaan word, maar daar gaan nie net
aanhou praat word nie, daar gaan daadwerklike optrede kom na ses maande.
Hierdie verwagting en spesifiek soos dit in gewone taal deur die sinode se persverklaring
oorgedra is, het hoop by ons hartseer en moedelose lidmate geskep. Dit mag ook
nie uit die oog verloor word dat die besluit wat by die sinode geneem is, die
kulminasie was van ’n lang proses van getuienis en ywer vir die waarheid
(terwyl baie ander geswyg het) deur ’n groot groep behoudende leraars en
lidmate binne Namibië wat daardeur vir hulleself verwerping en gramskap op die
hals gehaal het nie. Indien die sinode nou die bal sou laat val deur nie haar
besluit deur te voer nie, gaan dit intense ontnugtering by ons lidmate en skade
aan die beeld van ons kerk veroorsaak.
2.Opdrag en fokus
2.1 Die Taakspan se opdrag was duidelik
en eenvoudig – stap die Matteus
18 pad van teregwysing en bekeringsoproep vir ‘n tydperk van ses maande met die AS (de facto die ASM) met “hartgrondige bekering” as doelwit.
(Sien sinodebesluit van Maart 2022) Sou dit
nie gebeur nie, het die
Namibiese sinode in
beginsel reeds besluit op afskeiding van die AS. Die ander opdragte soos inligting aan gemeentes, toenadering tot en samewerking met ander sinodes
en die uitklaring van regsaspekte rakende artikel
37 is ondersteunend tot die hooftaak.
Die persverklaring1. wat ‘n eenvoudige verduideliking van die besluit is en ook amptelik deur die sinode goedgekeur is, stel dit ondubbelsinnig duidelik : “Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende
ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme
om bepaalde besluite
te herroep nie, sal die Namibiese
Sinode haar band met die Algemene
Sinode losmaak ingevolge Artikel
37 wat dit soos volg in die kerkorde verwoord. “Dit staan samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud
van alle regte,
voorregte, besittings, naam ensovoorts uit die Algemene
sinodale verband
te tree wanneer hulle so
‘n stap voor God in die lig
van sy Woord kan regverdig.”
2.2 Baie debat is gevoer oor die Namibiese besluit en aspekte
daarvan. Die groot
punt om te verstaan is : Dit lê nie op die weg van die
Taakspan om die
Namibiese besluit te evalueer of te
amendeer nie, slegs om die
besluit uit te voer! Art. 23.1 van die kerkorde stel
dit duidelik: Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is
bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis
van die kerk en die Kerkorde nie (sien ook Artikel 2). Die wyse
waarop die besluit geneem is op die Namibiese sinode het getuig van ’n diepe
luister na mekaar, geen manipulering om tot ’n spesifieke besluit te kom nie en
genoegsame tyd vir gebed en refleksie.
2.3 Neem kennis - Kragtens
die besluit is dit nie die plig of opdrag van die Taakspan
om vas te stel of die NGKN haar voorgenome afskeiding van die AS in terme van Artikel 37 voor God en in die lig van die Woord kan verantwoord nie. Dis in beginsel reeds in die Namibiese
sinodebesluit verdiskonteer.
3. Oorsig van die werksaamhede van die
Taakspan
3.1. Die Taakspan het erns gemaak met hierdie
Matteus 18 pad deur ruim tyd in bespreking van en nadenke oor
Matteus 18 te spandeer.
3.2. Die Taakspan het gereeld vergader via
Zoom, maar ook heelwat ure in persoon met mekaar deurgebring in ’n ernstige
poging om mekaar se harte te hoor.
3.3.
Die Taakspan het ook intens met die ASM gekommunikeer deur briefwisseling en in-persoon gesprekke. (Die briefwisseling is vir almal ter insae beskikbaar.) Die in-persoon gesprekke met die
ASM, ASM dagbestuur en verteenwoordigers van die ASM verdien spesiale
vermelding:
3.3.1
Die Taakspan het die ASM se dagbestuur (met ’n aantal ekstra
belanghebbendes) gaan toespreek en was 15 uur in gesprek. (16
en 17 Mei 2022) Die gesprek het primêr,
maar nie uitsluitlik, gedraai rondom die Taakspan se pleidooi – en die
redevoering vir die pleidooi – om die onskriftuurlikheid, onsamehangendheid en
dus onuitvoerbaarheid van die AS 2019 SGV besluit te erken en deur die bevoegdhede
van die ASM ’n moratorium op die
besluit te plaas of ’n spesiale sitting
te roep om te herbesin oor die besluit – laasgenoemde wat volgens die KO die
ASM se prerogatief is. Die verskeie punte van die Taakspan se pleidooi en ook
die ander punte van ongelukkigheid wat deur die Namibiese sinode uitgespreek
is, is deur die ASM dagbestuur aan die ASM vergadering voorgehou.
3.3.2. Die uiteinde van hierdie besoek was dat die Taakspan
meen die Namibiese sinode is deeglik gehoor, maar dat daar geen amptelike
skuif/bekering, of teken van berou, of toewyding tot aksie (t.o.v. die kern
versoek wat deur die Taakspan gemaak is), deur die ASM gekom het nie – buiten
die amptelike bevestiging van die ASM dat hul saam met die Namibiese sinode
toegewyd is tot ’n “verdere pad van geloofsonderskeiding.”
3.3.3. Dit was wel die onomwonde standpunt van die ASM
dat die AS 2019 SGV besluit ’n proses
besluit was wat geen prinsipiële skuiwe veroorsaak het nie – hierdie
erkenning het die vergadering wel genoop om (nou skielik na 3 jaar) die besluit
om ’n formulier op te stel vir selfdegeslag verbintenisse op te skort, met die
redevoering dat so ’n besluit onuitvoerbaar is t.o.v. ’n proses-besluit.
(Intussen het die beoogde opskorting ook weer die wind van voorgekry en heers
daar nou verwarring oor die aangeleentheid.)
3.3.4. Nelis van Rensburg (AS Moderator) en Dėwyk Ungerer
(ATR voorsitter) het die Taakspan kom besoek voor die predikantebyeenkoms in
Otjiwarongo. Hul kern aanslag met die gesprek was om die “proses-besluit”
status van 2019 te herbevestig en daardeur die onskuld van die AS te verdedig
in die huidige staat van polarisering en om die vermeende teologiese degradasie
waarin die NGK haarself bevind te ontken – soos ook in die gesprek met die ASM
dagbestuur.
3.3.5. Die enigste moontlike gevolgtrekking
wat vanuit hierdie in-persoon gesprekke met die ASM en hul verteenwoordigers,
die gesprekke met die sinodes en die ander skriftelike korrespondensie gemaak
kan word, is dat ons in die NG kerk met (minstens 2) uiteenlopende en
onversoenbare hermeneutieke te doen het wat (minstens 2) uiteenlopende en
onversoenbare teologiese- en dus ekklesiologiese paradigmas tot gevolg het, wat
absolute afbreek maak aan enige verstaan of belydenis van kerkverband en ’n
onversoenbare dubbel-getuienis na buite straal.
4.Gesprek met ander sinodes
Die meeste streeksinodes het nie regtig positief
gereageer nie. Die belangrikste is dat ander sinodes gekontak is en wel die geleentheid gegun is om deel te neem aan die
Matteus 18 pad om die AS op te roep tot bekering.
Daar was wel stemme dat die NGKN haar nie self moet isoleer nie, maar steeds
deelneem aan prosesse. Geen sinode het egter besluit om formeel aan te sluit by
die Namibiese oproep tot bekering tot die AS nie. Die algemene indruk is dat daar nie meer veel energie in die NGK as geheel oor is vir hierdie uitmergelende debatte wat nou al ten minste vanaf 2015 duur nie en dat ook behoudenes
nou
vuisvoos is. As daar
iets gaan gebeur, sal
dit in Namibië moet gebeur.
5.Pad met gemeentes
Op hierdie punt was die taakspan se opdrag moeilik
uitvoerbaar. Die tyd was inderdaad min. Daar is wel inligting gedeel oor die
vordering van die Taakspan se werksaamhede op sosiale media en by die
Otjiwarongo predikante konferensie. Dis net ook belangrik om te onthou dat alle
gemeentes (wat wou) teenwoordig was toe die Namibiese sinode die besluit met ’n
groot meerderheid geneem het.
6.Die kernvraag
: “Hartgrondige bekering?”
6.1. Dis belangrik om te
verstaan dat die Taakspan uiteindelik een groot
kernvraag eerlik moet antwoord: Was daar
“hartgrondige bekering” of
dan enige tekens of voornemens daartoe te bespeur
by die AS (ASM)?
6.2.
Die Algemene Sinode was nie die afgelope ses maande in sitting nie. Voor die vraag oor
bekering beantwoord sou kon word, sal daar dus
eers aandag gegee moet word aan een algemene beswaar wat waarskynlik geopper gaan word. Streng gesproke
was die AS self nie in vergadering die afgelope ses maande nie en kon dus nie haar besluite
herroep nie. Dit is egter nie ‘n geldige
beswaar om in te bring nie. Ons Namibiese sinode was deeglik
bewus van die implikasies van ons besluit. Die feit is ook dat as die leierskap van die NGK (ASM) hoegenaamd ernstig
was oor die eenheid en heiligheid van die kerk, hulle alles in hulle vermoë sou doen om ‘n Buitengewone Algemene Sinode saam te roep. Hulle het die mag daartoe. Punt. As
daar by die ASM ‘n teken van berou
was, of by die moderature van die samestellende kerke waarmee die taakspan in
gesprek getree het, sou hulle dit kon kommunikeer
en ten minste hulle positiewe wens kon uitspreek
vir ‘n radikale ommekeer. Dit het ook nie gebeur nie. Inteendeel, die huidige koers
van die AS is verdedig.
6.3. Die Taakspan kan dus net een eerlike antwoord gee op hierdie
duidelike vraag betreffende “hartgrondige bekering”:
6.3.1 Daar was ten spyte van uitvoerige korrespondensie en vriendelike gesprekke geen
daadwerklike bekering, konkrete teken van berou, aanduiding van skulderkenning of vaste voorneme om ‘n nuwe koers in te slaan, te bespeur
by die ASM nie.
6.3.2 Die 2019 SGV besluit staan steeds en word deur die leierskap verdedig! Die erkenning dat dit wel
“verdeeldheid” veroorsaak het, moet verwelkom word, maar dit kan kwalik as
bekering beskou word.2.
6.3.3. Ten
spyte van nuwe denke en planne oor herstrukturering van teologiese opleiding is daar ook geen grondige bekering weg van
dwaalteologie of openbare skuldbelydenis van die skade wat onbybelse teologiese
opleiding aan die kerk aanrig nie. Inteendeel! Ten spyte van die baie getuienis
oor die openlike propagering van dwaling by teologiese instellings (dink maar
net aan die “queer teologie”) verklaar die ASM dagbestuur soos volg : “As kerk is ons dankbaar vir die
deeglike teologiese opleiding van ons voornemende predikante in vennootskap met
geakkrediteerde akademiese instellings waarby ons oop deure het.” Dit klink nie na berou of bekering nie?
Vooraanstaande rolspelers ten gunste van die kerklike goedkeuring van
selfdegeslagverbintenisse is steeds betrokke by die vorming en opleiding van
ons teologiese studente. Dis rampspoedig!
6.3.4. Die gebrekkige leierskap in ons kerk, wat
wantroue by lidmate veroorsaak duur
steeds voort soos die gebrek aan aksie, openbare berou en skuldbelydenis
asook ’n terugroep van die kerk na die vaste waarhede van die Woord bewys.3.
Die openbare verklaring van die ASM dagbestuur van 12 Augustus 2022 het alle hoop op ‘n moontlike gesindheid van berou en bekering finaal die nek ingeslaan.4.
Hierin word teruggeval op geykte
selfregverdiging en vae verdagmakery.
7.Artikel 37 toeligting
7.1. Die Taakspan is
gekonfronteer met die moontlikheid dat Artikel 37 nie so eenvoudig is as wat
dit op die oog af mag lyk nie. Ons moet
hiervan kennis neem en dit eerlik aan ons sinode stel.
7.2. Die probleem rondom Artikel 37 is dat daar geen eenstemmige
interpretasie van die detail is nie. Dis nog nooit in ‘n hof getoets nie.
7.3. Volgens sommige se
opinie is daar interpretasie probleme insake praktiese konsekwensies soos wettigheid van
afskeiding (watter meerderheid is ter sprake?), erkenning van opleiding,
legitimasie of lidmaatskap. Vir ander is die interpretasie nie so onduidelik
nie.5. Buitendien is dit sake wat alles opgeklaar sou kon word
tussen ‘n onafhanklike Namibiese kerk en ander NG kerkverbande via eerlike
gesprek en onderhandeling.
7.4. Meer ernstig
van aard is die (verstaanbare) wesentlike bekommernis oor die teologies prinsipiële verantwoording van losmaking
van die AS. Sou dit byvoorbeeld die afkondiging van ’n status confessionis vereis? Afstigting, wegbreek en skeuring
is tereg woorde waarvoor
ons skrikkerig is. Alhoewel dit streng gesproke nie die Taakspan se funksie was om die Namibiese besluit prinsipieel
te motiveer nie, sou ‘n paar opmerkings in hierdie verband
tog sinvol kon wees :
7.4.1. Die Namibiese
sinode het in
beginsel reeds die besluit
geneem tot losmaking (weereens dis nie die Taakspan se opdrag om daardie besluit te evalueer nie) – daarom is daar ‘n tydsbeperking geplaas van 6 maande om die Matteus 18 pad te stap as ‘n finale oproep tot bekering.
7.4.2. Die breuk met die AS het reeds
in beginsel in 2016 gekom met Namibië
se besluit wat onversoenbaar met die AS standpunt is. Dis Skriftuurlik onversoenbaar, maar ook kerkordelik inkonsekwent – ‘n ampsdraer wat nou in een deelnemende kerk onder tug sou kon wees sou met kerklike seën in ‘n ander deelnemende
kerk bevestig kon word. Paartjies
wat in een sinodale gebied onder tug sou kon kom, sou in ‘n ander sinodale
gebied met seën in ‘n “huwelik”
bevestig kon word. Dit wat nou in een sinode ’n sonde is, is
in ’n ander sinode ’n seën. Dit maak
‘n bespotting van die begrip kerkverband as sodanig.
7.4.3. Die AS is nie die kerk nie, maar ‘n beleidmakende liggaam van deelnemende kerke. (“Kerkskeuring” is dus nie heeltemal
die korrekte woord om ons voorgenome aksie te beskryf
nie.) ‘n Liggaam wat vir ons ‘n verleentheid geword het en ons op ‘n dwaalweg lei. Om ons los te maak van so ‘n struktuur beteken nie dat ons alle kerke wat aan daardie struktuur behoort noodwendig as vals kerke tipeer nie. Ons behoort tog ook nie aan dieselfde beleidmakende struktuur as die
Geref. Kerke of die AGS
nie, maar dit
beteken nie dat ons hulle noodwendig
as vals kerke/kerkverbande beskou
nie.
7.4.4. Indien ons van die AS afskei beteken
dit nie dat bande met ander deelnemende kerkverbande wat aan die AS behoort noodwendig verbreek word nie. Oor alle bande kan weer nuut en vars besin word en dit sou heelwat
moontlikhede vir getuienis
en samewerking kon bied met ander kerke vir wie die waarheid
van die Woord ononderhandelbaar is. Dit sou heel moontlik kon gebeur dat bande met een samestellende kerk nouer sou kon ontwikkel as die bande met ‘n ander samestellende
kerkverband.
7.4.5. As daar sprake van skeurmakery is dan is die AS en die gebrek aan leierskap
een honderd persent daarvoor
te blameer. Dis die
AS wat met sy besluite de facto reeds skeuring veroorsaak het! Die geykte verskonings,
kleitrappery oor wat besluit
is (was dit nou ‘n prinsipiële of prosesbesluit, gaan daar
‘n formulier opgestel word vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse of
nie?) en die onwilligheid en onvermoë om hulleself
duidelik uit te spreek,
getuig nie van leierskap wat die eenheid binne die waarheid nastreef nie.
7.4.6. Wat van die praktiese impak van losmaking? As die NGKN soos reeds in beginsel besluit is, ons losmaak van die AS gaan ons ons broers en susters oorkant
die Oranje wat veg vir die behoud van die waarheid enorm baie bemoedig! Dis ons helderste en geloofwaardigste profetiese getuienis op hierdie
stadium. En dit gaan rigtinggewende effek hê op ons nageslag! Afskeiding/losmaking sou die kragtigste profetiese handeling denkbaar kon wees, wat vir die wêreld sou kon wys ons neem die Woord van God ernstig op en vir die moedelose
kinders van God weer hoop gee dat daar ‘n kerk is wat bereid is om op te staan
teen die tydsgees en morele
sowel as teologiese verval van ons
dag.
8.Nou of
nooit
8.1. Hierdie
verslag stel die oortuiging dat ons as Namibiese kerk ons op ’n beslissende
oomblik in die geskiedenis bevind. Ons het nou die geleentheid om ons los te
maak van ’n liggaam wat ons reeds oneindige skade en verleentheid veroorsaak
het. Daar is nou nog ’n kans om iets van ons verlore integriteit terug te kry.
Ons gaan dalk nooit weer die geleentheid kry nie, want die vertroue in die
kerkstrukture gaan net verder verbrokkel as daar nie nou daadwerklik opgetree
word nie. As ons nou huiwer gaan ons ter
wille van ’n skyneenheid met die AS die interne eenheid binne die NGKN
onherstelbaar skade aandoen.
8.2. Ons
moet tog net nie val vir die algemene versoeking sodra die kerk bang is om ’n
dapper besluit te neem nie – dit is – stel nog ’n taakspan aan. Reeds in 2016 is daar ’n taakspan aangestel
om die band met die AS te ondersoek. Daarvan het niks gekom nie. Dieselfde
fout mag nie herhaal word nie. Dit sou verraad wees teenoor ons lidmate om maar
net soos voorheen aan te gaan en nog meer taakspanne in die lewe te roep. Daar
moet nou dapper opgetree word deur ons sinodebesluit uit te voer!
9.Aanbeveling aan die moderamen
9.1 Daar was geen bekering by die AS (ASM) nie en daarom is die Namibiese sinode moreel en prinsipieel gebonde om in terme van sy Maart 2022 besluit,
haar bande met die AS
formeel so gou doenlik los te maak
ongeag sekere vrae wat nog nie deeglik uitgeklaar is nie. (Dit sou die moderamen dus vrystaan om ‘n
objektiewe regsopinie te kry oor die interpretasie van Artikel 37.)
9.2. Daarom die volgende aanbeveling aan die moderamen:
9.2.1
Die moderamen neem met
leedwese kennis dat daar geen oortuigende bewyse van hartgrondige bekering by
die Algemene Sinode of die Algemene Sinodale Moderamen ten opsigte van die sake
wat deur die Sinode van die NGKN geopper is, waarneembaar was nie.
9.2.2.
Die moderamen stel ‘n
datum vas vir ’n buitengewone Namibiese sinode in 2023.
9.2.3.
Die moderamen maak ‘n
aanbeveling aan die sinode om in die lig van die afwesigheid van hartgrondige
bekering by die Algemene Sinode haarself los te maak van die Algemene Sinode kragtens
Artikel 37 van die Kerkorde met onmiddellike effek.
TJ de Koning
Lid van die
Matteus18 Taakspan
VOETNOTAS
1.Natuurlik is
die Taakspan se werk geskoei op die volledige besluit en nie die persverklaring
nie. Die persverklaring is wel uiters belangrik in die sin dat dit die amptelike
sinodale vertolking na buite was, vir gewone mense om te verstaan.
2.Daar was wel
’n skriftelike erkenning dat die “2019 SVG besluit verdeeldheid” veroorsaak het
in ’n formele brief van 15 Augustus 2022 van die ASM-dagbestuur. Daar is egter geen berou hieroor getoon of enige begeerte of
voorneme om hierdie besluit te laat omkeer nie.
3.So skryf Düring Cornelius van Kalkrand in ’n
brief aan Die Kerkbode (17 Oktober 2022) : “Ook die Namibiese
Sinode se ernstige oproep tot bekering en sondebelydenis, om teen November 2022
gedoen te wees, lê steeds sonder sigbare vrug op die AS-leierskap se tafel.”
4.Verklaring van
ASM
Verklaring van die dagbestuur van
die NG Kerk (Algemene Sinode)
Ons, die lede van die dagbestuur
van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen, is opgewonde en dankbaar oor die
toewyding en dankbaarheid waarmee die NG Kerk in al sy gestaltes die Here dien.
Op talle terreine maak die kerk ’n lewegewende verskil en word miljoene se lewe
daardeur geraak. Ons is ook dankbaar oor bedieninge en versorging wat dwarsdeur
die Covid-pandemie volgehou is en nou ’n nuwe seisoen ingaan. Ons wil dankie sê
aan leraars, kerkrade en lidmate wat hul roeping gehoorsaam bly vervul.
Die kerk het egter ook oor die afgelope jare interne
verdeeldheid beleef. ’n Vreemde taal van verdagmaking en dreigemente het in die
kerk opgeklink en die versoeningsboodskap wat Christus aan ons opgedra het in
gedrang gebring. In die proses is talle valse beweringe gemaak, soos dat die NG
Kerk haar belydenis oor die Persoon, werk en opstanding van Christus versaak;
dat ons nie meer ernstig is oor die Bybel as Woord van God nie; die realiteit
van die Bose en boosheid in en rondom ons ontken; dat ons die ingrypende aard
van sonde en gebrokenheid en daarom ook ons nood aan verlossing geringskat.
Wanvoorstellings is ook gemaak oor
die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslag verhoudings. Die waarheid
is dat die Algemene Sinode nie in 2019 ’n beginselbesluit geneem het ten gunste
of teen selfdegeslagverhoudings nie. Die prosesbesluit wat geneem is, het die
gereformeerde beginsel gehandhaaf dat gemeentes selfstandig besluite kan neem
oor etiese sake, in hierdie geval oor selfdegeslag verhoudings. Gemeentes het
trouens nog altyd besluit oor wie in hulle ampte dien en hoe lidmate pastoraal
versorg, begelei en bedien word.
Die Moderamen het sedert 2019 by
verskeie geleenthede met sinodes in gesprek getree wanneer hulle dit versoek
het. Die gesprekke was telkens met deernis gevoer en het gelei tot
verheldering. Die Algemene Sinode Moderamen het desondanks die feit dat ons
Kerkorde nie voorsiening maak vir drukgroepe nie, ook welwillend uitgereik na
die Kairos Netwerk wat op ’n nie-kerkordelike wyse die kerk as gemeenskap van
gelowiges se integriteit met verdagmaking en drukgroepvorming ernstig aangetas
het. Dit het stelselmatig geblyk dat hulle besware veel verder strek as die
2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings. Hulle skaar hulle daarom tans by kerke
en groeperinge wat oor talle kwessies wat vir die NG Kerk prinsipieel belangrik
is, totaal anders dink.
Die NG Kerk se verbintenis aan God
se Woord spreek uit hoe dit Sondag vir Sondag in gemeentes bedien word. Dit
spreek óók uit hoe die kerk sover terug as die 1980’s haar ontworstel het aan
’n apartheidsteologie, rassisme as sonde bely het, die gelykwaardigheid van
alle mense voor God erken het, vroue tot alle ampte in die kerk en dooplidmate
by die Nagmaalstafel toegelaat het. Hierdie standpunte van die sinode het deel
geword van ons getuienis en identiteit en kan nie sommer net goedskiks
prysgegee word nie. Die NG Kerk is immers daartoe verbind om in ‘n uitdagende
tyd en ontwikkelende wêreld gehoorsaam te wees aan Christus, die Here, en nie
weg te skram van moeilike vraagstukke en omstandighede wat onreg en lyding
veroorsaak nie.
As kerk is ons dankbaar vir die
deeglike teologiese opleiding van ons voornemende predikante in vennootskap met
geakkrediteerde akademiese instellings waarby ons oop deure het. Die onderskeie
kuratoria is in openhartige gesprek met sinodes en belanghebbendes hieroor en
is verbind tot deursigtigheid en leerbaarheid.
Ons het met dankbaarheid kennis
geneem van die moeite wat die tien sinodes, ringe en gemeentes doen om in hierdie
tyd almal te help om Christus se wil vir sy kerk te onderskei en die talle
geleenthede en ruimtes wat ons kerkorde bied, te benut om saam kerk van
Christus te wees. Die antwoord vir ons verskille lê nie in kortsigtige
kerkregtelike afwykings van die Kerkorde en die kerkbegrip wat dit
verteenwoordig nie. Dit lê in verdraagsaamheid en eensgesindheid.
Ons is oortuig dat daar binne die
verband van die NG Kerk genoegsame ruimte is om opreg met mekaar te kan praat,
in die hart van ons belydenis mekaar te vind en waar daar verskille is, met
respek en deernis op weg te gaan. Vir skeurmakery is daar egter nie in die Kerk
van Christus plek nie. Vandaar ons oproep om na mekaar te bly luister en te
leer, om saam te bid en te werk sodat ons heling mag vind en God saam sal
verheerlik.
Gustav Claassen
namens die Dagbestuur van die
Moderamen
Nederduitse Gereformeerde Kerk
5.Johan Ernst (voormalige
aktuarius AS) se opinie :
- Die
uittrede van ‘n samestellende kerk uit verband met die Algemene Sinode
geskied met ‘n gewone meerderheid. Slegs Artikels 44.1 tot 4.3 van die
Kerkorde is met ‘n tweederdemeerderheid verskans.
- Dit
is nie gemeentes wat in vergadering van die besluit oor die toepassing van
Artikel 37 nie, maar die afgevaardigdes van gemeentes na die vergadering
van sinode wat as sinode besluit om ingevolge Artikel 37 uit verband van
die Algemene Sinode te tree. Die Algemene Sinode is ‘n sinode van sinodes
en nie ‘n vergadering van gemeentes of ringe nie.
- Die
regverdiging vir uittrede uit verband met die Algemene Sinode is ‘n “stap
voor God in die lig van sy Woord” en niks anders nie. Dus behoort die
besinning wat die besluit daartoe voorafgaan slegs te gaan oor die Woord
en niks anders of niks meer nie. Om een of ander tegniese saak of
praktiese implikasie te opper hoort nie tot die besinning nie en kan ook
nie ‘n stap voor God in die lig van sy Woord kompromitteer nie. Hier gaan
dit dus oor die Woord van God en die Woord alleen (sola scriptura).
- Soos
kerkvergaderinge hulle besluite in die lig van die Woord neem en daaroor
stem, so moet hierdie besluit ook geneem word, nadat daaroor gestem is.
- Iemand
wat in die minderheid gestem het, moet hom of haar ingevolge Artikel 23
berus by die besluit geneem, op voorwaarde dat daardie besluit nie in
stryd is met die Woord van God, die belydenis van die Kerk en die Kerkorde
nie. Slegs indien die besluit na die oordeel van ‘n beswaarde in stryd met
die Woord, belydenis en Kerkorde wees, kan daarteen geappelleer word.
- In
die geval van die onmiddellike toepassing van Artikel 37 sal daar nie meer
na die Algemene Sinode geappelleer word nie en sal die appèl intern deur
die Sinode self hanteer moet word, tensy uittrede volgens besluit eers op
‘n later datum geskied.