BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 23 Maart 2017

HINKEPINK*

‘N NUWE TOEKOMS IN! 

"Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,..." 

[Jakob is op pad terug na sy geboorteland nadat hy vir Esau moes vlug. Hy moet nou weer vir Esau in die oë kyk en is baie bevrees. Hy maak allerhande planne om Esau met geskenke te paai. Maar voor hy Esau ontmoet, wag daar ’n ander verrassing vir Jakob. Hier in die nag by die Jabok rivier beleef Jakob ’n ingrypende lewensveranderende ontmoeting met God! Ons lees van hierdie ingrypende gebeurtenis in Genesis 32 :22-32] 

GROOT GEVEG

Wat ’n merkwaardige ontmoeting! ‘n Hewige worsteling! Die man wat teen Jakob baklei, is niemand anders as God self nie! Ja, God “baklei” soms met ’n mens! Maar Hy baklei nie met hom om hom te vernietig nie. Hy baklei met hom om hom te seën! 

Dit gebeur nogal dikwels dat God ’n mens op dieselfde tyd seën en slaan. Anders gesê, die tye wanneer God met ’n mens ontmoet en jou genadig is, is ook terselfdertyd ’n tyd van hartseer en pyn! Hierdie episode in die lewe van Jakob is ’n aangrypende voorbeeld daarvan. Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels uit hierdie gedeelte van hoe God dikwels met ons werk en ons ontmoet: 

Die ontmoeting is God se inisiatief! Jakob maak slim planne om Esau te paai (vers 20b), maar God het al die tyd nog ’n groter plan met Jakob gehad. Jakob maak hom reg om Esau te ontmoet, maar God ontmoet met Jakob. Jakob probeer sy verhouding met Esau reg stel, maar God wil eers werk aan die verhouding tussen Hom en Jakob! God gryp in Jakob se lewe in, Hy “oorrompel” vir Jakob. Dit laat mens onwillekeurig dink aan hoe God baie eeue later ’n Fariseër, op sy pad “oorval” het! Saulus van Tarsus se radikale bekering op pad na Damaskus! God is ’n God van ontmoetings! God werk en praat en stoei met mense! Om hulle te red en te verander. 

Dit was natuurlik nie ’n toevallige ontmoeting nie. God het al lankal ’n plan met Jakob gehad. Veertien jaar vantevore toe Jakob gevlug het vir Esau, en hy met sy kop op ’n klip geslaap het by Bet-El en gedroom het van die leer met die engele wat opklim na die hemel, het God al met Jakob gepraat. God het hom belowe dat Hy hom sal beskerm en terugbring na sy land. (Gen 28:15) God se ontmoeting met Jakob, kom voort uit sy uitverkiesende genade! God het Jakob al lankal uitgekies en besluit om bemoeienis met hom te maak! Geliefde, die Here stap dikwels ’n lang pad met ’n mens - in jou ouerhuis, deur huisgodsdiens, in die Sondagskool, deur mense op jou pad, en Hy laat jou toe om baie draaie te loop....maar dan kom daar ’n tyd wat God sê : “Nou is die tyd! Nou moet jy voor my buig! Nou is die dag van beslissing en van redding!” Jy sal weet hoeveel keer die Here met jou gepraat het. Jy sal weet hoe lank jy al besig is om jou eie plannetjies te maak. Jy sal ook weet, dis nou die tyd. God roep my nou om Jesus te volg! 

Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6:2) 

Die ontmoeting met God is pynlik. Jakob is bang vir Esau. Maar nou kom hy skielik agter dat God sy eintlike "vyand" is. God baklei met hom in ’n pynlike geveg. Jakob moet eers met God versoen raak, voordat hy met sy broer vrede kan maak. Dis dikwels nodig dat die Here hardhandig moet ingryp in ons lewens. Ons is mos maar hardkoppig en hardhorend... Jakob word teen die heup geslaan sodat die heup uit die potjie spring. Paulus is met blindheid getref op pad na Damaskus. God moet ons dikwels eers slaan voor ons luister. Dit kan baie seer wees! Dit kan verskeie vorme aanneem...’n Groot verlies (dood van ’n geliefde), ’n mislukte huwelik, ’n ernstige siekte, ’n finansiële ramp of een of ander groot teleurstelling! Dit kan ook ’n groot vernederende openbare sonde wees, wat God gebruik om mens plat te slaan. (Dink aan Petrus) 

Iemand sê tereg oor hierdie gedeelte dat die fisieke pyn van Jakob nie al pyn was nie. Die ergste pyn was dat Jakob die waarheid oor homself moes raaksien. God vra vir Jakob wat sy naam is. Hoekom? God het mos vir Jakob baie goed geken. Jy, sien ’n naam in daardie tyd was eintlik ’n beskrywing van jou diepste wese en karakter. Nou moet Jakob, antwoord : “Jakob! Ek is Jakob! Ek is ’n bedrieër!” (Dis mos wat die naam Jakob beteken) God konfronteer ons eers met ons eie boosheid as Hy ons wil red en seën! Jesus sê vir die Samaritaanse vrou : “Gaan roep jou man.” Hy ontbloot die feit dat sy al 5 mans gehad het, en op daardie stadium ongetroud saamgebly het met ’n man! God wil hê dat ons die eerlike waarheid oor onsself in die oë kyk. En die eerlike waarheid oor myself is dat ek ’n sondaar is. Maar Jesus het juis gekom vir sondaars en net vir sondaars! Redding begin as ek eerlik is voor God en myself sien as ’n sondaar wat genade nodig het! 

Die ontmoeting met God bring genade en ’n nuwe begin. Nadat Jakob, die bedrieër ontbloot voor God gestaan het, ontvang hy genade. God stel hom nie teleur nie. God stel desperate sondaars nie teleur nie. Ons weet Jakob was op hierdie stadium van sy lewe desperaat dat God moes ingryp in sy lewe. Vers 26 (OAV) “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy dat U my seën.” Begeer jy God se genade bo enigiets anders! Hou moed! Dis nou die tyd dat God jou gaan antwoord! Jakob ontvang genade en die duidelike bewys daarvan is dat God hom ’n nuwe naam gee! “Die man het gesê: "Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou." (28) ’n Nuwe naam vir ’n nuwe mens! Iemand het dit so gestel:

Die glibberige aartsskelm word ‘n vroom aartsvader! 

Dis wat genade doen. Genade open ’n nuwe toekoms. As iemand is Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” ( 2 Kor. 5:17) 

Daardie wond...

Miskien kan jy vandag terug dink aan die tyd toe God werklik met jou ontmoet het. Dit was dalk ’n baie pynlike tyd, maar dit was ook ’n heerlike tyd toe jy genade en vergifnis ontvang het. Dalk hou jy nou nog letsels, ou wondmerke oor van daardie tyd. Kind van God, dank God dan vir dié letsels in jou lewe, dis ’n herinnering aan die seën wat jy ontvang het! Seën en letsel gaan dikwels saam. Dit word so treffend uitgebeeld in vers 31. “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,...” Dit word spesiaal gemeld, die son kom op! ’n Nuwe dag het aangebreek, ’n nuwe hoofstuk in Jakob se lewe, ’n nuwe begin wat God met hom gemaak het. Positief, heerlik! Maar dit word ook gesê : “Jakob het mank gebly aan sy heup.” Soos iemand dit gestel het : Jakob hinkepink ‘n nuwe toekoms in. Vir altyd sou hierdie mank heup, Jakob herinner aan die dag toe God hom genadig was en geseën het! 

Eers eendag met die aanbreek van die heerlike toekoms by Jesus se wederkoms sal ons heeltemal sonder letsels wees!

Uiteindelik en beslis bring hierdie verhaal mens ook uit by Jesus. Hy het deur sy kruisdood en sy wonde vir ons alle seëninge wat daar is, verwerf : vergifnis, kindskap, die Ewige Lewe, die onverganklike erfenis! Maar dit het Hom ook ’n klomp pyn en letsels gekos. Die merke aan sy hande en sy voete en sy sy was getuienis daarvan - ook na sy opstanding was die letsels sigbaar. Mag Jesus se wonde ons herinner dat die volle prys vir my sonde betaal is, die boete was genoeg! Wees eerlik oor jou sonde in hierdie oomblik, bring dit na Hom. Vertrou Hom! Aanvaar sy vergifnis! Deur sy wonde het daar vir jou genesing van sonde gekom!

*"Die afloop van hierdie ontmoeting met die lewende God is nie dat mens soos 'n held in die destydse "Wilde Weste" - rolprente seëvierend die sononder inry nie. Jy hink die dagbreek van 'n nuwe toekoms binne." AF van der Merwe in  WOORD TEEN DIE LIG II/3

Donderdag, 16 Maart 2017

HEELTEMAL VRY!

maar vrywillig diensbaar.



Een van Martin Luther se beroemdste geskrifte wat in 1520 verskyn het, heet : DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN. Hierin maak hy ‘n baie grondige, diepsinnige en heerlike stelling. 

Dis (tipies Luther) in die vorm van ‘n paradoks : 

"‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." 

VRY ÉN DIENSBAAR! Natuurlik het Luther nie die stelling uit sy duim gesuig nie, dis ‘n samevatting van wat Paulus in 1 Korintiërs 9:19 sê : "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”

DIE CHRISTEN IS VRY. 

‘n Christen is heeltemal volkome vry. Hieroor bestaan soveel onkunde wat lei tot soveel vrees en onsekerheid. So baie mense dink Christenskap is een stuk vreeslik harde werk. Byna soos slawerny. Hulle voel die hele tyd : Ek moet myself beter maak, ek moet harder werk, ek moet my bes probeer om al die reëls te hou, dan sal God my aanvaar. 'n Vreesagtige gevoel van onsekerheid : "Jong, as ek nie in my spoor trap nie, gaan ek dit nie maak nie..."  (As jy hulle vra oor hulle Christenskap, is hulle antwoord altyd : “Ek probeer om een te wees.”) Wat ‘n groot misverstand! Kom ons maak seker vanuit die Woord. Wat verwag God van ons? Wat moet ons doen sodat ons kan weet Hy is tevrede met ons en het ons as sy kinders aanvaar? Gelukkig het Jesus self die antwoord op hierdie uiters belangrike vraag gegee. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Geloof alleen! Dis die basis van Christelike vryheid en vrede. Om te weet God het my aanvaar omdat ek in Jesus glo. Daar is geen ekstra voorwaardes of fynskrif nie! Om te weet God het my aangeneem nie op grond van my prestasies nie, maar op grond van Jesus se prestasie en verdienste aan die kruis! 

Deur die geloof in Jesus kry ek deel aan ‘n heerlike uitruiling – Jesus vat my sondeskuld en onvolmaaktheid op Hom (en sterf daarvoor) en Hy skenk sy geregtigheid en sy volmaaktheid aan my! 

In God se oë is ek dus ‘n regverdige! Dis die basis van my vrede. (Rom 5:1) Niks kan my meer bangmaak of veroordeel nie. Ek is vry van die vrees vir die wet, sondeskuld, satan, dood en hel! Jesus se sterwe het hierdie vyande volledig en finaal uitgeskakel. Daarom kan Paulus uitdagend uitroep in Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is duidelik, ons is vry van alle oordeel nie weens ons goedheid of prestasies nie, maar vanweë Jesus se sterwe opstanding en voortdurende intrede vir ons!

DIE CHRISTEN IS DIENSBAAR. 

As praktiese voorbeeld van hoe vryheid en diensbaarheid saamgaan gebruik Luther die verhaal van Jesus en die tempelbelasting. Ons vind dit in Matteus 17:24-27. Elke meelewende Jood moes jaarliks ‘n bedrag betaal waarmee die offerdiens in stand gehou is. Dit lyk nou asof Petrus deur ‘n vraag of Jesus die belasting betaal in die verleentheid gestel is.* Jesus is vooraf bewus van Petrus se dilemma en wag hom in met ‘n ander vraag. (25) "Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?" Die antwoord binne die denke van destyds is baie duidelik. Konings belas mos nie hulle eie familie nie. Koningseuns is vrygestel van belasting. Dit geld ook van die groot hemelse Koning. Jesus se insinuasie is duidelik : As Hy nie tempelbelasting betaal nie, is dit nie uit suinigheid, slordigheid of gebrek aan belangstelling nie. Hy, Jesus is die Seun van God, Hy as Prins word tog nie aangeslaan vir die onderhoud van sy eie Vader se paleis nie! Hy is vry van tempelbelasting en skuld niks! 

Tog besluit Jesus om wel vrywilliglik die voorgeskrewe tempelbelasting vir Homself en Petrus te betaal. Sommer so uit ‘n vis** se bek. Die eerste die beste vis. Geen groot issue nie! Hy doen dit nie omdat Hy daartoe verplig is nie, maar om nie onnodig aanstoot te gee nie! Jesus is vry om dit nie te betaal nie, maar betaal dit vrywillig! Jesus doen dit sodat daar nie misverstand sou wees nie. As Hy nie die belasting sou betaal nie, sou mense dink dat Hy die tempel of die offerdiens minag. Jesus wil nie ‘n onnodige struikelblok daar stel wat dit vir mense moeiliker sal maak om sy boodskap te glo en gered te word nie. Jesus betaal belasting al is Hy as Seun van God vry van hierdie verpligting. Dis ‘n pragtige demonstrasie van Christelike vryheid. Ek is vry van alle wette, maar maak myself vrywillig diensbaar aan God en my naaste.

Ek dien en gehoorsaam God nie om gered te word nie. Ek dien Hom omdat Hy my liefhet, my vryheid geskenk het en ek Hom wil dien. Ek kom kerk toe, ek bid, ek werk vir Hom vrywilliglik omdat Hy vir my alles reeds gegee het en ek wil dankie sê. Ek is vry, maar ek kies in vryheid om te dien. Ook om my medemens te dien tot hulle voordeel. Dis soos Paulus sy vryheid verstaan het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen." (1 Kor. 9:20) Hy besef hy is vry van die Joodse wette, maar hy onderwerp hom daaraan in soverre dit nodig is om die Jode na Christus te lei. Hy doen dus nie dinge wat die Jode onnodig aanstoot sal gee nie. Kom ons dink ons in aan die situasie van ‘n vroue sendeling in ‘n Moslem land. As Christen is sy vry om nie ‘n Hijab (haarbedekking) te dra nie, maar ter wille daarvan om nie ‘n aanstoot vir die mense onder wie sy werk te wees nie, sal sy dit vrywilliglik dra. Juis om die evangelie te bevorder. Dis presies wat Jesus doen met die tempelbelasting – uit liefde vir ander mense en sensitiwiteit vir hulle gevoelens gee Hy op hierdie punt sy vryheid prys en betaal! Laat ons veral hierdie beginsel onthou as dit kom by omstrede sake soos die gebruik van alkohol en tabak, kleredrag en grimering, ontspanning en vermaak... Ja, as Christen is ek vry, maar is my keuses in die beste belang van ander mense? Veroorsaak my keuses nie dalk ‘n struikelblok in die weg van die evangelie nie?

Deur geloof in Jesus is ons vrygemaak van ons skuld, vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel. Hierdie vryheid is nie ‘n selfsugtige vryheid, wat ek net tot my selfsugtige voordeel gebruik nie. Nee juis deur geloof in Christus is ons verlos en vry tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! 

Kortom : ons is vry sodat ons in vreugde (sonder vrees) en uit dankbaarheid God en ons naaste kan dien en liefhê. 

Die Christen is iemand wat nie in en vir homself leef nie, maar in Christus en in sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

*Volgens van Bruggen sou die vraag ook kon vertaal word met ‘n stellig. “Julle leraar betaal die didrachma nie!” Petrus se “Ja’ bevestig dan dat Jesus nie die tempelbelasting betaal het nie. 

**Net terloops. Wat is nou die betekenis van die geldstuk in die vis se bek? Die opvallende en besondere is nie dat ‘n vis ‘n geldstuk in die bek kan hê nie. (dit sou kon gebeur) Die opvallende is dat Jesus die mag het om so ‘n opdrag te gee en te kan weet dat die eerste vis wat gevang sou word so ‘n geldstuk in sy mond sou hê. Hierdeur bewys Hy dat Hy werklik die Prins is in die Vaderhuis, werklik die Seun van God, want dis net Goddelike Almag en Alwetenheid wat dit kan vermag.


Vrydag, 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162

Donderdag, 02 Maart 2017

KYK NA DIE STERRE

en GLO!

Abram, soos ons almal weet, was ‘n man van geloof. Die vader van alle gelowiges. Maar dis baie belangrik om altyd te onthou dat God self die inisiatief geneem het met Abram op die geloofspad. In Genesis 12:1-4 lees ons van hoe God vir Abram ‘n gewone afgodsdienaar geroep het, ‘n opdrag aan hom gegee het en beloftes aan hom gemaak het. 

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees."
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here...”

Dit was die begin van Abram se geloofspad – hy het die beloftes geglo en dus gehoorsaam weggetrek al het hy glad nie geweet presies waarnatoe als sou lei nie. Belangrik om nou reeds te sien : 

Geloof is geloof nie in wat ek wil glo of wens nie, maar geloof in God se duidelike beloftes! 

NIE MAKLIK NIE! 

Hierdie pad van geloof was natuurlik nie maanskyn en rose nie. Dit was ‘n pad vol bedreigings, vertwyfeling, aanvegtinge, herhaalde keuses en volharding. Dit was geen afdraende ontspanningspaadjie nie, maar ‘n opdraande stryd. Abram se geloof was voortdurend onder druk. Hoe so? Ons weet God het hom ‘n groot nageslag beloof, maar nou na jare was Abram steeds kinderloos. Abram word in sy geloofsbestaan bedreig. Dit was die harde feite en dis die agtergrond vir die merkwaardige gebeure in hoofstuk 15. Hier kom die Woord van die Here na Abram en sê vir hom : “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.” (OAV) God gee ‘n versekering aan Abram. Hy wil Abram versterk en bemoedig. 

HY MAAK SY HART OOP 

Dit lyk of God se bemoedigende woorde van versekering Abram se hart raak, want hy maak sy hart oop en praat eerlik oor die wanhoop en frustrasie wat in sy hart is. (Genesis15:2,3) In effek kom dit daarop neer: “Ek is op pad om kinderloos te sterwe Here, so wat help al die beloftes van ‘n land en beskerming? Wat help die wonderlike belofte van ‘n land as daar geen nageslag is nie?” Geloof beteken nie ons kan nie eerlik met God wees nie. Geloof is immers ook ‘n leerproses en in die proses mag ons maar vrae vra. Abram suggereer dat hy maar ‘n plan B gemaak het en sy getroue dienskneg Eliëser aangeneem het as sy erfgenaam. Dis so ‘n tipies menslike aanpassing en mensgemaakte oplossing. Dis egter nie God se wil nie. God weier om deur ‘n surrogaat ‘n kwasievervulling van sy belofte te gee.* Die belofte was immers dat Abram se nageslag ‘n groot nasie sou word en die land erf. (Terloops, dit was ook nie Abram se laaste keer dat hy na ‘n menslike plan gegryp het nie... In Gen 16 luister hy na Sara en neem Hagar as vrou; dit lei tot Ismael se geboorte en eeue van geweld en ellende) Abram se plan is nie God se plan nie, want God vervul nie sy beloftes halfpad nie. Hy maak ook nie halwe beloftes nie – ook nie aan ons nie, Hy belowe nie halwe vergifnis, halwe redding en ‘n halwe hemel nie. Bo alles Hy het nie ‘n halwe Verlosser beloof nie, maar sy eniggebore Seun! 

BELOFTE HERNU 

God self kom Abram te hulp met ‘n hernuwing van sy oorspronklike belofte. Die Almagtige God hoef nooit terug te val op ‘n plan B nie. God maak seker dat daar geen misverstand kan wees nie – nie ‘n aangenome kind nie, maar een uit jou liggaam, Abraham! Jy het reg gehoor - JOU liggaam! Maar dit was juis ook die probleem. Abram se liggaam was oud! Verstorwe noem Paulus dit! “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” (Romeine 4:18,19 OAV) 

“Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” 

Opvallend, die Here verwyt nie die weifelende en wanhopige Abram nie, Hy kom hom helpend en bemoedigend tegemoet. Hy vat Abram na buite. Sien...Abram uitstap in die donker woestynnag, sy oë oplig na die helder sterrehemel... Hy hoor die opdrag : “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan!” Kyk na die almag van God! In gewyde stilte kyk hy, kyk hy... Dink vir ‘n oomblik hoe Abram in stilte na die sterrehemel staar en die oorweldigende almag en majesteit van God indrink... KYK NA DIE STERRE! ‘n Woordlose boodskap van God : “Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” Dalk is dit vir ons in ons swakheid nodig om letterlik weer na die sterre te gaan kyk... Ons kan die boodskap van die sterre dalk nog beter as Abram verstaan...ons weet mos daar is der miljoene galaksies met elk der miljoene sterre...oneindig, ontelbaar! Duiselingwekkend! So oneindig almagtig is God. Ja, wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Dis wat Maria moes hoor... “Niks is vir God onmoontlik nie." (Lukas 1:37) Dis wat die ontnugterde dissipels uit Jesus se mond hoor na die hartseer gebeurtenis met die ryk jongman... “Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (Lukas 18:27) 



KYK NA DIE STERRE! AANSKOU GOD SE ALMAG! 

Die almag van God is die antwoord op ons wankelende geloof! KYK NA DIE STERRE! 

Twyfel jy? Wonder jy? Kan die Here my regtig vergewe? – KYK NA DIE STERRE! Kan die Here my veilig bewaar om in sy koninkryk in te gaan? KYK NA DIE STERRE! Kan God sy kerk in stand hou teen die vloedgolf van boosheid en goddeloosheid? KYK NA DIE STERRE! 

Daar onder die sterrehemel, waar God sy beloftes sigbaar onderstreep met sy almagswerke** daar glo Abram weer opnuut. “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (6) Geloof is die antwoord van die mens op God se beloftes. Sonder God se beloftes, sonder God se Woord is daar geen geloof nie. Weereens -Geloof is daarom nie gebou op wat ek graag wil hê of doen nie, maar op dit wat God belowe in sy Woord om te doen. 

Waartoe wil hierdie gedeelte ons oproep? Om opnuut ons geloof in die beloftes van God te stel. Spesifiek in die belofte aangaande sy Seun. Die afgehandelde genoegsaamheid van sy kruisoffer en sy opstanding. Paulus praat so heerlik hieroor... 

“Daarom is dit hom (Abraham) ook tot geregtigheid gereken. 
Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking." (Rom 4:22-25) 

Ja, die sigbare feite maak ons moedeloos en laat ons wanhoop. Die sigbare (en ongemaklike) feite oor ons sondigheid, gebrokenheid en vele geloofsmislukkings..., maar daar is iets groter - God se Almag. Sy ALMAG skyn feitelik, sigbaar duidelik in die naghemel bokant ons... Nog heerliker... God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Abram se geloof was in God en sy beloftes. Ons geloof is in God wat Jesus oorgelewer het vir ons sondes – ons sondeskuld is betaal, en Hom opgewek het en so ons vryspraak/regverdigmaking verseker het! 

Gaan kyk na die sterre, glo in God wat sy Seun Jesus vir jou oorgelewer en opgewek het! Dank Hom met jou lewe! 




*A van Selms p222, De prediking van het Oude Testament, Genesis deel 1

** God se algemene openbaring naamlik sy openbaring deur die skepping versterk ons geloof in sy besondere openbaring, sy openbaring deur die Woord. Hierdie waarheid is die eerste keer onder my aandag gebring deur Nico van der Walt.

Woensdag, 01 Maart 2017

DIE NG KERK IS BANKROT

- Waarom het die kerk nie meer geld nie?


‘n Kollega in die bediening stel dit nou die dag baie kru oor die telefoon : “Die NGK is bankrot!” Inderdaad blyk dit (altans in Namibië) nogal taamlik na aan die waarheid te wees. Met skok verneem mens : “Die Sinode van die NG Kerk Namibië het sy jaarlikse bydrae vir die 2016/2017 boekjaar van N$ 263 000 tot die Kunene vir Christus begroting vir die 2017/2018 boekjaar verminder tot N$ 12 310.” Kunene vir Christus werk onder andere onder die Oavahimba in die noordweste van ons land. Die sinodale hulp aan DEGNOS (wat betrokke is by die sending onder die Boesmans) is op soortgelyke radikale wyse gesny. Maerua Kinderhuis het nog erger deurgeloop. Die enigste afleiding wat mens kan maak as daar aan sulke belangrike werk besnoei word – die kerk se geld is op!

Die gewone redes wat aangevoer word vir hierdie benarde posisie is wel bekend : Dis moeilike ekonomiese tye wat druk, dit was ‘n groot droogte, daar is ‘n dramatiese ontvolking van die platteland, die NGK het ‘n duur bedieningsstruktuur, demografiese tendense soos veroudering en ‘n lae geboortesyfer...

Dis natuurlik nie heeltemal onwaar nie. Al hierdie faktore speel inderdaad ‘n rol. Dis egter nie die volledige prentjie nie. Miskien is dit nodig om eerlik na nog ‘n paar (ongemaklike) feite te kyk:

1.Die NGK het derduisende lidmate verloor. Punt. Die lidmate op die boeke en in die statistieke is net nie meer daar om kollektebordjies vol te maak nie. Miskien word daar gewerk met getalle wat nie bestaan nie? Die Jaarboeksyfers het meer met fiksie as feite in gemeen. Die redes is eenvoudig : in min gemeentes word daar nog deeglike huisbesoek en opnames deur kerkraadslede gedoen en dis al metode om betroubare statistiek in te samel. Neem ook in ag dat mense wat die kerk deesdae verlaat selde nog amptelik bedank. Hulle verdwyn maar net, terwyl die name op die registers bly staan… ‘n Mens wonder het ons dalk ‘n arfgiefkerk geword? Die verlies aan lidmate het veral op drie fronte geskied:

~Die NGK het die afgelope dekades die room van sy getroue lidmate verloor aan ander behoudende kerke. Die groot rede hiervoor is die teologiese koers van liberalisme wat deur die kerk ingeslaan is en die duidelikste op die teologiese fakulteite uitkristalliseer. So het die stief behandeling van Ferdie Mulder toe hy beswaar gemaak het teen die ontkenning van Jesus se liggaamlike opstanding deur dosente van Tukkies nie baie vriende vir die NG Kerk gewen nie… Die skade wat 2015 se AS besluite oor selfdegeslagverhoudings geneem het, het skokgolwe deur die geledere van Bybelgetroue gelowiges gestuur. Dat die besluite toe wel in 2016 (op ‘n manier) omgekeer is het min aan die persepsies oor die NGK verander, want die besluite was nog steeds nie ondubbelsinnig duidelik nie. (Dan praat ons nie eers van iets soos DIE KERKBODE gedrewe heksejag teen ds. Dirkie van der Spuy nie.) Toegewyde gelowige lidmate het hulle vertroue in die kerkleiding verloor en gay aktiviste met T-hempies by sinodes gaan nie juis iets doen om dié vertroue te herstel nie en nog minder om begrotings te laat klop. ‘n Kerk wat nie duidelike standpunte het nie en nog vis nog vlees is verloor op die ou end die ondersteuning van beide die vis en die vlees … ‘n Tipies resente voorbeeld van die kerk se verval in morele relativisme (en HUISGENOOT moraliteit) is die NG Gemeente Rasslouw se konferensie oor die huwelik waar ‘n sekere ds. Lizl-Louise Schoeman verklaar : “Die kerk moenie vir jongmense sê dat hulle nie seks voor die huwelik mag hê nie, maar ook nie dat hulle maar moet laat waai nie.” Nou toe nou... almal kan maar in die wildtuin gaan jag, moet net nie te veel jag nie... 

~‘n Groot klomp lidmate het ook koersgevat na charismatiese kerke en die reuse verskeidenheid van los groeperings beskikbaar in elke smaak en geur. Huiskerke en boskerke. Ook hier is dit nodig om hand in eie boesem te steek. Gebrekkige lering oor jare het mense vatbaar gemaak vir elke nuwe wind van lering en elke nuwe skyn van opwinding.

~Baie voormalige lidmate het bloot net weggeraak en in totale kerkloosheid verval. Toenemende sekularisme eis ‘n al groter tol. Ons kan die tydsgees hiervoor blameer en beslis is dit ‘n algemene verskynsel in die westerse wêreld, maar die kerk self is nie sonder meer vry te spreek nie. Ons het ons geloofwaardigheid verloor. Watter respek moet die wêreld vir ons hê as die kerk nie eers meer weet wat die definisie van ‘n huwelik is nie? Wie gaan nog na ons luister as ons self nie meer weet wat reg en verkeerd is nie? Hoekom moet die wêreld daarbuite ons ernstig opneem as ons nie ons eie belydenisskrifte ernstig opneem nie? Die kerk is klaarblyklik nou nie meer seker oor die opstanding van Jesus nie en ons weet nie of daar ‘n duiwel is of nie. Is ons nog hoegenaamd anders as die wêreld?

2.Wat die lidmate wat nog oor is betref moet ons ook eerlik wees dat die gehalte van betrokkenheid oor die algemeen sorteer onder dit wat Jesus in die Laodicea gemeente tipeer as louheid. (kliek op NAAR) Dis skokkend sigbaar in gebrekkige erediensbywoning, maar ook morele laksheid. Lidmate volhard lustig in openbare sondes sonder dat ‘n wenkbrou gelig word. Kerklike tug is net iets waarvan daar soms in (baie) ou kerkraadsnotules gelees word, want sien die kerk wil nie die risiko loop om nog van die paar oorblywende lidmate ook te verloor nie. Die materialisme van die groot gros onbekeerde nominale lidmate bevorder natuurlik ook nie offervaardigheid nie. En dis nie dat ons mense so min geld het nie - vir die waansinnige gejaag na skolesport, naweek vir naweek is daar oorgenoeg geld beskikbaar! Ons lidmate ry nog steeds met luukse voertuie, hou nog steeds TV skottels aan en speel nog steeds gholf...

DIE SKAT VAN DIE KERK

Die hartseerste van als – die kerk het nie net baie lidmate en geld verloor nie, maar dit lyk ook al hoe meer of ‘n groot deel van ons kerk die ware skat van die kerk naamlik die evangelie (volgens Luther)*, verloor het. Hoe so? Mens hoor van min bekerings en mens sien min entoesiasme om die evangelie aan verlorenes te verkondig (waar is die manne soos die destydse Dr. Willie Marais en ds. Dana Minnaar?) Natuurlik is daar heerlike uitsonderings, maar dis juis dit - uitsonderings. Ons teologiese fakulteite lei nie meer vurige evangeliedienaars op nie maar skeptici wat Jesus se plaasvervangende kruisdood, die liggaamlike opstanding, die werklikheid van hemel en hel en wie weet wat nog bevraagteken. Dit het vernietigende gevolge onder lidmate se moraal en toewyding en dit wys uiteindelik ook in syfers! Baie jong predikante wie se gemoed en denke deur Marcus Borg en Rob Bell vergiftig is, is dikwels gawe ouens wat die kerk as ‘n NGO beskou (sonder enige beleid), maar van ‘n kruisevangelie wat hoop bring aan verlore sondaars het hulle geen ervaring nie. As hulle iets verkondig is dit die versiersuiker afgod van die sogenaamde Progressive Christianity. Die evangelie, “die krag van God tot redding vir elkeen wat glo…,” het skaars geword op ons kansels. Immers as niks meer verkeerd is nie en niks is meer sonde nie, waarvan het die mens dan nodig om gered te word?

As ons sake wil regstel is dit hier waar ons moet begin. By die reddings boodskap, die kruisboodskap. Vergeet eers bietjie van die biltongfeeste, gholfdae, glansganse, gaskunstenaars en al die vindingryke basaarfoefies… Los eers die mens gefokusde luisterseisoene, labarintuitstappies of spanbousessies en luister weer na die Woord! Ontdek weer die evangelie! Verkondig die evangelie, leef dit! En weet beslis dat mense wie se harte aangeraak word deur die bevrydende boodskap van God se genade se harte en hande ook bevry word om te gee, want hulle juig nou oor die skat in die hemel!

Is ek sinies of hiperkrities? Ek is immers deel van die opset en staan self skuldig in vele opsigte. En ek wonder, verkondig ek die kruisevangelie duidelik genoeg deur die krag van die Heilige Gees? Klink ek wanhopig, fatalisties? Nee, die ergste afvallige gemeentes aan wie die briewe in Openbaring gerig word, word nie afgeskryf nie, maar opgeroep tot bekering. Mag ons dierbare NG Kerk op hierdie bekeringsuitnodiging reageer van Hom wat tussen die sewe kandelare beweeg. Dan sal ons ware rykdom bekom, maar ook genoeg aardse middele hê om die werk te voltooi wat ons Koning vir ons gee om te doen.

*Een van Luther se 95 stellings, stelling 62 lui soos volg : “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.”


Die droogte hier by ons is gebreek, maar daar heers wyd en syd nog steeds 'n knellende geestelike droogte...