BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 20 November 2015

DAAR'S HOOP

- maar die afgrond blyk onoorkombaar te wees!


Die stormagtige debat wat ontketen is deur die NGK se Algemene Sinode se toelating van praktiserende homoseksuele predikante is meer as net ‘n hewige gesprek tussen medegelowiges wie se opinies van mekaar verskil. Dit het ‘n onoorbrugbare kloof blootgelê wat lankal binne in die NGK bestaan. 

TWEE KANTE VAN DIE KLOOF

Aan die eenkant kry ons die evangeliegesindes binne die NG Kerk wat die Bybel as onfeilbare Woord van God aanvaar en op grond daarvan alle mense en soorte sondaars oproep tot geloof, bekering en ‘n heilige wandel meet God. Hierdie groep (waarby ek myself insluit) word dikwels as fundamentaliste en verkramptes uitgekryt. En die groot verwyt na ons kant is dat ons liefdeloos is!

Aan die anderkant is daar ‘n groter wordende groep van vrysinnige liberales wat diep gedrink het uit die troebel waters van die sogenaamde Progressive Christianity. Hulle verkoop hulleself as liefdevol en inklusief. Hulle evangelie is : "Moenie stress nie als gaan OK wees!" Die feit is egter dat hierdie groep nie meer erns met die Woord en die evangelie maak nie. (begrippe soos vryspraak, kruisoffer, hemel en hel is vir baie van hulle totaal vreemd)  In hierdie kringe word die Bybel dikwels teenoor Jesus gestel. Die Woord word soms beskryf as ‘n “papierpous” wat die liefde van Jesus versmoor.

Die afstand tussen hierdie twee groepe is eenvoudig net te groot. Dit gaan nie hier oor middelmatige sake waarin ons maar van mekaar kan verskil terwyl ons mekaar verdra nie. Die evangelie self is op die spel. Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk. Die uitslag gaan tot vir die verre nageslag gevolge hê. Ewigheidsgevolge! Geen kompromie of draadsittery is dus moontlik nie!

Daarom is die omvangryke weerstand van binne die NG Kerk baie bemoedigend. Benewens talle gemeentes (byvoorbeeld Moreleta Park) wat die AS besluite verwerp het, het die moderamen van Namibië se sinode en die Sinode van Wes Transvaal hulle nou reeds teen die AS besluit uitgespreek. As gevolg van appèlle is die moderamen van die Algemene Sinode reeds gedwing om die inwerkingstelling van die AS besluite hangende die appèlle vir minstens twee jaar uit te stel. Dit als gee mens hoop.

En tog...

Hierdie saak sal nie sommer net verbygaan nie. Die groot probleem lê by ons teologiese fakulteite en wat daar geleer word. Nie een dosent van enige van ons fakulteite het sover ek weet hom teen hierdie besluit uitgespreek nie. En dis hierdie manne wat die nuwe geslag predikante vorm! As daar nie ‘n nuwe alternatief vir die huidige stelsel van teologiese opleiding gevind word nie, sal dinge al donkerder word. Hier in Namibië het ons vir NETS wat goeie Skrifgefundeerde opleiding aanbied, dis beslis ‘n moontlikheid wat ondersoek moet word. Gooi die juk van die teologiese fakulteite af, sodat ons weer die Here kan dien in die lig van sy Woord!

DERDE GROEP

Ek het aan die begin gesê dat daar twee groepe onderskeibaar in die huidige debat is. Dis bietjie van ‘n oorvereenvoudiging. Daar is myns insiens ook ‘n derde groep. Dis predikante (en lidmate) wat waarlik die Here liefhet en Hom wil dien, maar weens ‘n verskeidenheid van redes nie hulle stem tans laat hoor nie. Hulle is dikwels ook nie voldoende ingelig nie en val maklik die propaganda van “julle is liefdeloos teenoor gays” ten prooi. Hulle is ook teologies onseker, want hulle word nou al jare lank beïnvloed deur die teologie van twyfel wat aan ons almal opgedis word op universiteit. (Baie van hierdie broers is tydens hulle opleiding nooit aan goeie Gereformeerde teologie blootgestel nie. Ek het simpatie met hulle, want ek moes ook TUKKIES se opleiding verduur!) Teenoor hierdie groep het Bybelbehoudendes ‘n groot plig. Ons sal hulle met groot geduld en dade van barmhartigheid van ons Christusliefde vir alle sondaars moet oortuig. Ons sal daarom met deernis en begrip na hulle standpunte moet luister en op so ‘n manier daarop antwoord dat hulle sal kan sien dat dit vir ons waarlik oor die heil van die sondaar, gehoorsaamheid aan die Woord en die eer van God gaan.

KEUSE

Uiteindelik sal die NG Kerk tot ‘n keuse gedwing word. Lig en duisternis kan op die ou end nie saam bestaan nie. Mag die lig wen en die duisternis padgee! Die Bybel en ons kerk se belydenisskrifte is immers aan die lig se kant. Die wat na alles nie die pad van die lig wil loop nie, moet liefs dan maar gaan...

Donderdag 19 November 2015

NIE ‘N “CELEBRITY” NIE

- Jesus het nie ‘n filmster voorkoms of glansgans persoonlikheid gehad nie, maar net Hy kan jou voorberei vir daardie groot afspraak!


Voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Wees voorbereid vir jou eksamen, lisensie uitpasering, om jou rekenings te betaal, vir daardie belangrike werksonderhoud...

Saterdag 14 November 2015

Liberté, égalité, fraternité...

- word uitmekaargeruk deur ontploffings en geweerskote toe SATAN GESOEN WORD.



Weereens is Frankryk (en die wêreld) in ‘n toestand van skok en verdwasing! Die wonde van die Charlie Hebo aanvalle vroeër vanjaar het nog skaars genees toe word die hart van Frankryk oopgeruk deur ‘n skaal van geweld wat ongekend in die land is sedert die Tweede Wêreldoorlog.



‘n Paar gedagtes kom sommer vinnig by my op:

Wanneer gaan die wêreld leer dat die utopie waarna almal smag en verwoord word in die strydkreet van die Franse rewolusie naamlik, liberté, égalité, fraternité… ‘n altyd ontwykende ideaal sal bly vir hierdie sondige bestel? Ware vryheid is slegs te vind in Jesus, gelykwaardigheid (daar bestaan nie iets soos gelykheid nie) is slegs te vind in die nuwe gemeenskap van gelowiges wat Jesus skep en egte broederskap kan nooit bestaan sonder ons ouer broer Jesus nie. Die volheid van hierdie nuwe lewe is iets waarna ons smag en streef, maar sal eers volkome word met die finale verlossing by die wederkoms.

Daar is ook ‘n stuk wrange ironie wat mens kwalik kan miskyk. ("afgryslik" is dalk 'n meer gepaste woord) Die groot slagting het plaasgevind tydens ‘n optrede van die alternatiewe Amerikaanse groep, "Eagles of Death Metal”. Volgens die pers* het die skietery begin kort nadat die groep begin het met een van hulle gewilde nommertjies, "Kiss the Devil." Het ons hier te maak met ‘n misvoltreffer in die geestelike realm? Kry die mens wat hy regtig soek?

Europa het ‘n (partykeer letterlik) sterwende kontinent sonder ware leierskap en norme geword. Dis duidelik dat vryheid en dit ‘n vryheid sonder die norme en grense van die Woord, te ver gevoer is. Europa het nie meer die ruggraat om op te staan vir Christelike waardes nie. Hierdie lam in die knieë kultuur het geen teenvoeter of boodskap van hoop vir die groeiende Moslem bevolking in sy midde en die honderde duisende wat daarheen op pad is nie. Dis ‘n kontinent waarin die evangelie bykans uitgesterf het. Wat is die statistiese kans dat ‘n Moslem immigrant met ‘n wedergeborene se getuienis te doen gaan kry en so hoop en bevryding in Jesus kan vind?

Die veragtelike daad van Islamitiese terroriste moet in die sterkste moontlike taal veroordeel word en met die sterkste moontlike optrede beveg word. En tog mag dit ons nie daarvan weerhou om God se hand agter alles raak te sien nie! God het immers nie geskroom om sy volk Israel deur die geweld van heidennasies te straf nie, daar is ook niks wat Hom keer om sy oordele oor 'n goddelose humanistiese Frankryk (en westerse beskawing) uit giet en Moslem radikale as instrumente te gebruik nie.

Die armoede van president Francois Hollande se boodskap kort na die krisis bevestig maar net weer die leegheid van sekulêre humanisme. Die land van ons Hugenote voorouers se jare lange geestelike bankrotskap het ‘n vreeslike tol geëis, wat baie meer en skrikwekkender is as die hartseer verlies van menselewens waarmee ons nou gekonfronteer word. Die hutsmerk #PrayForParis wat nou so gewild op Twitter is, laat mens wonder waarvoor nou juis gebid moet word? Miskien moet ons bid dat God in sy genade die oë sal open van ‘n volk wat lankal nie meer bid nie, omdat hulle die Middelaar deur wie ons moet bid glad nie ken en eer nie!

Ja, en tog ons kan bid en almal wat daar die evangelie verkondig ondersteun. Niks is immers vir God onmoontlik nie! Ook nie om Franse en Moslems te red nie! (Kliek FRANSE HERLEWING)

[Kort hierna het baie gesterf... terwyl hulle die satan eer... die duiwel is 'n mensemoordenaar volgens Jesus]

*Onder andere die Franse koerant, Le Figaro : "Au Bataclan, la fusillade éclate au son de Kiss the Devil"

Vrydag 13 November 2015

GEVEG IN DIE VOLKSBLAD

Die Algemene Sinode se skokbesluit om praktiserende homoseksuele predikante tot die bediening toe te laat, het 'n diepe teologiese verskeurdheid binne die NG Kerk blootgelê. Dis 'n keuse tussen gewiligheid aan die tydsgees of gehoorsaamheid aan die Skrif. Daar is wel sekere pogings om die sinodebesluit as gehoorsaamhed aan die Skrif aan die publiek te verkoop. Dit mag dalk vir sommiges geloofwaardig klink (en ek wil ook nie te kenne gee dat almal wat die besluit steun, nie respek het vir die Bybel nie), maar dis duidelik ook nie waar dat slegs die Skrif 'n faktor in die besluit was nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg wys in 'n antwoord op Prof Hermie van Zyl se rubriek* in die VOLKSBLAD duidelik uit dat die Algemene Sinode nie kan aanspraak maak dat hulle by die Sola Scriptura beginsel gehou het nie.

Lees hieronder Prof. Janse van Rensburg se brief in die Volksblad :

Die willekeur waarmee korrespondente oor die Skrif en homoseksualiteit skryf, wil ’n mens laat huil. 

Die skrywe van kollega Hermie van Zyl is egter ’n ander saak. Sy vorige bydrae het my genoop om kommentaar ter wille van kollegialiteit te weerhou. Die jongste bydrae in Woord en Perspektief (10/11) laat my geen ander keuse as om te reageer nie. 
Dit is al ’n bietjie uitgedien om die Kopernikaanse omwenteling (korrektief op die Bybelse beeld van ’n aarde wat plat is) as bewys aan te voer dat die kerk ook vroeë wetenskaplike navorsing verwerp het. 
Daar is ’n groot verskil. Copernicus se navorsing was op wetenskaplike feite gegrond. Geen wetenskaplike sal vandag daarvan verskil nie. 
Maar met die Skrifinterpretasie oor homoseksualiteit is dit eenvoudig anders. Die nuwe wetenskaplike ontwikkeling wat na bewering ’n ander betekenis aan die sogenaamde anti-gay­teks­te gee, is op teorieë gegrond wat nie deur alle wetenskaplikes gesteun word nie. 
As die hermeneutiek wat prof. Hermie en die sinode voorstaan, so wetenskaplik is, waarom is daar ander wetenskaplikes soos prof. Jan du Randt (SA) en William Lane Craig (VSA), om net twee van ’n hele rits gesiene eksegete te noem, wat nie hierdie sogenaamde nuwe wetenskaplike insigte onderskryf nie? Wêreldwyd is daar wetenskaplikes wat nie met die Skrifverklaring van die sinode saamstem nie.
Prof. Hermie voer aan dat die sinode net soveel op die sola Scriptura-beginsel (die Skrif alleen) aanspraak kan maak. Gegrond op die ervaring van talle wat daar teenwoordig was, blyk dit dat die Skrif nie die enigste norm was nie, maar dat buite-Bybelse getuienis en emosionele manipulasie ’n groot rol gespeel het. 
Die taakspan se verslag aan die sinode het ’n hele afdeling oor buite-Bybelse motivering vir die aanvaarding van selfde-geslagverhoudings. 
Trouens, Hermie se betoog steun ook op buite-Bybelse argumente. 
Hermie verwys na “onomkeerbare kern-homoseksualiteit”, bedoelende dié wat só gebore is. Dit word dan ’n soort natuurlike teologie wat Bybelse beginsels kan korrigeer.
Die waarheid is egter dat ’n gay-geen nog nie gevind is nie en nie deur navorsing bevestig kon word nie. Ook hier ly die beweerde wetenskaplike insigte aan gebrekkige integriteit. 
Die poging om die nuwe interpretasie van die Skrif wetenskaplik te regverdig, slaag eenvoudig nie.
Prof. Johan Janse van Rensburg

*Prof Hermie se skrywe: 


Die gay-besluit en sola Scriptura

DIE besluit van die NG Kerk om praktiserende homoseksuele toe te laat tot die kansel en die kerklike bevestiging van verbintenisse van liefde en trou, het ’n hewige polemiek ontketen. In hierdie debat word die slagspreuk sola Scriptura telkens gebruik, veral deur hulle wat die besluit teenstaan.
Sola Scriptura beteken “(deur) die Skrif alleen” en dateer uit die tyd van die kerklike reformasie in die 16de eeu. Die hervormers het dit gebruik in hul stryd teen die Roomse Kerk om te sê dat die pous en die tradisies van die kerk ondergeskik is aan die Woord van God. Die Skrif alleen – nie die pous of tradisie nie – bepaal wat gesagvol is vir leer en lewe.

Hieruit vloei ook verdere oortuigings voort, soos dat die Bybel onfeilbaar is in sy uitsprake oor sake van geloof en lewe, dat dit duidelik en genoegsaam is in sy heilsbedoeling, dat dit homself interpreteer wanneer Skrif met Skrif vergelyk word, en dat elke gelowige, gelei deur die innerlike verligting van die Heilige Gees, direkte toegang tot die Woord van God het.
Hulle benodig nie geleerdes of die kerk se verduideliking om dit te verstaan nie.
Toegepas op die gay-debat beteken dit dat die Skrif se uitsprake teen homoseksualiteit helder en duidelik is. Ons het geen verduidelikings nodig nie. Enige poging om iets anders te sê as wat daar staan, ondergrawe die gesag van die Skrif.
Gesonde uitlegbeginsels van die Bybel, soos oor tyd heen ontwikkel, het egter nog altyd gesê dat die sola Scriptura-beginsel nie op ’n klakkelose manier aangewend kan word nie, veral nie wanneer daar ’n klaarblyklike spanning tussen die Bybelse en hedendaagse wêreldbeeld ontstaan nie. Anders bevind die kerk hom later op ’n eiland van ongeloofwaardigheid. 
’n Voorbeeld: Om vandag daarop te staan dat die aarde plat, stewig op sy pilare gegrondves en onwankelbaar is, net omdat die Bybel dit duidelik sê (1 Sam. 2:8; Ps. 93:1), maak jouself nie net belaglik nie, maar ondergrawe juis so die Bybel se gesag. 
Dié voorbeeld is nie so onskuldig nie. Vandag aanvaar ons ’n ronde aarde en ’n heliosentriese sonnestelsel as vanselfsprekend, maar toe die moderne wetenskap nog in sy kinderskoene gestaan het, het die kerk dié nuwe insigte hewig teengestaan – op grond van die Bybel!
Gelowiges moet dus naas die Skrif as bron van gesag, ook die getoetste insigte van die natuurwetenskap as gesagsbron vir leer en lewe erken. Skrif en natuur staan nie prinsipieel teenoor mekaar nie, want die God van die Bybel is ook die God van die natuur. Hy is immers die Skepper van alles. Die vraag is net hoe ons die gegewens van albei met mekaar in verband moet bring. Dis nie altyd ’n maklike taak nie, soos nou blyk in die gay-debat.
Van tyd tot tyd kom daar nuwe insigte op die tafel wat die kerk dwing om weer met nuwe oë na die werklikheid te kyk. 
En dis al lank dat die kerk gekonfronteer word met die verskynsel van onomkeerbare kern-homoseksualiteit, en dat daar gelowiges met so ’n oriëntasie is wat ’n tuiste in die kerk soek. Hulle wil nie losbandig en buite die kerk lewe nie, maar as belydende Christene en volle mense hul plek in kerk en samelewing inneem.
Wat verder vir die kerk duidelik geword het, is dat die tekste wat oënskynlik anti-gay is, eintlik nie veel hiermee te doen het nie, maar wel degraderende en afbrekende homoseksuele praktyke afwys. Hierbenewens dring die Skrif ons daartoe om insluitend te werk te gaan, ook ten opsigte van hulle wat na ons mening “teen-natuurlik” is.
Die sola Scriptura-beginsel stel dus nie erkende uitlegbeginsels buite werking nie, maar sluit dit in. Die punt is: Sola Scriptura is nie net die prerogatief van téénstanders van die NG Kerk se besluit nie, maar ook van die vóórstanders daarvan.

Donderdag 12 November 2015

‘N BAIE “LEKKER” TEKS

- maak beslis erns hiermee, dis baie belangriker as wat jy dalk besef...


Ons lees in 1 Tessalonisense 5:21 - “Beproef alle dinge...” (OAV) “toets dit alles...” (NAV)

Toets alle dinge! A!, hier is nou ‘n lekker teks vir ‘n sondaar! Hier is nou ‘n Bybelvers wat my pas en vir my vryheid gee om te doen net wat ek wil. Nou mag ek alles toets : ek kan nou alle vorme van losbandigheid uittoets, ek kan maar ongetroud saambly – ek is mos net besig om te toets of dit werk, ek kan maar alles uitprobeer van dagga tot dobbel! Als van leuens tot loterykaartjies! Hier gee die Bybel my mos die reg om dit te doen... Blykbaar is daar baie ouens wat in ons tyd so redeneer... en tog is hulle TRAGIES VERKEERD!

Hierdie teks (of dan nou net ‘n gedeelte van ‘n teks) “toets alle dinge” (OAV – “beproef alle dinge”) is baie bekend en baie gewild. Dis egter ‘n tipiese voorbeeld van hoe die duiwel die Bybel misbruik. Dis natuurlik nie ‘n nuwe taktiek van Satan nie. Hy het dit al met Jesus self gedoen. In Matteus 4 lees ons hoe Satan, Jesus in die woestyn versoek het en Bybeltekste uit konteks aanhaal om Hom te probeer mislei... Ja, die Bybel kan ‘n baie gevaarlike boek wees in die verkeerde hande, of as ons dit lees met ‘n verkeerde of moedswillige gesindheid!

Kom ons kyk na hierdie teksgedeelte self. Wat beteken dit nie en wat beteken dit wel? Kom ons lees dit binne konteks:

“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.
Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.” (1Tessalonsense 5:19-22)

Dit beteken duidelik nie dat ek maar allerhande sondes kan uitprobeer nie. As mens na die wyer konteks van hierdie brief kyk is dit onmoontlik dat Paulus hoegenaamd so iets hier kan bedoel. Juis in hierdie brief waarsku hy baie ernstig teen sonde en veral seksuele sonde. (1 Tess 4 :1-8)* Die onmiddellike konteks maak dit eweneens duidelik dat hier geen wilde vrypas te vinde is om alles wat voorkom uit te toets nie. In dieselfde asem word ons duidelik gewaarsku – “bly weg van alles wat sleg is.”(22) Nêrens in die Bybel word ons ooit aangemoedig om met sonde te eksperimenteer nie! Inteendeel! Ons moenie eers praat oor die bose dinge wat mense in die donker doen nie...(vgl. Ef 5:10-12)

Maar kom ons vra positief wat beteken hierdie gedeelte wel? Die antwoord is nie so moeilik nie. Kyk net na die KONTEKS. (terloops dis ‘n goue reël vir die verstaan van die Bybel – kyk na die onmiddellike konteks en ook na die groter geheel van die betrokke brief of geskrif en ook na hoe dit in die geheelboodskap van die Bybel inpas)

PROFESIE

Die konteks is dat ons moet pasop om nie die werking van die Heilige Gees teen te staan of te verwerp nie. Ons moet nie die gawes wat van die Gees afkom verwerp of geringskat nie. Die een gawe wat Paulus hier uitsonder is die gawe van profesie. Nou oor profesie is daar baie verskillende sienings. Die belangrikste is net om raak te sien dat die doel van profesie is om mense geestelik op te bou, te bemoedig, te waarsku en te vertroos. Profesie het in hoofsaak nie gegaan oor die toekoms nie, maar om ander gelowiges te versorg deur die toepassing van die Woord. Iemand met ‘n profetiese gawe breek vir jou die Woord oop in jou situasie. (Handelinge 15:32; 1 Korintiërs 14:3) Dit sluit egter nie uit dat daar soms ‘n toekoms element in mag wees nie. Belangrik net - die hele klem in die NT is nie op persoonlike voorspellings nie, maar oor hoe ons as Christene hier en nou moet heilig leef tot God se eer! Profesie gaan dus oor die toepassing van die Bybel se boodskap in ons lewens.

Paulus sê dus : Maak erns met God se Woord in jou lewe! Luister na die prediking. Luister na mense wat jou bemoedig en vermaan uit die Woord. Moet dit nie verag of geringskat nie!** 

TOETS DIT AAN DIE WOORD VAN GOD – ONS ENIGSTE VASTE NORM!

Maar baie belangrik : Toets dit alles! Dit wat jy hoor, moet jy toets. Jy moet dit toets aan God se Woord. Toets dit ook saam met medegelowiges wie se lewens wys dat hulle getrou en volhardend tot eer van God leef. As die preek of vermaning wat jy gehoor het, in lyn met die Bybel is, is dit jou verantwoordelikheid om erns daarmee te maak. As die preek wat jy hoor teen die Bybelse boodskap in geheel indruis, dan moet jy dit verwerp. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

In ons dag is hierdie oproep so aktueel en uiters belangrik. Ons word toegegooi met opinies, preke en geskrifte, valse teologie (Sinodebesluite?) en wolhaarstories, veral op die TV en Internet. Allerhande wilde boodskappe en bewerings word per e-pos rondgeslinger. Geestelike onderskeidingsvermoë is uiters noodsaaklik. Moenie net enige ou glo wat ‘n goeie spreker is en ‘n klomp Bybeltekste inryg en aanhaal nie. (Losstaande Bybeltekste kan baie gevaarlik en misleidend wees– ons het dit mos so pas gesien!) 

Toets eers wat jy hoor en lees. Moenie weghardloop met elke nuwe idee en lering nie. 

Toets dit deur erns te maak met die geheelkonteks van die Bybelse boodskap. Meer as ooit is dit nodig om te besef dat die Woord van God die enigste vaste waarheid en norm is!

Toets dit saam met standvastige medegelowiges! 

Toets dit aan die boodskap en belydenis van die kerk van alle eeue! As iemand met 'n heel nuwe leerstelling of verstaan van die Bybel na vore kom, hoe oortuigend ook al kan jy maar weet daar is iewers 'n slang in die gras....

Dit alles onderstreep net die feit hoe belangrik dit is om saam as gemeente die Here te dien en nie elkeen op ons eie rond te ploeter nie!

Mag God aan ons insig en vastigheid gee in hierdie verwarrende tye! Hy sal dit doen - deur sy WOORD en die werk van die GEES!

*1 Tessalonisense 4:1-8

En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.

Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het.

Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.

Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;

julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.

Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.

God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.

Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

**Moontlik het sommige mense in die gemeente die Woorduitleg begin verag, omdat daar ‘n ongebalanseerde en oorentoesiastiese siening oor die wederkoms in hierdie gemeente was.

                                     ???????????????



Woensdag 11 November 2015

MOEDIGE MALTAHÖHE

- laat ook van hulle hoor!



[Die weerstand teen die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings groei nog steeds. Dis nie net groot gemeentes soos Moreleta Park nie, maar ook klein gemeentetjies soos Maltahöhe wat hulle plig nakom binne die liggaam van Christus. Onderstaande is van broer Eddie van der Merwe ontvang]

Verklaring van Maltahöhe N.G. kerk aan die Namibiese sinode van die N.G. Kerk t.o.v. die algemene sinode se uitspraak oor homoseksualiteit.

Na baie gesprekke, eposse ontvang van verskillende kante af, intense gebed om Vader se stem te hoor, verwerp ons die uitsprake van die algemene sinode in totaliteit.

MORELETA PARK MAAK STEM DIK TEEN AS BESLUIT


Die NG Kerk Moreleta park is een van die grootste en invloedrykste NG gemeentes in Suid-Afrika. Hulle het nou na 'n aanvanklike verklaring 'n meer uitvoerige standpunt ingeneem rondom die Algemene Sinode se dwaalbesluit. Dis duidelik dat hulle hulle beywer vir 'n herroeping of verandering van die AS se onbybelse standpunte. Hiervoor gaan hulle die kerkordeelike weg volg, maar indien daar geen resultate is nie, sal hulle weer herbesin.'n Mens kan maar net wonder... moontlik afskeiding of doleansie? Kom ons ondersteun hulle in die proses, spesifiek ook met voorbidding. Ds. Dirkie van der Spuy wat voorheen ook 'n leraar van die NG Kerk Pionierspark in Windhoek was, is ook betrokke in hierdie gemeente.



VERKLARING VAN DIE KERKRAAD VAN MORELETAPARK OOR DIE ALGEMENE SINODE VAN 2015 SE BESLUIT OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

Die Kerkraad van Moreletapark Gemeente het tydens hul sitting op 29 Oktober 2015 eenstemmig besluit om standpunt in te neem teen die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslagverhoudings. Die Kerkraad is oortuig dat hulle besluit, wat in hierdie verklaring opgesom is, die weg aandui wat God vir hulle kom aanwys het.

Die eerste en grootste gebod is dat ons God moet liefhê bo alles en die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (vgl. Matt.22:37-39). Daarom verklaar die Kerkraad dat hulle so lief vir God is dat hulle Hom in elke besluit bo alles wil eer deur aan Hom gehoorsaam te wees (vgl. Ps. 119:30-35). Die Bybel is duidelik dat God genadig én regverdig is. Daarom is Hy lief vir alle mense maar keur Hy sonde af, omdat dit ons verhouding met Hom skaad. Alle mense sondig en kan alleen op grond van God se genade vrygespreek en deur geloof sy kinders word (vgl. Rom. 3:23). God se bevel aan sy kinders is dat sonde nie in hulle lewens moet heers nie maar dat hulle moet wegdraai daarvan af en volhardend daarteen moet stry (vgl. Rom. 6:14). Die Kerkraad bevestig daarom dat hulle nooit ‘n besluit sal neem wat enige sonde toelaat of goedkeur nie. 

Die Kerkraad het geen begeerte om ‘n enkele sonde uit te lig nie, maar die besluit van die Algemene Sinode dwing hulle egter om in dié geval standpunt in te neem, aangesien geslagsgemeenskap buite die raamwerk van ‘n huwelik tussen een man en een vrou volgens die Bybel, verkeerd is. 

Die Kerkraad wil dat die Gemeente se standpunt, sowel as die kerklike proses wat gevolg word om beswaar aan te teken teen die besluit van die Algemene Sinode, ‘n getuienis moet uitdra wat Bybels en Kerkordelik begrond is. Die Gemeente wil in die proses saamwerk om ‘n oplossing te kry waardeur God geëer sal word en die kerk se getuienis na en teenoor alle mense nie sal skade ly nie. As ‘n evangeliese Gemeente, wat die Bybel aanvaar in al die beginsels wat dit leer (Sola Scriptura), wil ons dat ‘n verantwoordelike interpretasie van die Bybel die lig vir die pad vorentoe sal gee.

Die Kerkraad het besluit dat die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings, nie aanvaar kan word nie op grond daarvan dat dit (inter alia):

1. Die sonde van die beoefening van homoseksuele geslagsgemeenskap ontken.

2. Die beoefening van volhardende sonde in leraars se lewens aanvaar.

3. Die Bybel op ‘n liberale en humanistiese wyse uitgelê word wat in stryd is met die byna 2000 jaar oue hoofstroom Christelike en byna 500 jaar oue gereformeerde uitleg van die Bybel.

4. ‘n Verbintenis, ingesluit die beoefening van die seksuele, buite die konteks van die huwelik erken terwyl die Bybel, sowel as in die besluite van die Algemene Sinode, die huwelik slegs as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou beskou.

Alhoewel die besluit van die Algemene Sinode die reg aan kerkrade gee om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël, glo die Kerkraad dat hierdie ‘n tyd is waar daar opgestaan moet word teen sake wat van kardinale belang is vir die integriteit van die evangelie en die getuienis van die kerk.

Die Kerkraad sal daarom die volgende proses volg om sy getuienis te laat hoor en die onaanvaarbare dele van die besluit van die Algemene Sinode te laat verander of herroep, nl.:

1. Gesprekke sal met die ring van Elarduspark gevoer word.

2. ‘n Brief sal aan die Diensraad van die Oostelike Sinode gerig word waarin die Gemeente haar distansieër van die besluit van die Algemene Sinode en vra dat ‘n spesiale sitting van die Oostelike Sinode gehou word om standpunt in te neem teen die besluit.

3. Indien die bogenoemde proses onsuksesvol sou wees sal die Gemeente, in die lig van die omstandighede dan, herbesin. (vetdruk - my beklemtoning)

4. Die Gemeente sal ingelig bly en die geleentheid gegee word om deurentyd deel te neem aan die proses. 

As leierskap van die gemeente wil ons die gemeente lei om te fokus op dit waarvoor God ons hier op aarde geplaas het naamlik deur saam met mense ‘n pad te stap sodat almal Jesus kan leer ken en in verhouding met Hom kan leef (vgl. Mat 28:19-20). Ons begeerte is dat alle mense die God mag ontmoet wat so lief was vir die wêreld dat Hy sy Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (vgl. Joh. 3:16). Die Gemeente het begrip vir spesifieke uitdagings waarmee mense sukkel maar wil hande vat sodat ons mekaar kan help in ‘n lewe van groei in Christus. 

Soli Deo Gloria

Moreletapark Gemeente

3 November 2015



Vrydag 06 November 2015

Teen-Evangelie strategie

- die besluite van die Algemene Sinode om selfdegeslagverhoudings goed te keur en kerklik te seën, is baie meer as maar net ‘n etiese kwessie!

Oor etiese kwessies en die fynere toepassings daarvan sal daar altyd verskille onder Christene wees. Mag ‘n Christen rook, kaartspeel of sport op Sondag beoefen? Watter dae is belangrik en watter kos mag ons eet of nie...? Die Bybelse beginsel in sodanige sake is verdraagsaamheid, vryheid en die inagneming van die swakker broeder se gevoelens...

Wanneer iets wat die Bybel duidelik sonde noem egter nie alleenlik oorgesien, goedgepraat, maar selfs kerklik gesanksioneer en geseën word, dan is die hart van die evangelie op die spel. My vriend dr. Hein Strauss het dit baie skerp opgesom in sy opmerking : “Dit bly my verstom dat die hele gay-kwessie tot so 'n uiters doeltreffende teen-Evangelie strategie ontwikkel het...” Dis presies waaroor dit gaan – die gay agenda is ‘n teen-Evangelie aksie! Die Algemene Sinode besluit is ‘n besluit teen Christus en sy evangelie!

Kan mens so sê? JA! Ek gaan verduidelik hoekom.

Kom ons kyk na 1 Korintiërs 6:9-11 "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God."

Hier is ‘n lys van dinge wat die Here baie ernstig opvat. En ja, laat ons baie konsekwent wees, nie alleenlik homoseks is ‘n afskuwelike sonde nie, maar ook dronkenskap of skinder! Dis ‘n teks wat ons almal weer moet laat sidder... Nou waarom is die sinodebesluit oor homoseksualiteit dan so erg?



Kan ons dit nie maar goedpraat nie, want is ons nie almal maar in elk geval skuldig aan iets soos gierigheid of bedrog (daai belastingopgawe!) nie?



Hier kom ons nou by die verskil. Geen sinode (so ver ek weet) het dronkenskap of gierigheid al tot ‘n aanvaarbare leefstyl verklaar wat amptelik deur die kerk geseën mag word nie!



As sonde tot niet verklaar word, word die evangelie ook oorbodig verklaar! Dan was die plaasvervangende kruisdood van Jesus en sy liggaamlik historiese opstanding ook mos nie nodig nie! En hier kan ons twee en twee bymekaar begin tel. Die groot voorpraters van die gay agenda is nie juis bekend as mense wat sterk staan vir die kruisboodskap en die historiese opstanding nie. Gaan kyk maar. (daar sou wel uitsonderings kon wees) Diegene wat die Algemene Sinode se gaybesluit bevorder het of nou toejuig is (meestal?) mense wat dikwels ander basiese Bybelwaarhede ontken. Dis mense wat binne die dampkringe van die sogenaamde Progressive Christianity beweeg en opereer. Hierdie rigting verkondig lankal nie meer die kruisevangelie van verlossing deur die bloed van Jesus nie. Hulle praat wel van sy kruisdood maar slegs in die sin van ‘n heldedood vir ‘n goeie saak. In die sin waarvolgens Martin Luther King of Dietrich Bonhoefer ook hulle lewens vir ‘n goeie saak opgeoffer het. (Kliek op MARCUS BORG) Hulle staan nie by die raamwerk van die Heidelbergse Kategismus van sonde, verlossing en dankbaarheid nie. Jesus is vir hulle maar net ‘n morele hervormer. En Hy is vir hulle ook maar net een van baie hervormers in dieselfde klas as 'n Boeddha of 'n Mandela.



Die Algemene Sinode besluit raak die hart van die evangelie! Die saak is baie belangriker as wat ons dalk besef.



Die NG Kerk staan hier voor ‘n lakmoestoets of ons hoegenaamd voor die openbaring van God se woord gaan buig en of ons ‘n mens gemaakte godsdiens beoefen? Eer ons God of is ons gedienstig aan die grille en giere van die sondige mens?


Die verwyt word gehoor : “Seksualiteit is hoegenaamd nie so ’n kern-saak in die geloof dat dit afskeiding regverdig nie.”

So op die oor af klink dit na ‘n heel aanneemlike stelling. Die Christelike boodskap het immers baie meer om die lyf as ‘n bepaalde seksuele moraal of gedragskode. Maar kom ons dink ‘n bietjie dieper en luister na die wyd erkende wyd erkende en bekwame teoloog, D.A. Carson :


"At one level I want to say that homosexuality is the wrong issue to divide the church over. It reminds me a bit of what happened at the reformation when Martin Luther nailed the 95 thesis to the gate, to the door of the Wittenberg church in 1517. The trigger issue was selling of indulgences. Imagine splitting the entire western church over indulgences! In one sense it was the wrong issue, but it became the trigger issue about whether you live under the Bible or not…….it affected everything. Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or latter you face that issue or you die."



Nie net die Baptis, Carson help ons hier nie, ook die Anglikaan, JI Packer

Nadat die Anglikaanse kerk se sinode van New Westminster in Junie 2002 aan biskoppe in hulle gebied die reg gegee het om homoseksuele persone te trou, het dr JI Packer (bekende gereformeerde Christen skrywer en teoloog) saam met ’n aantal sinodegangers as teken van protes die sinodesaal verlaat. Dr JI Packer het ’n artikel geskryf om sy protes-optrede te verduidelik. Sy hoofrede oor hoekom hy uitgestap het, spel hy vir ons baie duidelik uit. “Why did I walk out with the others? Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.” 

Ja, op sigself is seksualiteit miskien nie so ‘n kernsaak nie, maar in ons huidige debat en konteks, gaan dit wel oor een geloofsbelangrike kernsaak : Erken ons nog die Woord van God as die finale gesag in leer en lewe? Staan ons nog hoegenaamd by die evangelie van Jesus Christus? Dis die antwoord wat die NG Kerk en elke lidmaat nou afsonderlik moet gee..

"Ja, maar julle oordryf als. Die Algemene Sinode besluit stel tog duidelik dat elke kerkraad sy eie diskresie mag gebruik...", so word ons gepaai. D.A.Carson het weer wyse woorde in die verband :

"You see they’ll start off by saying “We’ll allow each church to decide on their personal preference” and so it seems big hearted and wide minded to allow diversity of opinion on this, but pretty soon when more of those people get into office, what I’ve discovered is that, in the vast majority of cases, the least liberal people in the world are liberals, that is they are the least yielding, the least flexible, and pretty soon they start saying that unless you espouse egalitarianism, unless you espouse the legitimacy of homosexuality therefore you are out of here! Well at some point then it becomes a matter of absolute conscience, you have got no choice in the matter."

Mag ons hierdie wyse waarskuwing ter harte neem...

Diegene van ons wat sterk oor die AS se besluit voel en ons daarvoor beywer dat Ringe en Sinodes drasties moet standpunt inneem, word nou beskuldig van verwaandheid, onregverdigheid en natuurlik liefdeloosheid. Ons hoor ook verwyte dat ons nie weet hoe om 'n teks binne konteks te interpreteer nie, ons is bloot moraliste wat dan nou kwansuis nie weet Christenskap gaan oor 'n verhouding nie, ons sou dan net in 'n toornige God glo wat straf en nie in die verlossing wat Jesus bring nie... Dis alles pogings om 'n karikatuur te maak van mense wat maar net in nederigheid aan God se Woord gehoorsaam wil wees. Maar laat ons maar hierdie beledigings met blymoedigheid dra ter wille van die eer van God en die saak van die evangelie!

Naskrif : Die groep Suid Kaapse rings verteenwoordigers se sterk protes, is myns insiens dus geregverdig! (Kliek op SUID KAAP) Die stryd gaan daaroor of daar nog hoegenaamd plek vir die evangelie in die NG Kerk is!

Donderdag 05 November 2015

WAT GAAN HIER AAN?

VRAE AAN DIE MODERATUUR VAN DIE ALGEMENE SINODE.


Op Saterdag 10 Oktober kry ons die volgende skrywe van die kerkkantoor in Windhoek (NGKN) :

Vriende,

Hiermee die volledige besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge soos deur die Algmene Sinode se kantoor beskikbaar gestel. *

Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.

2 Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.

Op Vrydag 16 Oktober kry ons die volgende weergawe van die AS notule oor selfdegeslagverhoudings van die Namibiese kerkkantoor

Die volgende addisionele besluite is ook geneem:

1. Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.

2. Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie besluit oor selfdegeslagverhoudings nie van toepassing is op die Sinode van Namibië nie.



Punt twee lyk nog steeds dubbelsinnig (waarna verwys “hierdie”? Die interpretasie van die Namibiese moderamen is dat dit beteken dat die besluit in geheel nie op Namibië van toepassing is nie. Dis duidelik uit die volgende aanhaling uit die pastorale brief van die moderamen van Namibië :

"1. Wat is die status van die Algemene Sinode se besluit in Namibië? Hoekom het ons eers gehoor net een punt is nie van toepassing nie, maar later die hele besluit is nie van toepassing hier nie?

Die besluit is in sy geheel nie hier te lande van toepassing nie omdat die Algemene Sinode dit (op voorstel van twee Namibiese afgevaardigdes) so besluit het.

Ongelukkig het die Algemene Sinode aanvanklik ’n foutiewe formulering van die besluit vrygestel. Daarin is gesê dat net die punt wat handel oor die burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie op Namibië van toepassing is nie. Toe die Namibiërs in die land teruggekom het na die sinode, het ds. Hendrik van Zyl dadelik op die fout gewys en hom daarvoor beywer om die korrekte formulering te kry.

Ons vra verskoning vir hierdie geharwar!"


MY VRAE : Hoe kan ‘n belangrike kerkvergadering soos die Algemene Sinode so met ‘n notule werk? Wie is verantwoordelik en wat is hier aan die gang? Wat het die AS in elk geval met die woord "afdwingbaar bedoel? Waartoe wil julle ons dwing? Besef die Algemene Sinode wat die implikasies is as ‘n gedeelte van ‘n besluit nie op een bepaalde sinode van toepassing is nie, oënskynlik omdat dit teen landswette is? Neem die AS besluite in die lig van die Skrif of in die lig van landswette en politieke korrektheid? Wat is die implikasies vir kerkverbandelike eenheid in leer en lewe, soos onder meer legitimasie vereistes? Wat is die AS se interpretasie van "hierdie" in punt 2 van die hersiene notule? Stem die moderatuur en spesifiek die Algemene Regskommissie saam met die interpretasie van die Namibiese moderamen (soos verwoord in hulle pastorale brief)?
Julle antwoorde is nogal baie belangrik!

*Ek haal net die laaste twee punte van die notule aan, want dis waar die verskil inkom.

IS DIE EVANGELIE NOG RELEVANT?

Maak Jesus en die evangelie regtig ‘n verskil vir mense wat worstel met droogtes, geldelike probleme en siektes? Bied die evangelie enigsins hulp vir mense met hartseer, pyn, bekommernisse of vrese? Kom ons wees eerlik - Die meeste mense dink die evangelie is nie meer relevant nie! Daarom doen hulle selde die moeite om daarna te luister en nog minder moeite om dit te glo en daarvolgens te leef!

Jesus sê vir ons baie duidelik wat die relevansie en die belangrikheid van die evangelie is in MARKUS 10:28-31. Die agtergrond van Jesus se woorde is natuurlik sy ontmoeting met die ryk jongman. Die ryk jongman wou baie graag die ewige lewe verkry, maar hy was nie bereid om afstand te doen van die een groot ding wat hom verhinder het om Jesus te volg nie. Ons weet sy groot probleem, sy sonde wat tussen Hom en Jesus gestaan het was sy gierigheid – sy liefde vir geld en besittings. Toe Jesus hom dus uitdaag om afstand te doen daarvan en Hom te volg het hy bedruk weggegaan. 

So baie mense sien nie kans om Jesus te volg nie weens een of ander ding wat ‘n houvas op hulle het....

In teenstelling met die ryk jongman het Jesus se dissipels wel alles verlaat om Jesus te volg. Dit klink byna of Petrus so bietjie daarmee wil spog. “Petrus sê toe vir Hom: "Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U." (28) Dis asof hy wil sê, “Here neem asseblief net kennis, ons het alles opgeoffer om U te volg, wat sal ons beloning wees? Watse voordele gaan ons kry? Ons het gedoen waarvoor die ryk jongman nie kans gesien het nie” Jesus se antwoord sou ‘n baie insiggewende perspektief gee...

Kom ons vra net weer die vraag. Is die evangelie relevant? Maak dit ‘n positiewe verskil? Antwoord : JA! Hoekom?

Die evangelie is relevant in die eerste plek omdat ons sondaars is. Ons sonde is ons grootste probleem al besef ons dit nie, want ons sonde maak skeiding tussen ons en God en as daar nie iets aan gedoen word nie sal dit ewige finale skeiding (in die hel) bring. Dit was juis die ryk jongman se probleem. Hy het nie besef dat hy regtig ‘n sondaar was nie. Hy het uiterlik ‘n mooi lewe gehad- hy het nie egbreuk of moord gepleeg nie en ook nie gesteel nie... Maar intussen is sy lewe deur gierigheid oorheers. En toe Jesus hom uitnooi om Hom te volg en teen sy sonde van gierigheid te kies was hy nie bereid nie en moes teleurgesteld weggaan van Jesus. (22) So het hy die vergifnis en verlossing in Jesus misgeloop.

Goeie mense sonder Jesus is nog steeds verlore!

Die voordeel en relevansie van die evangelie is dat dit vergifnis en verlossing bring, vir die wat tot geloof en bekering kom. Jesus is die enigste oplossing vir ons sondenood en slawerny! En al word ons geknel deur droogte, al druk die skoen van finansiële verpligtinge en al mergel een of ander siekte ons uit – ons grootste las is ons sondelas en net Jesus kan ons van hierdie las bevry. Droogte is erg, maar dit kan ons nie uit die hemel hou nie, finansiële probleme is bitterlik swaar, maar dit kan ons nie uit die koninkryk weer nie, siekte is pynlik en vernietigend, maar weereens dit kan ons nie van God se liefde skei nie! Dis net sonde wat kan maak dat ons vir ewig in die buitenste duisternis sal beland, en dis hiervoor wat Jesus gekom het. Ons lees gelukkig van ‘n ander ryk man wat wel bereid was om Jesus in sy lewe te ontvang, Saggeus! Hy het bevryding gekry van sy gierigheid en bedrog. Dit het bewys dat niks vir God onmoontlik is nie. “Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: "Wie kan dan gered word?" Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik." (25-27) Vergifnis van sonde en die herstel van ons verhouding met God is die groot voordeel van die evangelie!

Maar daar is ook ander "voordele". Kyk weer na 29-30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

Jesus sê in effek : Ja, mens verloor inderdaad baie om my te volg. Jy kan familie verloor (en ons weet dit gebeur, mense se familie draai teen hulle as hulle Jesus werklik wil dien), jy kan besittings verloor. (ons weet dit gebeur dat as mense eerlik in gehoorsaamheid wil leef dat hulle finansiële verliese ly) En tog gee die Here vir ons soveel meer seëninge. Moenie dt verkeerd verstaan nie, dit betken nie as jy Jesus begin volg gaan jy nou skielik 'n eiendomsmagnaat word nie! Nee, dit gaan oor Vaderlike seëninge binne die konteks van die Nuwe Verbond soos die Here dit wil geen en nodig mag ag. Dit gebeur veral binne die heerlike gemeenskap van gelowges. Dit kan wees in die vorm van geestelike broers en susters wat nader aan ons is as ons eie bloedfamilie. Geestelike tuistes! Natuurlik, die Here voorsien ook op wonderlike maniere in ons materiële behoeftes soos HY wil. Die punt wat Jesus wil maak is, nou reeds in hierdie lewe wen julle baie meer as wat julle ter wille van My verloor het! Maar dan voeg Hy onmiddellik by – “saam met baie vervolging.” In hierdie lewe sal die kind van God nooit net seëninge kry nie, vervolging en swaarkry ter wille van Jesus is onmisbaar deel van die pakket. Elke kind van God sal vervolging beleef – hetsy beledigings, valse beskuldigings, verwerping ... (2 Tim 3:12) In die bedeling wat kom, in die hiernamaals kry ons die ewige lewe. In hierdie lewe is die kind van God se seëninge altyd gemeng met swaarkry, maar in die toekomstige bedeling wag daar vir ons net seëninge. Anders gesê, nou is ons deel van die strydende kerk, eendag deel van die triomferende kerk! 

Nou bring die evangelie voordele gemeng met nadele, eendag sal dit net ewige voordeel wees!

Net ‘n slotwoord. Wat beteken vers 31? “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste." Dis moontlik ‘n subtiele berisping van Petrus. Jesus het dalk so ‘n tikkie selfvoldaanheid, ‘n bietjie gespog by Petrus opgetel. “Here, U moet darem net kennis neem ons het als verlaat ter wille van U, ons is darem oraait of hoe?” Jesus wil vir hom sê: “Onthou Petrus dis alles nog steeds net genade, die feit dat julle My volg is net genade. Moenie op julleself en julle goedheid vertrou nie. Ook julle wat My volg verdien niks nie. Moenie spesiale behandeling verwag nie. Alles, alles is genade, daarom is daar ook hoop vir laastes!” Ja, vir mense soos die ryk jongman is daar steeds hoop as hulle hulle bekeer en Jesus begin volg...

KOKSTAD

- Die koor van teenkanting en protes teen die Algemene Sinode se onskriftuurlike besluite kring al wyer uit!


NG Kerk Kokstad. 29 Oktober 2015

Ons, die NG Kerk Kokstad, wil op die duidelikste moontlike manier ons verwerping van die Algemene Sinode se ingesteldheid rondom Skrifgesag en spesifiek die Woord van God, soos vertoon in besluite rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek.
Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer en minagting wat dit verdien. 

Die rede hiervoor is dat die Algemene Sinode die verantwoordelikheid ontvang het om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die leer van die kerk suiwer te hou, en dit nie meer kan doen nie.
Voorbeeld: as ʼn dominee wat homoseksueel lewe, op die kansel mag diens doen, mag ʼn dominee wat ʼn alkoholis of pedofiel of verslaafde is, ook nie geweier word nie. Die toepassing van ʼn beginsel trek veel weier as net die voorbeeld wat die Algemene Sinode ter tafel gestel het.


Hoog geagte predikante, soos Ronel Bezuidenhout en André Bartlett in die onlangse media, verwerp reeds die onfeilbaarheid van die Woord van God en praat van die Bybel as woorde oor God. Dit lê op die voetspore van ons professors aan die teologiese fakulteite en word dus reeds aan die opkomende leraars verkondig. So val die eerste Solus, Sola Scriptura.
Die maagdelike geboorte, en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweede Solus, Solus Christus, verwerp.


Die Algemene Sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ʼn breuk tussen God en mens nie, maar as ʼn breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak: “Nou is die kerk se leer in lyn met die grondwet van die land”, herbevestig dit. Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denksisteme waar menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktor in die evangelie word.


Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en daarmee saam die ankers van die Reformasie soos bely en verkondig deur die ware kerk van God.


Ons verbind ons opnuut tot die:
Sola Scriptura Alleen God se Woord is waarheid
Solus Christus Alleen Christus kan ons met God versoen en ons lewens omkeer
Sola Fide Alleen deur geloof in Jesus Christus se soenverdienste is daar redding
Sola Gratia Alleen uit genade word ons weer met God versoen.

Alles lei tot die eer van God: Soli Deo gloria.

Ons glo en bely dat die Woord van God helder en duidelik verduidelik word in die drie Formuliere van Eenheid:
Nederlandse Geloofsbelydenis
Dordtse Leerreëls

NOG GEMEENTES WAT DUIDELIK DIE AS SE BESLUIT VERWERP IS ONDER ANDERE :

Vaalrivier, Witfield, Middelburg Suid, Koppies-Weltevrede, Secunda Goedehoop, Groblersdal, Leeuwberg (Bloemfontein), George Moedergemeente, Piet Retief...

Maandag 02 November 2015

WAS RUT REGTIG LESBIES?

- kyk eerlik na die Bybelse teks.

Wanneer die sondige mens graag die Bybel iets wil laat sê wat dit nie sê nie, ontsien jy geen moeite of vernuftige grepe om die Bybelse boodskap om te buig sodat dit jou sienings ondersteun nie. ‘n Klassieke voorbeeld hiervan is gay aktiviste se gebruik van die boek Rut. Rut is ‘n juweel van ‘n boek wat wys hoe God ingryp in gebroke mense se lewens en hulle deel maak van sy groot planne en dis jammer dat juis hierdie mooi verhaal misbruik word vir ‘n sondige agenda. Hoe so? Wel, pro lesbiese liberale teoloë beskou die vriendskap van Rut en haar skoonmoeder Naomi as ‘n voorbeeld van ‘n lesbiese verhouding of vriendskap.

In Rut 1:14 lees ons : “Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly.” (NAV) “Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.” (OAV)

Die werkwoord in Hebreeus wat in Afrikaans met “by haar gebly” of “haar aangehang" vertaal word is דבק. Die persone wat Rut lesbies interpreteer wys graag daarop dat דבק dieselfde woord is wat in Genesis 2:24 gebruik word as daar gepraat word van die man wat sy vrou sal “aankleef” (OAV) Dis inderdaad dieselfde Hebreeuse word en vir ‘n oningeligte kan dit maklik na ‘n deurslaggewende argument klink. ‘n Dieper kyk na die woord en sy gebruik laat mens egter gou weer besef watse valse grond dit is om lesbiese verhoudings te probeer goedpraat:

1. Die woord dat דבק het verskeie betekenismoontlikhede wat geen erotiese konnotasie het nie, soos in Deuteronomium 11:22; 28:21; 30:20, Psalm 22:15, Jeremia 13:11, Esegiël 3:26, 2 Konings 5:27 (in die laasgenoemde teks gaan dit oor melaatsheid van Naäman wat Gehasi en sy nageslag sal aankleef – dit het voorwaar bitter min met erotiek te doen!) 

2. Belangriker nog is om raak te sien dat die skrywer van Rut presies dieselfde woord דבק ook nog twee keer in die boek gebruik naamlik in 2:8 en 2:21. In eersgenoemde geval gaan dit oor Boas se opdrag aan Rut om by die diensmeisies te bly en in laasgenoemde geval om by die werksters te bly totdat die oes klaar ingesamel is. Weereens geen lesbiese of romantiese konnotasies hoegenaamd nie.

Trouens in die hele boek word geensins na homoseksuele verbintenisse verwys nie. Naomi, sowel as haar skoondogters was met mans getroud en is juis deur hulle dood in ellende gedompel. God het egter vir Naomi en Rut uitkoms gebied en ‘n toekoms gebou deurdat Boas bereid was om met Rut te trou. ‘n Groter toekoms as wat hulle ooit sou kon droom, want so word hulle ingeskakel in die geslagslyn van Dawid en Jesus!

Die gebruik van דבק in Rut 1:14 wys bloot op Rut se “commitment” aan haar skoonmoeder in ‘n tyd van nood. Hulle verhouding was die van ‘n skoonmoeder en skoondogter, eintlik meer die van moeder en dogter! Dieper gesien was dit ook ‘n bekering van ‘n Moabitiese vrou tot die lewende God van Israel soos vers 1:16,17 duidelik wys!

(Sien ook ALGEMENE SINODE EN RUT)

(Erkenning aan Peter Ould)