Bladsye

Dinsdag 31 Maart 2020

EK GLO

- Kom bely saam met my die vaste waarhede ten midde van pandemie en dood!

Soos die vierkantklip staan die waarhede van die Woord rotsvas in alle omstandighede en tye!

Loer by :

https://www.youtube.com/watch?v=U-_un96m6fE



Saterdag 28 Maart 2020

PRIORITEIT TYDENS ‘N PANDEMIE


- Jesus praat prontuit! 




Ons leer nou ‘n nuwe woordeskat wat ‘n paar weke gelede nog net vaagweg op die horison was – "pandemie, koronavirus, Covid-19, inperking, ingrendeling, afsondering…bykans apokaliptiese tonele van dood en chaos!" (en eindelose samesweringsteorieë) 

En dit laat mens sommer oor baie dinge dink...



HET JY AL GEWONDER? SAL DAAR MIN MENSE GERED WORD OF BAIE? 

Wat van my familie, vriende, werksmense... of daardie groot getalle wat tans in Italië, Spanje, Iran... sterf aan Covid-19? Hoeveel van hulle is gered en nou by die Here? Hoeveel van hulle gaan die ewigheid en in heerlikheid by God deurbring? Hoeveel nie? En jy dink : "Miskien baie... die genade is immers groot! Miskien min... Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad..." 

Jesus self gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae in LUKAS 13:22-30. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) 

Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die verbondsvolk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! – onder baie van ons mense heers ‘n soortgelyke wanopvatting. (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering – die boom wat nie vrugte gedra het nie in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk ook verder hieroor kon laat wonder het.) 

VERRASSENDE ANTWOORD 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24a) en ‘n waarskuwing. (Vers 24b) 

UITDAGING. 

“Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat JY wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang en dit aangryp!

Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) 

Jesus wil dus sê : 

Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry) 

Span al julle kragte in beteken dus : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? 

Kom ons wees prakties - As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap... is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!" (Romeine 10:13)

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok vir vergifnis! 

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. Hy brei uit op die waarskuwing met : “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28) Baie mense leef onder ‘n vals illusie van sekerheid en saligheid. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk aangegryp! 

'N LAASTE EEN GAAN IN!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Die misdadiger aan die kruis...“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk! 

Ons eerste prioriteit ook in hierdie tyd van die Covid-19 pandemie is nie bloot om gesond te probeer bly nie, maar om gereed te wees vir die koninkryk! 

Siekte of nie siekte nie, virus of nie virus nie – een ding is belangrik! Om aan my getroue Verlosser Jesus Christus te behoort. Maak gebruik van die genade in Jesus, NOU!



Donderdag 19 Maart 2020

GOD EN SIEKTE


- DIE TOEKOMSTIGE VERLOSSING VAN ONS LIGGAME IS ‘N HEERLIKE WERKLIKHEID! 



Die algemene opvatting onder baie mense behels die volgende: “Die duiwel maak mense siek en God maak mense gesond. Die duiwel laat mense doodgaan en God maak mense lewend." Die gevolgtrekking of implikasie is dan dat as iemand siek word en doodgaan, het die duiwel gewen en as iemand gesond word en hy lewe het God gewen. So baie keer wen die duiwel dus met kanker, motorongelukke, Wuhan griep… “Maar”, word beweer “as ons net die regte formule ken om lewe te spreek en as ons geloof net sterk genoeg is hoef ons nooit siek te word of in ‘n ongeluk te kom nie…” 

Is dit wat die Skrif leer? NEE! Nou wat leer die Skrif? Kom ons kyk net na drie perspektiewe uit Romeine 8:18-25 betreffende die skepping en die nuutmaking van die skepping (ons ingesluit): 

1.God het die hele skepping aan verganklikheid onderwerp. Dis nie die duiwel wat besluit het dat daar iets soos siekte, veroudering en dood moes wees nie. Dis God! Dis Sý straf op die sondeval. “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God se waarskuwing aan die mens was mos baie duidelik – “as jy van hierdie boom eet sal jy sterwe.” Verder was deel van die straf dat die hele aarde vervloek is weens die mens. “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” (Genesis 3:17) God is in beheer van als. Ook van ons liggame wat Hy geskape het, “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?" (Eksodus 4:11) 

Belangrik egter : 

Die feit dat siekte die gevolg van die sondeval is beteken nie noodwendig dat alle siekte die gevolg van ’n persoonlike sonde is nie. 

In Johannes 9 kry ons die geval van die blindgeborene. Die dissipels wou dadelik die afleiding maak dat sonde die aanleiding was vir hierdie man se blindheid. Jesus gee egter ’n totaal ander perspektief wat die dissipels lekker in die bek ruk! 

“En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 
Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Joh. 9:2,3) 

Daar is verskeie perspektiewe op siekte in die Skrif. Soms is siekte selfs as gevolg van uitputting in die werk van die Here. “Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 
Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 
Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 
Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 
Ontvang hom met oop arms as ‘n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 
want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie."  (Fil. 2:25-30) 

In sekere gevalle kan siekte en ellende die gevolg wees van demoniese invloed. (Veral waar mense by die okkulte betrokke was.) Jesus het op ‘n keer ‘n vrou genees en dit blyk duidelik dat haar siekte ‘n demoniese oorsprong gehad het, want ons lees : “Daar was ook ‘n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ‘n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.” (Lukas 13:11) 

Inderdaad kan God siekte ook as tugtiging gebruik in die lewe van sy kinders. Dit word geïmpliseer in Jakobus 5:14,15. “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.” Dat God siekte en selfs dood kan gebruik om sy eie kinders te tugtig kom ook treffend na vore waar Paulus met die Korintiërs praat oor die belangrikheid om die heiligheid van die nagmaal ingedagte te hou – “Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 
want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself. 
Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 
As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 
Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie." (1 Korintiërs 11:27-32) 

Die punt is, pasop daarvoor om simplistiese verklarings vir siekte te gee! En onthou daar is net een Almagtige Regeerder van die heelal!

2.Die hele skepping sal eendag van hierdie verganklikheid bevry word. “die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:21) God belowe ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waar daar nie meer sonde, swaarkry, siekte, en dood sal wees nie. Die wortels van hierdie belofte vind ons reeds in die Ou Testament. “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.” (Jesaja 66:22 ) Dis ‘n eksplisiete waarheid in die Nuwe Testament en nie net in Openbaring nie! Ook Petrus praat hiervan. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Petrus 3:13) Ons toekoms is nie hier op hierdie stukkende aarde nie Ons beste tyd is nie nou nie, maar eendag! Alle siekes gaan nie nou genees word nie. Daar is geen reseppie om alle siekte te vermy of die dood te systap nie. Raak realisties en moenie jou ore uitleen vir die (kliek) spreek lewe dwaling nie. Moenie dink daar is ‘n geheime formule om altyd gesond te bly nie. Ja, natuurlik soos in die geval van alle gebrokenheid in die skepping mag ons alle moontlike wettige middele gebruik om siekte te bestry. Ek sê wettig – want daar is ook ongeoorloofde middele – soos die okkulte. En terloops, baie sogenaamde alternatiewe geneesmiddel is niks anders as versuikerde okkultisme en duisternis nie! (Die duiwel buit hierdie drang om gesond te wil wees uit en so kry hy juis mense nog verder in sy mag…) Maar daar is wel geoorloofde middele wat ons mag gebruik om siekte te bekamp. Paulus se raad aan Timoteus wat klaarblyklik dikwels siek was is veelseggend. “Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.” (1Timoteus 5:23) Wyn is beskou as medisyne. Volg ‘n gesonde leefstyl met die regte oefening en voedsame kos. Maak gebruik van die mediese wetenskap. Die Bybelis positief oor die mediese wetenskap - een van die Nuwe Testamentiese skrywers, Lukas was 'n dokter.  En natuurlik gebed! Gebed saam met behandeling. (Ons het dit reeds gesien in Jakobus) Deur gebed erken ons ons Vader se soewereine beheer en stel ons ons hoop op Hom om vir ons te sorg (en te genees) volgens Sy wil! 

Ons besef hierdie wêreld is gebroke en stukkend en verlang daarom veral na die toekomstige bedeling wat God beloof het!

3.Ons liggame gaan ook eendag bevry word. God se kinders sien uit na die verlossing van hulle liggame, die volle uitwerking van die aanneming tot kinders. “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.”*(23) Ons sug as’t ware saam met die res van die skepping. Daar leef by ons ‘n sterk verlange na die bedeling van geestelike en liggaamlike volmaaktheid! Dis ‘n verdere bewys dat ons nie nou reeds liggaamlike volmaaktheid geniet nie. Wanneer gaan dit gebeur? Dieselfde tyd wanneer hele skepping nuutgemaak sal word. Dit gebeur nie nou al nie. Daar is ‘n bepaalde orde in God se herstel; eers geestelik dan fisies. (Dieselfde volgorde was waarneembaar net na die sondeval – dit het eers geestelike dood veroorsaak, daarna fisiese dood.) 

KORONA VIRUS EN WUHAN GRIEP 

Tot met Jesus se wederkoms sal siekte (ja ook virusse!) met ons wees en word alle mense (ook God se kinders) daaraan blootgestel. 

Jesus bring ‘n omvattende en heerlike verlossing. Hy herstel nie net sondaars nie, Hy maak die hele skepping nuut! Hy red nie net siele nie, Hy verlos uiteindelik die totale mens – ook ons liggame! As totaal nuutgemaakte en volmaakte mense sal ons op ‘n nuwe aarde woon. Dis ons vaste hoop. Die hoop wat ons nie nou al sien nie, maar geduldig en volhardend op wag! Dit maak ons bly ook in die tye waarin ons ons nou bevind. (Romeine 8:25) 

Met Jesus in jou lewe het jy ‘n TOEKOMS al is jy nou sieklik of gebreklik. Sonder Jesus is jy gedoem al is jy topfiks en blakend gesond!


*So in die OAV wat ‘n direkte weergawe is van die Grieks - την  απολυτρωσιν  του  σωματος ημων (die verlossing van ons liggame) Ek verkies dus die OAV hier bo die NAV.


Donderdag 05 Maart 2020

Koronavirus en vrees

- God se Vaderskap bevry ons van vrees, maar maak ons vreemdelinge in die wêreld!


Weet jy dat God jou Vader is in die volle sin van die woord? Het jy die versekering dat jy God se kind is? Hierdie feit en wete maak ‘n reuse verskil. 1 Johannes 3:1-3 praat so duidelik oor God se groot liefde en die feit van kindskap. 

Vers 1 "Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. 

Vers 2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 

Vers 3 Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is." 

NOU REEDS 'N FEIT!

Om kind van God te wees is nie bloot ‘n vroom teoretiese frase nie, maar ‘n werklikheidsbelewenis. Dis ‘n konkrete feit! “en ons is dit ook” (1) En dis nie iets van eendag in die toekoms nie. “nou reeds kinders van God” (2a) 

Hoekom is hierdie saak so belangrik? John Wesley, die latere beroemde prediker was ‘n baie goeie man, nog voor sy bekering. Vir almal sou hy lyk soos ‘n model Christen. Hy was lid van die sogenaamde Holy Club in Engeland wat baie streng Christelike dissipline gehandhaaf het. Hoog op die agenda was gebed, vas, goeie dade... Om alles te kroon het Wesley die oseaan deurkruis en na die Amerikaanse pionierstaat Georgia gegaan om sendingwerk te doen. Dit was egter ‘n groot mislukking. Later sou hy skryf: “I who went to America to convert the heathen, was myself never converted to God.” Met sy terugkeer op ‘n skip na Engeland was daar ‘n gebeurtenis wat sy eie geestelike onsekerheid en armoede ontbloot het. Saam op die skip was daar Duitse Morawiese Christene wat ‘n diep vertrouensverhouding met God beleef het. Sekerheid van hulle kindskap. ‘n Vreeslike storm het oor die skip losgebars. Wesley skryf : “a terrible screaming began among the English”, maar hierdie Duitse Christene, mans, vroue en kinders het kalm ‘n lied van lof en vertroue gesing. Wesley was beide verheug en ontsteld deur hulle optrede. Verheug om te weet dat ‘n verhouding met God soveel vrede kon bring. Ontsteld om te besef dat hierdie Christene iets het wat hy nie het nie. Wesley moes erken ; “I was afraid to die.” Eers ‘n tyd later toe Wesley na ‘n voorlesing uit ‘n kommentaar van Luther geluister het, het die lig van geloof in Jesus alleen in sy hart deurgebreek en het hy sekerheid gekry oor sy kindskap. 

Sekerheid dat God die Lewende God, die liefdevolle God die almagtige God my Vader is, is ‘n ontsagwekkende voorreg en maak ‘n reuse verskil! Kindskap van God (met al die heerlike implikasies) is die uitvloeisel en bevestiging van Goddelike liefde! Dis hierdie feit waaraan Johannes ons herinner. 

Die feit van kindskap maak ‘n verskil aan ons vrese. Vrees vir oordeel, vrees vir die dood, vrees vir ekonomiese swaarkry, vrees vir die toekoms – ja, ook vrees vir die koronavirus*! 

Hoekom maak dit so ‘n groot verskil? Hierdie God wat ons Vader is het ons lief! Met ‘n volmaakte liefde, sonder gebreke en foute soos ‘n aardse pa se liefde. En die wete van hierdie liefde verdryf alle vrees. Johannes brei later spesifiek uit op hierdie gedagte. 

“En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 

Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” (1 Johannes 4:16-18) 

Hoe meer ons oortuig raak van God se liefde in Jesus, hoe minder word die vrese! 

SY LIEFDE ÉN ALMAG 

Dis nie net bewustheid van God se Vaderlike liefde wat die vrees verdryf nie, maar ook sy Vaderlike almag en alomteenwoordigheid. Kom ons kyk weer na HK vraag 27 en 28. Kyk hoe word die Vaderskap van God ook spesifiek uitgelig. 

Die HEIDELBERGSE KATEGISMUS Sondag 10. 

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God? 

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? 

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. 

VREEMD

Natuurlik is hierdie innige liefdesband met die Vader iets vreemds vir die wêreld – vir die mense rondom ons en die hele materialistiese sisteem waarbinne ons leef. Elkeen wat regtig God as Vader ken kom noodwendig in botsing met die wêreld en sy beskouings en waardesisteme. Liefde vir die Vader en liefde vir die wêreld kan immers nie saam bestaan nie

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 
Die wêreldse dinge-alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 
En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) 

Wie die voorreg het om God as Vader te hê, gaan ook die “voorreg” hê om deur die wereld verwerp te word en vir Christus te ly! 

Om God regtig as Vader te hê is die grootste genade en grootste sekuriteit, wel enigste sekuriteit op aarde! As God jou Vader is kan jy ook maar lofliedere sing te midde van die storms soos die Duitse Morawiese Christene… 

Is God se Vaderskap vir jou al ‘n werklikheid of leef jy nog in vrees soos die res van die wêreld?

*Terloops, vrees vir 'n virus (of wat ook al) is natuurlik 'n erger en meer aansteeklike virus as die virus self!

Sondag 01 Maart 2020

SOWAAR DEUR DIE OOG VAN DIE NAALD!

- DIE HEERLIKE GEVOLG VAN JESUS SE REDDINGSGENADE 

Ons ken almal die verhaal van Saggeus in LUKAS 19:1-10. Die verhaal van Saggeus, gaan in hoofsaak natuurlik nie oor Saggeus nie, maar oor Jesus. Jesus se reddingsgenade is verrassend en kragtig! Dis juis ook ’n doelgerigte soekende genade, gefokus op sondaars! Die ergste sondaars! Ja, daar is hoop vir ons...  Die hoofboodskap van hierdie gebeurtenis kry ons natuurlik in vers 10 as klimaksteks! “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 

VERRASSENDE GENADEKRAG! 

Jesus se genade is verrassend. Jesus verras vir Saggeus, maar hy verras ook die omstanders. 

Saggeus kruip weg in die wildevyeboom. Hy dink hy kan vanuit ‘n veilige afstand alles dophou. Hy dink hy kan anoniem bly. Maar dan verras Jesus hom. “Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." (5) Hy roep hom by sy naam! (Luister mooi, Hy roep jou ook...) Die Seun van God doen persoonlik bemoeienis met ‘n onverdienstelike sondaar! Dink net hoe verbaas en verras Saggeus moes wees… Ja, Jesus konfronteer Saggeus. Maar dis ‘n liefdevolle konfrontasie. Dis ‘n genadige konfrontasie. Ds ‘n reddende konfrontasie. 

Wat in Saggeus se lewe gebeur is niks minder as ‘n wonderwerk nie! ‘n Gierige ryke wat vrywillig van die helfte van sy besittings afstand doen en belowe om sy verkeerde optrede teenoor ander mense reg te maak is nie sommer net ‘n klein veranderinkie nie. Dis gelykstaande aan ‘n drankverslaafde wat sy vol bottels in die toilet afspoel. Dis soortgelyk aan ‘n jongmens wat ‘n sondige seksuele verhouding verbreek al maak dit jou hart stukkend. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van sy verknogtheid aan geld. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van die heerskappy van sy beursie. Wie Jesus in sy huis (en hart) toelaat en ontvang sal noodwendig ‘n transformasie ondergaan. Die kettings waarmee die duiwel hom gebind het word verbreek.  Dis mos waarvoor Jesus gekom het - “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Johannes 3:8b) 

SAGGEUS EN DIE RYK JONGMAN 

Hierdie wonderwerk in Saggeus se lewe word nog meer vol betekenis as mens dit vergelyk met die geskiedenis van die Ryk Jongman in die vorige hoofstuk. (18:18ev) Daar is opvallende ooreenkomste en verskille. Beide is ryk. Beide het ‘n soeke in hulle lewens ervaar. Beide het ‘n sterk begeerte na Jesus op een of ander manier. (Die Ryk Jongman kom val voor Jesus neer, Saggeus maak ‘n plan om Jesus te kan sien.) 

Ook tragiese verskille: Die Ryk Jongman het op die ou end teleurgesteld weggegaan. Saggeus word opgeneem in die familie van gelowiges. Die Ryk Jongman se besittings tel vir hom meer as die koninkryk van God. Saggeus se hart raak los van oorheersing deur besittings en so lewer hy bewys dat hy nou ‘n kind van Abraham geword het. In beginsel doen Saggeus dit waarvoor die Ryk Jongman nie kans gesien het nie. Die merkwaardigste is dat hierdie geskiedenis van Saggeus inderdaad bewys dat God die “onmoontlike” kan doen en ‘n ryk man kan red. 

Die Ryk Jongman moes teleurgesteld omdraai omdat hy nie gehoor wou gegee aan Jesus se opdrag van bekering van sy materialisme nie. Die gesprek gaan toe verder tussen Jesus en sy dissipels - “Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word? Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (18:24-27 ) 

Ontsagwekkend en asemrowend heerlik! Geen sondaar is buite bereik van God se genade nie! Daar is hoop vir daardie goddelose eggenoot, kind, kollega wat deur mense afgeskryf word... 



Inderdaad het die kameel toe deur die oog van die naald geglip! Die heerlike kragtige genade van God vir wie niks onmoontlik is nie, was in aksie...


BESWAAR TEEN GENADE 

In die proses verras Jesus ook al die omstanders. Hoe so? Wel, hulle het Saggeus almal baie goed geken. Hy was die berugte en gehate tollenaar wat hulle afgepers en besteel het. Die ongewilde en korrupte "ontvanger van inkomste!" Daarom maak hulle ten sterkste beswaar teen Jesus se toenadering! “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by ‘n sondige man tuis!" (7) Jesus se radikale genade vir die slegste sondaars laat baie mense deur al die eeue en vandag nog ongemaklik en kwaad voel. Dink aan hoe kwaad en teleurgesteld Jona was toe die mense van Nineve hulle op grond van sy boodskap bekeer het en God hulle genadig was! (Jona wou nie genade sien vir hierdie vyande van sy volk nie - gelukkig is God se genade groter as die genade van sy boodskappers s'n!) Gaan jy opgewonde wees as Jesus vir Zuma of die Fishrot bende vergewe! Sal ons hulle in die kerk verwelkom? Gaan jy ook daardie plaaswerker of besigheidsman wat jou soveel skade aangedoen het as broer verwelkom as hy in Jesus glo? 

GEVOLGE VIR DIE HELE HUIS 

Die verrassende en kragtige genade van Jesus het heerlike gevolge. Saggeus word nou deel van God se volk. ‘n Ware kind van Abram. “Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” (9) Etnies was hy dit alreeds, maar nou word hy ook geestelik ‘n kind van Abram, want hy glo nou ook waarlik in Jesus. (Vgl. Gal 3:7 “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.”) 

Maar ons moet ook mooi kyk na wat Jesus hier sê. (9) “redding vir hierdie huis” Die reddende genade wat Saggeus ontvang het raak sy hele gesin, sy huishouding! Dit klink dalk vir ons as westerse individualiste vreemd, maar dis ‘n tema wat ons deurgaan in die Skrif kry. Noag (en sy hele familie word gered), Abram (God se beloftes vir hom en sy nageslag), Josua ("ek en my huis sal die Here dien"), Ragab (saam het haar hele familie opgeneem in die verbondsvolk)… En ons vind dit ook in die Nuwe Testament. Lidia, die tronkbewaarder van Filippi… Natuurlik gaan dit nie hier oor outomatiese redding van ‘n kind as een van die ouers gered word nie. Dit gaan daaroor dat die hele huisgesin ‘n werksveld van God se verbondsgenade word. Christen ouers se kinders word groot in die dampkring en onder die invloed van die Woord en die Woord is die instrument van die Heilige Gees. Vir God is huisgesinne belangrik. Hier sien ons dit duidelik. Saggeus se redding is groter as net ‘n persoonlike saak! 

As jy op Jesus se uitnodiging reageer, as jy jou huis en hart vir Hom oopmaak, as jy jou bekeer van jou afgode gaan dit heerlike gevolge vir jouself en jou nageslag hê! 
Kameel in die Swakoprivier.

*Hierdie en ander gedagtes met erkenning aan Nico van der Walt