Bladsye

Woensdag 14 Oktober 2020

DIE GEVAARLIKE GOGGA VAN EGOSENTRISME (1)

wat gate vreet in jou siel!



"I, me and myself.”  Selfgesentreerdheid. Dis nie ’n nuwe probleem van ons tyd nie. Dis baie duidelik as mens lees hoe Jesus al destyds met Sy dissipels in  MARKUS 9:33-50   gepraat  het oor egosentrisme. Dis so raak, dis so treffend en van toepassing, dis asof Hy hier staan en spesiaal ‘n boodskap vir ons bring. Selfgesentreerdheid/egosentrisme is die denkwyse waarvolgens ek eintlik in die middel is. Ek is die belangrikste “peanut” in die pakkie. Miskien dink jy : “Ek het nie so ’n probleem nie.” Wag ’n bietjie... Wat is die simptome van selfgesentreerdheid? “Ek hou nie daarvan nie/dit staan my nie aan nie/dit pas my nie, daarom gaan ek nie meer saamspeel nie.” Of wat van selfbejammering, ‘n gedurige leef in die verlede? Ek voel maklik te na gekom, ek word gou-gou jaloers,  ek voel maklik seergemaak en dan beplan ek sommer vinnig  wraak... ? Al hierdie dinge het maar iets te doen met selfgesentreerdheid/egosenrisme. Jy sal moet erken, dit raak ons maar eintlik almal...

 

Ons gaan nou eers kyk na Markus 9:33-37:

 

33 Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?"

34 Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: "As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees."

36 Toe het Hy ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê:

37 "Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het."

 

EEN STUK LERING

Hierdie gedeelte is deel van ’n  hele gesprek in Markus 9:33-50. Dis ‘n stuk lering van Jesus wat ‘n eenheid vorm.  As mens dit raaksien dan word dit ook aansienlik makliker om die onderskeie gedeeltes te verstaan. Drie sake wys op die eenheid en samehang van hierdie onderwysing van Jesus.*

Dit vind op een plek plaas. Die huis in Kapernaüm (9:33) Dis hier waar Jesus gaan sit het om te onderrig.

Aan die einde van Sy lering kom Jesus weer terug by die saak wat oorspronklik tot die hele gesprek aanleiding gegee het. Die gesprek het begin nalv die dissipels se twis (9:34) en Hy sluit Sy onderrig gepas af met die woorde : "Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe." (9:50b)

Daar is duidelik ‘n tematiese eenheid. Die egosentriese benadering van die dissipels word aangespreek en gekorrigeer tot ‘n Christosentriese benadering.

 

JESUS SE LYDING

 

Jesus is oppad na Jerusalem om te gaan sterwe. Sy naderende lyding en verwerping staan sentraal en hang ook in die agtergrond van die gesprek. Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: "Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan." (31) 

Op hierdie belangrike pad is vrede en eenheid onder die dissipels noodsaaklik en daarom moet Jesus hulle aanspreek oor hulle getwis en vra hy die vraag: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?" (33) Die stilswye van die dissipels sê alles.(34) Teen hierdie tyd moes hulle al besef het dat Jesus mense se gedagtes en harte deurgrond, alles weet. Hulle stilswye is eintlik skaamte : “Ons is uitgevang, wat kan ons nou sê?”

 

WORD DIENAARS

 

Jesus gaan sit nou en roep die Twaalf. (Onthou daar was ook ander dissipels/leerlinge) Mens kan jou die spanning en afwagting voorstel.  Hulle sou dalk dink : “Gaan Jesus tog nou aankondig wie die belangrikste is? Is ons twaalf tog dalk die belangrikste onder die groot getal leerlinge?”

Hoe vreemd klink Jesus se woorde dan nie in hierdie situasie nie.  Die twaalf (en die ander) wil graag voor staan, eerste wees. Dis uit hierdie wil waaruit hulle twis voortgespruit het. Jesus buig hierdie wil nou om, keer dit onderstebo - ja, daar is wel ‘n ereplek by Jesus, maar dit bestaan daarin dat ek die laaste plek, die plek van die dienaar moet inneem.  Die dienaar van almal wees.

 

Koninkrykswaardes is die omgekeerde van die wêreld se waardes!

 

Ons het hier te maak met ’n verrassende wending - die nader roep van die Twaalf lei nie daartoe dat Jesus aankondig wie die belangrikste is nie, maar  gee wel ‘n aanduiding van hoe mens die belangrikste kan word. Maar Jesus laat Sy lering nie net by die teoretiese nie. Hy wys nou prakties hoe lyk die “belangrikste”. Hy bring ‘n kindjie binne die kring in en slaan Sy arm om hom. Dis nie Jesus se bedoeling om te sê dat kinders die belangrikste in die gemeenskap is nie. Hy gebruik juis die kind omdat hulle die minste is, hulle het nog nie posisie of waardigheid nie.’n Kind tel nog nie eintlik nie. Die kind daar in hulle midde is ‘n onderstreping van Jesus se woorde. Wie belangrik wil wees moet die laaste plek inneem, moet soos ‘n kindjie word.

Hoe moet die term “ontvang” tuisgebring word by hierdie situasie? (37)  Onthou die boodskap wat Jesus hier wil oordra is gerig op hierdie leerlinge wat gestry het oor wie die belangrikste is. Hulle “aanvaarding, ontvangs deur ander, hoe ander hulle behandel” was voorop in hulle gedagtes. Nou help Jesus hulle reg. Dissipels word nie geroep om hulle eie ontvangs te reël nie, maar juis om vir andere die eer van ontvangs voor te berei.

 Jesus leer vir hulle (en ons) : “Julle is nie dissipels  ter wille van julleself nie maar ter wille van die voordeel van ander.” Dissipels  moet dienaars wees, dienaars van almal selfs ook geringste kind.**

 

KOM ONS RAAK PRAKTIES:

 

Selfgesentreerdheid kom ongelukkig ook voor onder Jesus se volgelinge. Dis een van die stukke bagasie wat maklik en ongemerk saamgebring word uit die vorige bestaan. Selfgesentreerdheid is altyd en vir almal verkeerd, maar wat dit soveel erger maak by volgelinge van Jesus is dat Jesus juis die teenpool van alle selfgerigtheid en selfbelang is. Hy is die lydende Jesus wat afstand gedoen het van alle selfbelang en regte terwille van ons.

Ons motiewe in die beoefening van ons Christenskap word tot op die been oopgevlek.  Is ek dalk ’n  kind van God ter wille van my eie voordeel? Sien ek nie Christenwees as maar net nog ‘n aspek van die lewe wat my tot hulp kan wees om my maksimum potensiaal te laat bereik nie?

Jesus se lering plaas ons denke oor die evangelie en die kerk onder die soeklig. Om die evangelie aan te bied as ‘n pakket wat allerhande tydelike voordele vir my kan bring pas nie in by hierdie lering van Jesus nie. Die voorspoedsteologie van die Word Faith (groepe soos die CRC) is nie dieselfde evangelie wat Jesus verkondig het nie!  Ons vind in Jesus se woorde ook ‘n nuwe perspektief op kerkwees. Hoe verstaan jy jou lidmaatskap?   Gaan dit vir jou dalk oor : “Wat kry ek hier, hoe kan ek bedien word?”  Jesus sê,  nee ons is hier om dienaars te wees.  Dien ek en jy ander binne ons gemeentes?

Mag ons weer opnuut besef wie se volgelinge ons is - die Lydende Jesus!   Die Jesus wat afstand gedoen het van al sy hemelse voorregte!  Die Jesus wat Homself verneder het om ’n slaaf te word. (letterlik) Die Jesus  wat Sy eie lewe nie liefgehad het nie,  maar dit afgelê het vir my en jou, Sy skape!  Kom ons besef weer wie Jesus is. Dit  sal ons help om  weerstand te bied teen die altyd teenwoordige bedreiging van egosentrisme. ‘n Gedurige fokus op Jesus sal verseker dat ons soos Hy plek sal maak vir die geringes.

 

*Erkenning aan die kommentaar van Jakob van Bruggen vir eksegetiese insigte.

**In 10:13-14 waar Jesus die kindertjies seën  is dit duidelik dat hulle dit moeilik kon verstaan!