NG Kerk Tsumeb doleer.
Die
NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die
moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer
(treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend).
Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond
van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en
leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)
Ons mag nie meer stilbly nie.
Om
te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik
in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die
vervalle toestand van God se kerk is te vinde by Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons
neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie
gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie
stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie,
want :
Ons
het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer. (Johannes 14:15)
Ons
as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die
waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1
Timoteus 3:15)
Ons
besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig
mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)
Ons
vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp.
(Matteus 10:28)
Ons
mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met
die tydsgees. (Matteus 10:32,33)
Ons
sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek.
(Romeine 1:18-32)
Ons
verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en
dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)
Ons
leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling
en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)
Waaroor treur ons?
Ons
treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte
afwatering, ontheiliging en minagting
van God se Woord aanvoor en toelaat. Dit
het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS
2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening
maak dat dit kerklik geseën kan word.
Ons
treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite
waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die
ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale
feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme
aangespreek word.)
Ons
treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die
dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN
sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS.
Ons
treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en
getuienis oor die verval in ons kerk kan
begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op
die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas
ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN
dit onderteken het.)
Die doel van ons treur.
Met
ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder
die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van
Christus ter wille van die eer van God.
Deur
ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld
word.
Ons
wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot
bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.
Ons
wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met
die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.
Deur
ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die
waarheid en die eer van God.
Ten slotte
Ons
besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin.
Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op
te roep nie.
Dolering
is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons
indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet
kyk.
Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021
Voorsitter : Herman Fuls
Skriba : Ria Struwig
Leraar : Johannes de Koning
BYLAAG A VERKLARING
2019
Dit is met groot
hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG
kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG
Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir
selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van
mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar
eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees.
Ons betreur hierdie
besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die
gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met
hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek.
Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou
hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg
ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van
die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11).
Ons doen hierdie
verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en
met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig
dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid,
die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom
het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie,
in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te
leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die
uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my
Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus:
· Ons
glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die
Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God
se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare
menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek.
· Ons
glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een
vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en
God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike
huwelik tot stand kan kom.
· Ons
glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as
sonde en opstand teen God se wil veroordeel.
· Ons
glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as
sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar
ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur
die krag van die bloed van Christus.
· Ons
glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die
kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is,
terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige
homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos
beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in
die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God.
· Ons
bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense
geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het.
Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle
sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal
te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus.
Gedring
deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in
die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en
bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant
die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees.