BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 30 Junie 2016

SO GEBORE?

- een van die algemeenste argumente van die pro gay propaganda in die kerk is sterk onder verdenking!

Dis een van die  argumente wat mens dikwels moet aanhoor in die kerklike gay debat (en vir sommige baie oortuigend klink) : "Gays is so gebore, hoekom kan ons dan sê dat dit wat hulle doen sonde is?"  of "Jy kan niks aan jou seksuele oriëntasie verander nie, jy is so gemaak en so laat staan."

Daar is natuurlik baie redes waarom 'n Christen nie vir bogenoemde argumente sal val nie. Ons is immers almal in sonde ontvang en gebore. Dit regverdig nie ons verkeerde dade nie, maar beklemtoon juis die belangrikheid van die wedergeboorte. Daar kan inderdaad baie faktore wees wat 'n rol speel in sondige gedrag soos in die geval van alkoholisme of kindermishandeling (oorerflike faktore, omgewingsfaktore ens), maar dit maak nie sonde minder sondig nie of meer aanvaarbaar nie! Dieselfde geld vir homoseksuele gedrag.

Dis egter baie interessant dat daar ook in die sekulêre wêreld stemme opgaan wat erken dat "gays nie noodwendig so gebore is nie" 'n Mens hoop maar net dat party kerklikes wat die Bybel se boodskap wil onderspeel deur sogenaamde wetenskaplike argumente oor homoseksuele oriëntasie deeglik hiervan sal kennis neem.

'n Gay skrywer maak onder andere die volgende opmerkings:


"So what are we to do with the Born This Way rhetoric? I would suggest that it’s time to build a more nuanced argument — regardless of how good a pop song the current one makes.

There are several reasons for this. Firstly, and most importantly, it’s just not the truth, as we currently understand it. The evidence to date offers no consensus that the Born This Way argument is the beginning and end of the story. We should stop pretending that it does...


I don’t think I was born gay. I don’t think I was born straight. I was born the way all of us are born: as a human being with a seemingly infinite capacity to announce myself, to re-announce myself, to try on new identities like spring raincoats, to play with limiting categories, to challenge them and topple them, to cultivate my tastes and preferences, and, most importantly, to love and to receive love."


Op die ou end gaan dit oor die mens wat self wil baas wees en self besluit wie hy wil wees en wat hy wil doen...


Donderdag, 23 Junie 2016

DOOD WORD ‘N WINS!

- en dis nie gebou op sentiment nie, maar op feite!

Ons het reeds gesien ‘n Christen kyk anders na die lewe. (Kliek op LEWE) As ek waarlik die kosbaarheid van Jesus besef het, as ek Hom ontdek het as my enigste bate, as ek besef dat ek net deur  Hom vryspraak kry, dan word Jesus my eerste liefde. (En HY word dit al meer en meer!) Dan is Hyself die sin en doel van my bestaan. Dan sê ek : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (soos Paulus in Filippense 1:21) ‘n Christen kyk  anders kyk na die lewe, ‘n Christen kyk ook anders na die dood. Dis so radikaal anders, dat die gemiddelde normale beskaafde mens dink jy is mal as jy verklaar : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Ja, volgens die opinie van die wêreld is dit inderdaad waansinnig om te sê : “Vir my is die lewe Christus.” En dis nog meer waansinnig om te sê : “en die sterwe is wins.”

WAT VAN DIE DOOD?

Ons het verlede Sondag gekyk na hoe dink ons en hoe behoort ons te dink oor die vraag : Wat is die lewe? Vandag kyk ons na die vraag : Wat is die dood? As jy oor die een dink moet jy ook oor die ander dink, want die dood is deel van die lewe? Wat is die dood? Mense hou nie daarvan om hieroor te praat nie en probeer dit ten alle koste vermy. (Dit sal baie dom wees om hierdie kernvraag te vermy. Verlede jaar is roudienste vir vier kinders in ons kerk hier op Tsumeb gehou)

Mense hou nie daarvan as jy vir hulle vra : Is jy gereed om te sterwe? Vir baie voel dit soos ‘n belediging of sommer net swartgallig en morbied om oor die dood te praat. Die ware rede vir ons ongemak met die dood is vrees. Die mens het ‘n vrees vir die dood, want diep in ons harte weet ons dat ons dan oop en bloot voor God sal staan wat dwarsdeur ons sal kyk. Hebr. 2:15 praat daarvan dat die vrees vir die dood ons in slawerny hou.

Hierdie algemene vrees en ongemak wat mense oor die dood het, maak Paulus se stelling juis te meer radikaal, anders, heerlik, bevrydend! Waarom kan hy so iets kwytraak? (en onthou net weer hy skryf dit nie in ‘n teoretiese akademiese omgewing soos ‘n studeerkamer nie, hy sê dit in ‘n tronk waar hyself die dood in die gesig staar) 

DIE EVANGELIE MAAK DIE VERSKIL

Hoe kry Paulus dit reg om so positief te wees? Die evangeliegebeure, die kruis en opstanding het vir altyd ‘n nuwe wending gebring oor hoe ons die dood moet beoordeel. In die Ou Testament was daar nog baie vaagheid oor die lewe na die dood. (vir die vrome koning Hiskia was die dood ‘n verskrikking) In die Nuwe Testament is daar ‘n positiewe siening oor die lewe na die dood en verloor die dood sy verskrikking. Daarom kan Paulus elders uitroep : “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55)  Hierdie nuwe positiewe siening van die dood is die direkte gevolg van Jesus se uitwissing van ons sondeskuld aan die kruis (want ons sonde is die rede hoekom ons bang is vir die dood) en sy liggaamlike opstanding uit die graf. Hy het die dood oorwin en die lewe vir ewig ‘n werklikheid gemaak.

Het die evangelie al jou siening oor die dood verander?

VERSKEIE SIENINGS

Soos daar verskillende houdings is oor die lewe is daar vandag verskillende houdings oor die dood:

VREES. Dis die groot vyand, die donker, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie.
GELATE AANVAARDING. “Ag, almal moet maar doodgaan... Wat kan mens daaraan doen?”
DAPPER HOUDING. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende minagting houding. “My ou toppie het mos die emmer geskop.”
SENTIMENTELE NAÏWITEIT.  Mens hoor dit deesdae baie by roudienste en huldeblyke... “John speel nou rugby  in die hemel vir die eerste span, Kobus jaag nou “rally” in die goue strate, Gert is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en verlief neem...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

DIS WAARLIK WINS!

Die Christen se siening is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien. Maar dis ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Wat beteken hierdie wins nou prakties?

Paulus verklaar : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (Fil.1:23)

Twee sleutelbegrippe is belangrik in vers 23: “heengaan, by Christus”

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek. As jy vanuit die Woord weet wat is jou bestemming, behoort die verhuising geen verskrikking te wees nie!

Die kernrede vir Paulus se blydskap is dat hy by Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! ‘n Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Fil. 3:20)

Let Wel : Paulus se positiewe siening oor die dood beteken allermins dat hy swartgallig oor die lewe was! Inteendeel, hy straal 'n positiewe gees uit selfs hier binne die tronk. Hy sien die lewe as 'n geleentheid vir "vrugbare arbeid" en 'n kans om "Christus te verheerlik." Hy het nie 'n selfbejammerende houding van, "ag, dit gaan so sleg, ek wil maar liewers doodgaan," nie! Paulus  leef positief voluit, maar hy besef, as hy moet sterwe is dit ook positief. Weereens, 'n wen-wen situasie.

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê?


Maandag, 20 Junie 2016

DIS NOU DIE LEWE!

Die kind van God is in ‘n wen-wen situasie.

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Hierdie is ‘n radikale uitspraak in Filippense 1:21 wat die kern en hart van egte Christenskap vir ons ontsluit en verduidelik. Dis ook seker die duidelikste toets van waar elkeen van ons regtig staan met betrekking tot die Verlosser Jesus Christus. (Dit wys my sommer wat gaan regtig in my hart aan?) Natuurlik val hierdie uitspraak van Paulus nie uit die lug nie. Paulus sit in die tronk en hy is nie seker dat hy lewend gaan uitkom nie. Juis daarom is dit so merkwaardig dat hierdie hele brief aan die Filippense oorheersend die tema van blydskap onderstreep. Paulus sê in effek dit maak nie regtig saak wat met hom gebeur nie, as hy bly lewe is dit goed, want dan kan hy nog vrugbare arbeid verrig, maar as hy sterwe is dit eintlik vir hom die beste, want dan is hy by Jesus. Hy bevind homself eintlik in ‘n wen-wen situasie, maak nie saak wat gebeur nie, lewe of dood, hy wen, want alles draai vir hom om Jesus Christus. 

Hoe raak dit my en jou as Paulus sê : “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Beslis, gaan dit nie net oor Paulus nie, dit gaan oor elkeen van ons. “Ja, maar ek is nie Paulus nie hoor, Paulus was darem ‘n apostel.”, hoor ek. Vriend, ons glo nie in die Roomse onderskeiding van geestelikes en leke nie, ons glo nie in super Christene en gewones nie. Daar is net twee soorte mense : Christene en nie-Christene. (Daar is wel in die liggaam van Christus ‘n verskeidenheid gawes en ampte.) Paulus se woorde behoort dus die eerlike belydenisverklaring van elke kind van God te wees.

In die woorde van Paulus vind ons juis die duidelikste onderskeiding tussen die Christen en die wêreldling – net die wedergeborene kan sê dat die lewe vir hom/haar Christus is! Ander (minder of meer godsdienstige) mense kan wel sê dat hulle soms tot Jesus bid, dat hulle van Jesus hou of van die kerk hou of graag soos Jesus wil lewe, maar hulle kan nie eerlik verklaar vir my IS die lewe Christus nie!

VERSKEIE SIENINGS OOR DIE LEWE

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Waarom draai die lewe vir jou? Wat IS lewe vir jou? Nou baie mense dink natuurlik nooit oor hierdie saak nie, hulle bestaan maar net van dag tot dag soos ‘n hond bestaan, eet sy kos, blaf as hy moet, kry kleintjies... en op ‘n dag is hy nie meer daar nie. 

Maar jy wat dink jy oor die lewe, waaroor gaan dit vir jou? 

Daar is natuurlik verskeie sienings : 

Hedonisme. Dit beteken prakties, ek melk die lewe vir elke krieseltjie plesier. Net een ding tel - hoeveel lekker dinge kan ek doen of ervaar. My maatstaf vir als is of dit my pret en plesier kan verskaf.

Vasbyter, sterkman siening. (stoïsyns) Ek moet die lewe maar vat soos hy kom, die lewe is iets om te verduur. Dis die “Cowboys don’t cry, ek sal nie huil nie korporaal” houding. Als draai om my eie oorlewing en belang. Ek het niks of niemand nodig nie.

Humanistiese beskouing. Ek moet net soveel as moontlik probeer goed doen aan ander mense. Wees net ‘n goeie mens, doen maar net altyd die regte ding. Daar is nie ‘n hemel of hel nie, dis als hier op aarde. Doen maar goed solank jy kan, want eendag is jy nie meer daar nie. 

Mistisisme. ‘n Passiewe houding van dood wees vir die wêreld se pyne en vreugdes, ‘n ontsnapping in ‘n mistieke sfeer. Vir sommige beteken dit ‘n kontak maak met jou dieper self.

Die gemiddelde, algemene materialistiese siening. Ag, ek dink nie veel oor die lewe nie, maar ek lewe maar vir my vrou en kinders, vir my werk en al die aktiwiteite waarmee ek besig is. Vir baie is dit hulle aftreeplanne! Toets jouself : Die dinge wat maar gedurig in my agterkop draai, dis maar die dinge waaruit my lewe bestaan en waarvoor ek regtig leef... My lewe bestaan uit en vir mense en dinge wat ek kan sien en tel. As hierdie dinge van my weggevat word is daar niks om voor te lewe en niks om na uit te sien nie. 

Soms kom die Here in sy groot genade en vat van hierdie “kosbare dinge” weg sodat ons die leegheid van ons lewe kan besef en Hom as sin en vreugde van die lewe kan soek!

Godsdienstige siening. (Dit lyk baie soos Christenskap, maar dit is nie.) Ek lewe vir my Christelike aktiwiteite en projekte wat ek aanpak. Die dinge wat ek DOEN vir die kerk gee sin aan my bestaan. Dit laat my nuttig voel. Ek geniet dit om besig te wees met “die dinge van die Here” Dis nie wat Paulus hier bedoel nie. As hy sy sin gevind het in sy avontuurlike sendingreise sou hy op hierdie stadium in depressie verval het, want hy kon nie nou reis nie, hy is gevange tussen die mure van die tronk. Vir Paulus het die lewe oor iets (Iemand) meer gegaan as sendingwerk, dit het gegaan oor Jesus self!

Wat bedoel Paulus met lewe en dat die lewe vir hom Christus is? Lewe is dit wat die belangrikste is vir my, dit wat sin en doel gee aan my bestaan as mens. Dis wat my laat “tiek”! Anders gestel dit is dit waarsonder die lewe geen betekenis sou hê nie. Dis dit wat my lewe oorheers, dit waarom my lewe draai. My GROOT LIEFDE! Sien Paulus daar sit in die tronk en dink... “Terwyl ek hier sit, vasgekeer, waaroor gaan my lewe, waarin kan ek vreugde vind, wat maak als sinvol? Ja, Jesus Christus maak die verskil, solank ek Hom kan liefhê, kan ek bly wees, ook terwyl ek agter tralies is. Die tronkkos en harde slaapplek kan niks aan sy liefde vir my verander nie. En as ek hier uitkom, het ek ook geen ander begeerte as om Christus beter te leer ken nie. Die kwaliteit van my lewe hang nie af van my omstandighede of my geleenthede om iets te doen nie, Jesus self gee kwaliteit aan my lewe en Hy verander nie. My blydskap is nie gebou op omstandighede nie, my blydskap is gebou op Jesus wat my so liefgehad het en sy lewe vir my gegee het. (Vgl. Gal 2:20ev) Die waarde van my lewe is nie afhanklik van wat ek besit of wat ek bereik nie, maar van Jesus en wie Hy is en wat Hy vir my reeds gedoen het.” Paulus se lewensideaal is Christus Jesus self. Hy vat dit pragtig saam in 3:10 as sy groot wens : “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hoe het dit gebeur dat Jesus self Paulus se kosbaarste bate en die sin van sy bestaan geword het? Paulus het eers op ander bates staatgemaak en ander ideale gehad. Hy het op ander dinge en prestasies geleun om God te probeer beïndruk... Dit was inherent goeie dinge soos sy Joodse afkoms, sy suiwer ywerige godsdiens, sy hoë morele waardes.... Maar toe word hy op pad na Damaskus gegryp deur Jesus en hy besef al hierdie dinge is waardeloos om hom van sy sonde vry te spreek. Hy beskryf dit treffend in Fil. 3:3-9 soos volg : 

“As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo."

JESUS SE WAARDE IS ALLESOORTREFFEND!

Paulus moes tot die besef kom dat geen menslike bates hom kan red en voor God regverdig stel nie, net Jesus. So het Paulus die allesoortreffende waarde van Jesus besef en daarom het hy tot ‘n heel nuwe waardasie van die sin van die lewe gekom.

Jesus is my lewe sê Paulus. In Hom is daar vryspraak, vreugde, vrede. Hyself is genoegsaam vir al my behoeftes. Hy skenk my ‘n diepe tevredenheid in alle omstandighede.* As dit goed gaan en ek het oorvloed, as dit sleg gaan en ek gebrek ly. As vry is en kan rondbeweeg en ook as ek in die tronk sit agter tralies. Hy gee my krag om goed en sleg te hanteer. (Fil 4:13) Jesus is my doelwit, my skat, my onuitputlike bron, my alles! En ja, selfs as ek moet sterwe, ook dan kan ek nie skade ly of verloor nie, dan wen ek ook, dan is dit wins, want dan is ek by HOM! 

*Doen jouself ‘n guns en lees weer ten minste die hele Filippense hoofstuk 4.


Christuskirche - Windhoek

Vrydag, 10 Junie 2016

EN WAT VAN DIE HOUTKAPPERS?

Noag se ark gaan oor baie meer as tegniese detail rondom die gewoontes en hantering van diere…


Ons mag geen afgode maak nie. Ons moet die ware God en net Hom aanbid. Maar Wie en Hoe is die enigste ware God? Maak ons nie maar dikwels in ons gedagtes vir ons ‘n god wat by ons behoeftes, grille en giere pas nie, ‘n vals god? Die Bybel gaan oor die lewende ware God en sy dade. God wys vir ons wie Hy is uit sy dade.

In die verhaal van Noag gaan dit ook oor God. (Ons kyk hier net eers na Genesis 6) Dit gaan nie in die eerste plek oor die grootte van die ark, die hoeveelheid diere en hoe dit gebeur het dat die leeus nie die ander goed opgevreet het of hoe die olifante ingepas het of hoe Noag die houtkappers gekeer het om gate in die wande te pik nie! Dit gaan oor God wat ingryp in hierdie wêreld. 

God gryp in hierdie wêreld in deur oordeel en deur redding.

Hoekom oordeel en straf God? Hy is ‘n heilige God wat sonde en onreg en geweld nie kan duld nie. Hy kan nie aan Homself sy eie heiligheid en karakter ontrou wees nie. Hy oordeel, want die mense het dinge gedoen waarvan Hy nie hou nie. God is nie ‘n relativistiese post-modernis nie! “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.” (11-12) Dit moet ons hard en duidelik hoor – daar is dinge waarvan God nie hou nie en daar is dinge waarvan Hy wel hou. Hy besluit wat reg en verkeerd is (Hy is immers die Skepper en Eienaar van als en almal) – nie die Huisgenoot of Hollywood nie en daarvolgens sal Hy oordeel. Sy straf is skrikwekkend, dis uitdelging. “Toe sê God vir Noag: "Ek het besluit om ‘n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.” (13) Die hele skepping! Wat met die mens gebeur as kroon van die skepping raak die hele skepping. Ons moenie God se oordele geringskat nie – dit het man, vrou, kind en suigeling getref! (Dink aan die TV beelde van die Tsunami van 2004!)

Maar, God gryp ook in deur redding. Reddende genade. En die hoofbeginsel is genade! “Maar Noag is deur die Here begenadig.” (8) Hoe werk God se redding? Hy gee ‘n oplossing om die oordeel vry te spring! Hy gee ‘n uitkoms. Hy bevestig dit met ‘n verbond. (18) God se redding staan vas, Hy beloof dit formeel. Hierdie redding kan aanvaar of verwerp word. In hierdie geval was God se plan die ark- binne die ark is daar lewe, buite die ark is die dood. God se plan moet geglo word, al maak dit nie sin nie. Noag glo en reageer. (Hebr 11:7) “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is."  Geloof is nie net ‘n teoretiese wete nie, dit gaan oor tot aksie, dit behels ‘n verandering van gedagte, lei bekering, ‘n wilsbesluit, ‘n keuse om God se reddingsplan te gehoorsaam. As jy glo, klim jy in...

Dwarsdeur die geskiedenis sien ons hoe God se reddingsplan parallel saamloop met sy oordele. God oordeel Sodom en Gomorra, maar daar is ‘n reddingsplan vir Lot en sy familie. “Vlug betyds...” Die wat dit glo en gehoorsaam word gered, die wat dit aflag en verwerp word vernietig. God oordeel Egipte met die finale plaag, die dood van die eersgeborenes. Maar weereens, God voorsien ook ‘n uitkoms. “Slag ‘n lammetjie en smeer sy bloed aan die deur!” Die wat hierdie belofte glo (en die bloed aansmeer) word gespaar, die ander sterf. So is daar nog baie voorbeelde... God oordeel die volk Israel deur giftige slange te stuur, maar Hy gee ook ‘n uitweg, oplossing. Die koperslang... “Kyk en jy sal lewe!” Altyd maar weer, oordeel en redding...

Die klimaks van God se oordeel en redding kom bymekaar in een enkele gebeurtenis. Jesus Christus wat aan die kruis sterf. Jesus hang aan die kruis as ‘n vervloekte, ‘n veroordeelde. Maar Hy is onskuldig, Hy dra die sonde van die skuldiges, van ons. God se oordeel tref Hom voluit en dis waarom Hy uitroep : “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Maar Jesus is juis God se oplossing vir ons om die oordeel vry te spring. Wie in Hom skuil is veilig, wie Hom verwerp sal die oordeel self moet dra. Buite die ark is dood, binne die ark is lewe. Buite Jesus is dood, binne Jesus, die lewe. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

Ons moet seker maak dat ons die ware God aanbid. Hy is die God van oordeel en genade, heiligheid en barmhartigheid, geregtigheid en liefde, straf en redding! Hierdie eienskappe staan nie los van mekaar maak nie, ons het gesien hoe dit saamloop. Ons sien hoe dit tot volle betekenis kom by die kruis van Jesus.

Noag se vloed wys ook op die finale oordeel van hierdie wêreld deur vuur. Noag se ark wys ook op ons enigste hoop op redding, God se plan, Jesus Christus. Die finale oordeel kom, dis ‘n feit en net diegene wat in Jesus skuil sal veilige wees. Die ware God is die Vader van ons Here Jesus Christus wat deur sy Seun se kruisdood en opstanding vir ons ‘n oplossing ‘n uitweg voorsien het!

Is jy veilig in die ark? Glo jy God se oplossing is Jesus die Here? Het hierdie geloof gelei tot bekering, tot aksie, tot ‘n nuwe gehoorsaamheid? AMEN

[Ek weet nie hoeveel plek die ark gehad het en hoeveel diere daarin was nie, maar ek weet daar is plek vir jou by Jesus Christus - Hy het oorgenoeg veilige plek vir sondaars wat by Hom kom skuiling soek!]




Woensdag, 01 Junie 2016

PROFIEL VAN ‘N DROSTER

[Ds. Erik van Zyl het onlangs ‘n boodskap in ons gemeente gebring oor Bittereinders en Drosters (ook genoem hensoppers of joiners). Dis natuurlik terme wat uit die hartseer geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog uit kom. Die bittereinders is die ouens wat aangehou het met veg tot die einde toe, die drosters is die ouens wat tou opgegooi het en in sommige gevalle selfs by die vyand aangesluit het. Van toepassing gemaak op die Christelike stryd en wedloop is Bittereinders die mense wat Jesus as Verlosser aanvaar het en tot die einde volhard en vrugdra saam met Hom. (soos Paulus in 2 Tim 4:6-8) Drosters is mense wat eens op ‘n tyd die Here Jesus gevolg het, maar toe omgedraai het. (soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het in 2 Tim 4:10) Gelukkig het ons in die Bybel ook voorbeelde van drosters wat weer betyds teruggekeer het, weer Bittereinders geword en Jesus getrou gevolg het. (soos Johannes Markus)]



Ek wil bietjie dieper ingaan op die vraag : 


Waarom word volgelinge van Jesus dan drosters? 

Wat veroorsaak dat mense omdraai van die geloofspad en moed opgee? Waarom sak mense uit in die Christelike wedloop?

In die gelykenis van die saaier (Lukas 8) gee Jesus self ‘n baie duidelike antwoord. Dis spesifiek die derde groep, die saad wat tussen die onkruid geval het wat vir ons duidelikheid gee oor drosters! In die eerste twee groepe gaan dit oor mense wat eintlik nooit regtig aan die gang gekom het nie, maar in die derde groep gaan dit oor plante wat goed gegroei het, maar geleidelik deur onkruid verstik is en nooit op die ou einde vrug gedra het nie.

DROS HET ‘N GELEIDELIKE AANLOOP.

“Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.” (Lukas 8:14)

Die kern gedagte is geleidelike stadige byna ongemerkte agteruitgang. “Gaandeweg.” Onkruid maak nie ‘n plant in een dag se tyd dood nie, die plant word net geleidelik verdring en versmoor... Geleidelike, stelselmatige agteruitgang... Dis die profiel van ‘n droster.

By ‘n droster vind mens ‘n geleidelike versmoring en afkoeling van liefde vir Jesus en sy kinders. ‘n Tanende en kwynende entoesiasme vir Jesus se Koninkryk en die werk van die Here. Die potensiële droster vind al meer verskonings om nie die byeenkomste van die heiliges by te woon nie; daar is net altyd iets belangriker... ‘n Al hoe groter geneigdheid om kompromie met sonde te maak... “Ag, dis darem nie so erg nie, ek doen dit net een keer, niemand doen skade op nie....” Verskonings, verskonings... 

Dis interessant dat Jesus die meeste klem lê op hierdie derde groep en drie konkrete dinge noem wat mense geleidelik doodwurg. Dit gaan dalk vir ons ongemaklik wees om hierdie dinge te hoor. Maar luister maar, want dalk lê Jesus sy vinger hier op ‘n seerplek in jou lewe wat dringend aandag moet kry...

BEKOMMERNISSE 

Ons spot partykeer so oor al ons sorge en bekommernisse, maar dis ‘n ernstige saak wat jou geestelike lewe kan vernietig, wat jou ‘n droster kan maak as jy dit nie reg hanteer nie. Die harde feite van die lewe is natuurlik dat almal van ons te make het met situasies wat dreig om bekommernis by ons te veroorsaak. Moeilikheid en bekommernis gaan oor ons pad kom, maar die vraag is hoe ons dit moet hanteer Jesus praat duidelik daaroor in Lukas 12:29-31. “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” Vertrou op God, God wat weet wat ons nodig het. Hy is immers ‘n Vader wat sorg. Ook Paulus het hieroor geskryf. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:6.) Gebed, dankbaarheid en tevredenheid is die Christen se teenvoeter op bekommernisse! Petrus se raad kom op dieselfde neer. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7.)) Moenie in bekommernisse vasval nie, moenie dat vrees oor die toekoms jou fokus van God af wegvat nie. Hanteer dit biddend en met vertroue. Ja, bekommernisse is ‘n werklikheid, ons kan dit nie miskyk of ontken nie, maar God is ‘n groter werklikheid! Maak so ‘n realistiese som... sal die God wat vir die Israeliete in die woestyn gesorg het, wat vir Elia by die spruit Krit gesorg het, wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun vir ons gegee het, dan nie ook in alle opsigte vir ons volgens sy wil kan sorg nie?

RYKDOM 

Dis ‘n baie sensitiewe saak, maar vir Jesus baie belangrik. Teen geen ander ding het Jesus meer gewaarsku nie. Geen ander ding hou meer mense uit die hemel as rykdom nie. Rykdom is dié groot rede waarom krygsmanne van Jesus wegdros! Dis nie so eenvoudig om die gevaar van rykdom te definieer nie, want dit gaan nie noodwendig oor die grootte van jou bankbalans of die waarde van jou bates nie. Dit gaan daaroor dat geld en besittings geleidelik vir jou die belangrikste in die lewe geword het. Besit begin jou lewe bepaal. Ek meet myself aan wat ek het of nie het nie. Niemand wil maklik erken dat rykdom of ‘n liefde vir geld vir hom ‘n probleem geword het nie. So, hoe weet ek dat geld vir my ’n gevaar begin word? Hier is vier toetse wat jou kan help as jy eerlik wil weet : 

Rykdom raak vir my ‘n strik : 

  • As ek ander mense begin benadeel om meer geld te maak. (Dis veral my vrou en kinders wat eerste verwaarloos word, al gebruik ek die verskoning van "ek werk juis so hard om vir hulle 'n toekoms te bou...")
  • As ek my afsprake met God en sy gemeente mis ter wille van meer besigheid of invloed. ("Ons kon nie by die kerk wees nie, want ek het my vennote vir 'n jag gevat!")
  • As ek oneerlik begin raak om meer of vinniger geld te maak. 
  • As ek daarvan hou om my rykdom uit te stal. Ander mense moet sien watter model motor ek kan bekostig, my maats moet tog net raaksien dat ek die regte handelsmerk klere en tekkies dra! (Tieners, dis nou daai “brands”!) 

Hoor Paulus se waarskuwing in 1 Timoteus 6:6-11. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

GENIETINGE 

Dit gaan hier oor hedonisme, die jaag na plesier as die hoogste doelwit van my lewe. My lewensdoel is om te soek hoeveel plesier ek daaruit kan kry. Natuurlik gee God vir ons baie dinge om te geniet, maar as genot my doelwit word, raak dit gevaarlik. As genot geleidelik die plek van God begin inneem is ek besig om ‘n droster te word. “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.” (2 Tim 3:4) As plesier my tyd steel wat ek aan God moet gee, as plesier my sag maak vir sonde, as plesier my aptyt vir God en sy Woord demp (my stokperdjies of ontspanning maak my minder lus vir God se Woord), is die onkruid van genietinge besig om my dood te wurg!

INTERESSANT: GAAN KYK MAAR, DIE REKLAMEWESE IS JUIS GEMIK OP DIE DINGE WAARTEEN JESUS SO ERNSTIG WAARSKU -  IN DIE MEERDERHEID ADVERTENSIES WORD DAAR GESINSPEEL OP ONS VRESE EN BEKOMMERNISSE OF ONS WORD AANGESPOOR EN VERLEI TOT DIE NAJAGING VAN GELD EN PLESIER AS DIE HOOGSTE VREUGDES IN HIERDIE LEWE!


Hierdie dinge is gevaarlik en ek moet daadwerklike stappe neem om hierdie onkruide uit te roei. As hierdie dinge aanwesig is in my lewe is dit ‘n aanduiding dat ek dalk besig is om ‘n droster te word! As bekommernisse my wil oorweldig moet ek doelbewus fokus op God se Vaderlike getrouheid en liefde, as rykdom vir my te belangrik word moet ek doelbewus fokus om skatte in die hemel bymekaar te maak (belê jou geld en lewe in die koninkryk) as genietinge my van die spoor af wil bring moet ek doelbewus my vreugde soek in God en sy werk!

LEEF DOELBEWUS IN DIE TEENOORGESTELDE RIGTING!

Mag God hierdie gelykenis van Jesus gebruik om ons aan te spoor tot volharding, nie tot ‘n “bitter einde” nie, maar inderdaad tot ‘n heerlike einde, die beloning wat wag op elkeen wat volhardend vrug gedra het!


[Hierdie indrukwekkende kremetart oos van Tsintsabis in die Grootfontein distrik is 'n pragtige voorbeeld van 'n "Bittereinder", as jy daaraan dink hoeveel droogtes en bedreiginge hy al getrotseer het om so groot te word!]