Bladsye

Woensdag 25 April 2018

BRAND, BREEK EN BEROOF

- die geweldkultuur van Suid-Afrika! 

Die bisarre (eensydige) koor van lofbetuigings oor Winnie Mandela se bydra en opofferings het skaars verstil, toe word ons weer herinner aan wat die ware nalatenskap van haar en (ten minste sommige) van haar bevrydingsbewegingskollegas behels. Ja, ja, ek weet dis dalk ‘n oorvereenvoudiging en dis eensydige kommentaar... maar ons moenie vergeet nie, tannie Winnie het gespog dat die land met vuurhoutjies en buitebande bevry sou word. Die land is nou “bevry”, maar die brand en breek kultuur duur steeds voort onder die sogenaamde demokratiese bestel. Winnie se vuurhoutjies vuur nog strykdeur... Hoeveel jaar nou al? Die houding is :"As ons ontevrede is wend ons ons tot geweld, dan maak ons vlamme en gooi klippe..." Maak nou nie saak of dit ontevredenheid met politieke leiers, gebrekkige dienslewering of ‘n sokkeruitslag is nie! Wat jy saai sal jy maai! Dis ‘n Bybelse beginsel wat gesê moet word of dit nou polities korrek is of nie. Dit lyk ook of die Tien Gebooie vergete geraak het... 

Ek wil nou nie baie tyd spandeer om hieroor navorsing te doen of ‘n debat te voer nie. (Daar is veel heerliker dinge om oor te praat...) Kyk sommer maar net na ‘n paar baie onlangse uittreksels uit RSG se nuusberigte en vorm jou eie opinie... 

Nege mense is in Mahikeng in Noordwes in hegtenis geneem in verband met openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Geweld het Woensdag uitgebreek uit protes teen Premier Supra Mahumapelo wat van bedrog beskuldig word. Inwoners eis sy bedanking. Winkels, voertuie en geboue het onder plunderaars en brandstigters deurgeloop. Die verdagtes is van die Montshioa-township, Dibate, Motlhabeng en Lomanyaneng. Van hulle is leerders. Hulle sal Maandag in die Molopo landdroshof verskyn. 

Wanorde het losgebars toe Kaizer Chiefs met 0--2 teen die Free State Stars verloor het. Volgens die polisiewoordvoerder het hulle berigte ontvang van verskeie mense wat tydens die voorval beseer is. Die ontevrede ondersteuners het 'n brand gestig en die polisie met klippe bestook. Die polisie het later skokgranate gebruik om die skare uiteen te dryf. 

Die Minister van Polisie, Bheki Cele sou vanaand samesprekings met die twee vegtende taxiverenigings in Mthatha in die Oos-Kaap voer. Hy sal ook ander rolspelers ontmoet om oplossings vir die voortgesette geweld te probeer vind. Die taxigevegte het reeds die dood van talle mense veroorsaak. Tussen 2016 en 2018 is meer as 60 mense dood, wat eienaars, bestuurders en passasiers insluit. Cele het vroeër die taxistaanplekke in Mthatha, Libode en Tsolo gesluit wat meegebring het dat talle mense nie vervoer gehad het nie. 

Die lisensiekantoor by die Modimolle-Mookgopong munisipaliteit in Limpopo is in 'n brand beskadig. Die burgemeester, Marlene van Staden sê brandstigting word ondersoek. Groot skade is aangerig met die dak wat aan die een kant ingetuimel en rekenaars wat in die slag gebly het. Van Staden sê die lisensiekantoor is onlangs deur die Departement van Vervoer se teenkorrupsie-eenheid gesluit weens beweerde bedrog en korrupsie. Sy sê die vermoede bestaan dat mense wat by die ondersoek betrek word, moontlik bewyse wou vernietig. 

Die munisipale kantoor in Keiskammahoek in die Oos-Kaap is aan die brand gesteek. Inwoners het vroeër begin betoog en eis beter dienslewering, veral wat paaie en HOP-huise betref. Paaie in die omgewing is vroeër met brandende bande versper. 

Twee geboue, insluitende die munisipale kantore is op Steynsrus in die Vrystaat aan die brand gesteek. Die inwoners betoog oor `n tekort aan woonerwe. Die polisie monitor die gebied, maar die toestand is gespanne. 

Die polisie se Openbare Orde Eenheid is op die N-12 tussen Wolmaransstad en Bloemhof in Noordwes ontplooi waar gewelddadige betogings voorkom. Betogers het vroeër die pad met brandende bande en klippe versper. Die polisiewoordvoerder, Adel Myburgh sê die polisie monitor die situasie. Die betogers eis ook die verwydering van Supra Mahumapelo as premier. Vroeër het gewelddadige betogings ook by Mahikeng voorgekom. 

Intussen is die 33 betogers wat van openbare geweld aangekla is sedert die onrus in die hoofstad Mahikeng in Noordwes uitgebars het, op waarskuwings vrygelaat. Die beskuldigdes het in die Molopo-landdroshof verskyn. 

Die burgerorganisasie Sanco het die brandstigting van 'n munisipale gebou in Keiskamma in die Oos-Kaap skerp veroordeel. Die gebou is tydens betogings oor dienslewering aan die brand gesteek. Inwoners het vroeër paaie met brandende bande versper. Hulle eis behoorlike paaie en HOP-huise. 



Meer as 30 skole is 'n jaar gelede in die Vuwani-distrik afgebrand tydens protesoptrede oor die afbakening van munisipale grense. 

Die aantal vragmotors wat deurgeloop het in gisteraand se geweld op die N3 by Mooirivier is aansienlik meer as wat aanvanklik gereken is. Volgens die Departement van Vervoer is meer as 20 vragmotors aan die brand gesteek, terwyl talle geplunder is.

Twee busse, drie voertuie en kantore is in Phuthaditjhaba in QwaQwa in die Vrystaat deur studente van die Maluti Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleidingskollege aan die brand gesteek. Die studente wil hê die rektor moet bedank omdat hy nie aandag aan hulle klagtes gegee het nie. Die voorsitter van die studenteraad, Tseliso Nhlapo, sê hulle eis ook nuwe infrastruktuur. Nhlapo sê talle studente het nog nie hul diplomas ontvang nie en die bestuur is nie bereid om die probleme te takel nie. 



Dis natuurlik baie maklik om sinies of selfs bitter oor hierdie toedrag van sake te word. Maar dit sou beteken dat ons reaksie maar net dieselfde as die van ander ongelowiges sou wees. Nee, terwyl ons die waarheid oor die chaos onomwonde en onverskrokke moet uitwys, moet ons juis met nog groter passie die bevrydende waarheid van die evangelie uitbasuin en uitleef!

Naskrif 

Ek is darem nie die enigste wat krities oor Winnie se styl is nie. Mondli Makhanya bekwame joernalis van City Press ook, alhoewel ek darem in alle billikheid moet meld dat hy ten spyte van kritiek ook nog veel rede tot lof in haar vind.

Hieronder net ‘n aanhaling uit ‘n onlangse artikel van hom.

“Dare we forget that, in 1989, the leadership of the Mass Democratic Movement publicly distanced itself from the so-called Mother of the Nation because of the "reign of terror" that she and her Mandela United Football Club were conducting in Soweto. The football club, which was nothing more than her private vigilante gang and whose only association with soccer was its kit, had terrorised the township and was almost as feared as the Jackrollers gang. Such was the extent of grievance against Madikizela-Mandela and her thugs that members of the Congress of SA Students even attempted to burn down the Mandela house. 

After numerous attempts to rein her in and put a stop to conduct that undermined the struggle, the leaders had to act. 

Accusing her of abusing the trust and confidence of the people, and falling into "conflict with various sections of the oppressed people and with the Mass Democratic Movement as a whole", the leaders said her practices had "violated the spirit and ethics" of the movement. 

Madikizela-Mandela's excommunication by the anti-apartheid movement did not come at the whim of an individual or individuals who despised her. An instruction had already come from the ANC headquarters in Lusaka – on the authority of no less a person than Oliver Tambo – that her criminal gang should be disbanded. But because Madikizela-Mandela was, in her view, above the ANC and the internal liberation movement, this instruction was ignored. 

This unruly streak had frightened many in liberation circles since Madikizela-Mandela's return from Brandfort. Some celebrated this as a rebellion against patriarchy and chauvinism, but it was in fact ungovernability of the highest order. At the height of the necklacing phenomenon – which she encouraged with her matchboxes and tyres speech – she had defied instructions from Lusaka to withdraw her endorsement of the cruel punishment that was meted out to suspected traitors.”

Vrydag 20 April 2018

SWAPE EN SOTTE SAL SINK!

Sonder wysheid wag ellende! Wat is wysheid en waar pas dit in? Het jy wysheid? Soos jy sal weet is daar verskillende literatuursoorte in die Bybel, onder andere...geskiedkundige boeke, profetiese boeke, briewe aan gemeentes en persone ens. Daar is ook wysheidsboeke. Ons dink veral hier aan boeke in die Ou Testament soos Spreuke, Prediker, Job en sekere Psalms. Waar pas hierdie wysheidsboeke in? Net so vinnig : Die geskiedkundige boeke vertel vir ons van God se groot reddingsdade. (Dink byvoorbeeld aan Eksodus en Josua) Dit handel oor God wat sy volk uit Egipte uit die slawerny bevry het en vir hulle na ‘n nuwe vrugbare land gebring het. Maar nou moes hierdie volk weet hoe om gelukkig en gehoorsaam in die nuwe land, hulle erfenis te leef. En hiervoor is wysheid nodig. 


Dit handel oor die vraag oor hoe om die alledaagse lewe met sy probleme, versoekings, slaggate en uitdagings te verstaan en regverdig te leef. Hoe om sin te maak van die lewe en sinvol te leef as God se mense. Om God se wil in die praktyk toe te pas, om die regte keuses te maak. 

DIE VROU WAT ROEP 


Aan die begin van Spreuke word ons bekendgestel met die grondbeginsels van die wysheid. Wysheid word hier vanaf Spreuke 1:20 gepersonifieer (uitgebeeld) as ‘n vrou. 


20.Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 

21.sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 

22. "Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ‘n afkeer hê van kennis? 

23.As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. (Spreuke 1:20-23) 

BAIE ERNSTIG! 

Sy roep hardop uit, gee ‘n waarskuwing, maar maak ook ‘n belofte. (22,23) Wat my getref het is die bytende en verwytende aspek van die wysheid. “Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,” (25,26) Dit klink so half vreemd. Pas so ‘n skerp verwytende toon by die Bybel? Is dit nie leedvermakerig nie? (Schadenfreude is die pragtig beskrywende Duitse woord) Ek dink nie Spreuke wil sê dat die wysheid ongeskik, ongevoelig of onbeskof is nie. Spreuke onderstreep net die erns van die saak. Dodelike erns! Dade het gevolge. Dwase dade het skrikwekkende en vernietigende gevolge. 

Dwaasheid lei tot ‘n ramp! 
Slegte keuses bring swaarkry. 
Sonder wysheid wag ellende. 
Swape en sotte sal sink! 

Klink rof nê? Ons leef in ‘n tyd waarin niemand gewaarsku wil word nie, niemand wil enige voorskrifte hoor nie. “Moenie vir my preek nie, ek is vry om te maak soos ek wil, ek is mos my eie baas” of “Moenie vir my sê ek mag nie rook nie, wie wil nou met pienk longe doodgaan?” en baie keer : “Wat is verkeerd met saamwoon voor die huwelik, watter verskil maak ‘n stukkie papier?” 

Wysheidslering is ongewild en bots teen die tydsgees. Alle gesag en norm word bevraagteken... ouers, onderwysers, kerk, die Bybel se gesag, ja God se gesag word geminag en sy norme weggesmyt. Daar mag nie gewaarsku of raad gegee word nie. En as daar skrikwekkende gevolge is, dan moet ons tog net simpatiek wees en moet ons mooi soetsappige trooswoordjies rig wat niemand in elk geval glo nie... 

Ons het die perspektief van ‘n boek soos Spreuke ontsettend baie nodig! Daar is ‘n dringende behoefte aan Spreuke se lering oor wysheid. En meer spesifiek die beginsels wat daaragter sit. En baie belangrik, ons moet natuurlik weet hoe om dit te verstaan en toe te pas binne die konteks van die Nuwe Testament. 

TWEE BELANGRIKE HOEKPENNE 

Waaroor gaan die wysheid in Spreuke? Net twee algemene vertrekpunte. 

1.Die kernbeginsel van wysheid is om God te ken. “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (1:7) Wysheid het dus niks te maak met intelligensie nie, maar met onderwerping aan God se gesag. Die voorwaarde vir wysheid is nie ‘n hoë IK nie, maar ‘n groot respek vir God! Wysheid gaan dus ook reeds in die Ou Testament nie net oor ‘n klomp losstaande reëls en regulasies nie. Dit gaan oor liefde vir God. Wie God ken en liefhet en respekteer sal erns maak met God se ordes en voorskrifte. En onthou, God se norme, wette en waardes was nooit bedoel om ons vreugde te steel of die lewe vaal en vervelig te maak nie. God se wysheid gaan oor ons welsyn! Dis vir ons beswil en tot ons voordeel! 

2.Wat jy met die wysheid maak het gevolge. Ons keuses het gevolge! Die verontagsaming van wysheid het skrikwekkende uitkomste. Wie die raad van die wysheid verwerp oor sake soos owerspel, luiheid, bedrog en dronkenskap...sal ly onder die bittere nagevolge. Vat nou byvoorbeeld : “Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank.” (Spreuke 23:29,30) Die anderkant is net so waar. Gehoorsaamheid aan die wysheid het positiewe gevolge. “"Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie." (32,33) 

MEER AS REËLS : DIE ALWYSE EEN 

In die Nuwe Testament kry ons ‘n baie dieper en verrassende perspektief op die wysheid. Wysheid is meer as reëls, wysheid is ‘n Persoon. JESUS! Wysheid is in Jesus te vind, maar meer nog, Hyself is die wysheid! Jesus sinspeel daarop in Lukas 11:31. “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” Jesus is die groot Wyse, groter as Salomo! Dit word baie duidelik gestel in 1 Korintiërs 1:30. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” Jesus is die bron van alle wysheid wat ons nodig het. In Hom is al die wysheid te vinde! “Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind." (Kolossense 2:2,3) Hy is genoegsaam, Hy kan ons nooit verveel nie en ook nooit teleurstel nie. Daar is geen ander geheime resep tot Godgegewe lewensvreugde as Hyself nie! 

Hoe raak Jesus as die beliggaming van alle wysheid ons dan nou prakties? Om Jesus te ken en as Here te erken is om toe te laat dat Hy ons daaglikse keuses en leefstyl beïnvloed. Baie belangrik : Die wysheid gaan nie bloot oor ‘n lang lys moets en moenies nie, dit behels nie bloot ‘n klomp koue kliniese reëls nie. Dit behels verhoudingswysheid. Dit gaan oor gehoorsaamheid aan my Verlosser wat my oneindig liefhet sy lewe vir my gegee het. Dit gaan oor dankbaarheid. Dit gaan daaroor dat ek Hom wil eer en gelukkig maak en eerste stel in my besluite. Alle etiese besluite moet ek oorweeg vanuit die oogpunt van Jesus as my Verlosser en Koning! Die vraag is dus nie, is daar ‘n teks wat dit of dat verbied nie. Die vraag is wat doen dit wat ek wil besluit aan die beeld van Jesus in my lewe, hoe raak dit my liefde vir Hom, is dit hoe ek my lojaliteit aan Hom as Koning gaan bewys? Waarmee is jy tans in jou lewe besig? Wat sê jou keuses, jou stokperdjies, jou manier van besigheid doen van jou verhouding met Jesus as die WYSHEID van God? 

Om Jesus as wysheid te gehoorsaam en te vertrou is om die lewe te hê. Dis die beginsels wat Hy uitspel onder andere in die bekende Bergrede. Jesus verduidelik die gevolge van gehoorsaam sowel as ongehoorsaamheid aan Hom op treffende wyse met die beeld van die twee huise. Sonder Jesus is jy ‘n dwaas en sal vir ewigheid ‘n dwaas wees en jou hele bestaan sal ineenstort. Met Jesus is jy ‘n wyse, die wyse man wie se huis op die Rots gebou is en wat in al die storms van die lewe sal staande bly. Ewig staande sal bly, ook in die eindoordeel! 

Wanneer ons Jesus self sien as die volle vervulling en beliggaming van wysheid maak Spreuke 8:34-36 so wonderlik sin: "Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood." 

Om Jesus te verwerp is om die wysheid te verwerp, dis ‘n keuse vir die dood. Om jouself aan Hom te onderwerp, is om wysheid te kies dis ‘n keuse vir die lewe!


Wysheid is om 'n sambreel gereed te hê, wanneer die reën kom!

Vrydag 13 April 2018

OORWINNING

oor sonde begin by ‘n besef van wie ek as kind van God regtig is! 


Hoe oorwin ek sonde? Dis seker een van die kernvrae van elke ware kind van God. Dis een van die grootste kwessies waarmee die volgeling van Jesus worstel. Daagliks. (Ander mense gee nie regtig om nie, want God se wet en wil is nie vir hulle regtig belangrik nie.) 


Oorwinning begin as ek besef wie ek as kind van God regtig is. Anders gestel, as ek die volle waarheid van Paasfees ernstig opneem. En hoe ekself daarby inpas. Dis die resep van die Nuwe Testament. Nou wie is ek as kind van God? 



Ons vind hierdie lering onder andere* duidelik in Kolossense 3:1-5. Paulus herinner die kinders van God eeers aan hulle status (Aangesien) en van daaruit kom die opdragte tot drastiese en praktiese heiligmaking. (Daarom)

1.Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

2.Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,

3.want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

4.Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.


5.Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.


SAAM GESTERF EN OPGESTAAN 

Wat is nou die status van God se kind? Die kind van God is iemand wat in God se oë klaar gesterf het, die doodstraf reeds ondergaan het, maar ook tot 'n nuwe lewe opgewek is. Saam met Christus. 

Wanneer het dit gebeur? Dit het aan die kruis gebeur, toe Jesus gesterf het. Verlede tyd! (3) Vgl. Romeine 6:6-8! “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 
Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.” 

Kyk mooi wat hier staan : “Het gesterwe!” (nie – “moet sterwe “- nie) Ons is nou dood vir die sonde. Ons kan nie meer gestraf word vir ons sonde nie. Want ‘n dooie mens kan nie meer skuldig wees aan sonde nie! (Die regstelsel vervolg nie ‘n lyk nie! Lyke word nie hof toe gesleep en tronk toe gestuur nie!) Dit beteken ons is ook vry van die oorheersende mag van die sonde. 

Saam gesterf ook saam opgewek met Christus! 

Vir wie geld hierdie stelling? Dit word van alle Christene gesê. Hoe is dit moontlik? Christene is mense wat “in” Christus is. Wat dus met Jesus gebeur het, het met jou gebeur! Laat ons dit prakties probeer verstaan... Dink aan ‘n foto of boekmerk wat jy in ‘n boek plaas. Alles wat met die boek gebeur, gebeur outomaties ook met die foto of boekmerk. As jy die boek in die see gooi is die inhoud ook in die see. As jy die boek na ‘n ander kamer toe vat, dan gaan die inhoud, die foto of boekmerk ook saam met jou na die ander kamer... 

ADAM OF JESUS 

Daar is net twee moontlike posisies vir enige mens. (Dis die duidelike lering van Romeine hoofstuk 5) In Adam, of in Jesus. 

Is jy nog in Adam (dis die posisie waarin ons almal gebore word) dan is jy nog verlore en onder God se oordeel, maak nie saak hoe ordentlik, aangenaam, vroom of godsdienstig nie! 

Is jy in Jesus Christus, deur die geloof aan Hom verbind, dan is jy ‘n regverdige in God se oë, want die sondige “jy” het saam met Jesus gesterwe en ‘n nuwe “jy” het saam met Hom opgestaan. 

Wat is die implikasie van "in Christus" wees, om saam met Hom te gesterwe en saam opgestaan het? 

Die kind van God het ‘n totaal nuwe status, ‘n genadestatus. 

Ek leef nou onder die heerskappy van genade. “Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.” (Rom 6:14) Ons is totaal dood vir die heerskappy van sonde en die duiwel. (Vgl. Kol 1:13) “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” Die sonde en Satan het geen mag meer oor ons nie! Ons is uit die gebied van die sonde en dus nie meer onder God se oordeel nie. 

WAT DAN NOU VAN DIE SONDE WAT EK STEEDS DOEN?

Nou sal iemand sê, “Wag, wag nou ‘n bietjie, dis teoreties baie mooi, maar ons sondig dan nog almal... hoor ek reg? Hoe moet ons dit verstaan?” Ek sukkel dan juis so baie met sonde... Ja, gister nog, netnou 'n rukie gelede nog...

Luister mooi. Paulus sê nêrens dat Christene sondeloos is nie, ook nêrens dat Christene nooit meer kan sondig nie. (Dit sou al die waarskuwings en raad van die Nuwe Testament oorbodig en sinloos maak) Hy sê wel dat ons uit die realm, die sfeer, die gebied, die ryk, die mag, die jurisdiksie van die sonde is en onder die genade is. Ons het hemelse status en tog het ons nog ‘n stryd met sonde. Hoe moet ons dit verstaan? 

Daar is ‘n groot verskil tussen om in ‘n posisie of status te wees en te besef dat jy in daardie posisie of status is. Daar is dikwels ‘n verskil tussen status en praktyk. Kom ons verduidelik dit met ‘n voorbeeld. Na die Amerikaanse burgeroorlog is alle slawe vrygestel.** Alle slawe het onmiddellik kragtens wetgewing hulle vryheid gekry. Dit het onmiddelik van krag geword. In die oë van die wet was daar nie meer iets soos ‘n slaaf nie. Maar nou kan mens jou indink, hoe sekere slawe dalk in afgeleë gebiede nie bewus was van die nuwe bevrydende wetgewing nie. Hulle was onkundig rondom hulle nuwe status as vry mense met die gevolg as hulle die baas se stem gehoor het, het hulle nog steeds gevrees en gebewe. Hulle het nog die lewe van 'n slaaf geleef met al die ellende en verknegting daaraan verbonde. Hulle wetlike en ware status was die van vry mense, maar dit sou vir baie nog dalk lank neem om dit te besef. Prakties gesproke het baie nog soos slawe gewerk en gely. Jy kan dus ervaringsgewys nog soos ‘n slaaf leef, terwyl jy wetlik wat status betref nie meer ‘n slaaf is nie. Die oplossing vir die voormalige slaaf is om te besef dat hy nie meer onder die ou wette van slawerny leef nie, dat hy nou vry is om ‘n nuwe leefstyl sonder vrees en verknegting te leef. Hy moet begin leef volgens sy nuwe status. 

Wanneer jy ‘n Christen word is jy iemand wat dood is vir die sonde, want wat die geestelike realm betref, die status in God se oë het jy saam met Christus gesterf. Met jou sondeskuld is daar vir eens en altyd aan die kruis afgereken. Jy is ook saam met Hom opgewek en het die status van ‘n regverdige. Die sondige Johannes, Koos, Anna... het vir eens en altyd gesterf, 'n nuwe mens het opgestaan. Maar ons besef dit nie altyd nie... 

GLO!

Ons uitdaging is nou om God se woord te glo, maak nie saak wat ons gevoelens en ervarings is nie! Soos Abram wat God se beloftes geglo het ten spyte van die sigbare feite. Ons moet dit besef! Romeine 6:11 "Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus./ (OAV)So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:11) 

HEERLIKE GEVOLGE 

Hoe raak die waarheid van saam gesterwe en saam opgewek prakties ons daaglikse stryd van heiligmaking? 

· Bevry van vrees (oor ons toekoms of posisie) kan ons nou met oorgawe volgens ons nuwe status leef. Juis omdat ons weet dat ons verlossing vas en seker is. (Dink aan akrobate in die sirkus wat hulle toertjies voluit en sonder vrees kan doen, juis omdat hulle weet daar is ‘n veiligheidsnet...) 

· Heiligmaking is nie iets wat passief ontvang word nie, maar wat voortdurend aktief nagejaag moet word! Ons het nou 'n verantwoordelikheid. Lees mooi wat Paulus sê :“Maak dood...”en dan noem hy ‘n lys dinge...(5) Ja, daar kan krisis momente, spesiale ondervindings, oomblikke van dieper oorgawe in ons lewens wees wat ons groot spronge vorentoe in heiligheid laat maak (soos byvoorbeeld die bevryding van ‘n slegte gewoonte) maar heiligmaking is ‘n voortdurende opdrag. (“Maak dood, lê af”) Raak ontslae van als wat nie by jou status pas nie, jy het dit nie nodig nie! Hierdie sondige leefstyl pas nie meer by jou nie. En voeg by (beklee jou met) dit wat by jou nuwe opstandingstatus, jou hemelse status pas. Dink weer aan die slaaf – hy is wetlik vry, maar hy moet nou stappe in werking stel om sy vryheid uit te leef! Dis sy verantwoordelikheid om sy vryheid te benut en anders as vootrheen te dink en te doen!

· Dit raak ook ons motivering om heilig te lewe – dis nie uit vrees, dis nie om iets te kry nie, dis nie om God se liefde te probeer wen nie, dis uit blye dankbaarheid vir die groot vaste en onveranderlike verlossing! Dink bietjie eerlik oor jou huidige situasie en leefstyl... Jou keuses op hierdie stadium van jou lewe, jou stokperdjies, jou manier van tyd bestee, jou geselskap, selfs jou eetgewoontes en kleredrag... pas dit by jou status as vrygespreekte kind van God? Weerspieël dit dankbaarheid vir sy onberekenbare genade? 

Jy wat nou aan Jesus behoort, jy het reeds saam met Christus gesterf en jy het reeds saam met Hom opgestaan. Die kind van God moet hierdie waarheid glo en besef! Dis die begin van ‘n oorwinningspad. Besef net eers mooi wie jy is volgens God se Woord! Besef wat het regtig by die kruis gebeur... Besef die heerlikheid van jou nuwe status! Besef water groot genade geskenk jy ontvang het en raak dankbaar, dankbaar met integriteit en oorgawe! Word al hoe meer wat jy reeds in Jesus is! Leef volgens jou status! 

*Lees ook Romeine hoofstuk 6 en Efesiers 2:4-6 

**Hierdie voorbeeld is wat Dr. Martyn Lloyd-Jones in sy bespreking van Romeine 6 gebruik.




Op Tsumeb was dit die afgelope tyd lekker nat. Ons geniet dit!
(foto - Jonette de Koning)



Donderdag 05 April 2018

HIPEROORWINNAARS!

- Die praktiese effek van Paasfees vir elkeen wat aan Jesus behoort. 


Ons het weer die afgelope tyd gekyk na die feite van Paasfees! Die vaste en sekere feite van Jesus se genoegsame kruisdood as volkome offer vir ons sondeskuld. Die heerlike feit van die liggaamlike historiese opstanding wat ‘n bewys is van sy oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel. God het Jesus se offer aanvaar en daarom kan die duiwel ons nie meer beskuldig of afpers weens ons sonde nie. 

Een van die heerlikste dele in die ganse Heilige Skrif wat hierdie waarheid onomstootlik duidelik stel is ROMEINE 8:31-39. 

Die kruis en opstanding van Jesus maak ons superoorwinnaars, eintlik letterlik “hiperoorwinnaars” soos Paulus dit in vers 37 stel. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” * Maak nie saak in watter omstandighede ons onsself bevind nie, die kind van God is triomfantlik, die kind van God kan nooit ‘n verloorder wees nie. Ja, ons word nie gevrywaar van slegte dinge, vervolging en swaarkry nie, maar al hierdie dinge kan ons nie onderkry nie en ons van ons hemelse kroon beroof nie! Ons styg uit bo alles omdat ons gedra word deur God se liefde! 

VIER VRAE

Paulus verduidelik vir ons die kind van God se onaantasbare oorwinnaarstatus deur vier retoriese vrae te vra. Dis retoriese vrae waarvan die veronderstelde antwoord, elke keer is : “Nee, niks, niemand nie…” en dan gee Paulus die rede vir die antwoord. Die rede sal jy sien kom in feite neer op die Paasgebeure – die kruis en opstanding van Jesus. Kom ons kyk kortliks na die vier vrae: 

EERSTENS (31) “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Die antwoord : Niemand nie! Wat is die rede vir hierdie vertroue? “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (32) Wel, as God so ver gegaan het om selfs sy eie Seun nie te spaar nie, maar ter wille van ons te offer, is dit net logies dat Hy vir ons als sal gee wat ons ook al mag nodig kan hê. (Hierdie woorde in die Grieks eggo die aangrypende gebeurtenis in Genesis 22:16, waar Abram nie sy seun wou spaar nie, maar bereid was om hom te offer) Paulus voer ‘n logiese argument, van die grote na die kleine. As Iemand bereid was om sy heel kosbaarste vir jou te gee, gaan hy tog nie ‘n probleem hê om iets minder belangriks vir jou te gee nie… 

TWEEDENS (33) “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.” Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Let op, die benaming vir God se kinders – ons word uitverkorenes genoem, juis om te beklemtoon dat die feit dat ons aan God behoort, nie ‘n prestasie van onsself af is nie. God het ons gekies sonder dat ons dit verdien! Ons is begunstigdes van God, uit genade! As God dan self ons vrygespreek het, wie durf ons nog aankla? Ons staan sonder skuld voor God! God self het ons dan reeds kwytgeskeld en vrygespreek van alle skuld en blaam! 

DERDENS (34) “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Wie kan God se kinders veroordeel? Dis asof Paulus hier ‘n openlike uitdaging rig tot almal wat ons wil beskuldig en veroordeel… ander mense, alle aardse regters en kritici, ons eie gewete en ja die groot beskuldiger en aanklaer, Satan self! “Toe, toe, laat ons hoor, wat het julle te sê…” En weereens is die veronderstelde antwoord : Niemand nie, niemand kan God se kinders veroordeel nie! Hoekom nie? Ja, dis ‘n goeie vraag...Hoekom is Paulus so vol uitdagende sekerheid? Hy gee die redes. En let nou baie mooi op, dis baie belangrik – hierdie redes het niks met my eie goedheid of prestasies te doen nie! Kyk die argumente van Paulus : Christus het gesterf. Hoekom is dit so belangrik? Sy sterwe het my sondeskuld uitgewis en daarom kan niks en niemand my veroordeel nie! Maar dis nog nie al nie. Christus is uit die dood opgewek. Hoekom is dit so wonderlik? Dis die bewys dat God Jesus se offer as genoegsaam aanvaar het. Maar dis nog nie alles nie. Jesus is op hierdie oomblik besig om te pleit en in te tree vir God se kinders. Hy is ons lewende advokaat en Hy stel ons saak, op grond van sy versoeningswerk aan die kruis! Kan daar iets meer gerusstellend wees? 

Hier is die vaste fondasie van ‘n Christen se vertroue en sekerheid. Dis nie binne myself te vind nie, maar in Christus en sy werk! As ‘n skip in stormwater beland, help dit nie hy gooi ‘n anker uit in sy eie ruim nie, nee, die anker word na buite gegooi na die vaste seebodem... Ons gooi ons ankers uit op die vaste rotsbodem van Jesus se volmaakte offer!

Die kind van God kry sekerheid en vastigheid nie deur na binne te kyk, na jouself nie (is my geloof sterk genoeg, is my bekering eg genoeg…?), maar na die genoegsame en volmaakte werk van Jesus aan die kruis! 



VIERDENS (35) “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” Hier kom Paulus se redevoering en logika tot ‘n verbysterend heerlike klimaks! Is daar enigiets of iemand wat ons van hierdie liefde van Christus kan skei, kan beroof? NEE! NIKS! NIEMAND! Dan noem Paulus ‘n hele klomp slegte goed wat met God se kinders kan gebeur, en dit is erge dinge… Maar, ja al gebeur hierdie dinge met ons, verander dit niks van God se liefde nie. Hierdie dinge kan ons nie permanente skade berokken nie. Te midde van hierdie dinge bly ons triomfantlike oorwinnaars! “Hiperoorwinnars” soos ons reeds gesien het! En dan voer Paulus se heilige logika hom tot een van die mees verhewe en heerlike uitsprake in die ganse Heilige Skrif. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (38,39) Paulus sê met passievolle oortuiging : “Ek is absoluut seker dat niks, hoegenaamd niks ‘n verskil kan maak aan die spesiale liefde van God, soos dit deur Jesus aan die kruis vir ons bewys is nie! Kom wat wil, ek weet God het my lief, die Paasgebeure het dit bewys. Kom wat wil, God se liefde in Jesus sal my nooit as te nimmer in die steek laat nie en Hy sal my daarom veilig by my ewige bestemming uitbring!” 

VREUGDE! VREUGDE! VREUGDE!

Hier is oorvloedige rede vir vreugde, Paasfeesvreugde! Nou reeds! Deur die geloof beleef ons reeds nou te midde van allerlei druk hierdie blydskap. 

En weet verseker, weldra sal ons geloof oorgaan in aanskoue, wanneer die opgestane Jesus ons gaan kom haal om vir ewig by Hom te wees! 

*”meer as oorwinnaars” is die vertaling van die Griekse werkwoord υπερνικωμεν (upernikomen). νικωμεν sou beteken “ons oorwin”, maar nou staan daar υπερνικωμεν “ons hiperoorwin.”



Niks, maar niks kan ons skei van God se liefde nie....