BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag, 29 Oktober 2016

BUITENGEWONE ALGEMENE SINODE

- die Ooste vra vir die herroeping van die 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings!

Die Algemene Sinode 2015 se onskriftuurlike, onnadenkende en inkonsekwente besluit oor selfdegeslagverhoudings het onmeetlike skade en verwarring in die kerk veroorsaak. Dit het onder andere gevra vir die toelating van praktiserende homoseksuele predikante. Verskeie streeksinodes (waaronder ook Namibië) het hierdie besluit verwerp. Nou is dit verblydend dat een van die groot streeksinodes, die Oostelike Sinode ook gevra het vir 'n herroeping van die 2015 besluit. (sien 5.3 van die beskrywingspunt hieronder) *

BESKRYWINGSPUNT AAN DIE BUITENGEWONE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE,

GEHOU TE WORD 7 TOT 10 NOVEMBER 2016 TE PRETORIA


1.          EENHEID EN DIVERSITEIT

Die Oostelike Sinode loop reeds 'n lang pad met die saak van selfdegeslagverhoudings en ons is diep bewus van die diversiteit van beskouings binne ons Sinode. Ons lê die volgende aan u voor as getuienis en standpunte.

Op ons pad tot hier het ons daarin geslaag om ten spyte van ons verskille mekaar vas te hou en familie te bly wat vir mekaar omgee en ruimte skep. Ons vorige besluite in 2003 en 2005 het gespreek van hierdie gesindheid.

2.          Uittreksel uit die standpunte en besluite van 2003

2.1 Saambindende Uitgangspunte

2.1.1  Die Sinode het met deernis geluister na die verhale van lidmate van die Kerk wat hulleself beleef as homoseksueel georiënteer en tegelyk die begeerte het om hulle Christenskap binne die geloofsgemeenskap van die Kerk uit te leef.

2.1.2  Die Sinode erken met spyt dat daar dikwels in die verlede nie genoeg sensitiwiteit en begrip vir die situasie van persone met 'n homoseksuele oriëntasie binne kerklike geledere was nie.

2.1.3  Die Sinode onderskryf die saambindende uitgangspunte wat deur die Diensgroep vir Homoseksualiteit geformuleer is, naamlik:

dat alle mense, ongeag oriëntasie, geslag, ras en kulturele agtergrond met respek en medemenslike liefde bejeën en behandel moet word;

en
dat persone wat verskillende standpunte oor homoseksualiteit huldig, mekaar nie in die proses van besinning sal verloor nie;

en
dat homoseksualiteit 'n komplekse aangeleentheid is en dat mense dit verskillend beleef;

en
dat alle mense onderworpe is aan die gebrokenheid van hierdie sondige wêreld en 'n behoefte het aan verlossing in Christus.  Alle mense moet streef na die heelheid in Hom.
2.1.4  Die Sinode oordeel dat alle mense wat  glo, hulle Christenskap in die kerk behoort uit te leef, ongeag hulle seksuele oriëntasie.

2.2 Verskillende sienings

2.2.1  Die Sinode is nie eenstemmig oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie verstaan en hanteer behoort te word nie.  Dit blyk veral duidelik uit die twee teenstrydige verslae uit die geledere van die Diensgroep vir Homoseksualiteit.  Sommige meen dat die beoefening van homoseksualiteit sonde is en dat die enigste aanvaarbare opsie 'n lewe van seksuele onthouding (selibaat), of 'n verandering in oriëntasie is, terwyl ander oordeel dat dieselfde norme in 'n homoseksuele verhouding moet geld wat in 'n heteroseksuele huwelik geld.

2.3 Proses

Punt ses:  Die Sinode erken hiermee dat ons nie 'n eenstemmige antwoord kan gee op 'n hoogs ingewikkelde vraagstuk nie en oordeel dat die proses van besinning met die oog op uiteindelike besluitneming moet voortgaan.  Die klem moet egter verskuif na 'n ernstige poging om die teenoorstaande standpunte op 'n eerbare en verantwoordelike wyse nader aan mekaar te bring. Die uitgangspunte bly steeds 'n ernstige en afhanklike soeke na die wil van God en 'n onvoorwaardelike liefde vir die medemens.
(...)
Punt agt:  Die Sinode oordeel dat besinning oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie deur Christene hanteer behoort te word, nou doelgerig op alle vlakke van die kerklike gemeenskap en veral in gemeentes gevoer moet word.

2.4 In 2003 het die sinode sy afgevaardigdes hieroor getoets en die uitslag hieroor was soos volg

2.4.1 Die Kerk het reg opgetree deur verskoning te vra vir gedrag in die verlede wat mense met homoseksuele oriëntasie seergemaak het.

2.4.2​ Die huwelik word gesien as ’n verbintenis tussen een man en een vrou en huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies is glad nie aanvaarbaar nie.

2.4.3 ​Die interpretasie van die Skrifgegewens oor homoseksualiteit skep probleme.  Hieroor bestaan daar standpunte wat teenoorstaande pole verteenwoordig.

2.4.4 Die term “seksuele oriëntasie” wat in die gesprek oor homoseksualiteit gebruik word, vra verdere verheldering wat navorsing oor die oorsake vir homoseksuele gedrag, verhoudings en deelname aan die geloofsgemeenskap insluit.

3.          Uittreksel uit die standpunte en besluite van 2005

3.1 In 2005 is die volgende besluite geformuleer:

3.1.1 ​Die Sinode onderskryf die evangelie-boodskap dat die genade van die Here vir elkeen geld.

3.1.2​ Die Sinode bevestig dat lidmaatskap op grond van ’n persoon se geloofsverklaring berus.

3.1.3 ​Die Sinode bevestig dat die huwelik Skriftuurlik gesien word as ’n verbintenis tussen een man en een vrou.

3.1.4 ​Die Sinode verklaar dat huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies glad nie Bybels aanvaarbaar is nie.

3.1.5 ​Die Sinode erken dat die Skrif-gegewens oor homoseksualiteit verskillend vertolk word.

3.1.6 ​Die Sinode verklaar dat dit die  Sinode se oorheersende standpunt is, dat die beoefening van homoseksualiteit teen die leer van die Bybel is.

3.1.7 ​Die Sinode versoek verdere opheldering oor die term “homoseksuele oriëntasie,” wat in die gesprek gebruik word.  Dit sluit ook navorsing oor die oorsake vir homoseksuele gedrag, en die aard van homoseksuele verhoudings in.

3.1.8 Die Sinode verseker homoseksuele persone van die NG Kerk se opregte pastorale bewoënheid en verklaar dat alle mense hartlik welkom in ons gemeentes is.

3.1.9 Die Sinode verklaar dat homoseksuele gedrag teen die leer van die Bybel is.

3.1.10 Die Sinode versoek dat vir enige voortgaande besinning ingevolge punte 3.1.5 en 3.1.7 homoseksuele mede-gelowiges wesenlik deel van die proses sal wees.


3.2 Die Sinode verklaar:

3.2.1 Ons is deel van die familie van Christus.  Ons verskil tans nog oor hoe om gelowig na te dink oor homoseksualiteit.  Ons stem wel saam dat alle mense in die Kerk welkom is.  Ons stem ook saam dat ons sag met mekaar moet wees en nie te vinnig moet oordeel nie.  Wat verkeerd is, kan egter nie goedgepraat word nie.

3.2.2 Ons verskil oor hoe om die Bybel te verstaan. Vir die meerderheid van ons afgevaardigdes, gemeentes en lidmate is die Skrifgegewens duidelik teen enige homoseksuele dade.  Hierdie lidmate glo dat ons die Bybelwoorde sal verswak en God se heiligheid oneer sal aandoen, as ons enigsins homoseksuele dade goedpraat.

3.2.3 Vir ’n minderheid van afgevaardigdes, lidmate en gemeentes is dit nie duidelik hoe die Skrifgegewens toegepas moet word nie. Hierdie lidmate wil graag langer nadink oor hoe ons die Bybeluitsprake oor sake soos hierdie in nuwe tye moet verstaan en toepas.

3.2.4 As familie wil ons aan mekaar vashou, want ons het mekaar nodig.  Die Gees is immers aan ons almal saam gegee.  Ons aanvaar mekaar se goeie trou in hierdie saak. Trouens, die hantering hiervan het ’n openbare toets van liefde geword. Ter wille van God se eer gaan ons hierin slaag.

4.          die 2015 besluite oor selfdegeslag verhoudings

Na aanleiding van die 2015 besluite oor selfdegeslag verhoudings het die Sinodale Diensraad op verskillende maniere vir leraars, gemeentes en ringe terugvoer gevra oor die besluite. Daar is ook twee konsultasies met leraars gehou om hulle terugvoer te kry.

Die meeste kerkrade en ringe se terugvoer oor die besluite was negatief, maar daar was ook ’n aantal gemeentes en leraars wat positief was oor die besluite of nie ’n probleem daarmee gehad het nie. Dit is kenmerkend van die diversiteit wat ons weet in die Sinode bestaan.

5.          sinodesitting van 23 TOT 26 Oktober 2016

Tydens die sinodesitting van 23 tot 26 Oktober 2016 is die saak weer op die Sinode se tafel geneem. ’n Gespreksdokument het voor die Sinode gedien wat gebaseer is op bogenoemde terugvoer en ’n aantal beskrywingspunte wat van gemeentes gekom het. Tydens die sitting het ’n aantal individue ook voorstelle ingedien. Dit alles is gekonsolideer en het voor die Sinode gedien. Die volgende besluite is goedgekeur en word nou as ’n beskrywingspunt na die Algemene Sinode deurgestuur:

5.1 Die Oostelike Sinode stuur die onderstaande besluite aan die Buitengewone sitting van die Algemene Sinode deur met die bewustheid dat daar nie in die Sinode eenstemmigheid hieroor is nie. In ons familie is daar ook ander standpunte en die Sinode wil duidelik ons waardes van eenheid te midde van diversiteit onderstreep.

5.2 Die Sinode bevestig die uitgangspunte, verklarings en besluite van 2003 en 2005 rakende homoseksualiteit en stuur dit na die Algemene Sinode.

5.3 Die Sinode versoek die Algemene Sinode om die besluit oor selfdegeslagverhoudinge te herroep in die lig van die feit dat die vergadering nie getrou was aan 'n vorige besluit van 2004  [Algemene Sinode Besluiteregister 2004 p 428] om eers met gemeentes in gesprek te gaan voordat 'n sensitiewe besluit geneem word nie, en dat die besluite van 2007 en 2013 oor selfdegeslagverhoudings as die standpunt van die NG Kerk sal geld.

5.4 Die Sinode bevestig dat “slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word” (Algemene Sinode 2015) en dat “dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie” (Algemene Sinode 2013).

Die Sinode het besluit om die “verbintenis/verhouding” duideliker te omskryf as ’n huweliksverbintenis, soos in die volledige 2013 besluit verwoord: “Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”

5.5 Die Sinode versoek dat daar herbesin moet word oor seks binne en buite die huwelik. Daar blyk ’n dubbele standaard geskep te word tussen homo- en heteroseksuele predikante. Indien ’n burgerlike verbintenis nie ’n huwelik is nie (soos die 2015 besluit dit stel), val seks binne so ’n verbintenis of selfdegeslagverhouding buite die aanvaarbare grense wat die Sinode self gestel het op grond van Bybelse riglyne.

5.6 Die Sinode bevestig die oortuiging dat die Bybel hoër morele eise aan leiers stel (Jakobus 3:1) en soos wat dit neerslag vind in die Kerkorde. Daarom kan geen persoon wat in 'n saamwoon-verhouding of 'n "ander formele verbintenis / verhouding" (bv 'n burgerlike verbintenis) staan, as leraar dien of tot die bediening toegelaat word nie. Dieselfde seksueel-etiese vereistes wat aan ongetroude heteroseksuele predikante gestel word, word ook aan homoseksuele predikante gestel. 

5.7 Kerkrade besluit self oor die vereistes waaraan ander leiers in die gemeente moet voldoen en vervat dit in 'n beleidsdokument.


5.8 Die Algemene Sinode word versoek om beleidsbesluite oor pastorale kwessies in die hande van gemeentes te los en nie beleidsbesluite hieroor te neem sonder konsultasie nie. 

* My plasing van hierdie beskrywingspunt beteken nie noodwendig dat ek met alles daarin saamstem nie. Ek is wel bly oor die duidelike versoek tot herroeping van die 2015 besluit en die sterk pleidooi vir seksuele reinheid.

Donderdag, 27 Oktober 2016

"Pa, seën my tog ook!"

- die smartkreet van ‘n jongman wat ‘n verkeerde keuse gemaak het.


Besondere kosbare en gesogte erfstukke word van geslag na geslag oorgedra en is dikwels onberekenbaar waardevol. ‘n Ou geweer deur ‘n voorsaat gebruik op die slagveld, ‘n oorspronklike skildery of vaste eiendom soos ‘n plaas... Vandag gaan dit oor iemand wat ‘n ontsaglik kosbare erfporsie vir altyd misgeloop het.

Ons ken darem seker almal die geskiedenis van Jakob en Esau. Jakob het hom vermom en is deur die ou blinde Isak op sy sterfbed geseën. Kort daarna het Esau van die jagveld by sy pa Isak gekom om geseën te word, maar moes hoor dat Isak reeds sy seën uitgedeel, en dit aan Jakob! 

Dan lees ons :

“Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: ‘Pa, seën my tog ook!’" (Gen 27:34) 

Hartverskeurende woorde! Hoor hoe kreun hy dit uit : “Pa, seën my tog ook!” Dis die smartkreet van ‘n stukkende en wanhopige jongman. Dis seker van die hartseerste woorde en mees tragiese gebeure in die Bybel. Esau het die seën as eersgeborene van sy pa misgeloop en niks kon dit ooit verander nie. Esau het iets ontsettend kosbaar gemis, en hy kon dit nooit weer kry nie. Esau se spyt was vir ewig te laat!

EERSGEBOORTEREG

Wat was so kosbaar aan die eersgeboortereg en aan hierdie seën? Hoekom was dit so belangrik? Om die betekenis van hierdie gebeurtenis reg te verstaan moet ons terug gaan na Esau se oupa - Abram. Ons weet God het Abram geroep en het heerlike beloftes aan hom gemaak en hom geseën. Abram het dus besondere gunste van God geniet, God was hom besonder genadig. God was goed vir Abram. Hierdie verbond en die seëninge wat God aan Abram beloof het was nie net vir hom bedoel nie maar ook sy nageslag. Mens kan amper sê dit was familiebesit. Die beloftes en seëninge van God is dus van geslag tot geslag oorgedra. Anders gestel, die beloftes en seëninge van God was die belangrikste erfstuk.

Nou wie is die grootste/hoof erfgenaam? Wel, volgens destyds se gebruike, die eersgeborene. Ons weet tog die eersgeborene was die belangrikste erfgenaam, mens kan sê die opvolger van sy pa. Om die seën van jou pa as eersgeborene te ontvang was dus nie maar net ‘n klomp leë woorde of ‘n sinnelose ritueel nie. Nee, dit gaan ten diepste oor ‘n Goddelike seën. Dis tog in elk geval net God alleen wat die mag het om mense te seën of aan die anderkant te vervloek. Dit gaan oor meer as maar net materiële goedere. Dit het in die familielyn van Abram, ‘n besonder sterk geestelike verbondskonnotasie. In Hebreërs 12:16,17 word dit baie duidelik dat hierdie seën nie maar net oor ‘n aardse saak gegaan het nie. “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.”

U sien daar was ‘n besliste geestelike dimensie aan die minagting van die eersgeboortereg verbonde gewees. Dis duidelik dat die seën wat die eersgeborene ontvang ‘n oneindig kosbare besitting was. Esau het nou hierdie kosbare seën gemis - dis waarom hy nou in wanhoop uitroep : “Pa, seën my tog ook!”

As mens nou so vinnig op die oppervlakte lees wil mens Esau eintlik jammer kry. "Arme man, kyk hoe is hy ingeloop." Ons weet mos wat het gebeur. Hoe die skelm Jakob en sy Ma ‘n plan gemaak het om die blinde ou Isak te bedrieg. (met die bokvelletjies om sy hande en nek) Maar as mens nou mooi gaan lees, kom mens agter dat dit sy eie skuld was. Die sleutel vir die verstaan van hierdie gebeure kry ons in Genesis 25:34. OAV - “Esau het sy eersgeboortereg verag”. NAB – “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.”

‘N FOUTIEWE WAARDEBEPALING LEI TOT VERKEERDE KEUSES

Esau het eintlik nie meer ‘n reg gehad op die seën van sy pa nie, hierdie Goddelike seën wat van sy oupa Abram af gekom het. Ons weet mos wat gebeur het. Hy het eendag moeg en honger van die veld af gekom en die geslepe Jakob het Esau se eersgeboortereg by hom gekoop. Hy het sy eersgeboortereg verkoop vir ‘n pot lensiesop. Hy het dus self die eersgeboortereg en die kosbare erfenis wat daarmee saam gegaan het verruil vir ‘n pot sop! Vir die tydelike genot van kos, vir die tydelike bevrediging van sy behoeftes het hy sy eersgeboortereg verkoop. Dit kom maar eintlik daarop neer dat hy so min gedink het van die Goddelike seën dat hy dit vir sop verruil het. Hy het ‘n tydelike verbygaande ding van meer kosbaar en belangrik geag as die ewige seën van God. Minagting van die eersgeboortereg het neergekom op die minagting van Goddelike seën en daarom is dit ‘n geskikte voorbeeld om as waarskuwing te dien dat ons nie God se verlossingsgenade moet minag nie. (dis soos die Hebreërs skrywer dit gebruik) 

Die groot saak om raak te sien : Daar was fout met Esau se waardebepaling en daarom het hy ‘n verkeerde keuse gemaak toe hy die geur van lensiesop kry. 

Die lekker geur van die lensiesop het vir hom meer getel as die eersgeboortereg en die seën wat daarmee saam gegaan het. So Esau was eintlik self verantwoordelik dat hy die seën gemis het, Jakob het maar eintlik net gevat wat hom toegekom het. Jakob was mos nou eintlik die eersgeborene - hy het die reg daartoe gekoop.

Dit bring ons nou eintlik by die tema :

Die minagting van God se beloftes veroorsaak dat ons die verkeerde keuses maak en so God se seëninge misloop!

Ons keuses in die lewe is die direkte gevolg van ons waardebepalings. Eenvoudig gesê - ons kies vir dit wat ons dink die meeste waarde het. As my vriende se opinie in my oë vir my meer waarde het as God se beloftes dan kies ek my vriende bo God. As die plesier van die wêreld vir my meer tel as die offer van Jesus dan kies ek die wêreld.

God maak heerlike beloftes aan jou! "Ek wil jou God wees, jou genadig wees en jou skuld weg neem. Ek wil jou red van jou sonde van die oordeel en die ewige hel. Ek wil jou nuut maak. Ek wil jou Vader wees. Ek wil vir jou rus gee, die ewige lewe en die hemelse erfenis." Hy bevestig en onderstreep sy beloftes met die teken van die doop! En tog kies soveel gedooptes iets ander bo God en sy seëninge!

Het jy al hierdie beloftes verkry, jou eie gemaak? Jy vra hoe? Wel, God se beloftes realiseer in jou lewe die oomblik as jy as sondaar jou tot Jesus bekeer en jou vertroue op Hom stel. Deur Jesus kry ons deel aan al God se wonderlike beloftes. Hoe waardevol is God se beloftes vir jou? Het jy dit al aangegryp? Of beskou jy ander dinge, ander genietinge, ander verhoudinge, ander ambisies as belangriker? 

Die punt is dit : 

God se beloftes stel ons voor ‘n keuse. 

Jy kan ook die seën van God verkry as eersgeborene. Miskien sê jy :"Maar ek is tog nie ‘n eersgeborene nie!" Wel, deur Jesus Christus as Verlosser aan te neem word ons eersgeborenes. Hebreërs 12:23 praat van die “vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is.” Wie is hulle? Hierdie eersgeborenes is almal wat aan Jesus behoort en wat so deel gekry het aan God se ewige seën.

Dis ‘n heerlike waarheid : ons wat sondaars en rebelle teen God is, ons word as eersgeborenes aanvaar deur God wanneer ons tot geloof in Jesus kom.

Is hierdie eersgeboortereg vir jou belangrik? Hierdie eersgeboortereg wat jy verkry as jy Jesus Christus as Here aanvaar? Net soos Esau moet jy ook kies tussen die eersgeboortereg en die lensiesop. Jy sal weet wat is die lensiesop in jou lewe. Jy weet watse dinge vir jou so ‘n aantrekkingskrag het dat dit belangriker as Jesus word... Wat is vir jou meer waardevol as Jesus, wat is vir jou belangriker as die heerlike beloftes van God ......is dit dalk ‘n boesemsonde, ‘n sondige verhouding, vrees vir wat mense gaan sê as jy Jesus volg, bitterheid, weiering om iemand te vergewe, gierige najaging van geld.....?

Wat van jou? Wat dink jy van God se beloftes? Het jy dit al ernstig opgeneem en hoog gewaardeer deur Jesus as Here aan te neem?

Donderdag, 20 Oktober 2016

MOENIE KRAKE TOEVERF

met valse troosboodskappies nie!



Dink ‘n bietjie : ’n Muur wat ernstig gebars is en dreig om om te val... gaan dit help om so ’n wankelrige muur te verf? Nee, die mooi wit verf buite om gaan nie die skade wegneem nie. Die wit verf steek die skade net vir ’n tydjie weg, maar die barste en krake is nog steeds daar. Baie mense se godsdiens is so... agter die mooi positiewe woordjies is daar diep krake van sonde en ellende... Die muur is op die punt om te val...

In Esegiël 13:9-16 spreek God ’n oordeel uit teen die valse profete. 

"Ek tree op teen die profete wat gesigte sien wat nie daar was nie en wat leuens uitgee vir waarsêery. Hulle sal nie plek hê in die vertroulike byeenkoms van my volk nie, nie opgeskryf word in die boek van Israel nie en nie op die grondgebied van Israel kom nie. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.

"Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk ‘n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.

"Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek.

Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’

"Daarom," so sê die Here my God, "laat Ek stormwinde losbreek in my gramskap, laat Ek stortreëns in my toorn, haelstene in my gramskap kom om alles te vernietig.

Ek breek die muur af wat julle so netjies afgewit het, Ek maak hom gelyk met die grond. Sy fondamente sal sigbaar word, hy sal val en julle sal in sy puin aan julle einde kom. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

Ek sal my gramskap laat uitwoed teen die muur en teen dié wat hom afgewit het en Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer ‘n muur nie en dié wat hom afgewit het, die profete van Israel, is nie meer daar nie. Dit is hulle wat vir Jerusalem as profete opgetree het, vir die stad gesigte gesien het oor hoe goed dit sou gaan terwyl dit nie goed sou gaan nie." Dit is wat die Here my God gesê het.

Die vals profete het met mooi woorde en soetsappige boodskappe die volk mislei. Hulle het ’n positiewe boodskap gebring waarvan die mense natuurlik baie gehou het. Wat was die boodskap? “Dit sal goed gaan!” of in ons taal : “Als gaan OK wees!” (vers 10) Dit was ’n mooi boodskap (almal wil mos hoor dat dit sal goed gaan), maar dit was vals en het ’n valse gerustheid aan die mense gegee. Dit het mense aan die slaap gesus terwyl die naderende oordeel van God dreigend oor hulle gehang het.

NUTTELOOS EN MISLEIDEND

Hoekom was dit ’n vals boodskap? God se boodskap was juis dat Hy die volk gaan straf en hulle in ballingskap wegvoer! Dit was die werklike stand van sake, dis wat vir die volk gewag het, maar die valse profete het gesê : “Dit sal goed gaan!” Nou sê die Here hulle boodskap is net so nutteloos soos om ’n gebarste muur mooi af te wit (of te verf).

EN ONS?

Wat wil God hê dat ons moet hoor? Die boodskap van God wat Hy wil hê ons moet vandag hoor is die boodskap wat Jesus kom verkondig het : “Die Koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:14,15) In Jesus het die Koninkryk naby gekom, dis nou ’n werklikheid, die heerskappy van God word herstel. In die lig hiervan moet ons twee dinge doen: Bekering en geloof in die evangelie.

Bekering is om van gedagte te verander, dis om te besef ek het nog altyd verkeerd gedink en verkeerd gedoen. Ek het gemaak soos ek wil, ek moet nou maak soos God wil. Ek durf nie meer met my ou lewensstyl voortgaan nie. Ek was nog altyd my eie koning, ek moet nou voor Jesus buig as my koning. 

Geloof. Ons moet die evangelie glo. Dis die Goeie nuus oor Jesus. Dis regtig Goeie nuus vir stukkende sondaars soos ek en jy. Dis die Goeie nuus dat Hy gesterf en opgestaan het. Hy het gesterf - vir my eie sonde! Hy het my sondestraf gedra. Hy het my volle skuld uitgedelg! Hy het opgestaan uit die dood. God is tevrede dat Jesus my skuld betaal het. As ek hierdie boodskap met my hele hart glo, sal my lewe nooit weer dieselfde kan wees nie! Dit sal ‘n passie van dankbaarheid en liefde in my hart losmaak.

Die evangelie het ook ’n teensy, ’n anderkant. As ek die evangelie nie aanvaar nie, wag God se oordeel. As ek my nie bekeer nie en as ek nie die evangelie waarlik glo nie, gaan God se toorn en straf my tref. Hieroor is die Woord mos duidelik! Jesus self het mense in konkrete terme gewaarsku oor die gevolge van ‘n voortgaande lewe in sonde… Die vuur sal nie geblus word nie en die wurm sal nie sterf nie.

En dis hier waar die moderne vals profete presies dieselfde fout maak as hulle kollegas in Esegiël se tyd. Hulle sê : “Ag, nee wat, God sal niemand hel toe stuur nie. Moenie bekommerd wees nie! Dit sal goed gaan!” Party gaan selfs so ver om te sê daar bestaan nie iets soos ‘n hel nie! Hierdie moderne valse profete is baie gewild. Hulle is sulke lekker profete wat sover gaan om saam te vloek en te fuif... En dis wat baie mense verkies, want wie wil nou hoor ons is verkeerd, wie wil hoor van bekering en wie wil nou hoor van die oordeel? Mense wil graag net positiewe boodskappies in die kerk hoor en nie ontstig word nie. Paulus het al vir Timoteus hierteen gewaarsku : “want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend." (2 Tim 4:3,4) 

Geliefdes, mooiklinkende vals profete woordjies is soos wit verf op ’n gebarste muur. Dit lyk mooi maar help niks! Dit steek net die skade en gevaar weg. Aan die anderkant, God se Woord, wat die enigste waarheid is breek die gebarste mure eers af en bou dan nuwe standvastige mure! Ons moet eerlik wees met God se Woord! Ja, dis beslis nie altyd lekker nie, dit ontstel ons, dit maak ons seer, dit ontbloot ons vir wat ons is. Maar gelukkig God se Woord, die evangelie woord, die Goeie nuus van Jesus bring weer vergifnis, herstel en hoop! Vergifnis, hoop en herstel vir die wat bekeer en glo. 

God wil ons lewensmuur herbou, herstel en nuutmaak, nie net effens oorverf nie!

Kan jy Hom al met blydskap dankie sê vir die herstel en hoop wat Hy deur Jesus in jou lewe gebring het?


'n Murasie in Namakwaland.

Maandag, 17 Oktober 2016

VERRE NOORD

- is nie te vêr vir God se genade nie.



Oshivelo, Oshakati, Oshikango… Ondangwa, Ongwediva, Onandjokwe… Omuthiya, Ombalantu... hierdie name spel : “Wamboland” en vir baie van  ‘n vorige generasie se manne : “Bosoorlog.” Wel, genadiglik is die oorlog verby, maar Oktobermaand in hierdie geweste beteken nog steeds : “Bloedig briesende hitte.” Dis byna sewe maal warmer hier as in Nebukadnesar se berugte oond. Die hitte het nie verander nie, so ook nie die donkies nie, maar verder amper alles. Dis nie meer die weermagbasisse, cuca winkels en stukkende karre wat die hoofrol speel nie. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa is ‘n polsende stad met moderne winkelsentrums, robotte en ‘n stroom luukse motors op die oorvol paaie... Dis ‘n plek van uiterste kontraste – op ‘n sypaadjie voor die moderne Bank of Namibia gebou gee ‘n bokooi geboorte aan tweeling lammers, direk langs die besige teerpad word daar voor my oë (in die versengende hitte) ‘n bees geslag... ja, as jy dalk gewonder het, daar is nog steeds boomslaghuise in bedryf!






Owamboland is egter baie meer as net ‘n versameling eienaardighede en bedrywighede, dis die tuiste van die NG Gemeente Verre Noord. Dis ‘n gemeente met ‘n veelbewoë geskiedenis van saamstaan, opofferings, wonderlike genadeverhale, maar helaas ook van verwaarlosing, skokke, teleurstellings, baie groot nood... geestelik, maar ook andersins. Die afgelope paar jaar is die gemeente veral deur ‘n moeilike meul. Hartseer dinge het gebeur. Daar is seerkry. Huiwering. Onsekerheid. Vir ‘n geruime tyd is hier ook nie meer ‘n predikant nie. Strukture sal weer opgebou moet word. Een ding is wel seker, die gemeente is nog hier, want hier is steeds wonderlike gelowige (en bereidwillige) mense en die belangrikste – die Here van Sy kerk laat sy mense nooit in die steek nie!

Die gemeente is nou in ‘n tyd waarin daar opnuut oor die pad vorentoe besin moet word, maar veral gebid moet word. Dit was my voorreg om vir bietjie meer as ‘n week vier dienste (waaronder ‘n nagmaalsgeleentheid) hier te hou en ook persoonlik by ‘n hele aantal van die lidmate uit te kom.

Ons kon praat oor basiese Christenskap en gemeentewees (Kliek op BYBELSE CHRISTENSKAP), oor die belangrikheid van die gemeente as die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:14-16), oor die wonderlikheid van Jesus die Seun van Dawid wat sonde, Satan, dood en hel oorwin het! (Kliek op DAWID). Ja, God self het deur sy Seun ons sondeskuld uitgewis en nooi ons uit om na Hom terug te keer! (Kliek op UITGEWIS)

Bid asseblief vir die Koning van die kerk dat Hy aan hierdie gemeente ‘n herder sal skenk wat Sy skape met liefde sal versorg. Die behoefte aan en versugting na 'n leraar is baie groot - "ons is soos visse op land." ‘n Herder wat in die eerste plek God sal behaag en die waarheid in liefde sal verkondig sonder kompromie met die tydsgees van losbandigheid en ongeloof! Bid vir die gemeentelede, die getroues en vlytiges, maar ook vir diegene want eenkant en afvallig of wantrouig geraak het. Daar is hoop, want God is ‘n God van ‘n nuwe begin...




NS 1. Dankie aan almal in Wamboland wat my so vriendelik ontvang en sommer diep in mens se hart gekruip het...

NS 2. AS jy 'n staaltjie uit die ou dae in Wamboland wil deel, is jy welkom om dit onder OPMERKINGS te doen. As jy 'n woord van bemoediging tot die gemeente wil spreek, kan jy dit ook hieronder doen!



Hierdie miershoop in die ou deel van Oshakati is die resultaat van samewerking onder die termiete... Kom ons werk saam en bid saam vir Verre Noord gemeente!




Sondag, 16 Oktober 2016

WAAROM?


Hoe kan 'n God van liefde, ja,'n liefdevolle Vader toelaat dat sy kinders op aarde onbeskryflike lyding deurgaan?


Luister hoe Helen Roseveare, 'n voormalige sending dokter in die destydse Belgiese Kongo (vandag DRK) wat deur rebelle soldate verkrag is hieroor getuig! Aangrypend en geloofsversterkend!

Luister in 4 dele











Donderdag, 06 Oktober 2016

BRIEF AAN KERKBODE : “jong teoloë”

Ds. Hector Jooste van die NG Kerk Otjiwarongo het die onderstaande brief aan die KERKBODE gestuur :

Redakteur

Met verwysing na die berig “Jong teoloë steun besluit oor gays” in die uitgawe van 28 September 2016, het ek geen keuse as om myself uit te spreek aangesien Christus sy volk die luuksheid van te swyg, ontneem (Mark. 8: 38). Ek maak hiermee die volgende stellings:

1.Hierdie sogenaamde “jong teoloë” is geen teoloë nie. Hulle is nie besig met Θεος Λογος nie, maar met die woord van mense. Die Woord van God is eenhonderd persent duidelik betreffende die sondigheid van enige seksuele verhouding wat buite die huwelik tussen een man en een vrou staan. Hulle behoort hulleself eerder as filosowe te identifiseer.

2. Hierdie skokkende onkunde oor die Woord van God deur hierdie sogenaamde teoloë werp ‘n uiters negatiewe refleksie oor die treurige stand van teologie wat tans aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer word. Dit is van so ‘n aard dat sommige gemeentes reeds openlik daaroor praat dat proponente wat aan Suid-Afrikaanse universiteite afstudeer het, nie sonder meer beroep kan word nie. Die plaaslike kerk en kerkraad moet eers baie seker maak van enige sodanige student se teologiese suiwerheid. Selfs die legitimasie deur die Algemene Sinode staan nou reeds ernstig onder verdenking.

3. Hierdie onsekerheid betreffende die regsinnigheid van afgestudeerdes by Suid-Afrikaanse teologiese fakulteite is een van die hoofredes waarom kerke hulle verband met die Algemene Sinode al meer begin bevraagteken. Al meer word opmerkings gehoor soos “Wat het ons te verloor as ons ons losmaak van die AS?” en “As ons nie meer aan die AS verbind is nie, kan ons predikante beroep van meer gereformeerde instansies (selfs elders in die wêreld)”. (In hierdie opsig sal dit baie van die belanghebbenes baat om opnuut te gaan kyk na die betekenis van die begrippe “kerk” en “kerkverband”, en die implikasies van ‘n kerkverband wat nie meer aan die doel beantwoord waarom kerke in die eerste plek toegetree het tot die verband nie.) Dit is die dun ys waarop beweeg word met die roekeloosheid van hierdie onregsinnige sogenaamde teoloë.

4. Laastens is dit uit hierdie goddelose chaos wat veroorsaak word deur die klomp gay-drywers in die kerk aan die een kant, en aan die ander kant die Godlose teologie wat skynbaar aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer word, duidelik dat ons tans die situasie beleef wat beskryf word in Op. 11. Die gay-drywers en die goddelose teologie gaan seer sekerlik die totale oorhand kry (Op. 11: 7). Dit is egter slegs tydelik van aard (Op. 11: 11). Saam met Stéfanus hou ons ook ons oë na die hemel en sien ons die heerlikheid van God en Jesus wat staan aan die regterhand van God (Hand. 7: 55). Saam met Johannes beaam ons ook ons Here Jesus se woorde in Op. 22: 20 “Amen, ja kom, Here Jesus!”

Hector Jooste (VDM)

Vir die inhoud van die belydenis kliek op : JONGES BELY




Dinsdag, 04 Oktober 2016

BOSE BELYDENIS

-bevestig morele en akademiese bankrotskap van Teologiese Fakulteite.



‘n Groep sogenaamde jong teoloë van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik (sien onder) waarin hulle (heeltemal tereg) verklaar dat seksualiteit ‘n gawe van God is. Maar dan gaan hulle voort : “Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.” Nou ja, daar het jy dit! Dis immers die logiese uiteinde van die gay agenda. Watse perversiteite sou met “ander seksualiteite” bedoel word? Sorteer bloedskande, bestialiteit en pedofilie ook onder hierdie wye noemer? Gaan daar verwag word dat predikante binnekort die verhouding tussen ‘n man en sy hond kerklik moet bevestig? Enige kind van God kan net verslae luister en wonder of sy ore hom nie bedrieg nie. Moet mens nou verstik aan smart of stik van woede? Smart oor die verwoestende effek van die waansinnige dwaalteologie op die fakulteite waar NG predikante opgelei word op jong lewens. ‘n Heilige woede oor die Naam van ons Here Jesus en sy kerk wat deur die modder gesleep word.

Opmerklik word geen Bybelse bewyse aangetoon om al hierdie soorte perverse vorme van seks goed te praat nie. Dis seker nie vreemd as mens in ag neem dat dit by ons student ingehamer word dat die Bybel maar net nog ‘n Midde-Oosterse boek vol foute is nie. En dit lyk nie asof hulle leer van die sondeval nie... Benewens die gebrekkige Skrifkennis wat hier ten toon gestel word wonder mens ook maar onwillekeurig hoe lyk die morele lewens van hierdie jong kenners wat eeue van kerklike etiek met hulle nuutgevonde wysheid wil omverwerp? En wat raak hulle nie als van die kansels kwyt nie?  Ja, ewe vroom verklaar hierdie groepie dat Jesus die Heer is. Maar ons moet tog weet as ons bely dat Jesus die Heer is, het dit konsekwensies vir ons hele lewe, 'n lewe wat volgens Sy norme en wil geleef moet word. Oor Sy wil wat betref seksualiteit is die Woord mos baie duidelik. Kliek op BYBELSE RIGTING OOR SEKSUALITEIT

Dis tyd dat predikante, kerkrade, ringe en sinodes hulle gepoleerde kerklike taal sal laat vaar en reguit praat. Reguit praat soos die Skrif praat. Paulus was immers vir ons ‘n goeie voorbeeld van iemand wat nie onder die druk van politieke of kerklike korrektheid geswig het nie. Hy stem immers saam dat die Kretensers, “leuenaars, ongediertes, lui vrate” genoem moet word. Ek wil liewers nie heeltemal sulke beskrywende taal oor hierdie groepie kenners van seksualiteit waag nie, maar op die beste is hulle totaal onkundig, arrogant en ongeskik vir die bediening. (Hierdie insigte wat hulle toon hoort eerder by entrepreneurs in die sekstoerisme bedryf!) Die waarheid moet ‘n slag duidelik gesê word... 

Maar daar moet nog duideliker gesê word dat die teologiese fakulteite waar NG bedienaars tradisioneel opgelei is, tans onder die bewind van vals profete staan en dat ons ons gelowige kinders onder geen omstandighede daar sal laat studeer nie. 

Daar wag ‘n groot oordeel vir hierdie tipe profete wat alles wat verkeerd is, reg noem, omdat hulle die Woord van die Here verwerp het : “Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie. Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot ‘n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.” (Jeremia 8 :11,12)

As daar belydenis nodig is, is dit skuldbelydenis, 'n skuldbelydenis van ons almal (insluitende hierdie jong teoloë) dat ons ongehoorsaam was (en is) aan die standaarde van God se Woord. 'n Belydenis wat sigbaar moet word in bekering!






*Uittreksel uit die e-KERKBODE :

Jong teoloë steun besluit oor gays

Neels Jackson

e•Kerkbode | September 28, 2016 

‘n Groep van 24 jong predikante en proponente van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik waarin hulle hulle volle steun verklaar vir die besluite wat die Algemene Sinode van 2015 geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die volledige belydenis lui soos volg:

Belydenis van Jong Proponente en Predikante aangaande Selfdegeslagverhoudings 

As jong proponente en predikante van die NG Kerk glo ons dat dit belangrik is om ‘n bydrae te lewer tot die gesprek oor die 2015-besluit van die AS oor selfdegeslagverhoudings. Ons glo dat ons nie langer kan stilbly oor die hantering van persone in selfdegeslagverhoudings nie. Ons ondersteun die besluit oor selfdegeslagverhoudings heelhartig en betreur die hantering en gebrek aan implementering van die besluit. Ons glo dat die Bybel, ons geloofsbelydenisse, en die gereformeerde tradisie ons dring om anders te dink en te praat oor LGBTIQ+ persone binne die huidige debat. Verder is ons van mening dat ons nie oor mense kan praat nie, maar dat ons deurgaans ook met LGBTIQ+ persone in gesprek moet bly aangesien dit ‘n direkte impak op mense se lewens en toekoms het. As proponente en predikante binne ‘n belydende kerk meen ons dat dit belangrik is om ons belydenis aangaande die Godgegewe menswaardigheid van alle mense duidelik te verwoord. Daarom bely ons:

Ons glo in die Drie-enige God, die gemeenskap van Trinitariese liefde waarbinne alle mense tuiskom.

Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.

Ons glo in Jesus Christus, wie se lewe, dood, en opstanding ons verlos en versoen, met God en met mekaar.

Ons glo in die Heilige Gees, wat ons vertroos en bemoedig, en deur wie ons tot ‘n gemeenskap van radikale liefde, gasvryheid, en geregtigheid omvorm word.

Ons glo dat Christus deur Woord en Gees oor die kerk regeer en dat die kerk moet getuig van die goeie nuus van die Evangelie aan alle mense.

Jesus is die Heer.

Die goeie nuus van die Evangelie, soos verwoord in die hele Bybel en nie alleenlik enkele uitverkore teksgedeeltes nie, is die uitgangspunt van hierdie oortuiging. Dit is vanuit hierdie oortuiging dat ons ‘n prinsipiële standpunt inneem aangaande selfdegeslagverhoudings. Hierdie behels die volgende:

Eerstens skaar ons onsself ten volle by die Seisoen van Menswaardigheid, asook die gepaardgaande waardes van respek, liefde, luister, en omarming.

Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ‘n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.

Derdens weier ons om kerklike diskriminasie teen mense te aanvaar, hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie. Ons is van mening dat dit niks minder is as om mense van die volheid van God se liefde, geregtigheid, en gemeenskap te weerhou nie.

Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.

Vyfdens verstaan ons dat verhoudings kern tot menswees is en dat mense binne verhoudings die Drie-enige God uitbeeld. Dit beteken vir ons dat menslike seksualiteit floreer binne verhoudings wat gekenmerk word deur liefde en trou.

Sesdens is dit ons bede dat die hantering van hierdie saak by die komende buitengewone sinode en toekomstige kerkvergaderings met die nodige wysheid, waardigheid, en inklusiwiteit sal geskied.

Dit is vanuit ons geborgenheid in en liefde vir die kerk dat ons hierdie standpunt inneem. Ons droom van ‘n kerk waar meer mense, nie minder nie, omarm en gekoester sal word binne die gemeenskap van gelowiges.

Onderteken deur die volgende jong proponente en predikante van die NG Kerk (alfabeties gelys): 
Rozelle Bosch 
Bianca Botha 
Magriet de Villiers 
Riaan de Villiers 
Calvyn du Toit 
Elaine Dippenaar 
Eduard Enslin 
Juanita Greyvenstein 
Hanneke Janse van Vuren 
Benjan Knoetze 
Manitza Kotzé 
Nadia Marais 
Nina Muller van Velden 
Carike Noeth 
Melissa Opperman 
Helgard Pretorius 
Fourie Roussouw 
Annelet Slazus 
Sunelle Stander 
Sharaine Steenberg 
Niel Steyn 
Dawfré Theron 
Elzanne van der Westhuizen 
Anje Zeeman 



Baälaanbidding en seksuele losbandigheid gaan hand aan hand...

Lees ook gerus ds. Hector Jooste se brief aan DIE KERKBODE. Kliek op BRIEF


Saterdag, 01 Oktober 2016

ANGLIKANE NEEM STANDPUNT IN...

Op NG Sinodes word daar dikwels gemaan dat ons tog na ander kerke moet luister wat betref selfdegeslagverhoudings. Hierdie argument is 'n gunsteling van die pro gay agenda aktiviste... (Asof die meerderheid kerke ingekoop het by die selfdegeslag huwelik standpunt...) 'n Mens kan net hoop dat daar kennis geneem sal word van die Anglikane van Suider Afrika se onlangse besluit veral in die lig van die komende spesiale Algemene Sinode van die NGK in Oktober. (Sien Media24 berig hieronder.) Ook in hierdie denominasie is daar sterk verdeeldheid oor die saak. Gelukkig het hulle nie geswig vir die Kaapse liberale in hulle geledere nie... Tog is dit ook baie duidelik dat die voorstanders van kerklike sanksionering van gay verbintenisse nie gaan tou opgooi nie...

Thabo Makgoba (Netwerk24)
·          
Cape Town - The Anglican Church of Southern Africa has rejected a proposal to allow "prayers of blessing" to be offered for people in same-sex civil unions under South African law.
In a statement released on Friday evening Archbishop Thabo Makgoba said 16 bishops voted against the proposal while six were in favour.
Sixty-two percent of the lay representatives to the synod (church council) voted against the proposal, while 55% of the clergy also voted against it.
The vote was taken by the church's top legislative body, the provincial synod, following a proposal which was brought by the Diocese of Saldanha Bay - which stretches from the northern suburbs of Cape Town to the Namibian border.
Before announcing the results to the church, which includes Anglicans in Angola, Lesotho, Mozambique, Namibia, South Africa, Swaziland and on the island of St Helena, Makgoba said the process had left a "palpable pain" within the church.
"If one is pained and hurt, it pains me too and I have learned as a priest that there are no losers or winners in the kingdom of God.”
Further discussion

"The pain on both sides is palpable and tangible and the image of a double-edged sword pierces me," he said.
Makgoba said "all was not lost" however, as the matter could be taken up again at the next provincial synod in 2019.
The church could also consider raising it at the next worldwide meeting of Anglican bishops in 2020, he added.
In the meantime the church could continue to discuss the matter at a local level in parishes and dioceses "so that we can continue to discern together the mind of God," he said.
Part of the proposal also included a motion that bishops provide for clergy who identify as LGBTI and are in legal same-sex civil unions to be licenced to minister in parishes.
However, this section of the proposal was withdrawn by the proposers before the debate began, he said.

FOKUS MY KIND...

te midde van chaos, geweld en goddeloosheid!


Niemand hoef dit vir ons te sê nie : ons wêreld is vasgevang in chaos en goddeloosheid en dit raak ons elkeen. Geweld en verwoesting (dink aan die onlangse onsinnige beskadiging van infrastruktuur by universiteite), bedrog en korrupsie (twee skelms ding mee om die presidentskap van die magtigste land op aarde), waansinnige gierigheid en al wat boos en bedenklik is, is aan die orde van die dag. Dis ‘n tyd van uiterste morele verval – die egskeidingsepidemie, die saambly euwel en die gay agenda het byna alreeds die Goddelike instelling van die huwelik totaal vernietig. (Die definisie van die huwelik as sodanig is onder druk, en dit lyk asof selfs baie kerkleiers nie eers meer duidelik daaroor is nie...)

Nou is die kwellende vraag : 

Wat moet ons as Christene se houding en gesindheid te midde van al hierdie chaos wees? 

Daar is verskeie moontlikhede : Ons kan moedeloos raak en heeldag met strak gesigte rondstrompel, droewig kla en mor oor die jeug, die ekonomie, die regering, die kerk... Ons kan agter hoe mure wegkruip en kos opgaar vir die dag as die finale kernoorlog dalk aanbreek... Ander Christene wil ons vertel dat ons moet probeer om die gemeenskap te verander deur aktivisme – organiseer optogte, trek Internet petisies op, vorm drukgroepe en “teister” mekaar met selfoonboodskappe. 

Deur die eeue heen is dit ’n kwessie : Wat moet die Christen se agenda en fokus wees in ’n goddelose samelewing? ‘n Samelewing waarin ons nie pas nie.

Gelukkig het die Bybel duidelike antwoorde. Ons moet nooit vergeet nie - die vroeë kerk het tot stand gekom, gegroei en gefloreer in ‘n goddelose samelewing. Dis nie eers debateerbaar nie.... Daar was nie hoegenaamd nie eens ‘n Sondag nie, daar was uiteraard nie iets soos Christelike skole of wetgewing nie. Die Romeinse Ryk het definitief nie daarin belang gestel om Christelike beginsels te handhaaf en uit te bou nie. Noem maar al die moderne euwels, al die losbandigheid, aborsie en bedrog – jy sou dit daar ook aantref!


So wat moet die Christen se houding en fokus wees? Paulus se brief aan Titus dui vir ons ‘n duidelike koers aan (En terloops, die mense van Kreta waar Titus homself bevind het is deur een van hulle eie mense beskryf as 'n klomp "leuenaars, ongediertes en lui vrate"* (Sjoe!!!) :

“11.Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.

12.Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,

13. terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.

14. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Titus 2:11-14)


Uit gelese gedeelte lyk dit of ons ’n duidelike tweeledige fokus kan aflei : ‘n Lewe van HEILIGHEID en HOOP. Heiligheid binne die teenswoordige wêreld en Hoop op die toekomstige wêreld . ’n Christen leef in ’n dubbele konteks. Ons leef in ’n huidige teenswoordige wêreld - en in hierdie konteks moet ons fokus val op heiligheid. Maar terselfdertyd is ons ook mense van die toekoms - en teenoor die toekomstige wêreld, die verskyning van Jesus en daarmee saam die nuwe hemel en aarde moet ons ’n lewende hoop en verwagting hê. 

Heiligheid.  Wat bedoel dit? Kyk weer na vers 12 ev. Jy kan nie die samelewing verander nie, nie eers jou eie huismense nie, maar jy self kan anders leef. Los als wat verkeerd is – die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede. Jy as kind van God kan kies TEEN losbandigheid, onsedelikheid, gierigheid... Jy kan mos kies om nie na immorele TV sepies te kyk nie, jy kan kies om nie skelm besigheid te doen nie, jy kan kies om nie kwaad met kwaad te vergeld nie... Maar jy kan ook positief kies VIR selfbeheersing, opregtheid en godsvrug. “ywerig om die goeie te doen.” (14) Dis als moontlik omdat Jesus Homself vir ons as offer gegee het. Verlos van sonde skuld en met die Heilige Gees binne ons, kan ons nou goeie dinge doen! Ons hoor in Titus 3:1,2 wat die goeie dade verder prakties behels. Dalk hou ons nie daarvan nie, maar luister tog baie mooi... “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.”

In 3:8 kom Paulus weer terug na die belangrikheid van goeie werk. “Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.”

Nou sê jy miskien : “Hoe kan ek dit regkry om vriendelik en positief te wees? Kyk bietjie wat doen die regering, kyk hoe smerig, skelm en goddeloos is almal...” Ons kry ‘n belangrike perspektief in Titus 3:3. “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Dit lyk amper of Paulus ons gedagtes kan lees. Hy sê : Ons (wat nou Christene is), was ook so. Moet dit nie vergeet nie. Asof hy wil sê julle moet maar geduldig wees met die slegte mense, onthou ons wat kinders van God is was maar eens op ’n tyd net so. Dis net deur die genade van Jesus dat ons nou anders is... Ja, my vriend dis net God se genade dat ek en jy nie (meer) ’n hoereerder, dief of dronkaard is nie! ‘n Kind van God is iemand wat nuutgemaak is deur die genade van God, moet dit nooit vergeet nie! Ontvangers van genade, behoort genadig en geduldig te wees met sondaars sonder om sonde goed te praat! (Kliek op JONA)

Hoop. Ons moet voluit gaan om goed, heilig en ordelik in hierdie wêreld te leef, maar dis nie al nie. Ons het ‘n hoop, ons moet uitsien na die heerlikheid wat wag! (2:13) Uitsien na 'n ewige toekoms, dis hoe ons kophou en moedhou te midde van goddelose toestande! Ons moet hoopvol uitsien na die gelukkige dag, die erfenis wat vir ons wag, die toekomstige wêreld Mag ons nooit vergeet, daar wag ’n erfenis vir God se kinders.... (Rom 8:17; 1 Petrus 1:3,4) Christenskap wat my nie laat uitsien na die verskyning van Jesus en die erfenis wat Hy ons gaan gee nie, is nie Nuwe Testamentiese Christenskap nie! As die goddeloosheid ons pla, en dit moet en sál ons pla, sal ons telkens weer opnuut met blydskap besef : “Wag net ‘n bietjie, die beste kom nog.” Ons mag nooit vergeet hierdie aarde is nie ons finale woonplek en eintlike vaderland nie. Ons mag nooit vergeet nie, Christene is pelgrims, op pad wees mense. Toets jou daaraan : hoe sien jy jouself, jou plaas, jou besittings? Het jou projekte, jou eie gesin, jou eie volk en jou eiendom nie dalk vir jou te belangrik geraak nie. 

Sien jy uit na die finale aanbreek van God se Koninkryk? Kan jy die “Onse Vader” opreg bid?

Hierdie tweeledige fokus moet in balans wees. Heilige betrokkenheid en wandel in hierdie lewe, hoopvolle verwagting op die toekomstige lewe. Heilig voluit lewe binne hierdie land en gemeenskap waar God ons geplaas het, maar terselfdertyd ons hoop vestig op die volmaakte bedeling wat sal aanbreek by die wederkoms van Jesus.

Ons mag nie eenkant wees nie, ons moet aktief betrokke wees met goeie werke, maar moenie vergeet nie daar wag ’n heerlike toekoms. My lewe hier is tydelik, my besittings word maar net vir my geleen, my eintlike burgerskap is in die hemel!

Hierdie balans van heiligheid nou en hoop op die eendag hou ons op koers, maar dis ook die basis van ons getuienis. Dis die tipe lewe wat raakgesien sal word deur onbekeerde mense, wat hulle sal aanspreek en hulle na die Here se genade sal laat soek. Die genade wat hulle ook daartoe kan bring om nuwe lewens te leef... AMEN

* Sien Titus 1:12