BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 28 Julie 2016

HALFPAD HELP NIKS!

- bekommerd wees is nog nie veilig wees nie.

In Genesis 19 kry ons ‘n dramatiese reddingsverhaal. Redding teen die agtergrond van oordeel en verwoesting. Nogal ‘n spannende en aksiebelaaide reddingspoging. En weer gaan dit oor geloof. Geloof wat lei tot bekering en gehoorsaamheid.

Lot woon in Sodom. Dis ‘n probleem, want God het vas besluit om die goddelose Sodom en Gomorra met vuur te verdelg. Maar nou kom God in sy groot genade na Lot en sy familie en waarsku hulle oor die komende oordeel. (terloops dit was ‘n verhoring van Abram se vurige voorbidding. Vgl. Gen 18) Die boodskap van die engele is nie ‘n lekker boodskap nie, maar dis ‘n boodskap van redding en hoop. Om gered te word sou Lot en sy familie al hulle vriende en besittings moes agterlaat en vlug vir hulle lewe! Die opdrag was duidelik – vers 12! "Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit!”

God bied uitkoms, ‘n reddingsplan om die oordeel vry te spring, maar dit moes geglo en gehoorsaam word!

Die keuse was voor Lot en sy familie (insluitende sy skoonseuns) is om die boodskap te glo of nie. As hulle dit geglo het, sou hulle moes reageer in gehoorsaamheid en vlug. Lot se skoonseuns het hulle glad nie aan die boodskap gesteur nie. Vers 14. “Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: "Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg," maar hulle het gedink Lot maak ‘n grap.”Aan Lot en sy mense word die erns word weereens beklemtoon : “Vlug vir jou lewe!” Vers 17. Duidelik word dit beklemtoon – “moenie omkyk nie” Lot en sy vrou en digters vlug, maar helaas almal is nie gered nie. Lot se vrou kyk om... So naby , maar tog so ver... Vers 26 “Lot se vrou het omgekyk en sy het in ‘n soutpilaar verander.”

Sy word ‘n simbool van diegene wat die evangelie net halfpad aanvaar. En halfpad help niks. Dis tipies van mense wat net tydelike verbygaande geestelike indrukke het. Hulle woon miskien ‘n kamp by en die boodskappe tref hulle. Hulle raak bekommerd en bid saam met iemand, maar hulle kom nooit regtig by Jesus uit nie. Dis miskien iemand wat deur ‘n groot gesondheids of finansiële krisis gaan. Hy besef net die Here kan my help. Hy bid en kry verligting, maar daar is nooit ware bekering nie. As die krisis verby is, gaan hy weer aan met sy ou lewe. Dis ‘n jongmens in die finale jaar katkisasie klas wat ywerig sê : “Ja, ek wil ook die Here volg”, miskien onder druk van sy maats of ouers, maar gou-gou kom mens agter dit was net ‘n halfhartige besluit... Dit was halfpad en dit lei tot niks...

Hierdie verhaal illustreer die drie verskillende houdings wat mense het teenoor die dreigende oordeel van die hel, sowel as die heerlike genade aanbod van God. Daar is diegene wat die evangelie heeltemal verwerp en totaal ongevoelig is. (Lot se skoonseuns) Dan is daar diegene wat die evangelie aanvaar en dit lei tot bekering. (Lot en sy dogters) Maar daar is ook ‘n tragiese middelgroep, wat lyk asof hulle bekommerd is oor hulle geestelike lewe, wat lyk asof hulle wil glo, maar al hulle geestelike indrukke en belewenisse is maar net tydelik van aard. Hulle kom nooit tot redding nie. (Lot se vrou)

Die drie houdings van die mens teenoor die dreigende oordeel en die reddingsevangelie kan verduidelik word met die prentjie van ‘n man in ‘n lekkende boot wat besig is om te sink... Kry vir jou drie prentjies in jou kop:

In die eerste prentjie is ‘n man wat slaap. Die water stroom deur ‘n groot gat in die bodem en die boot is besig om te sink. Hy is onbewus van die dreigende gevaar en snork rustig voort, sonder enige vrees of bekommernis. So baie mense bevind hulleself in hierdie posisie. Hulle verkeer in ‘n diep geestelike slaap. Hulle is glad nie besorg oor hulle ewige toekoms nie, nee wat als is reg, ons is mos goeie mense, kerkmense...

In die tweede prentjie word die man in die lekkende bootjie wakker. Met ‘n skok besef hy dat hy besig is om te sink en ‘n wrede verdrinkingsdood in die gesig staar. Hy is benoud en beangs, Hy skreeu en roep om hulp. Desperaat probeer hy ‘n plan maak en water uit die boot skep... In ‘n sekere sin is hierdie man in ‘n beter posisie as in die vorige prentjie. Hy het wakker geword, hy besef sy gevaarlike posisie... maar hy is nog nie veilig nie. Hy is nog nie gered nie. Sy eie pogings,hoe goed ook al bedoel kan hom ook nie red nie... Daar is ‘n groep mense wat geestelik gesproke in dieselfde posisie verkeer Hulle het geestelik ontwaak, hulle raak bewus van hulle sonde, bewus van ‘n ewige oordeel, hulle is soekend na antwoorde, hulle begin meer gereeld kerk toe kom en Bybel lees, krampagtig probeer hulle verbeterings aanbring aan hulleself (water uitskep) maar hulle is nog nie gered nie. Die groot gevaar is dat hulle kan vrede maak met hulle gevaarlike posisie. Dit gebeur dikwels dat mense vir ‘n tyd bekommerd raak en na die Here soek, maar algaande skud hulle die bekommernis af en gaan maar voort met hul ou lewe totdat dit vir ewig te laat is.


Die derde prentjie is goeie nuus. Die beangste man in die sinkende boot het ‘n reddingsgordel gevind en dit aangetrek Hy is nou veilig! Jesus is die enigste reddingsgordel wat ons kan red van die waters en vloede van God se oordeel. Jesus red ons van die wraak en toorn van God. “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.” (Rom 5:8,9)
Is jy al veilig? Is Jesus deur die geloof al jou reddingsgordel? As jy nog net bekommerd is, is jy nog nie veilig nie! 

God het dit baie duidelik gemaak dat Hy weer hierdie goddelose wêreld gaan oordeel en verdelg. Anders gesê : Die verwoesting van Sodom en Gomorra is maar net ‘n voorsmaak van die eintlike oordeel wat op pad is. Hierdie aarde gaan verwoes word en al die goddeloses sal saam met die duiwel en sy engele in die poel van vuur gewerp word. Maar soos in die tyd van Lot is daar die goeie nuus, die evangelie van verlossing! 


Die evangelie van Jesus, sy offer aan die kruis sy opstanding! Glo jy hierdie boodskap en het jou geloof al tot ware en voortdurende bekering gelei? Is jy veilig by Jesus of het jy net met ‘n halwe hart geglo soos Lot se vrou? 

Halfpad help niks! Jy is eers veilig as jy by Jesus skuiling gevind het! Jy is eers veilig met die REDDINGSGORDEL aan!

Vrydag, 22 Julie 2016

AS MY GELOOF NIE SO SUKSESVOL IS NIE...

- en die golwe groot raak en ek wil sink...



Van voor tot agter is die Bybel baie duidelik : REDDING KOM DEUR GELOOF ALLEEN! Ons lees al in Genesis 15:6 dat Abram geglo het – “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” God beskou Abram as ‘n regverdige omdat hy geglo het! Die hele Nuwe Testament leer ons , redding kom deur geloof in die Seun van God. “En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:11-13) Dis so onontbeerlik belangrik om te glo en die Bybelse begrip geloof te verstaan... 


PETRUS OP DIE WATER

Die verhaal van Petrus op die water in MATTEUS 14::22-36 gee ons kosbare insigte oor geloof...


  • Ware geloof gaan oor tot aksie. Ware geloof is nie ‘n mooi teorie nie, dis kennis ja, maar dis ook vertroue en dit gaan oor tot aksie. Dit maak ‘n keuse. Petrus ken vir Jesus (wie Hy is), Hy stel sy vertroue in Jesus en dan neem hy ‘n besluit, hy klim uit die skuit en begin na Jesus loop op die water... (natuurlik eers nadat Jesus hom die groen lig gegee het) Ons sien dieselfde beginsel by Abram. God maak beloftes aan hom. Hy glo die beloftes en dit bring hom tot aksie, hy trek... Het jy al Jesus vertrou? Jou ewige toekoms in sy hande geplaas? Ja, jy het al gehoor dat sy offer aan die kruis vir ons sondes volkome en genoeg was, maar het JY Hom al vertrou dat dit ook vir jou genoeg is, het jy Hom al begin volg as Here? ‘n Duidelike keuse gemaak?

  • Ware geloof is dikwels gemeng met angs en twyfel. Geloof is gewoonlik nie ‘n super suksesverhaal nie. Petrus kyk na die golwe en raak bang en benoud. En begin sink. Dik maar terug : Abram se geloof het ook by tye gewankel en dan het hy allerhande menslike planne gemaak... en tog het hy ‘n gelowige gebly. Daar is dikwels ‘n stryd tussen geloof en twyfel in die kind van God se hart. Moenie moed opgee as jy ‘n tyd van twyfel beleef en dink dat jy hoegenaamd nie ‘n kind van God kan wees as jy begin twyfel nie. Ware geloof word juis aangeval met vertwyfelinge. Ware geloof beleef konflik in ons binneste. (‘n Mens sou amper kon sê, dat iemand wie se geloof nog nooit onder druk en aanvegtinge gekom het nie, hoegenaamd nie geloof het nie.)

Wat laat jou twyfel? Wat is die golwe wat jou laat moed verloor? Daar kan baie moontlikhede wees... “My sonde is so groot, my mislukkings is so baie, ek het myself en my medegelowiges en die my Here teleurgestel ... My omstandighede is so moeilik en buite beheer... siekte, finansiële probleme, alles wat net wil skeefloop... Soms kan mens ‘n intellektuele twyfel beleef...hoe werk dit en hoe werk dat, hoe weet ek die Bybel is waar, het Jesus regtig OPGESTAAN uit die dood...?”* En dan kom daar twyfel en vrees in jou hart : “Kyk net, nee wat ek kan nie ‘n Christen wees nie, ‘n Christen kan mos nie so dink of so voel of so maak nie...Twyfel hoort mos nie by ‘n kind van God nie, so ek is seker nie God se kind nie.” Geliefde, die Woord wil jou vandag kom bemoedig. Gelowiges kan wel tye van twyfel beleef. Dis nie die einde van my geloofspad nie. Kyk na Jesus, kyk hoe gryp Hy Petrus vas, kyk hoe help HY hom weer in die skuit...

  • Ware geloof word nooit teleurgestel nie, al vertoon dit hoe swak. Die groot troos in hierdie gedeelte is dat Jesus nie die weifelende en sinkende Petrus aan sy lot oorgelaat het nie. Hy gryp die sopnat Petrus en help hom weer in die skuit. Ja, Jesus berispe vir Petrus oor sy klein geloof, maar Hy los hom nie laat hy vergaan nie. Jesus wil vir Petrus verder help en leer wat geloof is, maar Hy verwerp hom nie oor sy beperkte geloof nie. Gaan kyk maar weer na Abram se geskiedenis, daar is baie wel en weë, baie hartseer en beproewings, maar uiteindelik het al God se beloftes waar geword! 

Dis die heerlike boodskap : 

Dis nie die krag en die volmaaktheid van ons geloof nie, maar die krag en volmaaktheid van Jesus wat ons red!



  • Ware geloof fokus altyd op die persoon van Jesus. Die klimaks van die verhaal is nie Petrus nie, maar Jesus se reddende krag en Goddelike majesteit. Die held van die gebeure is ook nie Petrus nie, maar Jesus. As Jesus eintlik die storm stilmaak dan bring dit sy dissipels tot ‘n belydenis en erkenning : “"U is waarlik die Seun van God." (31) Kyk nou op hierdie oomblik weg van die golwe en bedink wie Jesus is. God het Hom as gewone mens na die wêreld gestuur, gebore uit ‘n jong maagd. God het Hom bekragtig met die Heilige Gees, Hy het wonders gedoen... Hy het gepreek... maar die belangrikste Hy is na die kruis gestuur, waar Hy ons volle skuld en straf gedra het. Die heerlike verlossing bewerk het... Dit word bevestig as Hy op die derde dag opstaan uit die dode en lewend aan sy dissipels verskyn. Brood en vis voor hulle oë eet... Hy vaar op na die hemel, gee vir ons as dissipels werk om te doen en beloof om weer terug te kom. Moenie dat die onstuimige see vol woelinge en geweld in jou lewe jou ontstel nie, maar stel jou vertroue in hierdie Jesus, kom lewe, kom dood... Hy alleen is ons Redder.

Kyk na Jesus en nie na die golwe nie!

* As jy met twyfelvrae worstel oor die Bybel waar is, kliek op HOE WEET EK?





Die Groot Omatako! Moet hom nie onderskat nie, hy het my amper gesink...


Daar's verwoede klippe, steiltes en doringbosse...


maar ek het darem ook bo uitgekom!(en dit weer af gemaak)

Woensdag, 13 Julie 2016

AS DIE DANSBAAN LEEGLOOP

- en die kerk raak vol, dan besef jy God werk en niemand kan Hom keer nie...

Ek ontvang nou die dag ‘n brief van my dierbare moeder met my verjaarsdag. Daarin skryf sy onder andere : “Ja, toe vind ek weer die boek van Duncan Campbell hier... Ontdek dat dit presies 60 jaar gelede is wat hy in SA was en ek hom gehoor het. Daar het ek gehoor wat God kan doen as mense bid en die Woord suiwer verkondig word.”

Ek het toe weer bietjie gaan nalees oor Duncan Campbell, sy ingrypende bekering as jongman en sy betrokkenheid by die merkwaardige herlewing op die Hebrides eilande aan die kus van Skotland. Dis ‘n inspirerende verhaal van die krag van God om sondaars tot bekering te bring, die krag van God wat in werking kom as daar gebid word... Hierdie werk van God was so aangrypend en heerlik dat die dansbaan sy glans verloor en mense eerder na die kerk gestroom het... (in ons gemeentes is dit as ‘n reël net mooi die teenoorgestelde)

Duncan Campbell se ouers was Christene en hy het dus met die evangelie grootgeword. Na skool het hy egter die pad van die wêreld geloop. Hy was ‘n goeie musikant en was in groot aanvraag om by danse en konserte te speel. Dit was tydens een so ‘n geleentheid in Desember 1913 dat sy gedagtes skielik weggedraai het van die heuwels van Skotland na die heuwel Golgota en hy is oorweldig deur ‘n diepe sondebesef. Hy het so bewus geword van die leegheid van sy lewe dat hy nie in staat was om verder te speel nie. Die man in beheer het gedink hy het siek geword en toe Duncan vir hom sê dat dit sy sonde was wat hom gepla het, is vir hom gesê dat hy gou daaroor sou kom. Duncan kon die gevoel egter nie afskud nie en het met ‘n onstuimige gemoed die geleentheid verlaat. Interessant genoeg het hy toe langs die pad ‘n vriend raakgeloop wat ‘n soortgelyke ervaring gehad het. Die vriend het egter besluit om ‘n keuse vir die Here tot later uit te stel. Duncan was egter vasbeslote om die saak met die Here uit te maak en het verklaar : “I'm going home to get right with God tonight."

BIDDENDE OUERS

Toe Duncan by die saal verbystap waar hy as kind Sondagskool gehad het, was hy verbaas om die ligte aan te sien, want dit was al omtrent middernag. Hy het by die deur gaan staan en luster en gehoor hoe sy vader besig was om te bid. Dit was ‘n byeenkoms van die Faith Mission. Duncan het ingegaan en gaan sit. Iemand het oor die teks gepraat in Job 33:14 wat sê : "God speaketh once, yea twice, yet man perceiveth it not.” Sy sondebesef het nou onhoudbaar geword en hy het die saal verlaat. Op pad huis toe het hy verskeie kere gestop en tot God geroep om genade. By die huis aangekom vind hy sy moeder op haar knieë, besig om te bid. Sy kon weens besoekers nie die byeenkoms in die saal bywoon nie. Sy het Duncan aangemoedig om geen tyd te mors om vrede te maak met God nie. Hy het na die skuur gegaan en in sy moedertaal Gaelies gebid : “Here ek weet nie wat om te doen nie, ek weet nie hoe om te kom nie, maar as U my sal vat soos ek is, kom ek nou” Terwyl hy so bid, is sy gedagtes gevul met die belofte van God in die woorde van Jesus in Johannes 5:24 , "He that heareth my word, and believeth on him that sent me, hath everlasting life, and shall not come into condemnation; but is passed from death unto life." (John 5:24). Met die vreugde van verlossing in sy hart is hy haastig terug na sy moeder en saam het hulle die Here gedank vir sy genade.

Spoedig het Duncan ‘n getuie vir die Here geword en is kragtig deur hom gebruik. Soos duisende jongmanne van sy tyd is hy ook deur die gruwels van die Eerste Wêreld Oorlog. Hy het later as predikant ook ‘n tyd van geestelike droogte en onvrugbare diens deurgemaak, maar is weer deur die Here opgerig en herstel.

God het hom toe gebruik in die kragtige herlewing wat oor die Hebrides elande gespoel het. 

WAT IS HERLEWING?

Oor die feit dat herlewing nie mensewerk is nie, maar ‘n bonatuurlike ingrype van God was Duncan Campbell baie uitgesproke :

“There are two things that I would like to say in speaking about the revival in the Hebrides. First, I would like to make it perfectly clear that I did not bring revival to the Hebrides. It has grieved me beyond words to hear people talk and write about the man who brought revival to the Hebrides. My dear people, I didn't do that. Revival was there before I ever set foot on the island. It began in a gracious awareness of God sweeping through the parish of Barvas.

Then I would like to make it perfectly clear what I understand of revival. When I speak of revival, I am not thinking of high-pressure evangelism. I am not thinking of crusades or of special efforts convened and organized by man. That is not in my mind at all.

Revival is something altogether different from evangelism on its highest level. Revival is a moving of God in the community and suddenly the community becomes God conscious before a word is said by any man representing any special effort.”

TWEE OU TANNIES BEGIN BID

Die herlewing het sy oorsprong gehad by twee ou dames, die susters Peggy and Christine Smith van onderskeidelik 84 en 82 jaar (een was stokblind), wat met ‘n swaar las op hulle harte oor die bedenklike geestelike toestand begin bid het. Die toestand van die kerk het hulle baie ontstel, daar was nie ‘n enkele jong persoon wat die eredienste bygewoon het nie. Die vers wat hulle aangegryp het was : “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge." (Jesaja 44:3) Wat 'n geweldige belofte! Hulle het twee keer ‘n week begin bid. Op ‘n Dinsdag het hulle van die aand tienuur tot drie of vier uur die volgende oggend. Een nag het hierdie dames ‘n visioen gehad van die kerk vol jong mense en ‘n vreemde leraar op die kansel. Dit het hulle aangespoor om die predikant en sy kerkraad ook uit te daag om te begin ernstig bid, wat toe ook gebeur het. 

HERLEWING EN HEILIGHEID

In so ‘n biduur het die herlewing eintlik begin toe ‘n diaken diep geraak is deur Psalm 24 se woorde : “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.” Daar het hulle besef dat herlewing gekoppel is aan heiligheid.

‘n Bewustheid van God het die eiland aangegryp. Een van die dames het voorgestel dat hulle ‘n prediker moes nooi. Iemand is genooi wat dit van die hand gewys het, maar vir Duncan Campbell voorgestel het. God het hom toe wonderbaarlik gebruik.

Campbell self vertel van die aand wat hy daar aangekom het, hoe die gehoor skielik van 300 tot 800 gegroei het en hoe God soewerein begin werk het :

I shall never forget the night that I arrived... We got to the church about quarter to nine to find about 300 people gathered. I would say about 300 people. And I gave an address. Nothing really happened during the service. It was a good meeting. A sense of God, a consciousness of His Spirit moving but nothing beyond that. So I pronounced the benediction and we were leaving the church I would
say about a quarter to eleven.

Just as I am walking down the aisle, along with this young deacon who read the Psalm in the barn. He suddenly stood in the aisle and looking up to the heavens he said, "God, You can't fail us. God, You can't fail us. You promised to pour water on the thirsty and floods upon the dry ground - God, You can't fail us!"

Soon He is on his knees in the aisle and he is still praying and then he falls into a trance again. Just then the door opened--it is now eleven o'clock. The door of the church opens and the local blacksmith comes back into the church and says, "Mr. Campbell, something wonderful has happened. Oh, we were praying that God would pour water on the thirsty and floods upon the dry ground and listen, He's done it! He's done it!"

When I went to the door of the church I saw a congregation of approximately 600 people. Six hundred people--where had they come from? What had happened? I believe that that very night God swept in Pentecostal power - the power of the Holy Ghost. And what happened in the early days of the apostles was happening now in the parish of Barvas.

VLUG VAN DIE DANS NA DIE KERK!

Over 100 young people were at the dance in the parish hall and they weren't thinking of God or eternity. God was not in all of their thoughts. They were there to have a good night when suddenly the power of God fell upon the dance. The music ceased and in a matter of minutes, the hall was empty. They fled from the hall as a man fleeing from a plague. And they made for the church. They are now standing outside. Oh, yes - they saw lights in the church.That was a house of God and they were going to it and they went. 

Men and women who had gone to bed rose, dressed, and made for the church. Nothing in the way of publicity... But God took the situation in hand - oh, He became His own publicity agent. A hunger and a thirst gripped the people. 600 of them now are at the church standing outside... And then the doors were opened and the congregation flocked back into the church.

Now the church is crowded--a church to seat over 800 is now packed to capacity. It is now going on towards midnight. I managed to make my way through the crowd along the aisle toward the pulpit. I found a young woman, a teacher in the grammar school, lying prostrate on the floor of the pulpit praying, "Oh, God, is there mercy for me? Oh, God, is there mercy for me? " She was one of those at the dance. But she is now lying on the floor of the pulpit crying to God for mercy.

That meeting continued until 4 o'clock in the morning. So we left them there, and just as I was leaving the church, a young man came to me and said, "Mr. Campbell, I would like you to go to the police station." I said, "The police station? What's wrong?" "Oh," he said, "There's nothing wrong but there must be at least 400 people gathered around the police station just now."

Now the sergeant there was a God-fearing man. He was in the meeting. But people knew that this was a house that feared God. And next to the police station was the cottage in which the two old women lived. I believe that that had something to do with the magnet, the power that drew men. There was a coach load at that meeting. A coach load had come over 12 miles to be there. Now if anyone would ask them today, why? How did it happen? Who arranged it? They couldn't tell you. But they found themselves grouping together and someone saying, "What about going to Barvas? I don't know, but I have a hunger in my heart to go there." I can't explain it; they couldn't explain it, but God had the situation in hand.

SOEWEREINE DAAD VAN GOD!

This is revival dear people! This is a sovereign act of God! This is the moving of God's Spirit, I believe in answer to the prevailing prayer of men and women who believed that God was a covenant-keeping God but must be true to His covenant engagement...

That continued for almost 3 years. Until the whole of the island was swept by the mighty power of God.

As God se kinders getrou begin bid, as ons ons self voor Hom verootmoedig is niks vir Hom onmoontlik nie!

Dinsdag, 12 Julie 2016

ONS IS VEILIG!

- Regtig? Ander mense het ook al so gedink en hulle is wreed ontnugter!

Die indrukwekkende tempel in Jerusalem was daar vir almal om te sien. Elke Jood was baie trots op die tempel. Met prag en praal, gebou deur die ryk en wyse Salomo. In hierdie tempel het die volk in Jeremia se tyd nog steeds die Here gedien. Die tempel en die tempeldiens het die volk van Juda ‘n gerustheid, ‘n gevoel van veiligheid gegee. Solank die tempel daar is sal God ons altyd beskerm! Hy sal tog nie toelaat dat sy tempel vernietig word nie!

Maar op ‘n dag gee God opdrag aan Jeremia om die mat onder die volk uit te ruk. Ons vind hierdie ontstellende van profeet in Jeremia hoofstuk 7. Die volk moes nou skielik hoor : “Julle vertrou op leuens. Julle troos julleself met bedrieglike woorde. Julle mislei julleself om te dink julle is veilig! Julle tempel en julle tempelgodsdiens gaan julle nie outomaties beskerm nie.” Dis die implikasie van Jeremia se snydende woorde : “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring." (4-6) “Nee, wat nodig is, is bekering. Los julle verkeerde dinge! Julle leef ‘n dubbele valse lewe, julle gaan aan met julle verkeerde dinge, maar dan dien julle God ook nog. Julle maak ‘n fout as julle dink julle is veilig. Die enigste uitweg is ‘n besliste afstand doen van julle verkeerde gedrag.” Jeremia noem die verkeerde dinge by die naam... dis dinge wat mense gedoen het, terwyl hulle steeds die Here kom aanbid het. Sosiale onreg (verdrukking van ander mense), afgodery, immorele gedrag soos diefstal en egbreuk... (9) In effek sê die profeet : “Julle godsdiens is besmet.” Dit word skokkend gestel as die Here sê dat die tempel ‘n rowerspelonk geword het! (11) Dis hierdie einste woorde wat Jesus eeue later aangehaal het toe Hy die godsdiens van sy dag ook veroordeel het. (vgl. Markus 11:17) Kliek op ROWERSPELONKGODSDIENS

Die boodskap van Jeremia is baie duidelik :

Vertroue op die Here sonder bekering is ‘n vals vertroue wat tot teleurstelling en vernietiging gaan lei. 

Godsdiens sonder bekering is ‘n nuttelose tevergeefse godsdiens. Om die realiteit van so ‘n vals vertroue te onderstreep, herinner die Here hulle aan die heiligdom wat eens op ‘n tyd by Silo was. Silo was nou verlate, so julle kan nie redeneer net omdat daar ‘n tempel in Jerusalem was, sal God altyd vir Jerusalem bewaar nie. Die volk het ongelukkig nie na Jeremia se waarskuwings geluister nie. Te laat moes hulle uitvind dat hul vals vertroue op die tempel en hulle godsdiens  niks gehelp het nie. Nebukadnesar en sy leër het die stadsmure van Jerusalem oopgebreek en Jerusalem ingeneem. (39:1,2)

"EK HET DAN MY HART VIR JESUS GEGEE..."

Vals vertroue is vandag nog steeds ‘n probleem. Natuurlik vertrou niemand van ons meer op ‘n tempel nie, maar die vals vertroue neem net ‘n ander vorm aan. Ons is besig met 'n godsdiens sonder bekering...  So baie redeneer : “Ek is mos gedoop, so ek is veilig. Ek is mos ‘n lidmaat wat kerk toe kom so ek is veilig. Ek glo in Jesus so ek is veilig! Ek het my hart vir Jesus gegee so ek is veilig!”

Natuurlik word ons gered deur geloof in Jesus alleen. Maar ware geloof gaan altyd saam met bekering. Geloof in Jesus lei tot lewensverandering. (Dink aan die verandering in Saggeus se lewe) Bekering is die bewys van ware geloof. As ek mos regtig glo dat Jesus my bittere straf gedra het, as ek glo dat Hy my sondes vergewe het, kan ek mos nie onbekommerd lustig aangaan met my ou lewe nie.

Baie mense wat gedink het dat hulle glo gaan eendag agterkom hulle het nooit regtig in Jesus geglo nie. Jesus waarsku self daarteen in Matteus 7:21-23

"Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

Hier gaan dit oor mense wat oënskynlik in Jesus geglo het : Hulle het vir Hom gesê : “Here, Here.” Dit klink soos gelowiges of hoe? Hulle het selfs in sy naam gepreek,duiwels uitgedryf en wonderwerke gedoen. Hulle het gelyk en geklink soos gelowiges, maar dit was ‘n vals geloof, want dit het nooit tot bekering en lewensverandering gelei nie! Hierdie valse sekuriteit en vals vertroue sal eendag wreed ontnugter word as Jesus sê : “Gaan weg van My...” Net soos Jeremia het Jesus ook soortgelyke praktiese dinge aangespreek (in sy Bergrede) wat verkeerd is. Hy stel dit net baie dieper en skerper. Hy sê dat ons skuldig aan moord is as ons iemand uitskel vir ‘n idioot en dat ons skuldig aan egbreuk is, alreeds as ons gedagtes en oë die eerste tree in daardie rigting gee. Bekering is by Jesus dus ook ‘n dieper saak, dis hartsbekering wat nie net oor dade gaan nie, maar ook oor ons diepste motiewe en begeertes.

Nou wat daarvan? Ons moet weet dis moontlik dat mense wat op pad hel toe is heeltemal onbekommerd en houtgerus is. Hulle het ‘n valse sekerheid en ‘n valse sekuriteit. As jou geloof nie die vrug dra van bekering nie, is dit ‘n vals geloof wat jou nie op die oordeelsdag gaan beskerm nie.

PASOP VIR VALSE SEKERHEID!



Vrydag, 08 Julie 2016

KERK ARRESTEER JESUS?

Dis pynlik en hartverskeurend! Die bruid vergeet haar Bruidegom en flankeer met allerhande vreemde vryers. Die kerk is besig om haar te Koning verag. Hoe dan so? Wel die kerk lyk nou presies soos die wêreld wat in die mag van die bose is. In plaas daarvan dat ons getuig  en lig is te midde van ‘n krom en verdraaide geslag neem die kerk lustig deel (en organiseer) danse en skoonheidskompetisies. Ons geestelike bankrotskap word weggesteek agter die vertoon en lawaai van feeste en bedenklike vermaak. Solank die dollars inrol gee ons nie om wie ons gebruik en wat ons doen nie.


Is die skat van die kerk nog die evangelie? Raak ons nog opgewonde daaroor? (Waarom hoor ons van so min bekerings?) Of moet ons nou staatmaak op Kurt Darren en sy wellustige liedjies om mense te lok? Wat van Jesus, is Hy hoegenaamd nog welkom op die feeste en funksies wat die kerk reël? Wat het geword van die “heilige kerk” wat ons bely? Die kanse is baie goed dat as Jesus vandag  ‘n spreekbeurt sou kry op een van hierdie kerklik georganiseerde feeste, Hy bykans onmiddellik met geweld verwyder sou word. Die kerkmense sou Jesus laat arresteer! Ja, want Hy sou heel waarskynlik sy stem  teen die agtergrondsgeraas van “Loslappie” verhef en uitgeroep het : Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.”  (Markus 11:18)

Mag ons as kerk terugkeer na Jesus sodat ons die stukkende mensdom aan Hom as Verlosser  kan voorstel in plaas daarvan om hulle op lawaai en wellus te trakteer...

N.S. Ja, jy is reg dit is inderdaad die Hervormers se Biltongfees in Windhoek wat my so ontstel en die impetus was vir hierdie kort skrywe, maar dis maar net een voorbeeld... Die kerk in die algemeen volg die verdorwe pad van die kultuur (soos die AS 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings) in plaas van om sout en lig te wees in die kultuur. Laat al ons kerke hier in Namibië (en ons Christelike radio), maar die hand in eie boesem steek...

Donderdag, 07 Julie 2016

GEEN MIELIEPAP SONDER MIELIEMEEL

DIE BASIESE BESTANDDEEL VAN MIELIEPAP IS MIELIEMEEL. DIE BASIESE VEREISTE OM 'N DISSIPEL VAN JESUS TE WEES IS KRUISDRA!

Jesus roep mense. Hy roep sondaar mense tot verlossing en skenk gratis vergifnis, maar Hy roep hulle ook op om Sy dissipels te word. Met ander woorde, Sy leerlinge, Sy volgelinge. Hy roep ons nie tot ‘n lewe van gemaklike agteroorsit nie. Hy roep ons nie tot ‘n passiewe lewe van kerklidmaatskap soos dit my pas nie. Hy roep ons op tot kruisdra ter wille van Hom…

Ongelukkig het die kerk in geheel grootliks vergeet om hierdie boodskap van Jesus aan die lidmate oor te dra... Ons weet goed hoe om 'n basaar of biltongfees te organiseer, maar hierdie basiese vereiste wat Jesus aan aspirant volgelinge stel word heeltemal verswyg... Dalk is die kerk bang om gewildheid of bydraes in te boet?

Hoeveel dissipels van Jesus is daar nog? Sonder mieliemeel kan daar geen regte mieliepap wees nie, sonder die basiese vereiste van kruisdra kan daar geen egte dissipels wees nie.

Kliek op KRUISDRA om uit te vind wat dit prakties vandag van ons vra.

Die versuim van die predikers om Jesus se vereiste van kruisdra te verkondig is grootliks die oorsaak dat die kerk en die  wêreld presies diesefde lyk en ewe korrup geword het!

Vrydag, 01 Julie 2016

TUSSEN ROKENDE RUÏNES

- kry God se kind weer nuwe hoop!



[Wat maak jy as die pôpô die fan strike?]

1 Samuel 30 is ‘n aangrypende verhaal van uiterste benoudheid, geloofsvertroue en triomf... soos dit gebeur het in die lewe van Dawid.

Vooraf : Op hierdie stadium was Dawid nog nie koning van Israel nie, maar ‘n vlugteling vir koning Saul. Vir veiligheid het hy tussen die Filistyne gaan bly en ‘n vertroueling van die Filistynse koning Agis geword. Agis het die stad Siklag aan Dawid en sy vriende as woonplek gegee het. (1 Sam. 27:6) Die Filistyne het hulle nou weer gereed gemaak vir ‘n groot geveg teen Saul en die Israeliete en Dawid wat nou ‘n onderdaan van Agis was het hom en sy manskappe by die Filistynse soldate gevoeg. Dit was natuurlik vir Dawid en sy manne ‘n baie moeilike saak om teen hulle eie volk te gaan veg. Gelukkig het sommige van die Filistyne beswaar gemaak teen hulle teenwoordigheid en so is hulle verlos uit hierdie ongemaklike dilemma. Agis stuur toe Dawid en sy manne terug na hulle woonplek Siklag. Toe hulle daar aankom wag ‘n aaklige verrassing op hulle – in die tyd was hulle weg was het die Amelekiete die stad aangeval, hulle vroue en kinders ontvoer en die stad aan die brand gesteek. 

GROOT BENOUDHEID TUSSEN DIE SMEULENDE PUINHOPE

Ons het dit seker al almal beleef – daardie tye wanneer als wat kan skeefloop, skeefloop en alles wat verkeerd kan gaan verkeerd gaan. Die ergste in hierdie tye is wanneer jou eie mense naaste aan jou, ook nog teen jou draai, jou verwyt en jou wil stenig. 

As selfs jou eggenoot, kinders, familie en vriende, jou afskryf of wil vernietig... Groot benoudheid! Wat maak jy dan? 


As almal jou die rug keer, waarheen gaan jy? Groot moeilikheid – dis waar Dawid hom op ‘n dag bevind het. Sien die hartseer Dawid staan tussen die smeulende puinhope van sy woonplek Siklag. ‘n Toneel van smart en verwoesting... Hierdie dapper krygsmanne het, het soos kinders gehuil oor hulle weggevoerde gesinne. “Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.” (4) 

Maar dis nie al nie, dit lyk of hierdie manne in hulle bittere smart alle sin vir rede verloor en vir Dawid die sondebok gemaak het . Nou wil hulle hul woede en hartseer op hom uithaal. Hulle dreig om hom letterlik te stenig! Dinge het uiters lelik gelyk... wat nou gemaak? 

KIES OM BY GOD TE SKUIL

Wel, Dawid gee nie moed op nie, hy gee nie iemand anders die skuld nie, hy draai nie teen God en verwyt Hom nie. Wat doen hy? Vers 6 stel dit pragtig helder : “..maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.” (OAV)

Wat beteken dit nou prakties? Belangrik weereens, Dawid gee nie boedel oor nie. Dawid gaan sit nie op ‘n hopie en bejammer homself nie. Hy slaan nie paniek en vlug die vlaktes in nie. Ja, alles lyk donker en almal is negatief, maar God is nog steeds God! God het nog nie verander nie, God is nie oorweldig nie, God is nie verslaan of verslae nie. Hy wend hom dus tot God, Hy soek die aangesig en teenwoordigheid van God op. Hier word nie veel uitgewei daaroor nie, maar as ons ook bietjie nadink oor die Psalms kan ons ‘n paar afleidings maak vanuit die konteks:

  • Dawid beoefen geloof in God. Sy geloof in God wat ons kan aflei hy reeds as jong skaapwagter gehad het, wat hy in sy geveg teen Goliat beoefen het, word nou weer in werking gestel. Hy maak opnuut ‘n keuse om hom nie deur die bittere omstandighede te laat onderkry nie, maar in die lewende God te glo. Geloofskeuse! Herhalende keuse! Dis prakties gesproke ‘n keuse om by God te skuil (Vergelyk Ps. 11:1, 16:1, 18:3 ) Dis ‘n keuse om te besef, God is groter as my slegte, hartseer en benouende omstandighede. God is sterker as my vyande oftewel my vriende wat nou my vyande geword het! Hoe kry Dawid dit reg? Hy het in ‘n geloofsverhouding geleef met God – “sy God” Hy moes dit nou net prakties weer in werking stel. Ek en jy moet telkens weer kies om te glo, ongeag ons sigbare omstandighede! “...want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Kor. 5:7)

  • Dawid dink weer aan God se karakter en God se handelinge met hom in die verlede. God het hom in die verlede gehelp teen die leeu en beer, teen Goliat en hoeveel kere het God nie sy lewe uit die jaloerse Saul se hand gered nie? Dawid dink nugter oor die grootheid en die getrouheid van God en laat nie toe dat sy gevoelens met hom weghardloop nie. Wie aan die getrouheid van God dink moes sekerlik aan sy verbond gedink het met Abram Isak en Jakob. Geliefde, dink terug aan God se getrouheid deur jou lewe, maar nog belangriker dink aan die hoogtepunt van God se goedheid, liefde en getrouheid- die kruis van Jesus! Niks kan ons van hierdie liefde skei nie! “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:38,39)

  • Dawid soek wysheid by God. “Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: "Bring tog vir my die skouerkleed nader." Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring. Dawid het die Here geraadpleeg: "Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?" Die Here het hom geantwoord: "Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red." (7,8) Destyds is die skouerkleed en die urim en tummim gebruik om God se wil te soek. Ons het nou die Woord en die Heilige Gees wat die Woord vir ons uitlê. Ons kan bid. Jakobus moedig ons aan om wysheid by God te soek. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jakobus 1:5) Kind van God, onthou, die Woord het iets vir jou te sê in jou huidige omstandighede... Doen moeite om dit uit te vind en toe te pas.

‘N RAMP OMGEKEER TOT WINS!

Jy bevind jouself dalk ook op hierdie oomblik tussen rokende ruïnes – alles is stukkend en swart gebrand, onheilsrook prikkel jou neusgate – jy beleef benoudheid en angs, jou huwelik is besig om te verbrokkel, jou finansies is donker, jou vriende het teen jou gedraai... alles en almal is teen jou. Hoor dan : God is nog daar. Aan sy liefde het nog niks verander nie. Die kruisboodskap bly ‘n onwankelbare feit, 'n vaste baken van God se liefde in alle omstandighede!

NOU...Nou is die tyd om opnuut die aangesig van die Here te soek. Nou is die tyd om weer te kies om kinderlik te glo. Nou is die tyd om die wysheid van die Woord te gehoorsaam. Kom na die Here en jy sal vind hoe waar is Psalm 46:1 se woorde : “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”


God is getrou! 

God se getrouheid het nie gekeer dat Siklag geplunder word nie, maar God se getrouheid het Dawid wel deur die krisis gedra en daar was ‘n heerlike en gelukkige einde en groter doel agter als. (gaan lees gerus die res van 1 Samuel 30) Dawid verslaan die Amelekiete en maak ‘n baie groot buit. Hy toon sy wysheid deur die verstandige manier waarop hy die buit verdeel en so word sy posisie as toekomstige leier van Israel versterk. 

God verander ‘n ramp in ‘n wins!